Die probleem met die tegnologie-golf is egter dat daar soveel inligting
beskikbaar is dat die doel waarvoor dit aangewend word, begin vervaag.
Om tegnologie reg aan te wend in ‘n veeproduksiestelsel, of enige
boerderystelsel, moet die doelwitte van die onderneming duidelik gedefinieer
word. Dan kan slegs die tegnologie wat jou doelwitte bevorder, ingespan
word. Kom ons neem as voorbeeld ‘n ekstensiewe speenkalfproduksiestelsel.
Die doelwitte in só ‘n stelsel sou wees:
Baie produsente sou voel dat ‘n goeie rekordhoudingstelsel waarskynlik bo
aan die lys moet staan. Dit is egter nie so nie. ‘n Rekordhoudingstelsel gee
slegs weer wat gebeur het en laat nie die koeie kalf nie.
Watter produksietegnologie kan prestasie met
rekordhouding monitor?
‘n Paar produksiepunte waarvoor uitstekende tegnologie beskikbaar is, na
jare se praktyknavorsing en produkontwikkeling, kan gelys word. Geen
bestuursinset wat in ‘n stelsel ingebou word, bring ‘n verbetering van 20%
mee nie, maar vier insette wat elk 5% verbetering bring, is wel haalbaar.
Dié vier insette is: hulpbronbenutting, aanvulling, gesondheidsbestuur en
telingsbestuur.
Hulpbronbenutting
Is daar ‘n beplande benuttingspatroon wat dit moontlik maak om die kudde in
harmonie met die hulpbron te benut? Maak die voervloei voorsiening vir ‘n
noodvoerbank in die geval van laat reën? Onthou die doelwit van speenmassa
en -persentasie – as jy nie ‘n kalfseisoen het nie, is jou doelwit baie vaag
en geld die benutting van tegnologie nie noodwendig vir jou stelsel nie.
Aanvulling
Is daar ‘n geskeduleerde aanvullingsprogram om te help met voorsiening waar
tekorte voorkom vir onderskeie produksiegroepe? Daar kan nie van ‘n koei in
swak kondisie verwag word om die vermoë te hê om konstant te reproduseer nie.
Die inligting en produkte vir hierdie onderwerp is in oorvloed beskikbaar.
‘n Aanvullingsprogram het waarskynlik die grootste impak op jou netto
boerdery-inkomste.
Gesondheidsbestuur
Onthou jy nog die dae van enkelinentings vir elke siekte? Die gekombineerde
entstowwe wat tans beskikbaar is, tesame met die kennis om dit doeltreffend
aan te wend, is legio. Met die huidige tegnologie wat op hierdie gebied
beskikbaar is, is gesondheidsbestuur aansienlik makliker as in die verlede.
Telingsbestuur
Die stoetbedryf span die Blup-tegnologie in om met verstommende akkuraatheid
‘n bul aan jou te verkoop wat klein kalfies met geboorte sal gee wat swaar
speen. Die keuse is joune om dit te gebruik al dan nie. Genetiese vordering
is egter blywend van aard.
Nou het ons die beskikbare tegnologie vir produksie in lyn gebring met wat
die kuddedoelwitte is. Om te monitor of die doelwitte behaal word, is
rekordhouding wat ‘n handkaartstelsel met nommers benut waarskynlik
voldoende, maar dit het sy tekortkominge. Ons gebruik nie meer enkelentings
nie, so hoekom handkaartstelsels?
Die tendens waarheen landbouproduksie internasionaal beweeg, word die beste
beskryf deur die sogenaamde drie T’s, wat staan vir:
Hierdie konsep is al so sterk gevestig dat sekere lande, soos die VSA,
tans ‘n vrywillige stelsel vir produsente daargestel het om die drie T’s te
help monitor. Aangesien dit markgedrewe is en die verbruiker wil weet wat
die produksiegeskiedenis van die produk (vleis) is en ‘n premie hiervoor
begin betaal, vind grootskaalse deelname aan die stelsel plaas. Moet nie
organiese produksie hierin lees nie, bloot produksiegeskiedenis.
Wat is tans beskikbaar in SA?
Daar is ‘n verskeidenheid sagteware beskikbaar wat almal min of meer
dieselfde doen. Die Suid Afrikaanse program, beskikbaar by die LNR, is
uitstekend en voldoen ook aan die stoetteler se behoefte. Die probleem was
altyd die nommer van die diere, die neerskryf van nommers en gewigte van die
oorplaatjie en dan die inlees van die data in ‘n handstelsel of rekenaar.
