SOMERGEWASSE – WATTER
IMPAK HET HOË INSETKOSTE OP JOU PRODUKSIE?
AUGUSTUS 2008
Die stygende insetkoste vir die komende
produksieseisoen het die marges van die meeste somergrane
negatief beïnvloed. Die wêreld se voorraadvlakke en vraag na
voedsel ondersteun egter die produkprys aan die agterkant, wat
marges weer positief beïnvloed. Die stygende pryse van
noodsaaklike voedselsoorte die afgelope maande, soos rys, koring
en mielies in van die wêreld se armste lande, het optogte in
Haïti en betogings oor Afrika heen veroorsaak.
In
hierdie artikel:
• Insetkoste stygings van
vernaamste grane
• Styging in produksiekoste van
BT-mielies in die Noord-Vrystaat
• Insetkoste vir verskillende
opbrengsmikpunte vir BT-mielies in die Noord-Vrystaat;
spoorverkeerstelsel; en sonneblom in die Noord-Vrystaat
• Gevolgtrekking
• Verwysings
• Grafiek en tabelle
ʼn Ekonomiese afswaai, soos wat Suid-Afrika en die res van die
wêreld nou beleef, kan groot swaarkry veroorsaak. Die huidige
styging in voedselpryse het ’n groot impak op veral die
werkersklas en dit is noodsaaklik dat lande begin kyk na
voedselsekerheid.
Die doel van dié artikel is om te kyk watter gewas, en teen
watter opbrengspeil en prysvlak die produsent kan plant met die
stygende insette, wat steeds ’n bevredigende marge sal realiseer.
Insetkoste stygings van
vernaamste grane
Sedert die vorige seisoen het direkte insetkoste met ongeveer
50% gestyg (berekening tot en met Junie 2008), met inagneming
van alle gewasse en verskillende verskaffers. In Grafiek 1 kan
die toename per item gesien word.
Styging in
produksiekoste van BT-mielies in die Noord-Vrystaat
Indien daar na die groot styging in kunsmispryse (136%) en
brandstof (73%) gekyk word in Grafiek 1 en dit word vergelyk met
die persentasie-bydrae wat kunsmis (38%) en brandstof (15%)
respektiewelik tot mielieproduksie maak in Tabel 1, is die
styging in produksiekoste vir mielies 66% in vergelyking met die
50% styging vir alle insetkoste. Sonneblom het ’n soortgelyke
tendens as dié van mielies.
Insetkoste vir verskillende opbrengsmikpunte vir
BT-mielies in die Noord-Vrystaat; spoorverkeerstelsel; en
sonneblom in die Noord-Vrystaat
Vir die komende seisoen is dit uiters belangrik dat die
produsent deeglik sal beplan om te kyk teen watter opbrengs- en
prysvlakke hy ’n goeie marge kan realiseer. Die koste van
produksie het drasties toegeneem, wat ’n groter risiko vir die
produsent inhou as wat die geval was in die vorige
produksieseisoen. Om die besluit oor produksie vir die produsent
te help vergemaklik, word in Tabelle 2 en 3 die insetkoste vir
produksie van BT-mielies in die Noord-Vrystaat-streek met ’n
spoorverkeerstelsel en sensitiwiteitsanalise gegee. Tabelle 4 en
5 toon die insetkoste van sonneblomproduksie en sensitiwiteitsanalise in die Noord-Vrystaat.
Soos gesien kan word in Tabel 3 kan die produsent selfs teen ’n
produsentprys van R1 750/ton en ’n opbrengs van 3 ton per
hektaar ’n relatiewe goeie marge realiseer.
Berekenings in Tabel 2 en Tabel 3 is gedoen teen ’n
brandstofprys van R10 per liter. Die koste neem egter toe teen
tussen R75 en R85 per hektaar vir elke R1/liter styging in
brandstofprys. Indien gekyk word na die twee gewasse sal die
produsent sien dat teen genoemde koste teenoor
kommoditeitsprysvlakke daar vir elke 1,5 ton sonneblom 4 ton
mielies geproduseer moet word om dieselfde marges te realiseer.
Gevolgtrekking
Insetkoste en voedselpryse het drasties gestyg die afgelope paar
maande en verdere stygings is nie uitgesluit nie. Die redelike
onsekerheid of daar geproduseer kan word teen die huidige hoë
insetkoste is grootliks geneutraliseer deur die stygende
graanpryse.
Landbou (voedselproduksie) is ’n sektor van die ekonomie wat
wêreldwyd onder druk is weens ’n kombinasie van faktore.
Daaronder is die toenemende vraag na stapelvoedsel soos rys en
koring uit snelgroeiende lande soos Sjina en Indië en mielies in
Afrika. Die invloed van bio-brandstowwe is kleiner as wat
voorspel is en dit het hoofsaaklik slegs in die VSA en in ’n
mindere mate Europa ’n rol te speel.
Suid-Afrika, wat eens ’n netto uitvoerder van voedsel was, het
reeds ’n netto invoerder geword. Die tekorte op die
betalingsbalans is reeds by vlakke van 9% wat die hoogste in 26
jaar is, wat ook plaaslike prysvorming kan stut.
Dit is dus duidelik dat voedselsekerheid toenemend belangrik
word vir alle lande en dat graanpryse nog verder kan styg. Die
produsent moet egter daarop let dat daar deurentyd gekyk moet
word na die prys tot opbrengs-verhoudings om maksimale marges te
realiseer.
Verwysings
Webbladsye beskikbaar:
Omnia kunsmis pryslyste:
http://www.omnia.co.za/MediaLib//Downloads/NutriologyHomepage/Price%20List%201%20May%202008.pdf
Graan SA:
http://www.grainsa.co.za/marketstat.asp
Safex:
http://www.safex.co.za/ap/
News24.com:
http://www.news24.com/Beeld/Home/
Grobbelaar, M.M. Mei 2008. Persoonlike mededeling en onderhoud.
Spesialis Graananalis, Senwes Groep.
Styging van insette: Alle insetkoste-items vir alle gewasse.
Persentasie-styging per insetkoste-item van produksiekoste
vir BT-mielies; Noord-Vrystaat-streek van die 2007/2008-seisoen
tot die 2008/2009-seisoen.
Opsommende inkomste-kosteraming vir spoorverkeer BT-mielies;
Noord-Vrystaat; teen verskillende opbrengsmikpunte teen ’n
produsenteprys van R1 950/ton, soos op Safex tydens skrywe van
die artikel.
Sensitiwiteitsanalise van BT-mielies; Noord-Vrystaat;
spoorverkeerstelsel.
Opsommende inkomste-kosteraming vir sonneblom in die
Noord-Vrystaat teen verskillende opbrengsmikpunte teen ’n
produsenteprys van R4 500/ton, soos op Safex tydens skrywe van
die artikel.
Sensitiwiteitsanalise van sonneblom; Noord-Vrystaat.