Jy is wat jy eet, skapie!
JUNIE 2010
TEKS: ELMARIE CRONJE
FOTO’S: INFOWORKS

Winter bied die ideale geleentheid vir produsente om seker te maak dat hul dierevoeding na wense is. Senwes Scenario het met ’n paar kenners gesels oor waarop produsente moet konsentreer in hierdie tyd en ook wat in die dierevoedingsmark aan die gebeur is.

Daar is darem niks so lekker soos ’n sappige steak of vetterige skaaptjoppie wat geurig op die braaivleis-kole gaar word nie. Ons Suid-Afrikaners kan net nie nee sê vir ’n braai nie en sonder veeprodusente sal ons nie kan klaarkom nie.

Ek het egter nou die dag darem ’n ding oorgekom – ’n skaaptjoppie wat so taai is, jou beste steak mes kry hom nie gesny nie en met jou tande wil jy hom nie aanvat nie, want netnou verloor jy een en tandarts toe gaan is nie lekker nie.

So vertel ’n “kundige” op die gebied van veevoere my dat die kuns van ’n lekker tjop eintlik lê in dit wat die dier eet. Nou of dit waar is of nie, weet ek nie, maar dat veevoere ’n belangrike rol speel in ’n veevertakking, is nie altemit nie.

MIN RUIMTE VIR FOUTE
Volgens Johan Mouton van Molatek laat die ekonomiese druk waaronder landbou verkeer, nie veel ruimte vir foute in ’n veeboerdery nie en al die komponente van die produksiestelsel moet ten beste bestuur word. “In ekstensiewe vleisproduksie kan die veevoer, of eerder aanvullingskomponent, tot 40% van die direk toedeelbare koste uitmaak, wat ’n direkte impak op netto wins het. Indien jy onnodig te veel of te min aanvul, gaan die uitkoms in beide gevalle ’n wesenlik verlaagde inkomste wees,” vertel Johan.

“Hoewel die mielieprys ’n rol speel in die bepaling van die prys van veevoere, is dit nie die enigste maatstaf wat gebruik moet word om prysveranderings te voorspel of verduidelik nie. Ander grondstowwe, soos oliekoek, word dikwels ingevoer en die produkte se pryse is dus onderhewig aan wisselkoerse, sowel as vraag-en-aanbod,” verduidelik Albert van Rensburg van Nutrifeeds die rol wat veevoere en -lekke in die bedryf speel in ’n tyd soos hierdie.

Hy verduidelik verder dat wanneer die mielieprys daal, dit gewoonlik goedkoper is om diere intensief af te rond. “Voerkrale raak vol. Pryse vir speenkalwers en -lammers behoort toe te neem namate die vraag toeneem. Die groter hoeveelheid diere beskikbaar vir slag kan weer vleispryse laat daal.”

Om te sorg dat jou vleisproduksiestelsel winsgewend bly, kan jy nie ’n haelgeweer-benadering met ’n goue middeweg wil volg nie. Dit is eenvoudig produksiegewys en ekonomies ’n swak besluit.

HOE KIES ’N MENS?
Produsente hoef egter nie alleen te sukkel om te weet watter aanvullings in watter tyd die beste is en hoeveel toegedien moet word nie. In die veebedryf is hierdie kundigheid in oorvloed beskikbaar en maklik toeganklik vir die produsent.

Maar met soveel beskikbare opsies, hoe besluit ’n produsent watter veevoer om aan te skaf? “Suid-Afrika het van die strengste wetgewing rakende die beheer van veevoer. Produsente wat tuismengsels maak en grondstowwe aankoop, moet seker maak die kwaliteit van die grondstof is voldoende. Die beste manier om te weet is om ’n ontleding te laat doen om seker te maak dat dit wat jy koop, wel binne die sak is,” het Johan vertel.

Dit is maklik om te sien of die veevoer wat jy koop, volgens die Veevoerwet geregistreer is. Daar behoort ’n duidelike V-nommer op die sak te wees. Dit sal byvoorbeeld soos volg lyk: V 3472. Hierdie nommer verseker dat jy deur die wet beskerm is en dat dit wat op die sak staan, wel in die sak is. Indien die verskaffer nie ’n V-nommer op sy sak toon nie, wees versigtig.

Fouché Langenhoven van Noordwes Voere raai produsente aan om te kyk na kwaliteit, diens en prys wanneer ’n veevoerverskaffer oorweeg word, terwyl Alina Taute van KK Animal Nutrition sê dat die tyd van die jaar die veevoer sal bepaal. In die winter wil produsente ’n voer met ’n hoër proteïeninhoud gee.

Die dienste van kundiges kan natuurlik ook ingeroep word om die regte tipe aanvulling vir die dier se spesifieke behoeftes aan te spreek. Dis belangrik dat die verskaffer hiervan – en ook die verskaffer van die veevoer – betroubaar moet wees, anders soek ’n mens mos vir probleme. Normaalweg behoort ’n verskaffer met goeie kwaliteitstelsels in plek en wat by AFMA geaffilieer is, ’n veilige keuse te wees, aangesien AFMA daargestel is om die beste praktyk in die veevoerbedryf te bevorder.

