DIE ANATOLIESE SKAAPWAGTER
– ’N WAGHOND VAN FORMAAT
OKTOBER 2009
Met die wêreldfokus wat deesdae verskuif het na die bewaring van die planeet en hulpbronne vir die nageslagte, soek produsente ook na maniere om die negatiewe effekte van probleemdiere op ’n meer natuurlike wyse te bekamp. In hierdie opsig kan die Anatoliese skaapwagterhond vir die produsent van groot waarde wees.
‘n Waghondstelsel met Anatoliese
skaapwagters is reeds in die buiteland beproef en begin al hoe
meer onder Suid-Afrikaanse skaapprodusente posvat. Een van die
produsente wat reeds hierdie waghondstelsel geïmplementeer het
en ook met dié honde teel, is Jan van Biljon, wat in die
Viljoenskroon-distrik op die plaas Niekerksrust boer.
Hoewel die ras sy oorsprong in Turkye het, het Jan sy
skaapwagterhonde van Australië af ingevoer. Volgens hom bied die
Anatoliese skaapwagterhond ’n uitstekende oplossing vir die
diefstal-probleem, wat skaapprodusente laat kopkrap. Voornemende
kopers word ook deur hom opgelei om die honde reg te hanteer.
’n Onlangse artikel in die pers verwys na rasegte honde wat ook
jag maak op skape en ander diere. Dit is egter juis as gevolg
van onvoldoende opleiding en die verkeerde hantering van dié
honde.
Die Anatoliese skaapwagterhond is ’n baie lojale, op-en-wakker
en besitlike hond. Dit is intelligent en maklik opleibaar, maar
het ’n hanteerder nodig wat leierskap uitstraal. Hulle is nie
aggressief van aard nie, maar eerder kalm en braaf. Hulle tree
agterdogtig teenoor vreemdelinge op, veral wanneer hulle
volwassenheid bereik het. Vreemdelinge moet formeel aan die
honde voorgestel word deur hul hanteerder, voordat hulle aanvaar
sal word.
Die ras is redelik gespierd, met ’n dik nek, wye kop en ’n
stewige lyf. Die reuns staan 68 tot 77 cm hoog en weeg 40 tot 65
kg. Die tewe is effens kleiner, met ’n hoogte van tussen 66 en
71 cm. Die pels kan enige kleur wees, maar die mees algemene
kleur is roomwit en wit met groot, soliede kleurkolle wat nie
meer as 30% van die liggaam beslaan nie. Van die honde het ook
’n swart “masker” oor die gesig en soms die ore.
As werkshonde is dié ras spesifiek ontwikkel om onafhanklik te
funksioneer en verantwoordelik te wees vir die beskerming van ’n
kudde diere sonder enige menslike bystand. Hulle is ook geteel
om in moeilike toestande en uiterste temperature te kan oorleef.
Die skaapwagterhonde vat in die algemeen langer om
vol¬wassenheid te bereik as ander honde en behoort tussen 18
maande en twee jaar ten volle ontwikkeld te wees.
Skaapwagterhonde wat as oppassers opgelei word, moet tussen die
skape grootword en nie soos ’n gesinshond hanteer word nie.
Hulle spandeer hul hele lewe saam met die skape. Dit beteken
egter nie dat hulle nie gesosialiseer moet word nie – verkieslik
wanneer hulle klein is, sodat hulle nie later in volwassenheid
veterinêre sorg weier nie.
Anatoliese skaapwagterhonde is uitsluitlik oppassers van die
skaapkudde, maar sal nie die skape aankeer nie. Hulle patrolleer
dikwels die buitenste grense van hul gebied en vind dan ’n hoë
uitkykpunt van waar hulle hul kudde kan dophou. Hulle beskik oor
’n fyn gehoor- en sigvermoë, wat hul goed toerus om hul pligte
te verrig. Wanneer hulle gevaar vermoed, gee die Anatoliese
skaapwagterhond ’n waarskuwingsblaf. Indien die gevaar steeds
daar is, word die geblaf harder, wat aan die skape die teken gee
dat hulle agter hom moet inbeweeg vir beskerming. Die wagter sal
poog om die gevaar weg te dryf, maar sal slegs as ’n laaste
uitweg tot die aanval oorgaan.
Jan van Biljon vertel die storie van een van sy
skaapwagter¬honde wat ’n baie goeie verstandhouding met ’n
jakkals het. “Ek het die jakkals al so nou en dan gesien – hy
loop draaie om die skape,” vertel hy. Met die Anatoliese
skaapwagterhond se temperament in ag geneem, sal die jakkals
niks oorkom nie, solank hy nooit tussen die wagter en sy
skaapkudde inbeweeg nie. Een van die eienskappe wat hierdie
honde juis sulke goeie oppassers maak, is dat hulle nie soos
ander honde die jakkals sal jaag nie, maar by die kudde sal bly.
Die skaapwagterhond-projekte is nog redelik nuut in Suid-Afrika
en dit is te wagte dat hierdie projekte nog hier en daar
probleme sal oplewer. Jan staan egter al die produsente wat van
sy teelskaapwagters koop by met raad en kan enige tyd geskakel
word indien ’n wagter ongewenste gedrag toon, sodat dit betyds
reggestel kan word. Die honde word egter nooit geslaan nie, want
hulle sien dit as aggressie en sal dit met teen-aggressie
beantwoord.
’n Spesiale voedingsprogram is vir die ontwikkeling van die
skaapwagter beskikbaar. Verder vreet hulle gewone hondepille uit
’n selfvoerder. Jan het spesifiek huisies aangebou waar die
honde se kos neergesit word en wat verseker dat die pille droog
en skoon bly. Die honde drink saam met die vee water.
Produsente wat belangstel om hierdie skaapwagters op hul plaas
te gebruik, kan vir Jan van Biljon by 082 781 5210 skakel. Jan
se tweede produksieveiling sal ook op 21 Oktober op Niekersrust
plaasvind, waartydens van sy topkwaliteit ramme, sowel as stoet
Sussex bulle en koeie, te koop sal wees.
Elmarie Cronje is die Redakteur van Senwester. Vir meer
inligting stuur ’n e-pos na
[email protected] of skakel haar by (018)
468-2716
Foto 1: Die skaapwagters drink sommer saam met die skape
water.
Foto 2: Die hond het nie ’n aggressiewe geaardheid nie, maar sal
nie toelaat dat haar trop in gevaar gestel
word
nie.
Foto 3: Wanneer die klein hondjies as skaapwagters grootgemaak
word, bly hulle reeds sedert geboorte
tussen
die skape.
Foto 4: 'n Volwasse Anatoliese skaapwagterhond en ma van die
werpsel in boonste foto.