Diversifikasie en kennis is ’n wen-kombinasie
AUGUSTUS 2009

“My oupa het altyd gesê: vir elke hektaar wat jy plant, moet jy een bees hê. Maar ek wil sê dat vir elke hektaar wat jy plant, jy ’n bees en ’n skaap moet hê.”

In hierdie artikel:

Die belangrikheid van inligting
Boerdery
Bemarking van gewasse
‘n Normale dag
Arbeidsbestuur

Meganisasiebestuur
Gesinslewe
Die voorsittersbaadjie


Só gesels Francois Coetzee, nuutverkose Voorsitter van Agri Noordwes se Jongboervereniging, oor die belangrikheid van diversifikasie vir jongboere. Sy wenke as voorsitter is eenvoudig: wees altyd positief, konsentreer eers op diversifikasie voor jy jou bekommer oor winsgewendheid en gebrúík die inligting wat tot jou beskikking is.

Die belangrikheid van inligting
Vir Francois, wat reeds as derde geslag op die famillieplaas, Paardeplaats, op die pad tussen Hartbeesfontein en Coligny, boer, is die insameling en gebruik van inligting baie belangrik. Hy sou na matriek eers sy BSc Agric-kwalifikasie gaan verwerf het, maar met sy pa wat in daardie jaar vyf hartomleidings moes deurmaak, het sy planne verander en moes hy dadelik op die plaas inspring en begin help. Gevolglik, sê hy, het hy alles wat hy wou weet en uitvind gedoen deur te vra, na te vors, landbouliteratuur te lees en inligting bymekaar te maak.

Die raad wat hy dus aan jongboere gee, is raad wat hy weet werk. Sy boerdery is ook goed gediversifiseer, met mielies, sonneblomme en grondbone wat, as kontantgewasse, ongeveer 60% van die boerdery uitmaak. Verder het hy ’n Holstein-melkery, ’n vleisbeeskomponent en ’n kudde skape.

Boerdery
Sy vleisbeeste is Simmentaler en Brahman, wat gekruis is vir Simbra speenkalwers. Die skape is Vleismerino’s. Tog vertel hy dat hy die saai-gedeelte van sy boerdery die meeste geniet. Hy werk op ’n spoorverkeerstelstel en is besig om oor te skakel na presisieboerdery. “Ons het reeds begin om die grids op te trek en ek het die meeste van my lae-opbrengs lande klaar na weiding oorgeskakel,” het hy vertel. Hy sny ook elke jaar sy eie kuilvoer.

Francois vertel verder dat hy reeds sedert skool wou boer – “As ek al in standerd agt kon ophou met skool, hét ek” – en boer tans op twee plase, sowel as grond wat hy huur. Die hoë insetkoste, wat verlede jaar op veral kunsmis geheers het, het hom nie te erg beïnvloed nie, vanweë die goeie verhouding wat hy met sy insetverskaffers het. “My insetverskaffers het my reeds vroeg oor die verwagte verhoging in insetpryse gewaarsku. Ons het gevolglik dubbel soveel kunsmis aangekoop, wat my insetkoste betreklik laag gehou het,” het hy gesê.

Soos met enige boerdery, hou die wisselvalligheid van die klimaat die grootste risiko vir Francois se boerderybesigheid in. Hy beperk dit egter deur insetversekering uit te neem. ’n Verdere risiko is die skommeling van kommoditeitspryse, wat met die hulp van sy raadgewers en ook die insameling van die nodige inligting, beperk word.

Bemarking van gewasse
Met ’n derde van Francois se mielies en sonneblom wat met voorseisoenkontrakte vasgemaak word, is daar nog ’n derde wat deur middel van putts bemark word, terwyl die laaste derde vir die mark oorgehou word. Die landboumaatskappye waarvan hy lid is, soos Senwes, help hom met die bemarking van hierdie gewasse.

Die grondbone word deur Rhys Evans in Viljoenskroon bemark, terwyl die melk vanuit die melkery aan Transem verskaf word.

