Wenners deel wen-wenke
• Dít moet jy weet voor jy inskryf vir
jongboerkompetisie
Junie
2008
Die ARS/Vrystaat Landbou Jongboer van die
Jaar-kompetisie is ʼn instelling wat aan jongboere die
geleentheid bied om hul besighede te laat evalueer en beoordeel.
Wat is egter die eintlike waarde van so ’n kompetisie?
In
hierdie artikel:
• Wat is die waarde van die
jongboerkompetisie vir jongboere?
• Waarom is so ʼn kompetisie nodig?
• Watter raad kan jy aan jongboere
gee wat ook wil deelneem?
• Wat het jy, as produsent, uit die
kompetisie geleer en hoe het dit jou gehelp?
• Is daar enigiets wat jy aan die
beoordelingsproses sou verander?
• Watter eienskappe dink jy moet ʼn
jongboer hê om ʼn suksesvolle boerdery te bestuur?
• Foto’s
Senwester het met vier wenners van hierdie kompetisie
gesels om meer uit te vind oor die voordele wat so ’n kompetisie
vir jongboere kan inhou.
Die 2005 ARS/Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar, Andries Els,
boer by Bloemhof, op die plaas Valentia. Dié boerdery is in vier
bedryfsvertakkings verdeel waarvan die hoofvertakking
graanverbouing is, wat uit mielies en koring bestaan. Dan is
daar ook ’n Drakensberger-kudde en Limousine-stoet.
Willem du Plessis, 2006 se wenner van die ARS/Vrystaat Landbou
Jongboer van die Jaar-toekenning, het grootgeword op die plaas
“Nuwe Orde”, wat ook nou sy grond is. “Nuwe Orde” beslaan
ongeveer 2 300 hektaar en Willem verbou mielies, sonneblom,
grondbone, koring en lusern op die plaas. Mielies is die
boerdery se hooffokus.
2007 se wenner, Ters Pretorius, is die eienaar van Skoonuitzicht
en ook Besturende Direkteur van die veevoermaatskappy, Telwiedré
Veevoere, wat vanjaar reeds tien jaar bestaan.
JBT Boerderye bestaan uit ses kleiner plase, wat ’n eenheid vorm
en 2 500 hektaar beslaan. JB van den Berg, 2008 se ARS/Vrystaat
Landbou Jongboer van die Jaar is alleen-aandeelhouer en ook
Uitvoerende Direkteur van dié boerderybesigheid. Sy
kontantgewasse beslaan ongeveer 1 900 hektaar, terwyl die
oorblywende 500 hektaar deur natuurlike en aangeplante weiding
opgemaak word. JB het ook ’n veefaktor, wat bestaan uit ’n
Bonsmara-kudde van 200 beeste en 210 vleismerino’s. Die
veevertakking bestaan verder uit ’n voerkraal, waar jaarliks
nagenoeg 300 beeste afgerond word. JB het ook belange buite die
boerdery. Hy is alleen-aandeelhouer in Sustainable Commodity
Trading, ’n verhandelingsmaatskappy wat graanhantering doen. Dié
maatskappy het blootstelling op die Chicago Board of Trade,
Safex en die JSE.
Wat is die waarde van
die jongboerkompetisie vir jongboere?
Andries: Dit gee jou as jongboer die geleentheid om te
kan meeding op kriteria wat nasionaal ook gebruik kan word en
daarvolgens kan jy die sterk of swak punte van jou onderneming
in die toekoms raaksien om volhoubaar te kan boer. Jy kan ook
vasstel of jy kompeterend is met jou mede-jongboere se
ondernemings.
Willem: Ek dink die kompetisie is ’n goeie maatstaf
waaraan ’n jongboer sy boerdery kan meet. Daar is sekere
vereistes waaraan voldoen moet word, soos goeie
arbeidsverhoudinge, produktiwiteit, goeie finansiële bestuur,
ensovoorts. Daar word dus vir jongboere ’n standaard gestel deur
hierdie kompetisie.
Ters: Dit is ’n kompetisie wat jongboere bemagtig. Nie
net ten opsigte van sy besigheid en boerdery nie, maar ook as
mens.
JB: Ek glo dit dien as ’n inspirasie vir jongboere,
aangesien dit jou die nodige moed gee om dinge wat jy dalk wil
beproef of in glo, tot uitvoering te kan bring in jou
boerdery-besigheid.
Waarom is so ’n
kompetisie nodig?
Andries: Om te sien wat die sterk en swak punte van jou boerdery
is, sodat jy daarop kan verbeter om ’n volhoubare
boerdery-onderneming te verseker.
Willem: Hierdie kompetisie is ’n definitiewe tree in die
regte rigting vir ’n jongboer wat daarna streef om sy boerdery
vorentoe te vat. Die jongboer speel ’n groot rol in die toekoms
van die landbou en deur hierdie kompetisie word daar erkenning
gegee aan jongboere wat inisiatief en doelgerigtheid in hul
boerderye belangrik ag.
Ters: Dit gee jongboere die blootstelling om homself te
meet teen mede-jongboere en wanneer jy jouself meet,
identifiseer jy terselfdertyd leemtes en tekortkominge wat
aangespreek kan word.
JB: Vir my bly dit ’n toonbeeld van die jongboere se
inisiatief en kreatiewe vermoëns.
Watter raad kan jy aan jongboere gee wat ook wil
deelneem?
