Die Overvaal Bonsmara-groep is gestig as ’n doeltreffendheidsgroep met die
doel om produksiekoste te besnoei en finansiële doeltreffendheid te verhoog.
Die leuse van hierdie groep is “drie van die bestes”, wat die drie lede se
doelstelling met die groep goed opsom.
Die Overvaal groepslede, Herman Wilkens, Hendrik Beyers en Kotie Pienaar,
bied elke jaar ’n gesamentlike produksieveiling aan en doen ook gesamentlike
Fase D-toetse op hul diere. “Die samewerking maak ons kliëntebasis groter en
uit ’n bemarkingsoogpunt is dit baie voordelig,” het Herman verduidelik. Die
groep sal vanjaar in Oktober hul vierde produksieveiling aanbied. “Ons is al
drie nog relatief jonk in die beesboerdery en ek glo die groep werk omdat
elkeen van ons ’n doel het om te vervul en ook omdat ons dieselfde dink oor
dinge, met betrekking tot die stoettelery,” het Kotie sy entoesiasme oor die
Overvaal Bonsmara-groep verduidelik.
ʼn Inligtingsdag, wat deur enigiemand bygewoon kan word, word jaarliks
aangebied. “Die inligtingsdag gee ons die geleentheid om iets aan die
produsente terug te gee. Veral vir my wat deeltyds boer, is dit nie maklik
om altyd iets aan my klante terug te gee nie, so by die inligtingsdag kry ek
kans hiervoor,” het Kotie gesê. Dié dag word gewoonlik gebruik om praktiese
onderwerpe te ondersoek.
Vir die Overvaal Bonsmara-groep om werklik suksesvol te wees, moet elkeen
van die lede in die groep ook individueel sy Bonsmara-stoet laat presteer.
Wat maak elkeen van hierdie Bonsmara-telers uniek?
Herman Wilkens
Wilbonei Bonsmara-stoet se wortels is goed geanker in ’n
familieboerdery-opset wat deur Herman se pa – ook Herman Wilkens – op die
been gebring is.
Die boerdery het eers uit verskeie vertakkings bestaan, waarvan die
saaiboerdery die belangrikste was. Van die ander vertakkings het voerkrale,
melkerye en ’n grootskaalse hoenderboerdery ingesluit. In 1987 het Herman
junior hom by sy pa in die boerdery aangesluit en die saailande is
omgeskakel na Smuts-vinger. Goeie bemestingsprogramme is gevolg en vandag is
nie een van die twee Hermans spyt oor die omskakeling van ’n saaiboerdery na
’n gras- en beesboerdery nie. “My pa se bydrae en die grondslag wat hy gelê
het, is van onskatbare waarde,” het Herman junior gesê. In 2006 het Herman
en sy vrou, Karine, die boerdery se leisels heeltemal oorgeneem. “My pa
lewer egter nog baie waardevolle insette, want hy het soveel meer ervaring,”
het Herman gesê.
Wilbonei Bonsmara-stoet word bedryf op die plaas Opraap, 42 km buite
Klerksdorp. In 1987 het Herman junior reeds vroulike diere aangekoop van
bekende name soos Badenveen, Ivy en Tok Erasmus stoeterye om Wilbonei
Bonsmaras op te bou. Die bulle is aangekoop by Arthur de Villiers (AGC16) en
Wesson van Rensburg (RCOL123).
In 1997 het Herman sy eie produksieveiling gehou. Hy gebruik deesdae
selfgeteelde bulle en spog tans met ongeveer 400 koeie, wat uiters streng
vir vrugbaarheid gekeur word. “My beleid is dat ’n koei elke jaar ’n kalf
moet grootmaak. As ’n koei een keer oorslaan, word sy geslag,” verduidelik
Herman. Dit mag dalk wreed klink, maar dit is ’n seker manier om
vrugbaarheid en reproduksie te verhoog.
Voordat Herman by Overvaal Bonsmaras aangesluit het, het hy nog twee eie
produksieveilings aangebied. “Die grootste voordeel wat die groep my bied,
is die interaksie met ander stoettelers en die wyse waarop ons die
gemeenskap kan help om goedgeteelde diere te bekom. Die groep se
gesamentlike Fase D-toetse maak die onderskeie stoete meer kompeterend en
jou eie stoet kan teen ander gemeet word vir groei en prestasie,” brei
Herman uit oor die Overvaal Bonsmara-groep.
Herman teel vroegryp, mediumraam bulle met manlike koppe en sterk sekondêre
manlike eienskappe. Hulle is goeie groeiers met hoofsaaklik positiewe
BLUP-syfers. Sy leuse is: “Ons ras is jou waarborg”.