’n Normale dag
Hoewel dit moeilik is om as produsent ’n normale dag te definieer, erken Francois prontuit dat hy en sy vrou, Christelle, koffieverslaafdes is. Dus begin sy dag gewoonlik met ’n koppie boeretroos saam met vroulief net nadat hy opgestaan het.

Wanneer die koffie gedrink is, werk hy gewoonlik deur sy e-posse, waarna hy ’n gesprek het met sy werkers om die doelwitte vir die dag te bepaal. “Ek hou daarvan om voor my werkers op die plaas te wees, maar glo ook daarin om saam met my mense te werk. Dit bou goeie verhoudinge,” het hy gesê.

Arbeidsbestuur
Francois het tien permanente werkers en neem kontrakwerkers in diens soos nodig. Omdat die melkery so arbeidsintensief is, is die grootste getal arbeiders daar gekonsentreerd. Elke boerderyvertakking het egter sy eie bestuurder, wat verantwoordelikheid aanvaar vir die werkers wat onder hom sorteer. Elke vertakking het ook sy eie begroting, waarbinne gebly moet word.

Meganisasiebestuur
Wat meganisasiebestuur aanbetref, is Francois besig om sy trekkervloot, wat so om en by elf trekkers insluit, na John Deere om te skakel. Hy het tans ook New Holland en Case-fabrikate. “Hoewel John Deere se trekkers aanvanklik met aankope duurder is, kan ’n mens die bedrag wat jy oor ’n tydperk spaar op dinge soos dieselverbruik, uitwerk. Daaruit is dit duidelik dat die John Deere die moeite werd is,” het hy gesê.

Elke trekker het sy eie drywer en Francois sê self dat hy baie streng is oor rekordhouding, veral in terme van dieselverbruik en gereelde dienste. Die trekkers wat nog onder waarborg is, word deur die agente gediens. Dié waarvan die waarborg reeds verval het, word op die plaas self gediens. Herstelwerk op die trekkers word deur die meganisasie-werkswinkels behartig.

Gesinslewe
Christelle en Francois is reeds meer as twee jaar gelukkig getroud en het ook ’n vyf maande oue dogtertjie, Carli. As ’n oud-inwoner van Klerksdorp, het Christelle eers haar eie brood as administrasie-persoon verdien. Dít kom natuurlik nou handig te pas in die boerdery, aangesien Christelle die administrasie-gedeelte van die besigheid, waarvoor Francois nie werklik tyd het nie, hanteer. Sy help ook met die uitwerk van inkomstebelasting en die BTW.

Die voorsittersbaadjie
Francois erken dat hy baie opgewonde is oor sy aanwysing as Voorsitter van die Agri NW Jongboervereniging, aangesien dit iets is wat hy nog altyd wou doen. Een van sy doelwitte is om soveel as moontlik inligting aan jongboere beskikbaar te stel. “Omdat ek nie geswot het nie, weet ek uit ondervinding hoe ’n groot rol die regte inligting op die regte tyd kan speel,” het hy gesê. Hy is ook baie positief oor die landbou, veral oor die volgende twee jaar.

As jongboervereniging-voorsitter voel hy ook dat die jongboere die volgende generasie is wat die leiding gaan moet neem om Suid-Afrika se landbousektor uit te brei en te verbeter.

Vir die volgende twee jaar sal dié dinamiese jongboer dus die leiding neem en ander jongboere inspireer om deur ’n soeke na kennis, goeie diversifiseringspraktyke en ’n positiewe houding die toekoms tegemoet te gaan.

Elmarie Cronje is die Redakteur van Senwester. Stuur ’n e-pos na [email protected] , of skakel haar by (018) 468-2716.


Foto 1: Francois saam met sy vrou, Christelle, en sy babadogtertjie, Carli.


Foto 2: Francois het Simmentaler- en Brahman-beeste, wat gekruis is vir Simbra speenkalwers.


Foto 3: 'n Trop Merino-skape vorm deel van Francois se boerdery.


Foto 4: Hoewel Francois hoofsaaklik met gewasse boer, glo hy in diversifikasie.


Foto 5: Francois se Jack Russel, Seuntjie, is 'n regte plaashond.