IS DAAR ’N OPLOSSING VIR
AARSKROEI IN BESPROEIINGSKORING?
DESEMBER 2009
Aarskroei is besig om ’n groot probleem onder besproeiingskoring te word. Van die redes hiervoor is die toepassing van wisselbou met mielies en die vatbaarheid van meeste koringkultivars vir aarskroei, wat die siektedruk, of inokulum, verhoog.
In hierdie artikel:
• Hoe
kan die siekte bestry word?
• Tipe 1-weerstand
• Tipe 2-weerstand
• Biochemiese
weerstand
•
Grafieke en tabelle
Aarskroei is ook een van die swamsiektes
wat chemies moeilik beheerbaar is, omdat die omgewing ’n groot
invloed het op die ontwikkeling van die siekte en die spesifieke
tyd of groeistadium van toediening. Relatiewe humiditeit en
temperatuur speel ’n groot rol by siekteontwikkeling en onder
besproeiing word die ideale klimaat geskep om die siekte te
bevoordeel.
Hoe kan die siekte bestry
word?
Daar is verskeie opsies wat gevolg kan word om die siektedruk te
elimineer. Eerstens kan konvensionele bewerking toegepas word.
Die mieliereste word dan diep ingewerk om sodoende te verhoed
dat alle bronne van inokulum of spore nie met die koringplant in
aanraking kan kom nie.
Tweedens moet ’n wisselboustelsel, wat net koring en mielies
insluit, vermy word, omdat albei grasgewasse is en fusarium
(aarskroei) ook die mielieplant besmet en die siektedruk vir die
daaropvolgende koringaanplanting verhoog. Daar moet dus gepoog
word om, sover moontlik, breëblaargewasse as ’n bykomende
wisselbougewas in te sluit.
Derdens moet daar ’n goeie chemiese bespuitingsprogram wees om
te verseker dat die inokulumdruk beperk word. Om laasgenoemde
egter te verseker, is dit krities dat daar op die regte tyd in
die groeistadium gespuit word en dat ’n doeltreffende chemiese
middel gebruik word. ’n Verdere vereiste is dat die regte metode
van bespuiting gevolg moet word.
Vierdens moet gekyk word na kultivars wat meer verdraagsaam is
teenoor die siekte. Dit is dan ook hier waar Sensako inskakel
met ’n verskeidenheid kultivars wat goed presteer onder hoë
siektedruk.
Genetiese weerstand teen fusarium is beskikbaar in sekere
kiemplasma. Die lyne is egter nie aangepas in Suid-Afrika nie en
boonop is die weerstand baie moeilik oordraagbaar na aanvaarbare
plaaslike kultivars. Sensako gebruik hoofsaaklik kiemplasma
afkomstig van Sjina en Meksiko, wat goeie weerstand vir
fusarium toon. Daar is ook DNA-merkers ontwikkel om die
teling vir fusarium-weerstandslyne te bespoedig. Sensako
het reeds met behulp van dié merkertegnologie daarin geslaag om
’n kultivar met ’n verbeterde verdraagsaamheid vry te stel. In
Tabel 1 kan gesien word hoe die Sensako-materiaal vaar
teenoor Kariega, een van die opposisiekultivars in die
besproeiingsgebiede.
Weerstand kan op drie verskillende maniere werk om fusarium
te onderdruk:
Tipe 1-weerstand
Dit sluit in die vermoë waaroor die kultivar beskik om te
verhoed dat die fusarium-spore die blompakkies binnedring
(penetreer).
Tipe 2-weerstand
Indien die spore wel die blompakkie binnedring, verhoed die
koringplant dat die patogeen verder versprei.
Biochemiese weerstand
As die bogenoemde weerstandsmeganismes gefaal het, is die laaste
poging waaroor die koringplant beskik, sy vermoë om te verhoed
dat die toksiene, wat deur die fusarium geproduseer word,
tot lae vlakke beperk word.
Behalwe die genetiese weerstand, kan ontsnapping deur vinnige
korrelvulperiode of omgewingstoestande vatbare kultivars help om
die siekte te beperk. Sensako poog om weerstand in te bou wat
die penetrasie, sowel as die infiltrasie van blompakkies,
verhoed.
Die Universiteit van die Vrystaat (UV), onder die leiding van
Wilmarie Kriel, is besig om te kyk na die vlakke van
mikotoksienes wat geproduseer is op die verskillende kultivars
om sodoende vas te stel of daar ook biochemiese weerstand in die
tans beskikbare kultivars is.
In die onderstaande tabel kan gesien word hoe die verskillende
lyne en kultivars onder ’n hoë natuurlike fusarium-infeksie
gepresteer het. Die proef is deur Wilmarie gedoen naby Douglas
in die Noord-Kaap. Lyne 1 en 2 is nuut-ontwikkelde lyne wat eers
later vir kommersiële verbouing beskikbaar sal wees. In albei
die gevalle het nie een van hulle die weerstandsgene nie. Lyne 1
en 2 het naas die bekende verboude kultivars die hoogste lesings
vir algemene siekteteenwoordigheid gekry.
Nieteenstaande die laasgenoemde het die lyne uitstekende
opbrengste gelewer, gemeet teenoor Kariega. Deur dus bloot sulke
lyne te vermy weens hul siektelesing, kan die produsent egter
slegter af wees, omdat die lyne se opbrengsprestasie ver-goed
daarvoor.
SST 843 is die nuwe kultivar wat SST 822 gaan vervang. Hoewel
die kultivar nie genetiese weerstand het nie, het dit die vermoë
om die siekte vry te spring. Dit kan moontlik toegeskryf word
aan sy vinnige korrelvulperiode, wat dit vir die fusarium-spore
onmoontlik maak om die plant te penetreer. As daar na die UV se
siektelesing gekyk word, kan gesien word dat SST 843 ’n lae
lesing het wat aantoon dat daar min siekte teenwoordig was.
As ’n mens kyk na die werk wat deur GWK gedoen is en waar die
kultivars in stroke geplant was, het SST 843 kop en skouers
uitgestaan bo die res (sien onderstaande grafiek). Ten spyte van
die goeie vertoning van SST 843, is die opbrengsvlakke van al
die kultivars laer, wat betekenisvolle verliese deur fusarium
aandui en dus die noodsaaklikheid van weerstand beklemtoon.
Tans is die beste oplossing om ’n kultivar te plant wat jou ’n
kans gee om ’n goeie opbrengs te kry in samewerking met ’n
geïntegreerde chemiese beheerprogram. Die chemiese beheerprogram
behels ’n goeie benatting van die aar, wat beteken dat die hele
aar met die chemiese middel bedek moet word. Daar is egter in
Noord-Natal gevind dat ’n bespuiting met ’n vliegtuig nie baie
doeltreffend is nie. Hier is nog baie werk nodig, maar die
chemiese agente wat baie met die siekte te doen kry, veral in
die Noord-Kaap en Noord-Natal, het al verskeie produsentproewe
gedoen om by ’n antwoord uit te kom en hulle is die aangewese
persone om mee te gesels. Hul is van mening dat bespuitings met
’n trekker baie meer doeltreffend is, ten spyte van die nadeel
dat die koring beskadig word tydens die spuitaksie.
Hierdie artikel is geskryf deur Francois Groenewald van
Sensako.
Grafieke en tabelle
Tabel 1: Sensako kultivars en lyne onder hoë fusarium-druk.
Grafiek 1: GWK-strookdata, soos deur die Universiteit van die
Vrystaat deurgegee.