FinansiËle bestuur kan winsgewendheid verhoog
FEBRUARIE 2009
Die doel van finansiële bestuur is om
voldoende kapitaal teen die laagste moontlike koste beskikbaar
te stel. Sodoende kan kapitaal doeltreffend aangewend word om
maksimum waarde tot die boerdery toe te voeg, met die laagste
risiko vir die volhoubare voortbestaan van die boerdery.
In
hierdie artikel:
• Besteding en beplanning
• Hulpmiddels beskikbaar vir
finansiële bestuur
• Verwysings
Die moderne produsent funksioneer in ’n vinnig-veranderende
węreld. Om ’n boerdery te bestuur verg geweldige dag-tot-dag
insette van die produsent. Raak ’n produsent egter té betrokke
by die aktiwiteite, kan hy een van die belangrikste aspekte van
sy bedryf, sy finansies, afskeep.
Finansiële bestuur is nie net die skakel tussen al die aksies op
die plaas nie, dit is die instrument wat help dat die boerdery
doeltreffender kan funksioneer. Dit is ’n proses wat die
produsent in staat stel om op die winsgewendste en maklikste
manier – en met die minste risiko – sy beplande doelwitte te
bereik. Sonder voldoende kapitaal om aan die behoeftes van die
onderneming te voldoen in die kort, medium en lang termyn, sal
alle aksies tot stilstand kom. ’n Mens moet ook besef daar is
geen sin daarin om kapitaal beter te probeer benut indien die
ander produksiefaktore, soos grond, arbeid en die fisieke
bestuur, nie optimaal aangewend word nie.
Finansiële bestuur kan dus in kort gedefinieer word as die
aktiwiteit wat omsien na al die finansiële behoeftes van die
boerdery.
Voorbeelde van finansiële bestuur in boerdery sluit in:
• Die bestuur van bestuursinligtingstelsels, wat rekordhouding
en finansiële state insluit;
• Die ontleding van boerderyresultate (om te meet, is om te weet);
• Finansiële beplanning en begrotings (kontantvloei en
vertakkingsbegrotings);
• Die verkryging van finansiering en krediet; en
• Belastingbeplanning.
Omdat die veld van finansiële bestuur so wyd is, word slegs die
funksie van finansiële beplanning en begrotings aangeraak.
Besteding en beplanning
Ten einde geld te kan maak, is dit nodig om geld te spandeer.
Dit is egter belangrik om te weet hoe om die geld te spandeer en
nog meer om rekord te hou van hoe geld gespandeer is. Hiervoor
is ’n doeltreffende rekordhouding nodig. Die wyse van
rekordhouding sal bepaal word deur die omvang van die bedryf.
Die doel moet wees om bestuursinligting tydig en akkuraat te
verskaf. Deur slegs staat te maak op die inligting wat jaarliks
van die boekhouer ontvang word (wat in baie gevalle nie intyds
is nie), kan gevaartekens te laat geďdentifiseer word, wat groot
kontantvloei-druk op die boerdery kan plaas. Bestuursinligting
moet intyds wees, gereeld bygewerk word en beskikbaar wees om
prestasie te kan meet.
• Vir beplanning is die opstel van ’n kontantvloei-begroting
noodsaaklik. Kontantvloei beteken wanneer en hoeveel geld
invloei deur verkope en wanneer insetmiddele (of uitgawes)
betaal moet word.
• ’n Kontantvloei-begroting word gewoonlik oor ’n tydperk van 12
tot 18 maande opgestel en is ’n geskrewe plan vir toekomstige
optrede wat uitgedruk word in fisiese, sowel as finansiële
eenhede.
• Die gebruik van historiese gegewens, aannames, vooruitskouings
en ondervinding is belangrike hulpmiddels vir die opstel van die
begroting. Teken aannames met redes aan vir toekomstige
verwysing.
• Die bruikbaarheid van die begroting gaan baie afhang van die
korrektheid en realisme waarmee die begroting opgestel word.
• Individuele vertakking-begrotings (soos vir mielies) kan
opgestel word en dan geďntegreer word in die finale begroting.
• Om ’n kontantvloei-begroting aan die begin van elke finansiële
jaar of produksieseisoen op te stel, is noodsaaklik. Die
produsent kan dit gebruik vir finansieringsdoeleindes en dit is
’n belangrike meet-instrument om werklike uitgawes te meet.
• Vergelyk werklike uitgawes met begrotingaannames – dit is die
beste metode om gevaartekens vroegtydig te identifiseer.
Aanpassings kan dan gemaak word en alternatiewe aksies in plek
gestel word.
• Neem die vaste koste-struktuur in ag wanneer ’n
kontantvloei-begroting opgestel word. (Dit is items soos lone,
elektrisiteit en telefoonkoste.) Dikwels word dit geďgnoreer of
as onbelangrik beskou, maar dit is hierdie “klein jakkalsies”
wat groot skade kan aanrig indien dit nie korrek bestuur en
gemeet word nie.
• Beplan ook vir huishoudelike uitgawes en spesifiseer hierdie
uitgawes apart van die boerdery.
Die kontantvloei-begroting gee dus vir die produsent ’n
duidelike prentjie van hoe hy sy boerdery moet beplan of aanpas,
veral gedurende die maande waarin sy finansiële posisie swak is.
Dit is egter noodsaaklik dat ’n produsent ’n maklike en
bruikbare rekordhoudingstelsel volg om ’n kontantvloei op te
stel en te kontroleer.
Hulpmiddels beskikbaar
vir finansiële bestuur
• Maak gebruik van rekenaartegnologie. Daar is verskeie
sagteware-pakkette beskikbaar wat produsente behulpsaam kan wees
met die bestuursfunksie in die boerdery.
• Indien jy nie jou eie rekordhouding doen nie en gebruik maak
van ’n boekhouer, kan ’n verslag aangevra word waarmee aankope
gekontroleer kan word. Gebruik hierdie intydse inligting om
begrotings te vergelyk.
• Skakel in by studiegroepe en vergelyk syfers met mekaar.
Hierdeur kan kontantvreters gou uitgewys word en regstellings
gedoen word.
• Maak gebruik van kundiges. Senwes beskik oor ’n volledige
Landboudienste-span wat behulpsaam kan wees met die finansiële
beplanning en ander fasette van die boerdery.
• Kommunikeer gereeld met jou kredietbestuurder en indien daar
alternatiewe beplanning nodig gaan wees, bring dit betyds onder
sy aandag sodat die nodige aksieplanne in werking gestel kan
word.
Elke boerdery is uniek en daar is geen wonderresep wat sukses in
finansiële bestuur kan waarborg nie. Die basiese praktyke,
hulpmiddels en prosedures is dus van belang, sodat elke
ondernemer kan probeer om sy probleme suksesvol te hanteer. Dit
is die taak en plig van elke boerderybestuurder wat erns met
boerderybestuur het om kennis te dra van die fundamentele
beginsels van finansiële bestuur – én om dit te implementeer.
Verwysings:
Boerderybestuur: Finansiële beplanning, ontleding en beheer:
MJ van Reenen en A de K Marais
Die ABC van boerderybestuur: Koos Coetzee
Finansiering en die boer – ’n Finansiële bestuursgids vir boere:
Standerd Bank
Ramondé Odendaal is ’n Senior Landbou-ekonoom by Senwes
Landboudienste. Vir navrae, stuur ’n e-pos na
[email protected]
of skakel haar by (018) 464-7391.