SENSASIONELE SENWES! - ’N
TERUGBLIK OP DIE EEUFEESVIERINGE
DESEMBER 2009
Senwes is nou amptelik 100 jaar oud en soos dit ’n vooruitstrewende landboumaatskappy betaam, het Senwes dié noemenswaardige ouderdom behoorlik gevier – met geen klant, verskaffer, vriend of personeellid wat nie deel was van die makietie nie.
In hierdie artikel:
• ‘n
Skouspel(agtige) vertoning
• Gholf
saam met Gary Player
• Boer soek ‘n ride
on
• Ballonne, koek en
hope gees
•
‘n Saluut aan die Direksie
•
Liefdadigheid word nie uitgesluit nie
• In die argiewe
opgeteken
•
Soete resultate
• Só word Senwes
onthou
•
Langs die krieketveld
• Die toekoms
in...
•
Klante gee hul mening
•
Personeel sê hul sê
• Foto’s
Hier is ’n oorsig van die besondere jaar
wat 2009 vir Senwes was.
’n Skouspel(agtige) vertoning
100 jaar sit nie sommer in enigeen se broek nie – hetsy jy ’n
persoon of ’n maatskappy is. Daarom kon Senwes nie vir ’n meer
asemrowende kulminasie van sy 100-jaar vieringe gevra het as die
Huisgenoot Skouspel nie.
“Die terugvoer wat ons ontvang oor die Skouspel-vertoning is
oorweldigend positief. ’n Kombinasie van Senwes se 100ste en
Huisgenoot Skouspel se 10de verjaarsdag het gesorg vir ’n
vermenigvuldigingseffek, met ’n viering van kreatiwiteit,
talent, sukses en professionaliteit as gemene deler,” het Johan
Dique (Besturende Direkteur: Senwes) oor die vertoning gesê.
Op Vrydag, 9 Oktober 2009, het sowat 4 700 klante, verskaffers,
eregaste en personeel van Senwes hul weg gevind na die Sun City
Superbowl, na ’n vertoning wat spesiaal deur Senwes uitgekoop is
vir hul 100-jaar vieringe. In ’n gesamentlike groeteboodskap,
het Japie Grobler en Johan Dique die vertoning afgeskop met ’n
huldeblyk aan alle belanghebbendes se bydrae tot Senwes se
geskiedenis én toekoms. My Land, ’n gedenklied wat
spesiaal vir die eeufeesvieringe gekomponeer is, het net na ’n
kort pouse die Superbowl deur weerklink.
“Ons is ingenome met die indrukwekkende wyse waarop Senwes se
eerste 100 jaar in landbou afgesluit kon word. Dankie aan elke
klant en ook ons verskaffers vir jul ondersteuning van die
eeufeesvieringe en veral die Skouspel-naweek,” was Johan Dique
se kommentaar.
Gholf saam met Gary Player
Die gebruiklike Huisgenoot gholfdag het vanjaar as die Senwes/Huisgenoot
prestige gholfdag op die Gary Player-baan met ’n totaal van 100
spelers gespog. Dié gholfdag is kort op die hakke van die
Skouspel, op Saterdag, 10 Oktober aangebied.
Die formaat van die kompetisie was ’n vierbal-beterbal wat oor
18 putjies gespeel is. Jaco Kriel van Agrinet en Dries Kruger,
’n Direkteur van Senwes, was die kompetisiewenners.
Boer soek ’n ride on...
Senwes se verbintenis met die NAMPO Oesdag kom reeds ’n lang
pad, met Senwes wat een van die eerste uitstallers in 1967 op
NAMPO Park was. Daarom is dit net gepas dat Senwes se 100-jaar
vieringe ook die NAMPO Oesdag betrek het.
Op die amptelike dag van Senwes se 100-jaar wording – 15 Mei
2009 – is 200 klante die kans gegun om een van 100 John Deere
ride ons te wen – by NAMPO Park, natuurlik! Dié besonderse
gelukkige trekking is deur die sportpersoonlikheid Toks van der
Linde en Elma Postma, bekende aktrise en televisie-aanbieder,
behartig.
Teen die einde van die dag kon 100 Senwes klante met ’n glimlag
sê: “Ons is John Deere-groen!”