Andries: Eerstens, vul die vraelys so volledig en eerlik
moontlik in, want dit bly ’n belangrike dokument in die
kompetisie. Wys op die nuutste vordering in jou boerdery,
byvoorbeeld presisieboerdery. Skerp jou ook op met inligting oor
die nuutste kultivars, bemarkingsinligting en dit wat op jou
boerdery van toepassing is ten opsigte van makro-elemente.
Willem: As ek ooit weer die kans kry om deel te neem, sal
ek nie twee keer dink nie! Jy is verplig om jou boerdery en jou
vooruitsigte oop te stel vir buitestaanders wat met ’n kritiese
oog na alles op jou plaas kyk. Kritiek en gesonde kompetisie is
altyd ’n goeie ding. Jy kry die geleentheid om jou boerdery tot
in die fynste detail te herorganiseer en jou toekomsplanne en
drome te deel. As jy as jongboer in jou boerdery glo en
belangstel om nog baie meer te leer, is dié kompetisie vir jou.
Ters: Neem deel aan ’n pragtige kompetisie. Dit stel jou
in staat om jou boerdery nie net te verbeter en op ’n volgende
vlak te laat opereer nie, maar dit het ook bemarkingsvoordele
wat jou nog meer kompeterend sal maak.
Wat het jy, as
produsent, uit die kompetisie geleer en hoe het dit jou gehelp?
Andries: Jy moet versiendheid hê in jou onderneming om
geleenthede raak te sien en aan te gryp en dan so die foute van
gister agter te laat. Win soveel as moontlik inligting oor ’n
saak in, want daar is kenners op alle gebiede en dit kan foute
in jou boerdery minimaliseer.
Willem: As produsent het ek nog altyd daaraan geglo om
die beste markte en pryse vir my produkte te soek. Ek het goeie
kontakte opgebou deur hierdie kompetisie. Daar word van jou as
produsent notisie geneem en daar gaan baie deure vir jou oop. Ek
het my boerdery beter leer ken, weer eens die potensiaal van my
bedryf raakgesien en die belangrikheid van goeie bestuur en
beplanning besef.
Ters: Hierdie kompetisie het my eerstens genoodsaak om
voor my eie deur te vee. Dit het al die los toue wat rondgehang
het, bymekaar gebring en my laat fokus op die belangrike aspekte
van die waardeketting wat ek wil voltooi. Dit het my ook
genoodsaak om my boerdery en besigheid meer krities te evalueer
en dit het veroorsaak dat al die tekortkominge geïdentifiseer
kon word.
Die kompetisie het my een belangrike ding geleer, naamlik: jy
boer nie in isolasie nie. Jy is deel van ’n groter prentjie van
baie ander produsente, wat elkeen op sy eie besondere wyse bydra
tot die landbou-ekonomie van Suid-Afrika. Die ding wat ek
sekerlik die meeste ervaar het, is dat ek as jongboer ’n verskil
kan maak, as ek wil.
Is daar enigiets wat jy
aan die beoordelingsproses sou verander?
Andries: Daar sal definitief ’n verandering moet kom,
want tot dusver kon ’n Vrystater nie op nasionale vlak seëvier
nie!
Willem: Nee, glad nie. Die beoordeling is baie regverdig.
Elke boerdery word beoordeel volgens die plaas se hoofbedryf;
hetsy mielies, vee of ander bedrywighede. Die paneel bestaan uit
kenners wat spesialiseer in verskillende aspekte van die landbou.
Elke afdeling van jou boerdery word dus deeglik en regverdig
beoordeel.
Ters: Nee. Die beoordelingsproses is puik, goed deurdink
en wetenskaplik. Dit is ’n waterdigte kriteria wat so opgestel
is dat dit appels met appels vergelyk.
JB: Nee, niks.
Watter eienskappe dink
jy moet ’n jongboer hê om ’n suksesvolle boerdery te bestuur?
Andries: Hy sal moet geesdriftig en positief wees in sy
beroep en ook definitiewe doelwitte nastreef. Hy moet ook dit
wat sy Skepper aan hom toevertrou het tot die beste van sy
vermoë gebruik en uitbou.
Willem: Eerstens, geloof en vertroue in God! Dis ’n
voorreg om te kan boer en jou afhanklikheid te besef! Glo in
jouself en jou boerdery en moet nooit ophou droom nie. Werk met
jou arbeiders saam as ’n span, want hul dra grootliks by tot die
sukses van jou boerdery. Ken en verstaan jou mark. Beplan. En
onthou: ambisie is ’n perd wat bloots gery word!
Ters: Muhammad Ali het gesê: “Champions aren’t made in
the gym. Champions are made from something they have deep inside
of them – a desire, a dream and a vision. They have last minute
stamina, they have to be a little faster, they have to have the
skill and the will. But the will must be stronger than the
skill”. Wanneer daardie wil ’n passie word, is dit die enigste
leierseienskap wat ’n jongboer moet hê om ’n suksesvolle
boerdery te wil, te kan en te sal bestuur.
JB: Geloof, kennis, goeie bestuursvernuf en harde werk.
Foto’s
JB van den Berg
Ters Pretorius
Willem du Plessis
Andries Els
JB se veefaktor sluit ’n Bonsmara-kudde in.
Ters Pretorius bedryf ‘n veevoermaatskappy.
Willem is ‘n John Deere-aanhanger.
Andries se hoofvertakking is graanverbouing.