‘n Geveerde oplossing vir silo’s se plaagprobleem
2006-10-01

Die negatiewe impak wat die mens se hedendaagse leefstyl op ons planeet het, is nie onbekend nie. In die vroeë sestigerjare is die gat in die osoonlaag en die gasse wat dit veroorsaak, insluitend plaagbeheermiddels, tot vervelens toe bespreek en die uiteinde hiervan was die verbanning van baie van hierdie gifstowwe en ‘n groter omgewingsbewustheid onder maatskappye wat hierdeur geraak is. Mariana Purnell (Bestuurder Graan Spesialiteitsprodukte) en Elmarie Cronje doen verslag.

In hierdie artikel:

  1. Die afskrik-waarde is ongeëwenaar
  2. Broeikaste by silo’s
  3. Swerfvalke
  4. Edelvalke
  5. Duiwe ‘n gevaar vir voedselveiligheid
  6. Ander planne
  7. Foto’s
     

Senwes het ook ‘n omgewingsvriendelike baadjie aangetrek met ‘n plan om valke by van die silo’s te vestig om die groeiende probleem met duiwe te beheer, eerder as om van gifstowwe gebruik te maak. Dié sierlike roofvoëls word in wêreldstede soos New York met groot sukses ingespan om die plaaslike duiwepopulasie onder beheer te hou en sal dieselfde kan doen by Senwes se silo’s.

Hierdie geïntegreerde plaagbeheerprogram is in Julie vanjaar van stapel gestuur en die holistiese benadering wat gevolg word, is bedoel om omgewingsvriendelik te wees en by te dra tot die sogenaamde drievoudige winslyn, of triple bottom-line, soos dit in Engels genoem word.

Valke soos die Swerfvalk is in die vyftiger- en sestigerjare as bedreig gelys as gevolg van die gereelde gebruik van plaagdoders. Die opbou van hierdie plaagdoders het die voortplantingsvermoë van die valke negatief beïnvloed. In sommige dele van die wêreld het die Swerfvalk as gevolg hiervan uitgesterf. Om hierdie valke eerder te gebruik om plaagbeheer toe te pas, is dus nie net voordelig vir die silo-eienaars nie, maar beskerm ook die valkspesies.

Vermorste graan wat op die grond val, lok allerlei voëls na ‘n silo-terrein. Dit is veral duiwe wat as ‘n groot probleem by silo’s beskou word, weens hul impak op voedselhigiëne en voedselveiligheid. Valke se konstante teenwoordigheid by silo’s sal die voëls grotendeels die skrik op die lyf jaag. ‘n Broeipaar valke benodig daagliks ‘n duif of twee as voedsel. Tydens die somerbroeiseisoen moet drie tot vyf kuikens ook nog gevoer word.

Die afskrik-waarde is ongeëwenaar
Hierdie direkte impak op veral duiwe rondom die silo’s is maar klein in vergelyking met die indirekte “afskrik”-effek. Tydens voorbereiding vir die broeiseisoen moet albei volwasse valke hul nesgebied afbaken en beskerm – eintlik adverteer dat hulle ingetrek het. Dit beteken daaglikse gereelde vliegvertonings in die onmiddellike omgewing van hul “krans”, oftewel die silo. Gevolglik word dit ‘n baie onvriendelike omgewing vir onder andere rustende duiwe.

Veral tydens die broeiperiode is die ouers baie aggressief teenoor betreders van “hul” lugspasie en wanneer die jong valke tussen Oktober en Desember rondvlieg, word elke moontlike veredraer gejag sodat die jong valke kan leer hoe om hul kos te vang. Jong valke verlaat die nesgebied so ongeveer twee maande voor die volgende jaar se broeipoging.

Dr Dirk Verwoerd, natuurwetenskaplike en entoesiastiese valkenier, meen dis hoofsaaklik Swerfvalke (Peregrine falcons) en Edelvalke (Lanner falcons) wat in die Senwesgebied voorkom. Hulle vang en verwilder alle voëls, veral duiwe, maar ook mossies en swaeltjies.

Broeikaste by silo’s
In samewerking met dr Verwoerd, wat lid is van die SA Valkeniers Vereniging, sal daar aanvanklik by tien silo’s kaste aangebring word wat valke sal lok en dien as valkneste. Senwes se ingenieurs, die geselekteerde silo’s se bestuurders en die twee streeksbestuurders neem deel aan hierdie opwindende projek.

Die silo’s wat besonderse probleme met voëls ondervind en eerste by hierdie projek sal baat, is:

Regina, Werda, Hoogte, Buckingham, Enselspruit, De Brug, Willemsrust, Schoonspruit, Losdoorns en Schuttesdraai silo’s.

