WATTER
ONKRUIDBEHEER-STRATEGIE PAS DIE BESTE BY JÓÚ BOERDERY?
AUGUSTUS 2009
Sommige produsente is van nature meer ontvanklik vir nuwe boerderypraktyke, terwyl ander stadiger – en soms glad nie – daarvoor ontvanklik is nie.
In
hierdie artikel:
•
Meganiese metodes
•
Kostevergelyking
•
Bespreking van Tabel 1
Die vlak van aanvaarding kan meestal ook
direk gekoppel word aan die hoeveelheid inligting of kennis wat
ʼn persoon rondom ʼn onderwerp het. Gevolglik word die gewildste
praktyke vir voorplant-onkruidbeheer in die sentrale Vrystaat
bespreek.
Die meganiese en chemiese onkruidbeheer wat voor plant plaasvind,
word binne die konteks van somergewasse wat onder
droëland-toestande verbou word, hanteer. Voordat ʼn vergelyking
tussen meganiese, of ʼn kombinasie van chemiese en meganiese
onkruidbeheer gedoen kan word, moet die verskillende metodes van
onkruidbeheer of grondvoorbereiding verduidelik word.
Meganiese metodes
Konvensionele bewerkingspraktyke
Die bekendste bewerkingspraktyk is die konvensionele praktyke;
waar ʼn skotteleg, ploeg of beitelploeg gebruik word. Die eerste
bewerking wat na oes plaasvind, is gewoonlik ʼn
skottelegbewerking. Die tweede bewerking is met ʼn skotteleg of
breedwerkskoffel. ʼn Skotteleg sny nie net die onkruid dood nie,
maar sny ook die oesreste fyn en vernietig die grondstruktuur.
Die grondoppervlakte word ook vir wind- en watererosie ontbloot,
wat ’n ongunstige uitwerking op die langtermynpotensiaal van die
grond het.
Grondvogtoestande, sowel as die tipe en grootte van die onkruid,
bepaal grootliks die tipe en die tyd van bewerking. Indien die
grondvog van so ʼn aard is dat die primêre bewerkingsaksie gedoen
kan word, word daar met eggies in die konvensionele stelsel
geploeg, wat dan ook as onkruidbeheer dien. Indien ʼn beitelploeg
gebruik word, is die praktyk om ná die beitelploegaksie te
skoffel vir onkruidbeheer en die grond te “seël”. Afhangend van
die verloop van die seisoen, is daar soms weer ʼn skoffelaksie
vir onkruidbeheer en saadbedvoorbereiding direk voor plant.
Lande wat geploeg is, bly gewoonlik langer onkruidvry as dié wat
met ʼn beitelploeg gewerk is.
Deklaagbewerkings of ’n spoorverkeerstelsel
Deklaagbewerkings of ʼn spoorverkeerstelsel is meer van
toepassing op grond wat gevoelig is vir winderosie en
grondverdigting, soos die Noordwes-Vrystaat se sandgrond.
Normaalweg word ʼn V-lemskoffel ingespan as die eerste bewerking
na oes, gevolg deur ʼn tweede bewerking wat ʼn stoppelskoffel, of
rolstaafskoffel, kan wees. Net soos by die konvensionele stelsel,
is die derde bewerking ook baie afhanklik van die
grondvogtoestande. Na die rip-op-ry-aksie word ʼn rolstaaf
gebruik om die grond te “seël”, die saadbed te maak en ook
onkruid te beheer. Hierdie implemente se doel is om soveel as
moontlik materiaal op die grondoppervlakte te plaas, vir die
bekamping van winderosie. Die tyd waartydens die derde bewerking
gedoen word sal ook, soos in die geval van die konvensionele
stelsel, bepaal of nog ʼn rolstaafbewerking gedoen gaan word.
