Praktiese gebruikswaarde van grondchemiese en –fisiese kartering
2007-08-01

Die persepsie bestaan dat elektroniese toebehore of toerusting ’n noodsaaklikheid is vir presisieboerdery. Vir sommige boerderye is dit eenvoudig net nie moontlik om oor te skakel na presisieboerdery met elektroniese toerusting nie. Met hierdie artikel word gepoog om uit te wys dat dit ook moontlik is om variasie binne landerye te bestuur sonder elektronika.

In hierdie artikel:

ʼn Gewasproduksiesisteem is gekompliseerd en daar is baie faktore (beheerbaar sowel as onbeheerbaar) wat ’n rol kan speel in die plantreaksies en uiteindelike oesopbrengs. Onder ekstensiewe droëlandtoestande is grond-fisiese en -chemiese eienskappe die twee hoof bestuurbare aspekte wat direk aan opbrengsvariasie gekoppel kan word. Hierdie is nie ’n nuwe ontdekking nie, maar is egter die basis van akkerboukundige beginsels. Wat nuut is, is die feit dat nuwe tegnologie ons in staat stel om die variasie van hierdie aspekte beter te kwantifiseer en sinvol te bestuur.

Metodiek
Die grondkarteringseksie binne Senwes Landboudienste bied opnamedienste aan waar hierdie twee aspekte ondersoek word. Grondfisiese eienskappe word gekarteer met behulp van meganiese bore op bakkies. Profielbeskrywings word op ’n ruitpatroon-basis gedoen en elke opnamepunt se ligging word met ’n DGPS vasgelê. Die uiteindelike produk is kaarte wat die verspreiding en ligging van die grondfisiese eienskappe aantoon, soos die effektiewe worteldiepte, profielbeskikbare waterstoorkapasiteit, kleipersentasie, afgeleide langtermyn opbrengspotensiaal en terreinmorfologie. Grondprofielbeskrywings van elke opnamepunt, die langtermyn opbrengspotensiaal en grondgebruiksvoorstelle word in verslagformaat voorsien.

Grondchemiese kartering word gedoen deur goed verteenwoordigende grondmonsters te neem by elke opnamepunt (ruitpatroon) en na ’n onafhanklike laboratorium te stuur vir ontleding. Kaarte word van die chemiese elemente geproduseer. Hierdie resultate word ook in volledige verslagformaat verskaf. Indien daar spesifieke probleemkolle binne lande is, kan addisionele grondmonsters wat die kolle verteenwoordig geneem word, sodat die mikrovoedingstofvlakke asook ondergrond ondersoek kan word.

Gebruiksaanwending
Grondsuurheid is een van die algemeenste foute wat gewoonlik uitgewys word en moet eers met bekalking opgehef word voordat resultate met ander aksies verwag kan word. Elke waarnemingspunt se kalkbehoefte word bereken, waarna kalkvoorskrifkaarte gemaak word. Opbrengspotensiaal van grondeenhede wissel tussen produksieseisoene, met die gevolg dat die hoeveelheid opgegaarde water en die verwagte seisoensreënval gebruik word vir mikpuntstellings.

In gevalle waar stroper-opbrengsdata beskikbaar is, is dit baie handig om die produksievermoë van die verskillende grondvorme te kwantifiseer en die mikpuntstellings verder te verfyn. Optimale plantvoedingsbehoeftes van elke waarnemings-punt word op grond van die grondfisiese- en chemiese data en verwagte opbrengspotensiaal bereken, waarna kunsmis-voorskrifkaarte geteken word. Indien varieerbare kalk- en kunsmistoestelle gebruik word, kan die kalk en kunsmis, asook ander grondverbeteraars, presies volgens die voorskrifkaarte toegedien word.

Die vraag is nou of die hele beginsel laat vaar moet word indien elektroniese toerusting nie ’n opsie is nie, of kan die voordeel van die beginsel steeds benut word?

Meegaande is praktiese voorbeelde van kalk- en voedings-behoeftes van ’n 80 hektaar mielieland. Figuur 1 is ’n kalk-behoeftekaart waar die dolomiet-behoefte van 0 tot 3 ton per hektaar wissel. Ten einde die verlangde hoeveelhede prakties uit te saai, is die land verdeel in sewe blokke met eenvoudige vorme wat maklik uitgemerk kan word. Daar word aanvaar dat dit nie sin maak om minder as 1 ton kalk per hektaar te strooi nie, daarom kry kolle met rooi en grys kleur in Figuur 1 geen kalk nie. Leë gifkanne wat volgens die kleure van die aanbevelingskaart geverf word, werk baie lekker om die blokke te merk en verwarring te voorkom. Kontrakteurs wat variërend kalk saai, kan ook gebruik word indien die voorgestelde metode nie gevolg wil word nie.