Swerfvalke
Die Swerfvalk is ‘n medium-grootte valk, met ‘n vlerkspan van ongeveer een meter. Die valk se wetenskaplike naam kan vertolk word as “swerwende valk” en verwys na die feit dat sommige subspesies van die Swerfvalk migreer. Die Swerfvalk is tegnies die vinnigste wese op die planeet wanneer dit in ‘n valduik ingaan tydens jag – die roofvoël sweef tot ‘n aansienlike hoogte en vryval dan teen ‘n spoed van meer as 420 km per uur. Die prooi word dan met ‘n baie presiese pootaksie “geslaan” – soms sal dit die prooi op slag doodmaak, ander kere sy vlerk afbreek. Afhangende van die vektore betrokke, kan die prooi ook in albei kloue gevang word.

Swerfvalke begin normaalweg in Julie afpaar en lê eiers in Augustus en September. Hul prooi bestaan gewoonlik eksklusief uit ander voëls soos duiwe, water- en sangvoëls, maar soms jag hulle ook kleiner soogdiere, wat vlermuise insluit. Insekte maak slegs ‘n klein deeltjie van hul dieet uit.

Hierdie valkspesie vat ‘n lewensmaat en keer jaarliks terug na dieselfde broeiplek. Hul hofmaak-ritueel sluit ‘n mengsel van lug-akrobatiese vlugte, presiese spirale en steil duikslae in.

Edelvalke
Die Edelvalk aard goed in oop landelike gebiede en savanna-streke. Dit lê gewoonlik drie tot vier eiers op ‘n rotslys of, in hierdie geval, hoë geboue. Dié valk is ‘n groot valk, ook met ‘n vlerkspan van ongeveer een meter. Dit jag gewoonlik in ‘n horisontale lyn, in kontras met die sierlike valduikmetode van die Swerfvalk. Europese Edelvalke het steengrys of bruingrys bolywe, maar dié uit Afrika het ‘n ligter, blougrys bodeel. Die bors is gestreep en die maag is ‘n skakering van wit.

Die Edelvalke se broeitydperk begin ongeveer vier tot ses weke na dié van die Swerfvalk. Suksesvolle broeipogings is egter al tot in Desember aangeteken.

Edelvalke is ‘n gunsteling onder valkeniers. Hulle het ‘n maklike geaardheid, wat nie sommer in die ander valke gevind word nie. Wat Edelvalke kort in manhaftigheid, maak hulle dus voor op in persoonlikheid.

Duiwe ‘n gevaar vir voedselveilgheid
Daar is verskeie redes waarom duiwe ‘n gevaar vir voedselveiligheid inhou:

Ander planne
Verdere aksies om die huidige probleme vanweë die teenwoordigheid van voëls by die silo’s uit te skakel, is die toespan van gaanderye met ogiesdraad om voëls uit te hou en die hang van skadunet-gordyne om voëls uit die masjienhuis te hou. Hierdie maatreëls is reeds toegepas by Protespan, Werda, Hoogte, Buckingham, Makokskraal, Middelvlei, Wolwehoek, Ventersdorp, Potchefstroom en Oberholzer silo’s. Al die ander silo’s sal binne die volgende nege maande toegespan word.

Hoewel nie ‘n inisiatief van Senwes se kant nie, het Viljoenskroon silo ‘n paar uile wat intrek geneem het en die rotteplaag heel goed onder beheer hou. Nico van Rensburg (Viljoenskroon Silobestuurder) het ook genoem dat hierdie silo koring met gif meng om hul duiweplaag te beheer, maar dat dit nogal baie koring ‘mors’. Hopelik sal daar binnekort ook vir hierdie silo omgewingsvriendelike oplossings wees wat sal lei tot die besparing van grane soos koring.

Foto’s

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

‘n Tipiese valkhok, waar die valke tydens broeityd hul intrek sal neem.



‘n Edelvalk se maag is gewoonlik ‘n skakering van wit.


Die Swerfvalk is tegnies die vinnigste wese op die planeet.


Betrokke by die valke-projek is, van links: Mariana Purnell (Graan Spesialiteitsprodukte), Albert Cawood (Streeksbestuurder Noordstreek), Nico Els (Schuttesdraai Silobestuurder), dr Dirk Verwoerd (valkenier), Thinus Oosthuizen (Streeksbestuurder Suidstreek) en Corrie de Bruin (Uraniaville), by ‘n valkhok wat by die silo opgerig sal word.