Beplan, bepeins en wees betrokke
JUNIE 2010
TEKS & FOTO’S: ELMARIE CRONJE

Wat is dit wat jongboere in staat stel om met lae pryse, ongunstige weer en onvriendelike regeringsbeleid steeds ’n suksesvolle boerdery te bedryf? In die Swart-familie se geval, is diversifikasie een van die goue beginsels en – spesifiek vir Jaco Swart – is haarfyn beplanning die beginsel wat die wa deur die drif trek.

As een van die finaliste van die Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie, is Jaco Swart een van ’n uitgelese groepie jongboere wat met ’n liefde vir boerdery grootgeword het en steeds, ten spyte van geweldige uitdagings – daarin slaag om ’n boerdery te bou waarop ’n mens kan trots wees.

Gansvlei Boerdery in die Vredefort-omgewing is egter nie net sy liefde nie, maar ook dié van sy broer, RJ. Met Jaco se voorliefde vir die saaigedeelte van boer, was dit nie ’n moeilike besluit vir hom om die boerdery se veefaktor, wat uit Bonsmaras en Merino skape bestaan, aan sy broer oor te laat nie. Die saaiboerdery, wat by die 2 000 hektaar beslaan, hou hom besig genoeg. Hy is egter wel betrokke by die vee as ’n Landskaap beoordelaar en was die afgelope drie jaar keurder op die Landskaap Nasionale Veiling.

Jaco is nie een van die jongboere wat na skool eers verder gestudeer het nie en het sy kennis op ’n praktiese manier opgedoen terwyl hy saam met sy pa, Koos, geboer het. Koos is steeds ’n belangrike deel van die boerdery en help sy twee seuns om Gansvlei winsgewend te hou. “Ek het maar deur die jare my ondervinding opgedoen en baie by my pa geleer,” het Jaco vertel.

GEWASSE GROEI NIE NET NIE
Mielies, sorghum, grondbone, sojabone en sonneblom is van die gewasse wat Jaco in sy boerdery verbou en wisselbou is ’n beginsel waarin hy vas glo en wat vir hom goed werk.

“Ek plant nooit dieselfde gewas twee keer na mekaar op ’n land nie. Dit help om my gronde gesond te hou. Op hoë potensiaal gronde sal ek vir twee jaar mielies plant, gevolg met grondbone die jaar daarna. Die laer potensiaal lande word gewoonlik geplant met sojabone en sonneblom, wat met sorghum gewissel word,” het Jaco vertel. So ’n benadering help natuurlik ook om jou risiko binne die boerdery te versprei.

Gewasbeplanning is iets wat Jaco met die presisie van ’n rekenmeester benader. “Ek kyk vanjaar byvoorbeeld net na gewasse wat ek met kontrakte kan plant, aangesien die pryse laag is,” vertel hy. Gewoonlik begin Jaco met sy beplanning deur te kyk waar daar ’n oorskot in die mark is en wat verder in die mark aangaan.

Nadat hy die oorskot bepaal het, kyk Jaco na watter markruimte vir elke gewas beskikbaar is en watter gewas winsgewend volgens die langtermyngemiddeld en kontrakte geplant kan word. Daarom sal hy moontlik vanjaar nie mielies plant nie en eerder sy lande wat mielies moes dra, rus. Hierdie werksvloei word gevolg met ’n ondersoek na watter lande Jaco beskikbaar het en watter gewasse, ingevolge sy wisselboustelsel, op watter lande geplant kan word. Dan word daar gekyk na kontantvloei en watter gewasse volgens sy begroting winsgewend geplant kan word. Wanneer die rekenmeester in Jaco tevrede is, gaan die produsent in hom eers oor tot aksie.

WISSELBOU EN BEWERKING
Jaco het ’n voorliefde vir bewaringsbewerking en plant met geenbewerking planters. Hy het ook deur die jare besluit om yler te plant, aangesien dit die droogterisiko beperk en minder saad aangekoop hoef te word. Die kunsmis- en saadtoediening varieer gelykstaande aan die potensiaal van die grond waarop geplant word.

“Vir bemarkingsdoeleindes glo ek in voorseisoenkontrakte. Met mielies en sonneblom, maak ek ook van insetversekering gebruik,” het Jaco verder vertel. Om proewe te plant is natuurlik ’n manier om te sien wat in jou eie distrik kan werk, al dan nie en Jaco glo ook om hierdie rede in die waarde van proewe. Die jaarlikse Groendag, ’n ou gunsteling in hierdie geweste, word deur hom gereël en is, volgens hom, die ideale geleentheid vir produsente om inligting te deel, iets wat meer sal moet gebeur soos wat produsente leer om saam te staan.

MEGANISASIEBESTUUR ’N LUUKSE
Vir Jaco is meganisasie ’n deel van sy boerdery wat by sy behoeftes moet aanpas en dus volg hy nie ’n spesifieke meganisasieplan nie. “As ek iets nodig het, sal ek dit gaan koop,” het hy gesê. In sy stoor staan daar ook ’n paar implemente wat hy sommer self aanmekaar geslaan het om in sy behoeftes te voorsien.