Kombinasie van chemiese en meganiese voorplant-onkruidbeheer
Wanneer daar na chemiese voorplant-onkruidbeheer verwys word,
dink baie mense die gebruik is tot geenbewerking- of
bewaringsbewerkingstelsels beperk. Dit kan egter deel van enige
tipe boerderystelsel vorm. By chemiese voorplant-onkruidbeheer
word twee meganiese bewerkings, soos hierbo by die konvensionele-
en deklaagstelsel beskryf, deur twee glifosaatbespuitings
vervang. Die res van die bewerkingsaksies is normale, meganiese
aksies. Glifosaat is ʼn nie-selektiewe onkruiddoder en is
algemeen bekend as Roundup. Dit word gebruik vir die
na-opkomsbeheer van onkruid. Glifosaat word onder verskeie ander
handelsname, soos Mamba, Springbok, Senator, Glyphogan, Erase,
Clear All, Sting en Strip, bemark. Daar is ook verskeie
formulasies, soos 240 g/ℓ, 360 g/ℓ, 480 g/ℓ of 540 g/ℓ, wat die
sterkte van die produk aandui. Roundup Ready word gebruik waar
Roundup Ready-mielies, -katoen of -sojabone aangeplant is.
Roundup Ready maak alle plante dood, behalwe die gewas wat
aangeplant is.
In die praktyk word soms gesê dat glifosaatbespuitings nie die
gewenste werking het nie en dat ʼn meganiese aksie beter beheer
kon bied. Die rede hiervoor is nie noodwendig die produk wat nie
werk nie, maar eerder hoe dit gebruik is. Dit is baie belangrik
dat gebruikers moet verstaan dat die suksesvolle aanwending van
glifosaat afhanklik is van spesifieke voorwaardes, tegniese
kennis en toesig.
Alle onkruid word nie ewe maklik met glifosaat beheer nie en die
toedieningsdosisse moet ook dienooreenkomstig met die
onkruidspesies en -groeistadiums aangepas word. Dit is gevolglik
belangrik om te let op die volgende vir die doeltreffende
gebruik van die produk:
• Volg die aanbevelings op die etiket streng na.
• Die kwaliteit van die spuitwater wat gebruik word, is krities.
Waterontleding is belangrik, sodat ʼn ingeligte besluit oor die
gebruik geneem kan word.
• Vermy die gebruik van brak of modderige water met ʼn hoë
kolloïedinhoud. In gevalle waar alkaliese of harde water gebruik
word, is dit wenslik om ʼn buffer by te voeg, soos op die etiket
voorgeskryf.
• Die regte hoeveelheid ammoniumsulfaat, soos op die etiket
aanbeveel of gebaseer op die waterontledings, moet bygevoeg
word. Volg die meng-instruksies deur eers ʼn bietjie water in die
tenk te tap en dan die ammoniumsulfaat by te voeg. Meng hierdie
mengsel deeglik, tap nog water by en voeg laastens die glifosaat
by. Meng die mengsel weer deeglik.
• Dit word aanbeveel dat ʼn lae druk, van 100 kPa tot 150 kPa,
saam met laedruk spuitpunte gebruik word om die gewenste
watervolume, optimale benatting en regte toedieningshoeveelheid
per hektaar te kan spuit. Kalibreer die spuite onder
veldtoestande.
• Neem die toestande waaronder gespuit word, in ag. Glifosaat
werk die beste wanneer die onkruid aktief groei. Dit is nie
wenslik om op die warmste tye van die dag te spuit nie,
aangesien die verdamping hoog is en plante se huidmondjies toe
is. Die onkruid se blaaroppervlaktes moet nie te nat wees van
dou of reën nie. Indien die onkruid onder stremming verkeer,
dormant is, met stof bedek is of deur ryp beskadig is, kan die
doder ook nie doeltreffend opgeneem word nie. Sekere
glifosaatprodukte is reënvas na een uur van toediening, terwyl
ander eers na ses ure reënvas is.
• Lees die produketiket deeglik, voordat tenkmengsels met ander
chemikalieë oorweeg word. Die doeltreffendheid kan drasties
verlaag word deur nie-verenigbare chemikalieë met mekaar te meng.
Waak teen die opbou van onkruiddoderweerstand deur by die
korrekte dosisse te hou.
• Moenie gifstowwe onder winderige toestande spuit nie. Gebruik
glifosaat baie versigtig naby naburige gewasse, aangesien
wegdrywing groot skade aan naburige gewasse kan aanrig. Was ook
die spuite deeglik na gebruik.
• Indien daar vir die eerste keer met glifosaat gewerk word,
moet geduld aan die dag gelê word, aangesien die simptome soms
eers twee weke nadat daar gespuit is op sekere onkruid sigbaar
raak.