Figuur 2 is ’n stikstofbehoeftekaart wat geproduseer is deur die mikpuntstellings te gebruik, asook aanpassings volgens die gronde se kleipersentasie. As kontrole word grondstikstof-ontledings ook in die dominante sones geneem ten einde die stikstofbehoeftes verder te verfyn. Die fosfaat- en kaliumstatus asook mikpuntstellings is gebruik om die twee elemente se behoeftes te bepaal.

Figuur 3 is die fosfaatbehoeftekaart en Figuur 4 (bladsy 39) die kaliumbehoeftekaart. Rywydtes en boerderypraktyke bepaal uiteindelik wat die beste strategie vir die bepaalde omstandighede sal wees. Vir hierdie voorbeeld word aanvaar dat konvensionele bewerkingspraktyke toegepas word met ’n rywydte van 1,5 m. Met ’n spoorverkeerstelsel is die oplossing nog makliker as in hierdie voorbeelde, omrede enkelvoudige kunsmisstowwe vooraf op die plantry gebandplaas kan word. Hierdie land word normaalweg van noord na suid bewerk omdat dit die langste akkers het. Indien die bewerkingsrigting verander word na ’n noordwestelike rigting, kan drie hoofsones uitgemerk word, soos in die figure aangetoon. Die voorgestelde voedingsprogram vir die drie sones word in Tabel 1 voorsien.

Dit is makliker om sones 1 en 3 in Figure 2 tot 4 volgens voorskrif te behandel, terwyl sone 2 meer variasie toon. Aangesien die potensiaal van sone 2 oorwegend laer is, kan oorweeg word om die plantestand te verlaag. Met bogenoemde voorstelle word dieselfde kalibrasie vir kunsmis gebruik terwyl die mengsels tussen sones verskil. Dit kan ook gebeur dat ’n mens dieselfde mengsel gebruik en weer die kalibrasies tussen die afgebakende sones moet verander.

’n Nadeel van die voorgestelde bewerkingsrigting is dat daar meer kort akkers is. ’n Ander opsie is natuurlik om die onderste kwart van die land van wes na oos te verdeel, asook in die middel van noord na suid, sodat daar vier blokke is wat min of meer dieselfde potensiaal en voedingsbehoeftes het.

Gesien in die konteks van groot oppervlaktes wat geplant word, kan selfs gedifferensieer word tussen landeenhede of plaaseenhede, omdat tyd nie altyd gaan toelaat om verskillende sones anders te bemes nie. Met hierdie benadering kan verskillende plantvoedingsprodukte per land of plaas gebruik word, sodat die grootste gedeelte van die oppervlakte ten minste die regte plantvoeding kan kry.

Samevatting
Die kalk- en plantbehoeftes is situasiespesifiek en wissel tussen lande en plase, met die gevolg dat ’n mens moet aanvaar dat daar gevalle sal wees waar dit moeiliker of makliker bestuurbaar sal wees as in hierdie voorbeelde. Die ekonomiese draaipunt van opbrengsverbetering wat bewerkstellig kan word, die tyd wat dit verg en die praktiese uitvoerbaarheid moet ook teen mekaar opgeweeg word. Dit is onbillik om te verwag dat variasie binne landerye net so goed sonder varieerbare apparate bestuur kan word as met variërende apparate.

Met die voorgestelde benadering is ’n produsent ten minste beter af as die tradisionele metode waar die land, of selfs al die lande, gewoon eenders behandel word. Deur hierdie benaderings te volg, bestaan die geleentheid vir alle produsente om doeltreffendheid te verbeter, risiko te verlaag, volhoubaar te boer en winsmarges te verbeter sonder enige presisieboerdery-apparatuur.

Senwes beskik oor ’n presisieboerdery-afdeling wat spesialiseer in die verskaffing van boerdery-elektronika soos navigasiestelsels, stroper-opbrengsmonitors, beheerstelsels vir spuittoerusting en varieerbare toerustings vir kunsmis en kalk. Vir navrae rakende dié toerusting, skakel Etienne Nel (bestuurder: Presisieboerdery) by 083 298 1553.

Bernard Muller is die bestuurder: Akkerbou en Grondkartering by Senwes Landboudienste. Skakel hom by 083 458 1293 vir verdere navrae oor die artikel, of stuur ’n e-pos na [email protected].
 

Tabelle en grafieke



Foto 1: ’n Hidrouliese grondboor wat vir grondklassifikasie gebruik word.



Figuur 1: Voorbeeld van kalkbehoeftekaart (dolomiet).


Figuur 2: Stikstofbehoeftekaart vir mielies uitgedruk in kg/ha.



Figuur 3: Fosfaatbehoeftekaart in kg/ha vir mielies.


Figuur 4: Kaliumbehoeftekaart in kg/ha vir mielies.


Tabel 1: Voedingsprogram van sones 1 tot 3 (Figuur 2 tot 4).