Jaco het ’n voorliefde vir John Deere en vertel van ’n 1968-model trekker wat steeds in ’n werkende kondisie in sy stoor gevind kan word. “John Deere is die tegnologie ver voor en hoewel dit duur is om groen te koop, sukkel ’n mens nie om onderdele te kry nie,” het hy gesê.

DIE FAMILIE EN ARBEID
Die Swart-familie bestuur werklik ’n familiebesigheid. Jaco se ma, Ester, hanteer die kontrakte van die 16 algemene werkers wat help met beide die saai- en veeboerdery en volgens ’n inklokstelsel werk.

RESEP VIR SUKSES
Om positief te wees, is een van die dinge wat Jaco as raad vir ander jongboere sal aanbied. “As jy opstaan en negatief is, kry jy nie gedoen wat jy moet nie,” het hy gesê. Verder beveel hy jongboere aan om hul organisasies te ondersteun, betrokke te wees en alle uitdagings in geloof aan te pak. “Gaan vir ’n halfvol glas en moenie dat mense wat jou kritiseer, jou afsit nie,” het hy gesê.

As iemand wat hou van beplan, glo hy ook dat jy ’n besluit goed moet deurdink, “maar moenie bang wees om ’n kans te vat nie”. Hy het byvoorbeeld ’n kans gevat in sy boerdery toe hy besluit het om uit te brei. Na deeglike beplanning en grafieke vol inligting, was hy steeds nie seker of dit sou werk nie, maar het besluit om die risiko te loop en vandag is hy nie ’n oomblik spyt nie.

GESINSTYD
Jaco is getroud met Maretha en het drie blondekopkinders, Lizé-Mari (6), Esri (4) en JP (2). “Ek sal nie my kinders dwing om te boer nie, maar my kinders het reeds ’n liefde vir boerdery ontwikkel. Om ’n seun te hê wat wil boer, is ’n voorreg,” het Jaco vertel. “Wat ek wel sal wil doen, is om my kinders finansiële bestuur te leer, dit is belangrik.”

BETROKKE BY LANDBOU
“Georganiseerde landbou bied aan produsente ’n spreekbuis om probleme aan te spreek. Ons kan nie een-een met die regering praat nie, maar deur middel van georganiseerde landbou het ons ’n weg na die regering,” verduidelik Jaco sy siening van georganiseerde landbou – en dit is ook duidelik dat hy hierdie woorde glo uit sy betrokkenheid by georganiseerde landbou. In die area waar Jaco boer, het jongboere oor die afgelope paar jaar veel meer betrokke geraak by hul boerevereniging en, volgens Jaco, beweeg hulle terug na die basics van boerdery – deur middel van die aanplant van proewe, die reël van inligtingsdae en die deel van inligting.

“As die boereverenigings nie aktief is nie, gaan die hoofstroom tot niet gaan,” som Jaco sy gevoel oor georganiseerde landbou op. Dan raak hy ’n sensitiewe punt aan en vertel dat statistieke bewys dat produsente wat nie aan georganiseerde landbou behoort nie, hulself meer oopstel vir plaasaanvalle, omdat hulle so geïsoleerd is.

Jaco is tans ondervoorsitter van Wonderheuwel Boerevereniging. Verder dien hy op die Agriforum vir die Nwathe- en Mochachagebiede. Hy help ook met die patrollies, in samewerking met Vrystaat Landbou se veiligheidsplan.

SENWES, KOMPETISIES EN MEER
As Senwes klant is Jaco dikwels by die Village, waar hy onderdele vir sy John Deere’s en ook algemene aankope doen. “Vir my is Senwes die slagaar van ’n boerdery in die Vrystaat,” het hy gesê. Hy sal egter graag wil sien dat die maatskappy die inisiatief neem om meer by navorsing en ontwikkeling van graanprodukte betrokke te raak.

“Ek lees dat Suid-Afrikaanse produsente teen 2050 dubbel sal moet produseer as wat nou geproduseer word, maar hoe word die oorskot weggewerk tot dán?”

As ’n finalis in die Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie, was dié kompetisie vir hom ’n goeie ondervinding en “dit was lekker om genomineer te word”. Sy toekomsplanne sluit egter nie nog ’n kompetisie in nie.

En sy drome vir landbou in Suid-Afrika? “Dit sal vir my lekker wees om oor so 15 na 20 jaar dubbeld soveel graan te kan produseer, om te sien dat produsente hul maksimum opbrengste kan behaal en daar genoeg bemarkingsgeleenthede daarvoor is. Laastens sal ek graag wil hê dat boerdery ’n bietjie gesonder kan word en jou winsgewendheid slegs bepaal sal word deur hoe hard jy werk.”
Groot drome, inderdaad.

Elmarie Cronje is die Redakteur van Senwes Scenario. Vir meer inligting, skakel haar by (018) 468-2716 of stuur ’n e-pos aan [email protected]


Jaco Swart saam met sy gesin in hul tuin. Sy vrou, Maretha en drie kinders (van links) JP, Esri en Lizé-Mari is by hom.


Skape vorm deel van Gansvlei Boerdery se veefaktor.


Saaiboerdery maak die grootste persentasie van Gansvlei Boerdery uit.


Jaco pas sy meganisasie-masjinerie self aan om in sy boerdery vir hom te werk.