Frikkie het reeds in 1990 saam met sy pa, Jan, begin boer nadat hy
in 1988 op Wolmaransstad gematrikuleer en daarna sy weermagopleiding voltooi
het. Hy het in 2003 begin oorskakel na presisieboerdery met behulp van
Senwes se Presisieboerdery-afdeling. Die boerderyonderneming wat deur hom en
sy pa behartig word, staan bekend as Kirsten Boerderye.
Mielies word as hoofgewas op die plaas verbou, terwyl sonneblom en grondbone
ook in ‘n mindere mate aangeplant word. Kirsten Boerderye het ook ‘n
veefaktor, wat uit kommersiële beeste (Limousin en Brahman-kruisings)
bestaan. Die plaas bied natuurlike en aangeplante weiding vir die vee.
Frikkie is die derde geslag wat op Dowwespruit boer en die plaas is reeds
100 jaar in die Kirstens se besit. “My pa het my van kleintyd by die
boerdery betrek en gewys hoe dinge op die plaas werk. Dit is waar my liefde
vir boerdery begin het en as ek my lewe kon oorhê, sou ek dit glad nie
anders wou gehad het nie. Ek sal enigeen aanraai om in die landbou in te
gaan as hulle ‘n liefde daarvoor het,” het Frikkie gesê.
Die kuns van presisieboerdery
“Presisieboerdery is nie iets wat ‘n mens sommer oornag doen nie. Dis beter
om in dit in te groei. As jy in een jaar wil oorskakel het jy groot kapitaal
nodig,” het Frikkie gesê. Hy glo egter dat die toekoms na presisieboerdery
beweeg en sê dat die uiteindelike voordele van presisieboerdery dit uit en
uit die moeite werd maak. “Jy kan in vyf jaar jou uitgawes gemaklik
terugmaak,” het hy verder gesê.
“Die eerste ding wat jy moet doen is om te belê in die regte harde- en
sagteware vir jou rekenaar. Daarna gebruik jy jou neutronvogmeter om die vog
in die grond te meet, sodat jy kan bepaal watter lande geplant kan word en
watter moet oorlê,” verduidelik Frikkie die stappe na presisieboerdery.
“Volgende word die grondontledings volgens ‘n grid-monster geneem. Daarna
kan jy stropermonitors op jou stroper sit om die gewasopbrengs grafies voor
te stel. Laastens word al jou data gekombineer om ‘n
voorskrifbemestingskaart vir elke land op te stel.”
Die voorskrifbemestingskaarte laat jou natuurlik toe om elke sone volgens sy
unieke behoeftes te bemes en skakel
onder andere mineraaltekorte in die grond uit. Frikkie glo dat
presisieboerdery ‘n instrument is wat gebruik kan word om die produsent te
help om ‘n hoë opbrengs teen lae insetkoste te lewer, sodat hy steeds
winsgewend kan boer, al is die pryse laag.
Bewerking van gronde
Spoorverkeer-bewerking word by Kirsten Boerderye toegepas, omdat dit
insetkoste laag hou en winderosie beperk. “Ons is baie dankbaar teenoor
Graan SA dat ons laasjaar meer as ‘n derde van ons lande laat rus het, want
nou pluk ons die vrugte,” het Frikkie van sy oorlêstelsel gesê. Hy sê ook
verder dat die mielies wat vanjaar op die oorlêlande geplant is sommer baie
mooi vertoon teenoor die ander.
Daar word ook met verskillende kultivars proewe op die plaas gedoen.
Kunsmisproewe word in samewerking met Omnia gedoen om die gebruik van
vloeibare kunsmis en ook NH3 Ammoniak te beproef. Volgens Frikkie verkies
hulle vloeibare kunsmis bo die korrel-kunsmis, omdat dit makliker is om te
berg en ook minder arbeidsintensief is.
“Ons het ook nou oorgeskakel na ‘n sesry vyf-voet stelsel, waar ons voorheen
drie-ry vyf-voet geplant het. Dit het ons dieselverbruik met die helfte
gesny en baie waarde tot die boerdery toegevoeg,” het hy verder gesê.
Gesinslewe
Frikkie en Ria is reeds twaalf jaar getroud en het twee dogters, Charlene
(9) en Lieneke (3). Ria het in die omgewing grootgeword en is baie betrokke
by die boerdery. “Toe ek en Ria mekaar leer ken het, het ek sommer geweet sy
is die vrou vir my,” het Frikkie oor sy huwelik gesê. “Ek is ook baie lief
vir my dogters en sal hulle nooit verruil vir ‘n seun nie,” het hy verder
gesê.
Boodskap aan ander produsente
“In vandag se moeilike ekonomiese omstandighede is dit ‘n moet dat ‘n
boerdery soos ‘n besigheid bestuur word. Ek glo dat as jy eerlik en opreg
besigheid doen en op jou knieë bly voor die Here, sal Hy jou pogings seën,”
was Frikkie se boodskap.
‘n Laaste gedagte
Produsente is voortdurend op soek na maniere om hul boerderye te verbeter en
meer winsgewend te maak en, soos Frikkie bewys het, kan presisieboerdery ‘n
antwoord wees vir produsente wat reeds suksesvol is en graag verder wil
verbeter. Vir meer inligting oor presisieboerdery, skakel Etienne Nel (bestuurder
Senwes Presisieboerdery) by (018) 464-7526 of gesels met Frikkie by 082 890
8150 om meer uit te vind.
Frikkie se persoonlike gunstelinge
Kleur Groen
Motor Toyota
Sport Rugby en fietsry
Rugbyspan Blou Bulle
Sportpersoon Naas Botha
Tyd van die dag Vroegoggend
Trekker John Deere
Sanger Danie Botha
Reuk Die reuk van reën
Kos Rooivleis (nie volstruis nie)
Drankie Coke
Nagereg Flambé
Vakansieplek Hartenbos