Verlaag kans op aarskroei by koring onder besproeiing
Junie 2008

Die afgelope twee koringseisoene het aarskroei groot verliese, wat van 5% tot 40% gewissel het, vir koringprodusente op Vaalharts veroorsaak. Senwester het met verskeie kenners gesels om uit te vind hoe om die voorkoms van hierdie siekte te beperk.

In hierdie artikel:

Oorsake
Verspreiding
Beheer
Kultivarproewe
Samevatting
Verwysings
Tabel


Aarskroei word hoofsaaklik deur die organisme Fusarium Graminearum veroorsaak. Die siekte kom w�reldwyd in besproeiingsgebiede voor en groot verliese kan gely word indien dit nie beheer word nie. Dit verlaag die opbrengs en kwaliteit van kleingrane omdat pitte verkrimp en die kiemkragtigheid van saad verlaag. Onder erge besmetting kan die hele aar afsterf, maar gewoonlik word net gedeeltes van die are aangeval of beskadig. In baie gevalle word die simptome op die aar met koueskade of rypskade verwar.

Oorsake
Die organisme wat die siekte veroorsaak, word dikwels geassosieer met kopvrot by mielies. Die swam oorleef op besmette oesreste van mielies en koring, maar kan ook op ander oesreste wat op die grondoppervlak voorkom, oorleef. Gunstige omgewingstoestande is lang, koel en vogtige tydperke met temperature van 15�C tot 31�C. In die 2006-seisoen het die voorkoms van uiters ho� temperature (van 37�C en meer gedurende Oktober) die siekte beperk. In die 2007-seisoen was toestande aanvanklik baie gunstig vir die siekte, maar dro� weersomstandighede met lae lugvog laat in Oktober het daartoe bygedra dat die siekte nie sulke groot afmetings aangeneem het nie. Koring is veral gedurende die blomperiode tot sagtedeeg-stadium vatbaar vir besmetting.

Verspreiding
Aarskroei kom veral onder oorhoofse besproeiing voor, weens die kunsmatige skep van gunstige vogtoestande en dit kom veral in die middel van die spilpunt voor. Verspreiding van die swam geskied deur middel van spattende water, wind en insekte. Aangrensende lande kan ook ge�nfekteer word deur die swamspore wat deur lugstrome vervoer word. Die plant van ge�nfekteerde saad sal nie tot aarskroei lei nie, maar lande wat vir saadvermeerdering gebruik word moet skoon en gesond gehou word. Besmette saad het verkrimpte pitte met swak ontkieming, lae groeikragtigheid en dit kan lei tot swak stand. Die waarskynlikheid dat die siekte kan uitbreek is goed in gevalle waar �n gewasrotasiestelsel toegepas word, met koring en mielies wat mekaar opvolg. Koring- en mieliestoppel kan as hoofbron van die inokulum dien wanneer die stoppel nie van die oppervlak van die land verwyder word nie.

Beheer
Dit is moeilik om aarskroei te beheer, aangesien dit nie noodwendig elke jaar voorkom nie. Die voorkoms en intensiteit word deur die klimaatstoestande be�nvloed. Indien die simptome waargeneem word, is die chemiese beheer van die siekte gewoonlik te laat vir goeie reaksie. Geen chemiese middel is tans teen aarskroei in Suid-Afrika geregistreer nie. �n Ge�ntegreerde beheerstelsel word aanbeveel om die voorkoms daarvan te verminder:

- Oesreste moet verwyder, ingeploeg of gebrand word.
- Gebruik slegs geregistreerde saad wat behandel is en waarvan die kiemkragtigheid bevestig is.
- Hoewel daar geen kultivars in Suid-Afrika met bestandheid beskikbaar is nie, sal die aanplant van minder
  vatbare kultivars die risiko verlaag. Tabel 1 verskaf die weerstandsvlakke van verskillende kultivars.
- Wisselbou is binne die produsent se bestuursvermo� en is een van die belangrikste hulpmiddels om die
  vlakke van inokulum te verlaag. Ander gasheergewasse van Fusarium is gars, hawer, rog en triticale.
- Indien klimaatstoestande baie gunstig is, kan skade beperk word as koring voorkomend met blom of in die
  vroe� stadium van besmetting met �n swamdoder bespuit word.

Kultivarproewe
Die nasionale koringkultivarproewe onder besproeiing word tans by die volgende gebiede binne die Senwes bedieningsgebied geplant: Potchefstroom, Hoopstad, Welkom, Christiana, Jan Kempdorp, BullHill, Hartswater en Lichtenburg.

Aangesien aarskroei onder besproeiing so �n groot bedreiging inhou, gaan die kultivarproewe vanaf 2008 vir aarskroei gemonitor word. Ben van Rensburg (Kleingraaninstituut: Vaalharts Navorsingstasie) sal vir die proewe verantwoordelik wees, terwyl Cathy de Villiers (Kleingraaninstituut: Bethlehem) die aarskroei-opnames en monitering sal hanteer.

Samevatting
Koringprodusente moet voorkomend optree deur verbouingspraktyke, wat die siekte beperk, na te volg. Kies die regte kultivars en saadbron en behandel die saad. Hou die lande dop vir die moontlike voorkoms van die siekte en wees veral bedag tydens die blomstadium en wanneer weersomstandighede gunstig is vir die siekte, sodat tydige chemiese beheer toegepas kan word.

Deur die bogenoemde riglyne te volg kan nie gewaarborg word dat aarskroei nie sal uitbreek nie, maar die intensiteit daarvan sal beslis beperk word, met gevolglike lae skadevlakke.

Verwysings
LNR Kleingraaninstituut, 2007: Handleiding vir die verbouing van koring in die somerre�ngebied.
De Villiers C, 2007: Aarskroei op koring en ander kleingrane, Kleingraaninstituut, Bethlehem.
Scott DB, 1990: Wheat diseases in South Africa, LNR, Departement Landbou Ontwikkeling, Pretoria.


Tabel 1: Die weerstand van koringkultivars teen belangrike siektes wat onder besproeiing voorkom.

(Bron: LNR Kleingraaninstituut: Koringproduksiehandleiding, 2007)

Verklaring: V = vatbaar, W = weerstand, MV = matig vatbaar, MW = matige weerstand, VPW = volwasse plant weerstand, HV = hoogs vatbaar.