Die finaliste wat nie so gelukkig was nie, het darem nie met leë
hande huis toe gegaan nie, maar het ’n geskenk van Cipla
Agricare ontvang.
Ballonne, koek en hope gees
Op dieselfde dag as wat die John Deere ride ons klante se
dag opgekikker het, het Senwes ook vir hul personeel ’n
partytjie by hul hoofkantoor in Klerksdorp aangebied.
’n Tydkapsule is in die voorportaal van Senwes ingerig, met die
gedagte dat elke afdeling herinneringe van 2009 in die
tydkapsule plaas, wat eers oor 50 jaar weer oopgemaak sal word.
Tydens dié dag het Senwes ook alle personeellede vir hul
deur-lopende samewerking en ondersteuning bedank.
Steven Alberts (Direkteur: Finansies) het Senwes se 100
bestaansjare in perspektief gestel deur daarop te wys dat
ongeveer 260 miljoen werksure sedert die stigting van die
koöperasie De Centraal Westelijke Co-operatieve Landbouw
Vereniging in 1909, afgehandel is.
Johan Dique (Besturende Direkteur) het by dié geleentheid Senwes
se eeuwording as ’n hoogtepunt in sy loopbaan bestempel. “Senwes
se beloning is groot aan diegene wat gee,” het hy gesê. Hy het
ook erkenning gegee aan klante, verskaffers en personeel – elk
sonder wie Senwes se visie om die mees geadmireerde
agri-besigheid in Suid-Afrika te wees, nie realiseerbaar sou
gewees het nie.
’n Saluut aan die Direksie
Die Senwes Direksie het deur die jare heen ’n geweldige groot
rol gespeel in die ontwikkeling van Senwes tot die landboureus
wat hy vandag is. As voorsitter is Japie Grobler een van elf wat
Senwes as leier dien.
In Senwes se gedenkpublikasie word Japie aangehaal: “Te midde
van uitdagende landbou- en besigheidstoestande verskuif Senwes
deurlopend die doelpale van ekonomiese wins; met stabiele wins-gewendheidsvlakke
wat gevestig is en jaarliks gehandhaaf en verbeter word”.
Tydens 2009 se Direksiefunksie het een van Senwes se
voorkeurverskaffers, Sanlam, ’n gelukwensing in die vorm van ’n
geraamde boodskap aan Senwes oorhandig. Japie Grobler het as
voorsitter ook ’n oorkonde van meriete ontvang. Japie se
toespraak van die aand, sowel as Senwes se jaarverslag, is ook
in die tydkapsule by Senwes Hoofkantoor se ingangsportaal vervat.
Liefdadigheid word nie uitgesluit
nie
Op Woensdag, 13 Mei het Senwes as hoofborg van die jaarlikse
Prestige Sportaand, in samewerking met OFM, opgetree. Die
opbrengste van die aand is aan die Agri Securitas-trustfonds, ’n
fonds wat hulle beywer vir die bevordering van plaasveiligheid,
oorhandig. Hierdie kan gesien word as Senwes se
liefdadigheidsprojek tydens hul 100ste bestaansjaar, aangesien
die maatskappy ook onderneem het om alle winste wat uit die
Senwes DVD gegenereer word, aan Agri Securitas te skenk.
Die aand se verrigtinge, wat ’n veiling van rugby-memorabilia
ingesluit het, het ’n totaal van R128 000 in Agri Securitas se
koffers gesit.
Volgens Gary Stroebel (Hoof Uitvoerende Beampte: OFM), doen die
Agri Securitas-trustfonds onge-looflike werk deur bystand aan
landelike gemeenskappe te bied om hulle sodoende te help om
hulself te help. Hy noem ook dat hierdie byeenkoms OFM die
geleentheid bied om aan die landbougemeenskap terug te gee. “Ons
is trots om met Agri Securitas geassosieer te word. Dit is ook
’n voorreg vir ons om die aand saam met ons vennoot, Senwes, aan
te bied – veral in hul 100ste bestaansjaar.”
Hugh Bladen, bekende rugbykommentator, het as gasspreker
opgetree.
