Pekanneute - suksesvolle alternatief op Vaalharts
2006-12-01

Die probleme van winsgewendheid en wisselvalligheid wat met kontantgewasse ondervind word, maak die oorskakeling na permanente gewasse, veral pekanneute, meer rooskleurig en selfs noodsaaklik. Jaco Vermeulen (Agronoom van Senwes Landboudienste) gee meer inligting oor dié gewas, wat tans op Vaalharts sterk veld wen.

In hierdie artikel:
  1. Oorsig oor die bedryf
  2. Klimaatsvereistes
  3. Grondvereistes
  4. Besproeiing
  5. Sink
  6. Kultivars
  7. Witchita
  8. Pawnee
  9. Western Schley
  10. Groeipotensiaal

  11. Sensus
  12. Gesondheidsvoorkeure
  13. Samevatting
  14. Navrae
  15. Verwysings
  16. Foto’s

Oorsig oor die bedryf
Waterskaarste, oorproduksie, invoere en die wisselkoers maak die tradisionele produksie van kontantgewasse minder winsgewend en produsente soek na stabiele alternatiewe om die risiko te versprei. Pekanneute is een van die gewasse wat, vanweë die uitvoerpotensiaal, groot belofte toon. Deeglike beplanning is egter baie belangrik, veral finansiële beplanning. Die probleem met die oorskakeling na pekanneute is dat daar ‘n lang tydperk van uitgawes sonder enige inkomste is. Die produsent moet dus ander bronne van inkomste hê om die uitgawes te dek. Hoe gouer die bome begin dra, hoe gouer is die terugbetaling. Die groot voordeel as die bome eers dra, is dat die vertakking die oorlewingsvermoë van die boerdery kan vergroot indien die kontantgewasse as gevolg van eksterne faktore onder druk kom. Die volgende is belangrike aspekte wat in ag geneem moet word voor jy pekanneutbome plant.


Klimaatsvereistes
Die pekanneutboom pas goed aan in groot dele van Suid-Afrika met die kort, koue winters en lang, baie warm somers. Lae temperature en selfs ryp gedurende Junie tot Augustus is ‘n vereiste vir suksesvolle bot- en blomvorming. Gedurende die somermaande (Oktober tot April) vereis die boom hoë temperature vir vruggroei.

Temperatuurnorme kan dus soos volg opgesom word:

Ryp mag voorkom gedurende die winter, maar van 15 September tot 15 Mei moet dit rypvry wees. Vaalharts is baie geskik volgens die temperatuurvereistes.


Grondvereistes
Die pekanneutboom groei die beste in vrugbare, goed gedreineerde diep grond met los tot medium tekstuur. Pekanneute hou nie van ‘n vlak watertafel nie, aangesien dit worteldiepte beperk. Die voorkoms van ondeurlaatbare lae vir water sal dreinering beperk, terwyl deurlugting baie belangrik is vir wortelontwikkeling. Die aanwesigheid van lopende water is voordelig, maar die voorkoms van ‘n stagnante watervlak is uiters nadelig.


Besproeiing
In Suid-Afrika is reënval nie voldoende om te voorsien in die waterbehoeftes van pekanneutbome vir optimale produksie nie. Gewoonlik word bykomende besproeiing benodig tydens die kritieke groeistadia om goeie opbrengs en kwaliteit te verseker. Kennis oor die fisiese eienskappe, sowel as die waterhouvermoë van die grond, is nodig om ‘n besproeiingstelsel te beplan.

Te veel water is baie nadelig, maar watertekorte tydens die kritieke tye (soos neutvorming en neutvul) kan tot swak gradering, lae oesopbrengste en swak oopmaak van neute lei. September is hier die belangrikste tydperk van oor- en onderbesproeiing.


Sink
Sink is een van die elemente wat seker die belangrikste is by pekanneute. By jong, nie-draende bome is sink belangrik vir maksimum blaarontwikkeling, wat weer groeitempo bepaal. By draende bome moet sink gespuit word wanneer die blaarbloeisels 50 mm lank is. Herhaal die bespuiting minstens drie keer, met tussenposes van twee tot drie weke. Selfs vyf bespuitings kan nodig wees indien bome swaar dra.


