Deursettingsvermoë en samewerking maak SEB-projek suksesvol
2007-02-01

Hoewel die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die landbou reeds ‘n realiteit is, is die suksesvolle implementering van dié konsep in ‘n kommersiële boerdery, op sigself ‘n uitdaging. Daar is verskeie modelle of benaderings wat in die proses gevolg kan word.

In hierdie artikel:
  1. Konseptualiseringsfase
  2. Beplanningsfase
  3. Onderhandelingsfase
  4. Implementeringsfase
  5. Moniteringsfase
  6. Foto’s
     

Vir Japie Grobler van die plaas Karookom in die Bothavilledistrik, was dit reeds met die vrystelling van die AgriSEB konsepwetgewing duidelik dat dit deel van sy oorhoofse boerderystrategie sal moet wees. Hy het daarom vir Senwes Landboudienste genader om hom met die proses
te help.

Daar is reeds gedurende Mei 2004 met die beplanning van die eerste projek begin en die proses kan in die volgende fases saamgevat word:

Dit was van die begin af duidelik dat ‘n spanbenadering gevolg sou moes word ten einde die projek te laat slaag. Die volgende rolspelers is deurgaans betrek: begunstigde plaaswerkers, ‘n rekeningkundige beampte, ‘n prokureur, ‘n opleidingsinstansie, handelsbank en die Vrystaatse departement van grondsake.

  1. Konseptualiseringsfase

Japie se strategie is om breëbasis swart ekonomiese bemagtiging in sy boerdery toe te pas. Ten einde aan die vereiste van ekonomiese volhoubaarheid te voldoen en gegewe ‘n voltydse werkerskorps van meer as 30, is besluit om twee agtereenvolgende projekte te loods. (Vir dié doel is twee plase van onderskeidelik 700 ha en 600 ha vooraf bekom.) Dit het omtrent ‘n jaar en ‘n half geneem om die eerste projek se implementeringsfase te voltooi. Die tweede projek se beplanningsfase is reeds grootliks afgehandel en daar word nou gewag op die amptelike goedkeuring deur die Noordwes departement van grondsake. Kritiese suksesfaktore waaraan die projekte moet voldoen

Sonder om verwagtinge te skep, maar terselfdertyd deursigtigheid te verseker, is daar reeds gedurende hierdie fase met die werkers in gesprek getree.

  1. Beplanningsfase

Seleksie van projekbegunstigdes
Agt werkers en hul gades (soos vereis vir deelname aan die LRAD-skema) is vir die eerste projek en sewe werkers met hul gades vir die tweede projek geïdentifiseer. Inkoopgereedheid, tydperk in diens, opleibaarheid en verantwoordelikheidsin is as die vernaamste keuringskriteria gebruik.

Besigheidsmodel, struktuur en befondsing
Vanweë voor die hand liggende voordele, soos die versekering van kontinuïteit, buigsaamheid van toe- en uittrede, mentorskap (oordra van besigheidskennis, ervaring en vaardighede), makliker marktoetrede, bedingingsmag en die gesamentlike dra van risiko deur mede eienaarskap, is aandeelhouding, eerder as alleen-eienaarskap, as basis geneem vir die samestelling van die besigheidsmodel.

Daar is besluit dat die oprig van ‘n afsonderlike private boerderymaatskappy die aangewese regsentiteit is met Japie en ‘n werkersbesigheidstrust as die enigste twee aandeelhouers. Twee trustees is uit die werkersbesigheidstrust (begunstigdes) verkies wat saam met Japie en sy boekhouer as mede-direkteure op die direksie van die maatskappy dien.

Die geniet van gelyke status deur alle begunstigdes binne die werkersbesigheidstrust, word as vereiste deur die departement van grondsake gestel.

Gegewe die hoë kapitale uitleg wat die tot stand bring van ‘n nuwe boerdery verg, tesame met die relatiewe lae winsgewendheid waardeur die landbou gekenmerk word, is besluit dat die boerdery so na as moontlik op ‘n kontantbasis gefinansier en bedryf moet word. Gegewe die huidige formule waarvolgens die departement van grondsake die LRAD grant (skenkingsbedrag) bereken en die aantal begunstigdes, was die skenking bykans voldoende om ‘n 30% aandeelhouding te bekom. Die tekort (< R100K) is deur ‘n termynlening by ENB gefinansier. Japie se 70% belang is uit eie fondse gefinansier. ’n Klein oorbruggingsfasiliteit is ook in plek gestel vir tot ná die bemarking van die eerste groep speenkalwers.

Winsdeling geskied volgens aandeelhouding na die vereffening van leningsrekenings. Die ooreenkoms maak ook voorsiening vir die koop van verdere aandele in die SEB-maatskappy deur die werkersbesigheidstrust na gelang van die beskikbaarheid van kontantfondse.

Fisiese hulpbronbeplanning en vertakkingsamestelling
Inskakeling by die bestaande groter boerdery-eenheid, die beperking van produksie- en afsetrisiko’s, bestuursintensiteit, voorkeure en natuurlike aanvoeling van begunstigdes, asook die produksiepotensiaal en ligging van die plase, is alles faktore wat in aanmerking geneem is toe
daar besluit is op ‘n semi-ekstensiewe vleisbees-produksievertakking (speenkalfstelsel) vir beide projekte. Na bereiking van volle kapasiteit, sal dié produksievertakking bestaan uit twee kuddes van onderskeidelik 200 en 100 vroulike diere.