In die argiewe opgeteken
“Tyd kweek wenners. Senwes – ’n Eeu van landbou” is ’n spesiale
gedenkboek wat in opdrag van Senwes nagevors en saamgestel is.
Hierdie lywige kykie na die geskiedenis van Senwes deur Prof
Elize van Eeden, historikus en navorsingskonsultant verbonde aan
die Noordwes Universiteit, is op 24 Augustus by ’n spogfunksie
in Johannesburg bekendgestel.
Die boek neem die leser op ’n reis deur die landbou-landskap van
die afgelope 100 jaar, waar Senwes as koöperasie begin het en
deur harde werk en deursettingsvermoë ’n plekkie in die
landbougeskiedenis (van 1909 tot 2009) uitgebeitel het.
’n Eerste kopie van die boek is aan Japie Grobler, as
verteenwoordiger van die huidige en vorige direksies, oorhandig.
Johannes Möller (President: Agri SA) het namens georganiseerde
landbou ’n eksemplaar in ontvangs geneem.
Die ernstigheid van ’n eeu van landbou wat in die boek aangebied
word, word ingekleur deur interessante grafika en fotomateriaal.
Dit lees gemaklik en die tong-in-die-kies-staaltjies en grepe
uit die verlede bring heelwat ligte oomblikke na vore.
Soete resultate
Met die aankondiging van ’n rekord-omset en winssyfer, het
Senwes se eeufeesvieringe sommer ’n ekstra lekkerte bygekry. Die
finansiële resultate wat vir die jaar tot 30 April 2009
aangekondig is, het die omsetskaal op R11,2 miljard getrek, wat
’n 46%-verbetering op die vorige jaar aandui.
Hierdie omset is omgeskakel in ’n winssyfer van R368 miljoen –
Senwes se beste nog! Dit is veral indrukwekkend as daar onthou
word dat Senwes nie te lank gelede nie op die afgrond van
bankrotskap gestaan het.
“Die afgelope jaar se gunstige landbouseisoen het ’n gesonde
basis geskep vir die resultaat. Dit het die momentum verskaf
sodat ’n stewige prestasie gelewer kon word deur beide Senwes
Village en Senwes Grainlink, met sterk ondersteuning deur Senwes
Credit. Vanjaar is dit opnuut bewys dat Senwes se sakesukses
gesetel is in sy fokus op kernbesigheid en die uitbou en
versterking daarvan. Gepaste geleenthede wat beide geografiese
en kommoditeit-uitbreiding bied, kan sakesukses verder verhoog
en markaandeel uitbrei, wat kan lei tot die verdere veredeling
van aandeelhouerswaarde,” het Johan Dique gesê.
“Hierdie uiters bevredigende resultaat is die kulminasie van die
destydse omdraaiproses, implementering van strategie, fokus,
uitbou van die kernbesigheid, doelgerigte leiding deur die
Direksie en die vlak van eienaarskap wat deur personeel
gedemonstreer is. Ons gee hiermee erkenning aan al ons
voorgangers se harde werk, toewyding en insig en terselfdertyd
ook aan ons huidige belanghebbendes,” het hy bygevoeg.
Só word Senwes onthou
Om klante se deelname in die Senwes eeufeesvieringe ’n hupstoot
te gee, het Senwes verskeie gedenkitems vervaardig, wat as
aandenkings gekoop kan word en ’n spesiale bottel Jerepiko-wyn
en gedenkmunte insluit.
Senwes het ook ’n eie lied op DVD laat opneem. Dit is dié DVD-verkope
wat ’n geldjie bydra tot die Agri Securitas-trustfonds. Christo
van der Westhuizen van die reklamemaatskappy, Faction Lara Group
(FLAG) en Johan Laas (komponis) het die li-rieke van die liedjie
geskryf en die musiek gekomponeer. Daarna is gekyk watter
kunstenaars se stemme by die genre van die liedjie sou pas. Daar
is besluit op Théan Kotzé en Helena Hettema. Die liedjie My
Land is op die radiostasies van OFM, RSG en PukFM gespeel.
’n Eie korporatiewe DVD-produksie, wat die waarde van Senwes vir
die klant oor die afgelope 100 jaar dokumenteer, is ook
vervaardig. Dit beeld die verskeie probleme uit wat die
landboubedryf vroeër jare geteister het. Die DVD bevat ook ’n
lang en kort weergawe van die My Land-musiekvideo, sowel
as ’n Afrikaanse en Engelse kopie van die Senwes 100 DVD.
