Knopvelsiekte
Knopvelsiekte kom hoofsaaklik voor in die laat-somer, van Februarie tot
April, maar in ‘n goeie seisoen kan die gevaartydperk langer wees.
Oorsaak
Die siekte word deur ‘n virus veroorsaak, wat deur bytende insekte, soos steekvlieë, oorgedra word. Die siekte kan ook deur ‘n besmette naald versprei word en kalwers kan moontlik reeds in die baarmoeder aansteek, indien die koei besmet word.
Simptome
Die broeitydperk van die siekte is tussen sewe en tien dae, waarna die dier se neus begin loop en ‘n geringe mankheid waargeneem kan word. Speekselvloei kan ook voorkom. Na nog ‘n week vorm daar knoppe op die lyf, wat wissel in grootte van een tot vier sentimeter. Sommige diere kry slegs een tot twee knoppe, terwyl ander se hele lyf oortrek kan wees. Na ‘n tydperk verdwyn die knoppe en die vel kan doodgaan en lostrek van die weefsel. Die dooie vel val na so twee weke af en los sere wat mettertyd genees.
Knoppe kan ook in die lugpyp, dermkanaal of uier vorm. Knoppe in die lugpyp kan akute probleme veroorsaak, omdat dit die pyp toedruk en die dier kan versmoor. Letsels in die uier kan ‘n daling in melkproduksie tot gevolg hê en in ernstige gevalle tot permanente skade lei.
By bulle kan die siekte swelling in die testes en skrotum veroorsaak. Die bul kan tydelik steriel wees van koorsreaksie en in ernstige gevalle selfs permanent steriel raak. ‘n Bul kan agt tot twaalf weke ná hy herstel het, getoets word vir vrugbaarheid.
Voorkoming en behandeling
Ent voorkomend in op ‘n jaarlikse basis. Kalwers van koeie wat voorheen ingeënt is, kan op ses maande ingeënt word. Daarna kan kalwers jaarliks ingeënt word, verkieslik in die voorsomer. Volwasse diere kan op enige ouderdom ingeënt word.
Behandeling is nie-spesifiek. Langwerkende antibiotika kan help om sekondêre infeksies te voorkom. ‘n Anti-inflammatoriese middel en vitamien B-kompleks kan diere wat nie wil vreet nie, se eetlus stimuleer. Waak teen maaierbesetting as die vel begin afsterf. Gewone wond-aërosol behoort voldoende beskerming te bied. Vliegbeheer is baie belangrik en vliegwerende dipstowwe kan help om die oordrag van die virus te beperk.
NB: Daar is ‘n ander siekte wat deur die Herpes-virus veroorsaak word en soos Knopvelsiekte mag lyk. Diere kom egter nie siek voor nie. Die knoppie is ook kleiner en platter en verdwyn na ‘n redelike kort periode.
Oorsaak
Pasteurellose kom voor in tye van abnormale stres, byvoorbeeld na speen, wanneer diere oor lang afstande vervoer word, in stowwerige en winderige toestande en wanneer groot groepe diere bymekaar geplaas word
(soos in voerkrale).
Simptome
‘n Hoë koors, lusteloosheid en neusafskeiding kan waargeneem word. Die dier haal ook vinnig en geforseerd asem en kan soms hoes. Diere wat in ‘n mindere mate aangetas is, verloor baie gewig in ‘n kort tyd. In ernstige gevalle kan diere binne etlike ure vrek.
Voorkoming en behandeling
Verskeie virussiektes maak die dier meer vatbaar vir pasteurellose. Ent kalwers teen hierdie siektes vóór hulle gespeen word of na voerkrale geneem word. Ent met ‘n kombinasie van entstowwe ten minste vier weke voor speen en daarna jaarliks.
Miltsiekte (ook bekend as antraks)
Miltsiekte is ‘n ernstige, dodelike, hoogs aansteeklike siekte wat algemeen
op die oewers van die Oranjerivier voorkom. Die toestande in hierdie gebied
is uiters gunstig vir dié bakterie wat deur spoorvorming oorleef. Akute
vrektes as gevolg van dodelike bloedvergiftiging is algemeen met hierdie
siekte. Diere word gewoonlik dood aangetref, dikwels met donker
bloeduitloopsels by die neus en anus.
Oorsaak
Die siekte word deur die Bacillus anthracis-bakterie veroorsaak.
NB: Waar daar enige vermoede van miltsiekte is, moet die karkas NIE
oopgemaak word nie, aangesien miljoene spore vorm wanneer die organisme met
suurstof in aanraking kom. Hierdie spore kan na bewering eeue lank oorleef.
Simptome
Simptome word nie maklik opgemerk nie, aangesien die duur van die siekte
minder as twee uur is. In die enkele gevalle waar siek diere wel waargeneem
is, is hoë koors, donker slymvliese en ‘n totale lusteloosheid gemerk.
NB: Miltsiekte moet aangemeld word en die naaste kantoor van die
staatsveearts moet onmiddellik verwittig word van enige verdagte gevalle.
Uitbreking word beheer deur inenting en deur diere onder kwarantyn te plaas.
Voorkoming en behandeling
Daar is geen behandeling vir die siekte nie. Ent voorkomend in deur jaarliks
‘n dosis van miltsiekte-entstof toe te dien. Die inenting van beeste is
verpligtend en kleinvee in risikogebiede moet ook ingeënt word. Die eerste
inenting is gewoonlik wanneer die dier tussen drie en ses maande oud is.
Diere moet nie met penisillien, tetrasikliene of ander antibiotika behandel
word tien dae vóór en ná inenting nie. Dit neutraliseer die entstof en keer
dat die dier immuniteit teen die siekte opbou.
Let daarop dat miltsiekte deur mense opgedoen kan word, gewoonlik deur die
hantering van die velle van diere wat gevrek het. Bloedvergiftiging met
swere by wonde en die limfkliere ontwikkel en mediese behandeling is
noodsaaklik. Die toestand kan beheer word deur die vroeë toediening van
antibiotika. Mense kan ook teen die siekte ingeënt word.
Lees altyd die voorskrif of etiket van die produk of raadpleeg jou veearts
voordat jy jou diere inent of indien jy nie seker is van die simptome of
diagnose van ‘n siekte nie.