Vanjaar, op die ouderdom van 32, is Gawie as voorsitter van Agri NW se
Jongboervereniging verkies. “’n Mens kan amper sê dis in my gene, want my
pa, Deon, was ook sterk betrokke by die destydse Mielieraad en verskeie
boere-unies en -verenigings,” brei Gawie uit. Volgens die bepalings wat geld
vir die Jongboervereniging, sal Gawie vir twee jaar as voorsitter dien. “Die
tydperk is eintlik net reg, want ’n mens ontwikkel iemand om in bestuur te
dien en twee jaar gee genoeg tyd om die volgende persoon op te lei,” het hy
gesê.
Hy is nie die tipe vir mooi praatjies net om die vrede te bewaar nie. Hy sê
’n ding soos hy dit sien. “Volgens my is dit nodig dat ons as jongboere ook
swart jongboere meer moet betrek by die vereniging. Hoe gouer ons
anderskleurige produsente meer betrokke kry, hoe gouer kan ons die sisteem
glad laat werk. Dan het ons ’n pad vorentoe, anders kan ons netsowel ophou
probeer,” deel hy een van sy toekomstige planne vir die vereniging. “En as
dit my ongewild maak by sommiges, dan is dit maar jammer,” voeg hy
nonchalant by.
Mareetsane as basis gevestig
Hierdie jongboer is gebore in Nelspruit, maar was ongeveer vier jaar oud toe
sy pa ’n besluit geneem het om op Mareetsane grond te koop. Vandaar het
Gawie sy hoërskoolloopbaan op Lichtenburg voltooi en daarna Landboubestuur
aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie gestudeer, voordat hy ook sy
boerderyvoete op Mapasgon in die Mareetsane-distrik gevind het.
Hy eggo die sentiment van baie produsente wanneer hy sê dat ’n suksesvolle
boerdery niks anders as ’n besigheid is nie – en dus so bestuur moet word.
Maar dan voeg hy ook by: “Omring jouself met kundiges. Om kennis te koop, is
baie goedkoper as om kennis uit te dink. Die produsente van vandag moet iets
van alles weet om ’n sukses van hul boerdery te kan maak. Dit maak dinge
veel makliker as jy die kennis wat beskikbaar is, benut. Jongboere moet ook
nie bang wees om nuwe dinge te probeer nie. In hierdie opsig is proewe baie
belangrik – en saam met die proewe loop noukeurige rekordhouding, sodat jy
kan weet wat werk en wat nie.”
Die boerdery
Gawie boer met mielies en sonneblom. Hy het ook ’n bees-boerdery wat bestaan
uit die Bovelder-ras en hy is ook ’n geregistreerde SA Boerbok-teler. Hy
bestuur ook ’n wildboerdery. “Ek is tans besig met ’n weidingsproef vir ’n
eenkampstelsel en ook grondbewerkingsproewe. In die saaiboerdery maak ek
gebruik van presisieboerdery in die vorm van ’John Deere Office’, maar in
die beesboerdery gebruik ek programme wat ek self vir rekordhouding geskryf
het, met die hulp van kundiges,” vertel Gawie verder van sy boerdery.
Gawie, sy pa en sy broer, Marnus, deel sekere aspekte van die boerdery, soos
arbeid en meganisasie, om oorhoofse koste so laag as moontlik te hou. “In
plaas daarvan dat elke boerdery byvoorbeeld tien trekkers moet aankoop, koop
ons liewer gesamentlik vyftien trekkers en deel dit,” sê hy. Gawie maak
gebruik van spoorverkeer en werk nie op ’n oorlêstelsel nie. “Die droogte
het ons erg getref vanjaar, maar te danke aan goeie bestuur en goeie
vogbewaringspraktyke sal ons die paal haal,” antwoord hy my vraag oor die
droogte se impak op sy besigheid vanjaar. Wat arbeidsbestuur betref, het die
Bothma’s dertig permanente werkers, wat elkeen ’n kontrak het. Elke afdeling
het ook sy eie bestuurder.
Die toekoms vir jongboere
Ons praat net bolangs oor Gawie se eie boerdery, voor hy die gesprek weer in
die rigting van die jongboere stuur. “Daar word deesdae baie klem gelê op
waardetoevoeging en die kenners wil hê dat jy jou produk van die begin tot
die einde moet bestuur. Ek voel egter anders en dink jongboere wat ’n
besigheid van die grond af wil opbou, moet liewer konsentreer op die
vestiging van twee of drie vertakkings voordat hulle hulself bekommer oor
waardetoevoeging,” verduidelik hy ook sy besluit om nie net ’n saaiprodusent
te wees nie.
Rika, Gawie se vrou van sewe jaar, bestuur die boerbokboerdery en help uit
waar sy kan. “Enige werk in die georganiseerde landbou is maar ’n ondankbare
werk en ’n mens is min by die huis. Sonder Rika se ondersteuning sou dit
baie moeilik gewees het,” het Gawie gesê.
Familiesake
Volgens Rika geniet sy die boerbokboerdery. “Dis net belangrik om siektes
gou op te spoor en ook dié ooie wat sukkel om te lam,” verduidelik sy. Ek
vra uit oor Gawie en haar antwoord kom vinnig. “Hy is baie doelgerig en sy
hart is een honderd persent in die boerdery. As hy eers met ’n ding begin,
voer hy dit deur. Baie mense ervaar Gawie as arrogant, maar hy is nie. Dit
is eerder ’n geval van dat hy presies weet wat hy wil hê.”
Gawie en Rika het twee seuns, DS (4) en Derik (2). Rika is ’n boerenooi van
Jan Kempdorp se wêreld, waar haar ouers met pekanneute boer.
Raad aan jongboere
Die drie belangrikste dinge, volgens Gawie, wat jongboere kan onthou om
hulle te help op hul pad na sukses, is die volgende:
“Jongboere moenie rondval nie. Soek vir jou spesifieke verskaffers uit en
beding jou pryse by hulle. Daardie ouens word soos familie. Met spanwerk kan
’n mens soveel meer bereik, so bou jou bande en probeer jou span behou,”
voeg Gawie ’n laaste stukkie raad by.
Agri NW Jongboervereniging
Wat is Gawie se droom vir Agri NW se Jongboervereniging? “Ek het baie planne
vir die volgende twee jaar, maar die belangrikste is om hard te werk sodat
ons soveel as moontlik inligting aan jongboere kan deurgee waarmee hulle hul
toekoms kan bou,” gesels Gawie oor sy toekomsvisie vir AgriNW se jongboere.
En ’n mens weet sommer: Hiérdie jongboer gaan nog diep spore in die landbou
trap.
Jongboer Toekomsfokus Onthou jou afspraak op 12 September 2007 op NAMPO Park by Senwes se Jongboer Toekomsfokus – dié dag waar jongboere van Agri NW, Vrystaat Landbou, Senwes en Graan SA saam kom gesels oor hul toekoms in Suid-Afrika. Vir navrae skakel Senwes tolvry by 080 941 4011. |
![]() |
![]() |
Gawie benut die Bovelder-ras in sy beesboerdery. | Gawie en Rika saam met hul twee seuns, Derik en DS. |
![]() |
![]() |
Gawie is ʼn geregistreerde SA Boerbok-teler. |