’n Winter- en somerdekseisoen is aan die orde van die dag by Wilbonei
Bonsmaras. Die koeie word ingedeel volgens teelwaarde en bouvorm, met
ongeveer 30 koeie per bul. Herman het twaalf kuddebulle waarmee hy teel. Die
Wilbonei Bonsmaras word hoofsaaklik op Smutsvinger grootgemaak.
“Ek verkies die Bonsmara-ras omdat hul fokus op prestasietoetsing is en ’n
mens dus die dier se groei so kan meet. Die Bonsmara is ook wyd aanpasbaar
en daar is ’n groot aanvraag na suiwer vroulike diere,” verduidelik Herman
sy voorkeur vir Bonsmaras.
Hendrik Beyers
Hendrik en Elmarie Beyers is die derde geslag Beyers om op Goedvooruitzicht
naby Hartbeesfontein te boer. Hierdie plaas is reeds sedert 1906 deel van
die Beyers-familie, waar Hendrik in 1978 begin boer het. “My oupa het ’n
besondere goeie beesplaas uitgesoek,” het Hendrik met ’n vonkel in die oog
gesê.
Hendrik het reeds in 1979 by die Bonsmara-boerdery betrokke geraak, maar
moes eers kruisteel om goeie basis-diere te ontwikkel. “Ek het met Sussex en
later Simmentaler-bulle uit my skoonpa se stoet gekruisteel op suiwer
Afrikaners. Sedert 1985 het ek Bonsmara-bulle gebruik en topbulle aangekoop
uit bekende stoetkuddes soos JPL Snyman en seuns, Carel Gutter van Brandfort,
Fourie Scheepers van Fouriesburg, Arthur de Villiers van Vrede, Hansie Steyn
van Ventersdorp, Sernick van Edenville en DIV-Bonsmaras by Steynsrus. Met
die Simmentaler-basis het ons gepoog om goeie melkeienskappe en groei in die
kudde te vestig,” vertel Hendrik.
In 2000 is Hendrik se stoet as Tigane Bonsmaras geregistreer. “Die naam
Tigane verwys na Hartbeesfontein, wat ek reeds sedert my kinderjare as
Tigane ken. Tigane Bonsmaras se doelwit is om die beste moontlike koeikudde
in my tyd in die boerdery volhoubaar op natuurlike en aangeplante veld te
vestig. Daarmee saam wil ons geharde, goed aangepaste bulle vir die bedryf
beskikbaar stel,” het Hendrik gesê.
Op Goedvooruitzicht is aangeplante weiding oor 25 jaar gevestig, wat
hoofsaaklik uit Smutsvinger bestaan. Die lande word bemes deur gebruik te
maak van ’n drie tot vier jaar rotasiestelsel. “Ons gebruik so 60 kg N/ha
tot 70 kg N/ha. In normale en goeie jare maak ons hooi. Ek poog om ’n
noodvoerbank, met ongeveer drie maande se voorraad, beskikbaar te hê. Dit is
gedoen op aanbeveling van Johan Mouton (Senwes veekundige) en het veral in
2007 handig te pas gekom,” vertel Hendrik. Sedert 2005 plant Hendrik nie
meer kontantgewasse nie, aangesien al die lande as weidings gevestig is.
Volgens Hendrik is kunsmatige inseminasie (KI)sinchronisasie ongelooflik
belangrik en skroom hy nie om daarvan gebruik te maak in sy kudde nie.
BLUP-syfers is vir hom ’n handige hulpmiddel om goeie parings te laat doen.
“Ons is al lank in die beesboerdery-bedryf en die kudde is oor ’n tydperk
van 30 jaar opgebou. Hoewel ons stoet nog relatief jonk is, werk ons al baie
jare om Tigane Bonsmaras op ’n hoë standaard te hou,” aldus Hendrik.
Tigane Bonsmaras se leuse is: “Kwaliteit wat nie sal teleurstel”. Hendrik is
sedert 2003 by Overvaal Bonsmaras betrokke en het in 2004 vir die eerste
keer bulle en vroulike diere op die gesamentlike jaarlikse veiling verkoop.
Deur die groep is Tigane Bonsmaras betrokke by gesamentlike Fase D-toetsing,
asook bulkeuring. As groep word gesamentlike aankope uit bekende kuddes ook
gedoen, wat finansieel voordelig is.
Kotie Pienaar
Kotie Pienaar is die verpersoonliking van die deeltydse produsent. Wanneer
hy nie as chirurg diens doen by Wilmed Park privaat hospitaal nie, kan jy
hom vind waar hy op sy gelukkigste is – op sy plaas, Wolvehuis, tussen sy
beeskudde.
