Vinnige, maklike oes met
dié masjien
APRIL 2009
Harris van Niekerk, ’n wynprodusent van
Hartswater, is een van die min produsente in die Noord-Kaap wat
die Pellenc oesmasjien gebruik. Ruth Davies het meer oor dié wyn
boer gaan uitvind en van naderby ondersoek gaan instel na die
werking van die masjien.
In
hierdie artikel:
• Hoe werk die masjien?
• Die begin van die wynboerdery
• Gesin
• Foto’s]
Harris het grootgeword op wingerdgrond naby Magogong. Dit is as
gevolg van sy pa-hulle se wingerdboerdery dat die Hartswater
wynkelder gebou is. Vandag lewer hy van sy eie druiwe aan dié
kelder, wat ’n diverse onderneming van Senwes is. Dié wynkelder
is by die Oranje-Vaal Jongwynskou in 2008, wat langs die
Oranjerivier by Broadwaters naby Douglas gehou is, as die
reserwekampioen in die afdeling vir droë witwyn, sowel as vir
nie-muskaat versterkte wyn, aangewys.
Die kelder het ook die toekenning vir die kampioen droë witwyn
ontvang. ’n Groep uitgelese gaste, waaronder produsente, wynmakers en borge, het die skou, bygewoon. Die streek is
geloof vir sy uitmuntende wyne en produsente en wynmakers hoef
nie ’n tree vir die wynstreke in die Wes-Kaap terug te staan nie.
Hoe werk die masjien?
Die Pellenc het agt latte wat van links na regs beweeg. Die
kombinasie van die lengte van die skudlatte, drukkrag en
frekwensie wat verstel kan word gee die perfekte beweging sodat
die druiwekorrels afgeskud kan word. Die korrels wat afgeskud
word val op ’n vervoerband wat dit opbeweeg na die massahouers.
Wanneer die houers vol is, word dit in die sleepwa se bak getiep.
Dit is egter nie net ’n druiwemasjien nie, maar word ook gebruik om onder andere rygewasse te spuit, bankieverwerking te
verrig en voorsnoeiing te doen. Wat die masjien so uniek maak,
is dat die maatskappy, wat gesetel is in die Paarl, bereid is om
’n diens in die Noord-Kaap te lewer en om jou op te lei om die
masjien te gebruik.
Wyndruiwe is ’n produk waaraan ’n eenmalige uitgawe gekoppel is; dit is totaal gemeganiseerd. “Meganisasie laat nie mense
hul werk verloor nie, inteendeel, dit skep werksgeleenthede vir
opgeleide mense,” meen Harris. Sy resep vir ’n sukses
volle wynplaas lê in goeie, doelgerigte langtermyn beplanning.
Die begin van die wynboerdery
In 1998 het Harris sy eerste wingerdaanplantings met eie kapitaal gedoen. In 2000 het hy voltyds met druiwe begin boer en
vandag besit hy 32 hektaar wingerd, wat onderskeidelik Colombar
en Chenin Blanc insluit.
Gesin
Harris is getroud met Estie en uit hul huwelik is Veronica (23)
en Engela (21) gebore. Vir Estie is dit baie lekker om deel te
kan wees van die wynboerdery – sy is verantwoordelik vir die
finansiële sy van die boerdery en help ook met die elektriese
besigheid wat Harris van sy huis op die plaas bedryf. “Dit is
wonderlik om as huweliksmaats deel te wees van die boerdery en
besigheid,” het Estie gesê.
• Vir meer inligting oor watter soort wyne by die Hartswater
wynkelder te koop is, besoek hul webtuiste by Vaalharts.com.
onder die skakel Agri-Business.
Ruth Davies is ’n landboujoernalis by Infoworks. Skakel haar
by (018) 468-2716 of 083 583 5243.
Foto’s

Die masjien loop wydsbeen bo-oor die wingerdry.

Hoewel wynboerdery baie meganisasie behels, beteken dit nie
dat die produsent minder het om te doen nie. “Dit verg hoogs
gesofistikeerde opleiding,” aldus Harris.

Die Pellenc van agter gesien. Indien jy agter die masjien
staan en dit witdruiwe oes, sal jy ‘n ligte sproei van die sap
op jou vel voel. Daarteenoor gee rooidruiwe amper geen sap af
wanneer dit geoes word nie – die rede hiervoor is dat rooidruiwe
‘n taaier skil het as witdruiwe.

Die druiwe word uitgetiep in die sleepwa se bak.

Die Van Niekerks heg baie waarde aan familietyd. Van links is
Estie, Harris, Engela en haar verloofde, Wick Grobler. Wick help
Harris tans in sy boerdery.