Dit is ‘n tydrowende proses en laat ruimte vir foute.
Elektroniese oorplaatjies neem toe in gewildheid. Hierdie oorplaatjies
vergemaklik die insameling en verwerking van data. Die plaatjies kan
hoofsaaklik in twee groepe verdeel word: bolusse sogenaamde “chip”) en/of
variasies van die staafkode-tegnologie. Ons gaan hier slegs een van die
beskikbare stelsels kortliks bespreek wat die produsent ‘n idee sal gee van
wat beskikbaar is en teen watter koste.
Die bolusse neig nog om duurder te wees, maar die staafkode-tegnologie raak
meer bekostigbaar. Intervet, ‘n spesialis-dieregesondheidsmaatskappy, benut
‘n staafkode-plaatjie met ‘n unieke nommer wat gekoppel word aan ‘n sentrale
databasis. Die plaatjie kan gekoop word teen minder as R10 per bees. Die
unieke nommer kan ook gekoppel word aan jou persoonlike nommerstelsel. Die
skandeerder vir die plaatjies beloop ongeveer R3 000. Rekenaarkoste is nie
in berekening gebring nie.
Hoe werk die stelsels in praktyk?
Gestel ‘n groep diere word ‘n sekere enting toegedien: lees die plaatjie met
die skandeerder; waarna die rekenaar self die nommer stoor. ‘n Beskrywing
van wat gedoen is, word eenmalig ingelees en alle opdaterings vir elke dier
word outomaties gedoen. Die stelsel kan gekoppel word aan ‘n skaal. Die
skandeerder lees die oorplaatjie, die skaal weeg, koppel die gewig aan die
nommer en die databasis is opgedateer. Op dié wyse kan alle bestuursinsette
vasgelê word sonder die hantering van papier en pen. In die nabye toekoms (twee
tot ses maande) sal die tegnologie voorsiening maak daarvoor dat jy net met
die skandeerder in die veld kan werk terwyl jou rekenaar by die huis staan.
As jy klaar in die veld is, is die databasis reeds opgedateer! Moenie
bekommerd wees dat die skandering moeisaam is nie, indien die skandeerder
binne 30 cm van die oorplaatjie kom, is dit voldoende.
Die oproep van akkurate data om te bepaal of die kuddedoelwitte bereik is,
is bloot die druk van ‘n knoppie ver. Die data kan oorgedra word na ‘n
sentrale databasis. As ‘n prys vir speenkalwers byvoorbeeld met die
voerkraal beding word, kan jy met die druk van ‘n knoppie die geskiedenis
van die kalf se gesondheidsbestuur sien en besluit of hul bereid is om ‘n
premie te betaal of nie. Dit gaan selfs verder: die dier behou sy unieke
nommer sy lewe lank en die verbruiker kan sien waar die kalf grootgeword het
en waar hy gevoer, geslag en verwerk is. Vir die stoetbedryf kan ‘n
DNA-monster van die dier aan die unieke nommer gekoppel word om
naspeurbaarheid te verseker. Die DNA-monsters word in ‘n sentrale biblioteek
gestoor. Hierdie tipe stelsels is ‘n wêreldtendens wat besig is om
vastrapplek in Suid-Afrika te kry.
Ter afsluiting
Maak seker dat alle beskikbare produksietegnologie eers ingespan word om die
kudde ekologies ten beste te bestuur voor rekenaartegnologie ingespan word
om die vordering te monitor. Doen dus eers die basiese reg. Bekostigbare
rekenaartegnologie wat aan internasionale standaarde ten opsigte van
naspeurbaarheid voldoen, is beskikbaar in Suid-Afrika. Indien jy die besluit
neem om op die tegnologie-wa te klim met die oog op ekonomiese
volhoubaarheid vir jou kudde, maak laastens seker dat daar
produkondersteuning met ‘n naverkoopdiens is waarop jy kan staatmaak, nou en
in die toekoms.
Dankie aan dr Sunelle Strydom en Albert van Rhyn van Intervet
dieregesondheid vir hul insette/hulp.
Eienskappe en voordele van die Intervet staafkodeplaatjies en sagteware:
Verwysings:
http://www.beefpro.net/
http://beef-mag.com/
http://www.gmptags.co.za/
Johan Mouton is ‘n senior vee- en weidingkundige by Senwes
Landboudienste. Kontak hom by (056) 212-4241.
![]() Moderne melkkoei-tegnologie. |
![]() ‘n Voorbeeld van die staafkode-plaatjie wat met ‘n skandeerder gelees kan word. (Figuur verskaf deur Intervet.) |