Die Overvaal Bonsmara-groep was ook die breinkind van Kotie. “Wanneer jy ’n
stoet ontwikkel, is bemarking ’n kritiese deel van die boerdery. As jong
beesprodusent is dit ’n redelike probleem om kwaliteit diere van die begin
te kan aanbied. Dit maak dus meer sin om as drie relatief jong
beesprodusente saam te werk. Ons kan idees deel oor bestuur, kan goeie
genetika saam bekom en kan uit ’n bemarkingsoogpunt gemaklik met ander
kompeteer. ’n Mens versprei ook risiko deur samewerking. Ek dink die groep
werk omdat al drie ewe hard werk om suksesvol te wees,” verduidelik Kotie sy
beweegredes agter die idee van ’n doeltreffendheidsgroep.
Kotie se stoet is reeds in 1996 as Theres Bonsmaras geregistreer. Kotie se
pa, dr Pine Pienaar, is ’n veearts en het in Kotie ’n groot liefde vir diere
gevestig. “Die eerste vyf tot ses jaar was my pa baie betrokke by die
boerdery. Hy het my baie geleer oor die versorging van diere,” het Kotie
gesê.
“Ek glo in die inkoop van goeie genetika. VV 96-318 was ’n duur aankoop,
maar hy het ’n geweldige goeie impak op my kudde gehad en na elf jaar werk
hy nog voluit,” vertel Kotie. Volgens Kotie speel KI (kunsmatige inseminasie)
ook ’n groot rol in sy kudde. “KI bied ’n handige en vinnige manier om jou
kudde te verbeter.”
Kotie het ’n voltydse bestuurder, Jaco Fick, en Kotie self is dus meer
betrokke by die beplanning en seleksie van KI-bulle. “Dit is vir my lekker
om met die voltydse ouens te kan kompeteer. Om deeltyds te boer raak meer
algemeen en ek dink dit is hoe die produsent van die toekoms gaan lyk. Die
boerdery bied ’n aftree-moontlikheid, maar om daar te kom moet jy die
boerdery kan finansier,” het Kotie gesê.
Kotie se mediese beroep het ’n groot rol gespeel in sy keuse om met
Bonsmaras te boer. “Medici is wetenskaplik ingestel en die Bonsmara-ras is
die enigste beesras wat die wetenskap as basis gebruik. Vir my is dit ’n
sinvolle manier om te boer. Die strukture binne die Genootskap bied ook baie
ondersteuning aan ’n jongboer.
“Wanneer ’n eienskap by die Bonsmara ingekweek word, moet dit ’n
wetenskaplike basis hê. Ek en Hendrik wend ’n bewustelike poging aan om
swart pigment in ons Bonsmaras te teel. Ons het gevind dat dit hoefprobleme
grotendeels uitskakel en dié beeste doen ook minder siektes op,” vertel
Kotie.
Die plaas Wolvehuis grens aan die Vaalrivier, wat die plaas ’n unieke opset
gee en dit anders as die res van die omgewing maak. Daar is byvoorbeeld baie
meer muskiete en bosluise, wat die voorkoms van sekere siektes verhoog.
Kotie het ook ’n winter- en somerdekseisoen en het 15 hektaar weiding onder
besproeiing, wat strategies aangewend word.
Theresa, Kotie se vrou, speel ’n groot rol in die beesboerdery en Kotie
beskou haar as ’n vol vennoot. “My vrou het darem maar ’n oog vir ’n goeie
bul. By die veilings is sy die een wat bie,” het Kotie tong-in-die-kies
vertel. Theresa hanteer ook die finansies van Theres Bonsmaras en die
Overvaal Bonsmara-groep.
Die toepassing van Fase D-toetse binne die groep
Die Overvaal Bonsmara-groep se gesamentlike Fase D-toetse roteer tussen die
verskillende telers en vind twee keer ’n jaar plaas – op die winterkalwers
en somerkalwers. Beide toetse word op weidings gedoen, hetsy aangeplant of
natuurlik, aangevul met ’n gebalanseerde kragvoer.
Die feit dat een lid volle verantwoordelikheid neem vir die toets, beteken
die ruvoer en aard van die veld verskil van toets tot toets. Die lid wat die
toets doen, kies die kommersiële aanvullende kragvoer-samestelling wat die
beste ekonomiese toestande op sy plaas bied.
.Die toetsing is daarop gemik om almal finansieel te bevoordeel deur die
mees ekonomiese toets aan te bied. Dit is nie verpligtend om aan die toetse
deel te neem nie. Wat hierdie toetse egter vir die telers waardevol maak, is
dat swak en goeie presteerders gou geïdentifiseer kan word en daar kan ook
bepaal word watter kudde die beste fenotipe, groei en haarkleed het.
Tekortkominge in die verskillende kuddes word vinniger raakgesien en die
telers het tyd om daarop te reageer indien nodig.