Speenkalwers - verkoop of hou?
2007-04-01

Dit is weer speenkalftyd en besluite oor die bemarking van die kalwer-oes moet geneem word. Sedert middel Januarie vanjaar is ‘n groter as verwagte daling in speenkalfpryse waargeneem, met ‘n gepaardgaande daling in A2-karkaspryse. Teen die einde van verlede jaar is speenkalfpryse beleef wat ons gedurende die Mei 2006-bemarkingseisoen nie gedink het moontlik sou wees nie. Is dit ‘n unieke situasie of nie?

In hierdie artikel:
  1. Opsie 1: Voeg waarde toe
  2. Opsie 2: Wag tot pryse verhoog
  3. Opsie 3: Verkoop teen die huidige pryse
  4. Ter opsomming
  5. Figure
     

Die beskikbare opsies vir produsente is legio, afhangend van elke produsent se unieke situasie. Die waarskynlikste moontlikhede, of kombinasies daarvan, sou wees:

Die eerste vraag wat gevra word ten einde ‘n besluit te neem is: Wat gaan die pryse doen? Gewoonlik help die geskiedenis om toekomstendense te voorspel (meganistiese benadering). Figuur 1 en 2 toon onderskeidelik die speenkalfpryse en karkaspryse sedert 2000.

Die twee figure illustreer duidelik dat om die vleispryse te probeer voorspel op grond van ‘n stel omstandighede en die geskiedenis, is tans eenvoudig te riskant. Die redes hiervoor is:

Daar is met verskeie berekeninge gepoog om iets wys te word uit Figuur 1 en 2, maar die slotsom is dat dit geskiedenis is. Ten beste kan tendense oor die lang termyn aangetoon word, maar dit is eenvoudig nie betroubare data vir korttermyn besluitneming nie. Die speenkalfbedryf is tans prysnemers van die dag en om voorspellings te waag na aanleiding van die geskiedenis sou gevaarlik wees. Die enigste betroubare korrelasie wat waargeneem kon word, is dat November se speenkalfpryse altyd hoër is as die pryse in Mei – ongeveer R1,3/kg oor tyd.

Opsie 1: Voeg waarde toe
Teen ‘n mielieprys van R1 300/ton, aankoop-hoefprys van R11,5/kg en A2-karkasprys van R18/kg, met geen waarde bereken vir inkomste aan die vyfde kwart nie, is die verlies R80/kalf in ‘n tradisionele voerkraalsituasie. Die negatiewe prysmarge moet betekenisvol verbeter of voerpryse moet afbestuur word tot vlakke van om en by R1 000/ton om ‘n realistiese wins te maak deur kalwers tans af te rond. Daar is moontlik produsente wat nog ondergraad mielies het of ‘n laer mielieprys teen produksiekoste wil gebruik. ‘n Mielieprys van R1 000/ton gee ‘n netto wins van ongeveer R200/kalf, met bogenoemde negatiewe prysmarge in berekening gebring. Met onlangse mielie- en vleisprysverhoudings (tydens die skryf van die artikel in Februarie), sou ‘n voerkraalsituasie vir waardetoevoeging tot speenkalfpryse wat onder druk is, nie aanbeveel word nie.

Opsie 2: Wag tot pryse verhoog
As die besluit geneem word om die speenkalf-oes “vas te hou” totdat pryse verhoog, is van die mees bepalende faktore:

Die verwerkings van die grafieke wys dat daar sedert 2000 ‘n gemiddelde R1,3/kg opwaartse prysbeweging was van Mei tot November, sonder dat daar ‘n negatiewe skuif voorgekom het. Ten einde ‘n realisties berekende besluit te neem, word ‘n opwaartse prysskuif van R1/kg vanaf Mei tot November bereken. Dit sal ongeveer R230 bykomend per kalf realiseer as slegs massa gehandhaaf word; koste en vrektes uitgesluit.

