Die 33-jarige Ters het in 1995 saam met sy pa begin boer en een van sy
verantwoordelikhede was die meng van varkvoer op die plaas. Dis hier waar
die idee vir ‘n meule ontstaan het, wat in 1997 ‘n werklikheid geword het.
Aanvanklik het Ters se bure by hom veevoer gekoop, maar in 1997 het die
besigheid begin vlamvat en Ters se voer is aan al meer mense verkoop.
“Ek het nog nooit ‘n aggressiewe bemarkingstrategie gevolg nie en glo in die
krag van ‘word of mouth’. Die produk verkoop homself,” meen Ters. Hy sê
verder dat Telwiedré Veevoer so goed verkoop omdat hy glo in kwaliteit. “Ons
veevoer bevat geen voergraadmielies of enige ander grondstof wat nie aan
kwaliteit standaarde voldoen nie,” het hy gesê.
Dit is gou duidelik dat Ters ‘n mens sonder fieterjasies is, ook wat sy
besigheid betref. “Met die beoordeling van die kompetisie, het ek niks
anders as gewoonlik gedoen om die paneel se guns te wen nie. My werf is nie
spesiaal skoongemaak nie en my bakkie nie spesiaal gewas nie. Ek het net dit
gedoen wat ek elke dag doen,” het Ters vertel.
Hy kan ook nie regtig sy suksesresep definieer nie. “Wat my betref, is ‘n
groot deel van my sukses te danke aan my Skepper en die guns wat Hy oor my
lewe bring. Sukses is ‘n guns en ‘n kuns. Die kuns lê daarin dat jy dit wat
jy het ten volle kan benut en bestuur. Ek het deksels hard gewerk om te wees
waar ek vandag is,” som hy die redes vir sy sukses op.
Ters het aan die Hoër Landbouskool op Kroonstad gematriku-leer en daarna sy
nasionale diploma in Landboubestuur aan die Sentrale Universiteit van
Tegnologie behaal. Volgens hom bied sy diploma ‘n goeie teoretiese grondslag
vir sy besigheid. “Hoewel dit goed is om ‘n kwalifikasie te hê, moet jy
uiteindelik die teorie en praktyk by mekaar kan uitbring, en dit kan net
ervaring jou leer,” antwoord hy die vraag oor of hy dink dis belangrik vir
‘n produsent om gekwalifiseerd te wees.
Hoewel die veevoermeule maklik meer as 80% van sy besigheid uitmaak, lê Ters
se hart steeds by die boerdery. Hy leef hierdie liefde uit deur sy voerkraal
(wat 16% van sy besigheid uitmaak) en die aanplanting van weiding en ‘n baie
klein persentasie kontantgewasse. “Die swakker lande het ek alles omgesit in
weiding. Ons volg ‘n wisselboustelsel op die weidings en kontantgewasse en
gebruik dit wat ons het, soos kraalmis, om ons hulpbronne optimaal te benut.
Die natuur laat nie van hom steel nie,” aldus Ters.
“Die beste manier om my boerdery te verduidelik, is om ‘n onderskeid te tref
tussen vertikale en horisontale uitbreiding. Baie produsente brei hul
besighede uit deur meer grond aan te koop, wat neerkom op horisontale
uitbreiding. Ek het nie duisende hektare grond nie en moet dit wat ek het
gebruik om suksesvol en volhoubaar te boer, dus het my vertikale uitbreiding
gelei tot die meule. Tans werk ons ook aan ‘n idee om kompos van kraalmis te
vervaardig,” vertel Ters meer van sy boerdery.
Familie en besigheid
Ters se pa is oorlede, maar hy en sy broers en suster is almal in die
landbou betrokke. Sy ma, Quarta, dien op die direksie van Telwiedré en is
ook baie betrokke by haar kinders se besighede. Die Pretorius-gesin se
onderskeie diversifiserings funksioneer dus “as ‘n familiebesigheid wat op
selfstandige voete staan”. “Ons besighede komplimenteer mekaar absoluut,”
het Ters gesê. Ters se broer, Gawie, bestuur sy eie varkboerdery en André,
die ander broer, ‘n beesboerdery. Elzette, die roos tussen die dorings, werk
by Ters se veevoermeule.
Ters is reeds tien jaar getroud met Lollie, ‘n boerenooi van die
Bultfontein-distrik. Hulle het twee kinders, Abri (8) en Anelda (6).
“Eintlik staan my besigheid op twee bene, want Lollie is die finansiële
direkteur van Telwiedré Voere en die voerkraal. Sy staan vierkantig agter
my. Dit maak die besluitneming baie makliker,” het Ters gesê. Die twee het
ontmoet toe Ters tydens sy praktiese jaar op universiteit iemand gesoek het
om te help met die tik van sy take. So het hy by Lollie uitgekom, wat vir ‘n
ouditeur op Heilbron gewerk het. “’n Mens kan amper sê dat my vrou van die
begin af ook administratief in my lewe betrokke is,” glimlag Ters.