Kultivars
Die neutprodusent, verwerker en verbruiker stel almal verskillende vereistes aan die eindproduk. Daar is verskeie faktore wat ons beperk as dit kom by kultivarseleksie. Kruisbestuiwing, skurfsiekte, kouebestandheid, sinktekorte, windskade en alternatiewe drag is alles faktore wat in ag geneem moet word by die selektering van kultivars.

Hier is die eienskappe van drie kultivars wat baie goed presteer op Vaalharts:


Witchita

Voordele

Nadele


Pawnee

Voordele

Nadeel


Western Schley

Voordele

Nadele


Groeipotensiaal
Pekanneute op Vaalharts toon die afgelope paar jaar sterk groei en daar is voldoende groeipotensiaal.

Pekanneute maak tans 6% van alle neutproduksie oor die wêreld uit. Soos
gesondheidsbewustheid internasionaal toeneem, neem die verbruik van neute ook toe en dit skep groot moontlikhede vir uitbreiding. Goeie bestuur van boerderypraktyke, om kwaliteit neute te lewer, is egter baie belangrik.

Wat ook baie belangrik is, is dat die pekanbedryf reg bestuur moet word op ‘n gekoördineerde wyse. Statistieke is belangrik om groei in die bedryf te bepaal, markontwikkeling te doen en vir finansiering en navorsing voorsiening te maak. Produsente en voornemende produsente word aangeraai om aan te sluit by SAPPV (Suid-Afrikaanse Pekanneut Produsente Vereniging), ten einde die bedryf reg te bestuur en aandag te gee aan generiese bemarking om die vraag na die produk uit te bou.

Sensus
In September 2005 is daar ‘n sensus-opname van pekanneut-aanplantings op Vaalharts en die omgewing gedoen:

Uit bogenoemde kan ons aflei dat daar groot vestiging plaasgevind het en dat daar oor ‘n paar jaar redelik groot hoeveelhede pekanneute geoes gaan word.

Vaalharts 2 884 hektaar 80% 1 tot 5 jaar oue bome
Sentrale areas 1 600 hektaar 87% 1 tot 5 jaar oue bome
KwaZulu-Natal 1 125 hektaar 31% 1 tot 5 jaar oue bome


Gesondheidsvoorkeure
Neute is propvol energie en volgens ‘n studie gedoen in die VSA is daar ‘n duidelike verband tussen neuteverbruik en die liggaamsgewigsindeks. Neute is vullend en kan in ‘n dieet ingeskakel word om gewigsverlies te bewerkstellig. Neute is ook ryk aan Vitamien E, kalsium, magnesium, kalium en vesel. Neute bevat ook verskeie elemente of plantkomponente wat die mens beskerm teen hartsiektes, kanker en ander chroniese siektes.

Samevatting
Pekanneute is voorwaar ‘n alternatiewe gewas wat groot potensiaal toon onder besproeiing op Vaalharts. Dit is egter baie belangrik dat die voornemende produsent sy beplanning deeglik sal doen. Dit is beslis nie net van bome plant met groot sukses nie. Die produsent sal ‘n voorliefde vir bome moet hê. Hy sal voortdurend aandag moet gee om foute te beperk en maksimum opbrengste van die hoogste kwaliteit so spoedig moontlik te produseer. Sleutelwoorde is kwaliteit, volgehoue produksie van goeie gehalte en samewerking op bemarkingsgebied. Dit kan slegs geskied as produsente saamstaan en hul vereniging, die SAPPV, ondersteun.

Navrae
Vir verdere navrae, skakel gerus die SAPPV-kantoor by (012) 329-9868 in die oggend vir spesifieke verwysings of gesels met Jaco Vermeulen van Senwes Landboudienste by (053) 474-9647.

Verwysings
SA Pekan tydskrifte van SAPPV. Die Verbouing van Pekanneute deur die Instituut vir Tropiese en Subtropiese gewasse. Mnr Bill Smith, SAPPV Streeksbestuurder streek 8.

Foto’s

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

‘n Pragtige tros pekanneute met geen tekorte.
 
Produsente by ‘n boeredag op Vaalharts in ‘n netjiese egalige boord.