Volgens Albert moet kwaliteit, tegnologie, ondersteuning en beskikbaarheid die belangrikste oorwegings vir ’n produsent wees wanneer daar na veevoere gekyk word. “Ongelukkig is al hierdie veranderlikes aan prys gekoppel. Om kwaliteit te verseker, tegniese ondersteuning te kan bied, tegnologies op die voorpunt te kan wees en die produk beskikbaar te hê, kos geld. Dit is wanneer goedkoop koop, duur koop word. Ons leef in ’n tyd waar presisieboerdery, grondvogontledings en GPS-tegnologie in die saaibedryf gebruik word – hoekom moet ’n produsent nog tevrede wees met die goedkoopste lek, wat die tweede beste doen? Korrekte en spesifieke aanwending van voer verseker optimale produksie en maksimum wins,” het Albert gesê.

AANVULLINGS IS JOU BESTE VRIEND
Met die winter wat reeds sy koue kloue in die Senwes-gebied ingeslaan het, is die produkte wat ’n verskil sal maak in jou boerdery veral proteïenaanvullings, konsentrate en die daarstelling van volledige rantsoene. Proteïenaanvullings is, volgens Alina, een van die duurste komponente van ’n lek en die uitdaging vir produsente is om die regte hoeveelheid proteïene te verskaf teen die laagste moontlike koste. Die aanvulling van die regte hoeveelheid proteïen sal maksimum weidingsinname by die dier verseker en ook genoegsame energie verskaf.

“Die eerste ryp het reeds geval, so die proteïeninhoud van die veld verlaag teen ’n vinnige pas. Goeie proteïenaanvulling met voldoende fosfaat sal verhoed dat diere op veld se kondisie verswak,” het Albert gesê.

Volgens Fouché gebruik baie produsente nou hul mielies en meng dit vir veevoer, omdat die mielieprys so laag is. Dit is waarom konsentrate en ’n volledige rantsoen tans dinge is waarna gekyk moet word.

PRODUKTE WAT PRESTEER
“Weens die inherente aard van veeboerdery vind ontwikkeling op die gebied teen ’n stadige pas plaas. Tans word nuwe voerbyvoegings bekend gestel, maar produsente moet seker maak van die wetenskaplike grondigheid van die aansprake wat gemaak word,” het Johan gesê. Daar is ook van die veevoermaatskappye wat in die herkouermark is, wat in die toekoms nuwe produkreekse gaan bekendstel.

Molatek se Beesvet 33+, wat as ’n vetmesproduk bemark word, word sterk deur dié maat-skappy se kundiges aanbeveel, terwyl hul droogte-aanvulling spesifiek geformuleer is om proteïene, energie en vesel gedurende droogtetoestande aan te vul.

Van die voordele van Molatek se vetmesprodukte is die verhoogde inname, want dit maak voer smaaklik en stofvry omdat dit melasse bevat. Dit is ook maklik om te meng, bevat hoë kwaliteit proteïene, kan met die produsent se eie graan of ander produkte gemeng word en verseker goeie innames, groei en wins.

Fouché vertel dat die nuutste ontwikkelings in die veevoerbedryf veral te doen het met die studies op gene en DNA. “Daar word gekyk na die uitwerking van sekere minerale op die gene en manipulasie. Grondstof-aanwending en die ontwikkeling van rekenaartegnologie om minerale en grondstowwe op die produsent se plaas te kry, duur ook steeds voort”.

Noordwes Voere se veevoerreeks, wat as Opti Voere bekend staan, is ’n uitgebreide reeks wat Opti Kalf, Opti Suiwel, Opti Braaikuiken, Opti Lek, Opti Volstruis, Opti Perd, Opti Vark, Opti Bees, Opti Lêhen en Opti Skaap insluit.

Die Opti Bees Vetmes Konsentraat 33 is ’n vetmestingsrantsoen wat met geelmieliemeel en ruvoer gemeng kan word vir ’n volledige vetmestingsrantsoen. Dit kan ad lib in die voerkraal gevoer word wanneer die aanpassingsperiode verby is. Gemeng met geelmieliemeel, kan dit ook vir afronding op weiding aangewend word.

Albert beveel onderhoudslekke, soos Nutrilek Bees 50 aan, want dit het lae innames (300 g tot 500 g per bees per dag) en help om liggaamskondisie te behou deur die rumenmikrobes te voed. Produksielekke, soos Nutrilek Energie 18, se inname is aansienlik hoër (1,2 kg tot 2 kg per dier per dag). Hierdie lekke stimuleer die mikrobes, maar verskaf ook energie aan die dier vir produksie, soos groei, melk of wolgroei.

Behalwe vir die vier genoemde veevoerverskaffers, hou Senwes ook die Voermol-reeks by hul Villages aan.

Met so ’n verskeidenheid kwaliteit veevoerverskaffers om van te kies, hoef geen produsent in die Senwes gebied ooit te vrees dat sy diere se vleis taai gaan wees nie!

KOOP JOU VEEVOERE NOU
Die veevoerreekse van Voermol, Nutrifeeds, KK Animal Nutrition, Molatek en Noordwes Voere is in Senwes se Villages teen bekostigbare pryse beskikbaar. Gesels gerus met jou Village bestuurder indien jy meer inligting nodig het, of besoek die veevoermaatskappye se onderskeie webwerwe.

Elmarie Cronje is die Redakteur van Senwes Scenario. Vir verdere inligting, skakel haar by (018) 468-2716 of stuur ’n e-pos aan [email protected]


Foto 1: ’n 50 kg sak veevoer van Nutrifeeds.
 


Foto 2: KK Animal Nutrition se Kynofos 18 Grande 50 kg.


Foto 3: Molatek se Beesvet 33+ is by die NAMPO Oesdag gepromoveer; op die foto is ’n sak van 40 kg.


Foto 4: Noordwes Voere se Opti Skaap in 50 kg.

 
Foto 5: ’n 50 kg sak veevoer van Voermol.