Wanneer hy sy gesin wil bederf, sorg hy vir ‘n bietjie tyd alleen – sommer
by die huis. “In hierdie stadium is ons so besig met die veevoermeule, dat
enige alleentyd – sonder die druk van werk – kosbaar is. Ons het onlangs na
‘n nuwe perseel net buite die dorp getrek en werk sedertdien onophoudelik om
alles van die grond af te kry,” het Ters gesê. As hulle wel met vakansie
gaan, verkies die Pretorius-gesin die Bosveld.
Die een lewensles wat hy hoop sy kinders eendag by hom sal leer, is om
eerlik te wees. Nie net met ander nie, maar veral met jouself. “Dit som
eintlik alles op, want as jy eerlik is met ander is jou woord jou woord en
word jy beskou as iemand met integriteit. As jy eerlik is met jouself, sal
jy uiteindelik suksesvol wees, want dan kan jy nie anders as om hardwerkend
te wees nie,” gesels Ters verder.
Sou hy graag wou hê dat sy kinders eendag in sy voetspore volg? “Net as
hulle entoesiasties oor dit is. As hulle graag iets anders wil doen – en
hulle het ‘n baie goeie rede hoekom hulle dit eerder wil doen – sal ek dit
ondersteun.”
Jongboer van die Jaar
“Ek kan met eerlikheid sê ek was baie verbaas toe ek as wenner aangekondig
is, want ek het sterk kompetisie gehad,” deel Ters sy gevoelens oor om as
Jongboer van die Jaar aangewys te word. Hy is deur sy landbou-unie
genomineer, maar het aanvanklik nee gesê, omdat hy eers net wou konsentreer
daarop om sy “nuwe” stoor van die grond af te kry. Kort daarna het sy bank
(Standard Bank) hom egter genomineer. “Toe ek eers in die ding was, moes ek
maar my goed kry en dit doen,” brei hy droogweg verder uit.
Rolmodelle was daar, volgens Ters, oorgenoeg in sy lewe. “Die invloed wat
verskillende mense in my lewe gehad het, is enorm. In elke fase van my lewe
kan ek iemand uitlig wat vir my ‘n rolmodel was. Ek glo dat ‘n deel van my
sukses afkomstig is van die mense wat my lewenspad gekruis het,” het Ters
gesê.
Risikobestuur en toekomsvisie
Die wisselvalligheid en onstabiliteit van produk- en kommoditeitspryse hou
die grootste risiko vir Ters se besigheid in. Hy glo die enigste manier om
hierdie risiko te beperk, is om soveel moontlik inligting in te samel en
ingeligte besluite te neem. Die aankoop en verskansing van sy mielies word
deur Senwes se graanafdeling behartig.
“Die hulpbronne wat ons van ons Hemelse Vader ontvang het, moet optimaal
benut word binne die fyn lyn van volhoubaarheid, bio- en voedselsekuriteit,”
is hoe Ters sy toekomsvisie opsom. Hy is ook tans in gesprek met
internasionale maatskappye om die moontlikheid van samewerkingsooreenkomste
te ondersoek.
Personeelbestuur
Ters se besigheid verskaf werk aan ongeveer 35 fabriekswerkers en tien
voerkraalwerkers. “Ek en Lollie het al ons werkers met die hand uitgesoek.
Sommige van hulle het oor ons pad gekom en ander het ons gaan haal,” het
Ters oor sy werkerskorps gesê. Indien sy werkers ‘n blatante en
onverskillige fout maak, word hulle aan ‘n dissiplinêre verhoor onderwerp.
“As dit egter net ‘n oordeelsfout was, sal ek seker maak dat hul die fout
verstaan en ook hoe en hoekom dit reggestel moet word,” antwoord Ters die
vraag oor hoe hy foute hanteer. Hy het ook reeds swart ekonomiese
bemagtiging in sy besigheid begin toepas.
Om suksesvol te boer
Ters sluit ons gesprek af met die volgende: “Ek kan nie vir ‘n ander
produsent sê wat hy moet doen om suksesvol te wees nie, maar ek weet dat as
jy nie jou oë op jou Skepper hou nie, gaan jy nie sukses behaal nie.” Oor
die algemeen voel Ters ook dat geen produsent sukses kan behaal as hy nie sy
boerdery as ‘n besigheid bestuur nie.
Hoewel Ters se suksesresep nie uniek is nie en goed inskakel by die algemene
rigting waarin jongboere tans beweeg, is hy ‘n uitstekende voorbeeld van hoe
om geleenthede in suksesse om te skakel.