Produsente wat surplus oesreste tot hul beskikking het, kan oorweeg om kalwers terug te hou. Kalwers van 230 kg behoort in die orde van 270 kg te weeg aan die einde van die oesresperiode. Weens die prysdiskriminasie teen swaarder kalwers, is daar steeds net ongeveer R240 tot R250 per kop addisioneel te maak. Hierdie bly egter ‘n aanloklike opsie, aangesien die koste van massatoename goedkoop is en die diere altyd in die mark is as ‘n prysskuif sou voorkom. Indien omstandighede vir die voerkraalmark of self voer gunstig sou verander, is droë diere beskikbaar wat aangepas is op ‘n graandiëet wat tot voordeel van verdere waardetoevoeging sou wees. Die diere kan ook op 18 maande van die veld af bemark word, indien die produksiestelsel genoeg droë materiaal tot sy beskikking het. Die bemesting van aangeplante weiding vir die afrond van dié diere kan hiervoor oorweeg word waarin ‘n waardetoevoegingsaksie van ongeveer R500 per dier is en wat negatiewe prysmarges beter hanteer weens die lae koste van massatoename.

Indien materiaal beskikbaar is en die onderneming kan die verlengde kontantvloei hanteer, is daar dus opwaartse potensiaal as die kalwers teruggehou word. Maak seker dat die praktyke sal inpas by jou onderneming se beskikbare bestuurstyd.

Opsie 3: Verkoop teen die huidige pryse
Om te besluit of ‘n spesifieke prys reg is vir jou omstandighede, moet jy weet wat die kalf jou tot op daardie punt gekos het. Dit sou onverantwoordelik wees om ‘n prys te maak wat goed klink sonder om werklik te weet of jy ‘n wins genereer.
 

Hoefprys (rand/kg) Inkomste (rand/koei)* Verhoogde inkomste
R10,50 R1 146 -
R11,50 R1 272 R 126
R12,50 R1 399 R 127
Tabel: Inkomste vs hoefpryse.
*Inkomste na direk toedeelbare koste, byvoorbeeld: lek, dip en doseer, arbeid en voertuig teen 75% speenkalfpersentasie.
 

Tabel 1 toon die inkomste per koei na direkte koste, soos uiteengesit in Senwes Landboudienste se bedryfstakbegroting vir 2006/2007. ‘n Sprong van R10,50 na R11,50 (ongeveer 10%) hoefpryse realiseer ‘n verhoging van R126 per koei-inkomste met ‘n soortgelyke sprong na R12,50 hoefpryse. Die effek van R1/kg hoefprys het dus ‘n invloed van ongeveer R12 600 op ‘n 100 koeikudde teen 75% speenkalfpersentasie ( 4,5 hektaar se mielie-insetkoste).

Voor jy enige groot somme begin maak oor moontlike prysskuiwe, bepaal eers wat jou voersituasie is vir die komende winter. Dalk word jou besluitnemingsproses vergemaklik – die kudde besluit vir jou dat jy jou huidige speenkalwers moet verkoop of jou koeie se reproduksie vir die komende seisoen word benadeel. Moenie nou die risiko van moontlike verhoogde inkomste van R130 per koei loop teen die moontlikheid van geen inkomste die volgende seisoen nie. Hoewel ons graag die pryse van Oktober tot November 2006 sou wou sien, maak ons steeds ‘n goeie wins met ‘n speenkalfprys van rondom R12/kg.

Ter opsomming
Speenkalfpryse neig om onder druk te wees, wat besluitneming moeilik maak. Figure 1 en 2 se historiese geskiedenis toon duidelik dat jy nie moet waag op die gebied van korttermyn toekomsvoorspellings, gegrond op inligting uit die verlede, nie. Die afrond van kalwers teen huidige mielie- en vleisprysmarges blyk nie lewensvatbaar te wees nie. Indien genoeg kos beskikbaar is, kan kalwers teruggehou word indien ‘n bemarkingsplan vir verdere waardetoevoeging bestaan. Die direkte verkoop van kalwers teen huidige pryse realiseer steeds ‘n aanvaarbare wins en is miskien nie die swakste plan as dit verreken word teen staanrisiko en om die kudde se reproduksie op risiko te plaas nie.

‘n Paar waarnemings tydens die voorbereidingswerk vir die artikel:

Johan Mouton is ‘n senior vee- en weidingkundige by Senwes Landboudienste. Kontak hom by (056) 212-4241.
 

Figure


Speenkalfpryse.

 A2-karkaspryse.