Met behulp van Senwes Landboudienste is die twee plase gekarteer en herbeplan. Medium en lae potensiaal lande word oor ‘n driejaar periode omgeskakel na meerjarige aangeplante weiding. Vir die interim word die lande op ‘n deelsaaibasis aan ‘n derde party verhuur.

Opstel van besigheidsplan
‘n Volledige boerderybesigheidsplan is opgestel deur Senwes Landboudienste in samewerking met al die vermelde rolspelers. Die besigheidsplan is eers aan die plaaslike komitee (vir beginselgoedkeuring en verwysing) en daarna aan die provinsiale keuringskomitee van die departement van grondsake voorgelê vir finale goedkeuring, waarna begin is met die opstel van alle regsdokumentasie (oprig en registrasie van werkersbesigheidstrust en privaat maatskappy, opstel van koop- en verkoopsooreenkoms).
‘n Belangrike aspek wat hier in gedagte gehou moet word, is dat die opsteller van die besigheidsplan deur die departement van grondsake aangewys moet word ten einde aanspraak te kan maak op vergoeding.

Opleiding
Vanweë die lang tydsverloop gedurende die onderhandelingsfase, is daar besluit om ná die verkryging van beginsel-goedkeuring vir die projek reeds met die opleidingsprogram van die eerste groep plaaswerkers te begin. In samewerking met professor HO de Waal van die departement vee-, wild- en weidingkunde van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe aan die universiteit van die Vrystaat, is ‘n bestekopname van die basiese kennisvlakke van werkers gedoen. Daarna is begin met die opleiding in spesifieke weiding- en veeproduksie en verwante aspekte. Die opleiding het bestaan uit vier een-dag praktiese sessies wat oor ‘n periode aangebied is ten einde vaslegging te verseker.

‘n Finale opskerping- en evalueringsessie is vir vroeg 2007 beplan, waarna aandag aan verdere opleiding in aspekte soos finansiële- en bemarkingsbestuur gegee sal word. Ten einde effektiewe kommunikasie van veral nuwe terminologie en begrippe te verseker, word daar deurgaans van die dienste van ‘n tolk gebruik gemaak. Fondse vir opleiding is goedgunstiglik bewillig deur ENB.

  1. Onderhandelingsfase

Ten spyte van die feit dat die provinsiale departement van grondsake van die begin by die proses betrek is, kan dit as die tydrowendste en frustrerendste fase beskou word waar geduld tot die uiterste beproef is.

Kritiese aspekte wat aandag geverg het was onder meer die identifisering van die werklike besluitnemers en verduideliking van die eiesoortigheid van ‘n aandeleskema, tesame met die feit dat LRAD-befondsing na regte nie meer daarvoor aangewend mag word nie (dit het nie fisiese oordrag van grondeienaarskap tot gevolg nie); die ontwikkeling van wedersydse vertroue en insig; asook die feit dat daar in die proses met nie minder nie as drie provinsiale direkteure van grondsake onderhandel moes word. Dit alles het die proses bemoeilik en meegebring dat verskeie wysigings aan die trustaktes en die koopooreenkoms aangebring moes word wat telkens na die provinsiale grondkeuringskomitee verwys moes word vir goedkeuring.

Die lang tydsverloop, te midde van ‘n skerp styging in die vraag (en prys) na teeldiere, het tot gevolg dat minder koeie deur die begunstigdes uit hul skenkingsbedrag (LRAD grant) aangekoop kon word, wat gaan meebring dat die projek langer sal neem om volle produksie/weidingskapasiteit te bereik.

Ten einde te voldoen aan die beginsels van deursigtigheid en deelname, is die werkers ook gedurende hierdie fase deur die departement besoek en te woord gestaan.

  1. Implementeringsfase

Ofskoon sekere fasette van die projekte reeds geïmplementeer is, het die algehele implementering van projek een gedurende Oktober 2006 ná oorbetaling van begunstigdes
se fondse ‘n aanvang geneem.

  1. Moniteringsfase

Die sukses van SEB op kommersiële plaasvlak sal, soos enige ander projek, gemeet word aan duidelike, vooraf opgestelde en gekommunikeerde prestasiedoelwitte, soos uiteengesit in die projek se besigheidsplan. Die ontwikkeling van vaardighede, mede-eienaarskap en besluitneming, asook ‘n verhoging in lewenstandaard deur volgehoue winsdeling, is belangrike kriteria wat deurlopend gemoniteer sal word.

Met die jarelange goeie verhouding wat daar tussen Japie en sy werkers bestaan, asook die gesonde besigheidsbestuursbeginsels wat gehandhaaf word, is die bereiking van vermelde doelwitte wel haalbaar.

Johan du Toit is die bestuurder van Senwes Landboudienste. Kontak hom by (018) 464-7543.


Figure


Paul Avenant (dosent by die universiteit van die Vrystaat) gee opleiding oor weidings en grasse.
 

Produsente besig om ‘n jong kalf met toue neer te trek sonder die gebruik van ‘n drukgang.
 

Van die werkers wat betrokke was by die SEB-projek is van links voor Isaac Tladi, Abel Ncobo en Elias Ncobo. Agter van links staan Japie Grobler, David Sello, Frank Mogupudi, Isac Hyman en Johan du Toit (bestuurder Senwes Landboudienste).
 

Besigheidstruktuur