Langs die krieketveld
Krieketontwikkeling lê Senwes na aan die hart en die Senwes
Spinners-program, wat streef na die ontwikkeling en bevordering
van dié gentleman’s game in die landelike gebiede van
Suid-Afrika, het gelei tot ’n gemaklike vennootskap tussen
Senwes en die Noordwes Krieket Assosiasie.
Uit hierdie vennootskap het Senwes se borgskap van die
krieketstadion in Potchefstroom gevloei. Dié stadion staan tans
as Senwes Park bekend en is ook in die eeufeesvieringe betrek.
Elke krieketspeler wat 100 lopies en meer op Senwes Park
aangeteken het tydens geselekteerde wedstryde gedurende 2009,
het vir ’n kontantbedrag gekwalifiseer, terwyl elke 100ste
toeskouer ’n R500-koopbewys ontvang het.
Die toekoms in...
Met ’n nuwe, groen handelsmerk wat uitgerol is om Senwes se
bedryfspunte en hoofkantoor-voorkoms op te dateer, is Senwes reg
vir die volgende 100 jaar – nie net om as maatskappy die pad te
loop nie, maar ook om te groei saam met sy klante, die
produsente, sonder wie Senwes nie kan oorleef nie.
Klante gee hul mening
“Uitstekend! Ons het dit baie geniet. Dankie.” – H.A. Enslin
“Wonderlik, Senwes! Julle kan julself ’n groot pluimpie gee vir
die aanbieding.” – George Hayes
“Uitstekend, Senwes uitstekend! Wanneer doen ons dit weer? Net
die allerbeste vir die volgende 100 jaar.” – Louis Robbertse
*Bostaande terugvoer is deur middel van die Senwes webblad
ingesamel. Besoek gerus die webwerf by
www.senwes.co.za
Personeel sê hul sê
“It was mind blowing, all artists were great as well as the
event itself! Thanks.” – Maggie Faku (General Clerk, Senwes
Village)
“Outstanding, I must say. For one, I was very sceptical about
going – because spending the night listening to boeremusiek was
not my idea of fun. But the show was spectacular – from the
costumes to the stage and not to mention the performance. Thanks
for inviting us to this wonderful experience.” – Motshidisi
Taunyane (General Clerk, Senwes Corporate Services)
*Bostaande terugvoer is deur middel van die Senwes webblad
ingesamel. Besoek gerus die webwerf by
www.senwes.co.za
Elmarie Cronje is Redakteur van die Senwester.
Foto’s
Foto 1: Johan Grobler (Assistent Hoofbestuurder: Korporatiewe
Bemarking), Toks van der Linde en Kevin Smit (Produkbestuurder:
Senwes Village) kort voor die Skouspel vertoning.
Foto 2: Die Abraham Kriel-kinderhuis het ’n dag by die Sun City
“Valley of the Waves” geniet.
Foto 3: George Prinsloo (Agrinet), Eddie Engelbrecht (Degesch),
Steven Alberts en Gerrit Maritz (Absa) is gereed om af te slaan
by die Huisgenoot/Senwes prestige gholfdag in Sun City.
Foto 4: Toks van der Linde en Elma Postma tydens die John Deere
ride on-kompetisie.
Foto 5:Senwes personeel vier Senwes se 100ste verjaarsdag.
Foto 6: Johan Dique, prof Elize van Eeden, Japie Grobler en
Johannes Möller tydens die bekendstelling van Senwes se
eeufeesgedenkboek.
Foto 7: Gerrit van Zyl (Hoofbestuurder: Senwes Credit), Steven
Alberts en Alec Azar (Senior Kredietbestuurder: Senwes) by
Senwes en OFM se jaarlikse Prestige Sportaand, ten bate van Agri
Securitas.
Foto 8: Helena Hettema oefen haar note vir die Senwes lied.
Foto 9: Japie Grobler plaas sy toespraak, tesame met die
jaarverslag, in die tydkapsule tydens die Direksiefunksie,
terwyl Johan Dique toekyk.