Kostevergelyking
Onkruiddruk, werkswydtes, trekkerouderdom, kilowatt-klas,
grondtoestande en fabrikaat is alles faktore wat bydra tot ʼn
variasie in die werklike bewerkingskoste. Nieteenstaande gaan
gepoog word om die kostestruktuur vir voorplant-onkruidbeheer
met konvensionele beheer, deklaagbeheer en ʼn kombinasie van
chemiese en meganiese beheer in Tabel 1 met mekaar te
vergelyk.
Bespreking van Tabel 1
• Volgens Tabel 1 is die direkte uitgawes van die
gekombineerde chemiese en meganiese beheeropsie die hoogste,
maar dit moet nie die enigste parameter wees wat vir
besluitneming gebruik word nie.
• Chemiese beheer het weer die laagste brandstof-, reparasie- en
onderhoudkoste, sowel as die laagste waardevermindering.
Meganiese bewerkingsaksies sit harde ure op trekkers en die
slytasie van werktuie is dus hoog. Met ’n spuitaksie werk ’n
trekker nie so hard nie. Gevolglik word die lewensduur en
vervangingsiklus van trekkers verleng.
• Die koste van glifosaat en diesel is gedurig aan veranderinge
onderworpe, wat die koste in die vergelyking kan beïnvloed. Dit
is interessant om daarop te let dat die koste van die drie
onkruidbeheermetodes ook nie baie van mekaar verskil nie.
• Ander aspekte wat in gedagte gehou moet word, is die
oppervlakte wat per dag gespuit kan word. Daar kan bykans twee
keer die oppervlakte gespuit word in dieselfde tyd as dié van ʼn
V-lem of rolstaaf-bewerking – en drie keer meer as ʼn
skottelegbewerking.
• Die kilowatt-vereistes en die arbeid is heelwat minder met
chemiese beheer, wat tot gevolg het dat jy met minder trekkers
dieselfde oppervlakte kan bewerk en ook op arbeid bespaar.
• Tydens ʼn meganiese bewerking word die ontkieming van onkruid
ook terselfdertyd gestimuleer wanneer grond versteur word. Met
chemiese beheer word die grondoppervlakte nie versteur nie, met
die gevolg dat die intervalle tussen onkruidbeheeraksies langer
is. ʼn Goeie algemene duimreël is dat daar ongeveer 1,5 keer vir
elke bespuiting meganies gewerk word.
• Die doeltreffendheid van meganiese onkruidbeheer kan ook
verlaag word indien nat toestande aanhoudend ondervind word. Die
voordeel van ʼn glifosaatbespuiting is veral groter op ruslande,
wat vir langer periodes skoon gehou moet word.
• Wanneer grond meganies gewerk word, gaan dit ook met
grondvogverlies gepaard. Dit gebeur ook soms dat plantvog (in
die bogrond) in sommige jare tydens kritiese plantperiodes te
min is, vanweë die voorafgaande meganiese bewerkings wat die
grond uitgedroog het.
Aangesien elke produsent se toestande en behoeftes van mekaar
verskil, bestaan daar nie ʼn sambreelvergelyking vir almal nie en
kan afwykings van hierdie vergelykings voorkom. Nieteenstaande
kan die denkpatrone en vergelykingsmetodes met eie
kostestrukture gebruik word, sodat elkeen vir sy unieke situasie
kan bepaal watter tipe aksie of kombinasie die beter keuse is.
ʼn Mens moet tog daarteen waak om nie só gekondisioneerd te raak
met jou bekende metodes en praktyke, dat jy die voordele van
ander, of nuwe, praktyke miskyk nie.
Bernard Muller is die Bestuurder: Akkerbou en Grondkartering
by Senwes Landboudienste. Vir verdere inligting, stuur ʼn e-pos
aan
[email protected]
of skakel hom by (057) 354-2126.
Foto 1: ʼn Voorbeeld van die effek van ʼn
glifosaat-bespuiting.
Tabel 1: Kostestrukture van konvensionele, deklaag en ʼn
kombinasie van chemiese en meganiese
voorplant-onkruidbeheeropsies.
Bron: Senwes produksiekoste-gids