Bloutong
Bloutong is seisoensgebonde en kom meestal in die middel somer en herfs voor.
Die bloutongvirus oorwinter veral in beeste.
Oorsaak: Bloutong word deur muggies (Culicoidesmuggies) oorgedra wat
in laaggeleë dele in riviere en vleie uitbroei wanneer dit vogtig en warm
is.
Simptome: Koors, lusteloosheid, aptytverlies en vinnige asemhaling.
Die slymvliese van die dier se oë, neus en bek raak rooi, later pers-blou en
geswel. Die hoefkroon kan ook geswel raak. Hierdie siekte het ‘n hoë
vrektesyfer.
Voorkoming en behandeling: ’n Voorkomende inentingsreeks, wat drie
aparte inspuitings insluit, is beskikbaar. Lees egter die produk-etiket,
aangesien daar beperkings op die inenting van ramme en dragtige ooie is.
Aangetaste diere moet rustig gehou word, verkieslik in die skaduwee met
genoeg drinkwater en groenvoer. Spuit langwerkende antibiotika teen
sekondêre infeksies. Penisillien, tetrasiklien of sulfamiddels kan gebruik
word. Spuit Arthridine vir pyn en koors. Bespuit diere met insekwerende
middel om muggies weg te hou.
Bloednier
Bloednier is ‘n gevaarlike siekte vir beide beeste en skape en word deur die
senu-toksien van Clostridium perfringens tipe D veroorsaak. Dit vorm
weerstandbiedende spore en kom wyd verspreid op weidings en in die
spysverteringskanaal van gesonde diere voor.
Oorsaak: Enige veranderende voedingstoestande of as diere skielik na
geil weiding oorgeplaas word, kan spysverteringstoornisse veroorsaak, wat
lei tot die vermeerdering van bakterieë in die dier se spysverteringskanaal.
Simptome: Diere toon senu-simptome en vrek skielik.
Voorkoming en behandeling: Volg ‘n voorkomende inentingsprogram en ent veral
voordat diere na geil weidings oorgeplaas word. Indien diere bloednier kry
moet hulle van jou gesonde diere geskei word. Geen behandeling.
Sponssiekte
Oorsaak: Dit word veroorsaak deur Clostridium chauvoei-bakterieë. Die
bakterie vorm weerstandbiedende spore en kom in grond, krale en mis voor.
Diere word op skeerwonde, kastrasie- en stertafsitwonde of byt- en
steekplekke besmet. Onhigiëniese toestande en vuil, besmette apparaat dra by
tot die voorkoms van die siekte.
Simptome: Sponsagtige letsels vol stink vloeistof kom op die dier
voor. Skielike vrektes drie tot vier dae na skeer. Diere loop mank en die
aangetaste dele is warm en pynlik.
Voorkoming en behandeling: Volg ‘n voorkomende inentingsprogram. Penisillien
kan gebruik word.
NB: Dooie diere moet verbrand of diep begrawe
NB: ‘n Skokreaksie mag tydens inenting voorkom. Ent eers ‘n paar jong diere
en wag sestig minute. Indien daar geen reaksie is nie, kan die res van jou
diere ook geënt word.
Brusellose
Brusellose is ‘n hoogs aansteeklike bakteriese siekte wat by beeste en skape
voorkom en menslik oordraagbaar is.
Oorsaak: Die siekte word veroorsaak deur Brucella abortus-bakterieë.
Diere doen dit op deur besmette voer te eet of besmette water te drink.
Beeste kan ook besmet raak deur die slymvliese van die oog of deur die
inaseming van die bakterieë wat in die lug voorkom as besmette koeie urineer.
‘n Ongebore kalf kan in die baarmoeder besmet raak. Hierdie kalwers word
gebore en behou dan die infeksie en versprei dit met hulle eerste en
daaropvolgende kalwings. Brucella bakterieë kan drie tot vier maande in mis,
en twee tot drie maande in nat grond oorleef. Besmette koeie aborteer
gewoonlik net een keer en die daaropvolgende kalwers word normaal gebore,
hoewel die koeie nog die infeksie dra.
Simptome: Gekenmerk deur aborsies in die laat stadium van dragtigheid.
Van die siektetekens by die melkkoei is aborsie, agtergeblewe nageboortes,
geswelde gewrigte en subkliniese mastitis. Gewoonlik is aborsie die enigste
simptoom wat waargeneem word. Alle besmette koeie aborteer egter nie, maar
versprei nietemin besmetting. Baie koeie is besmet, maar toon geen sigbare
siektetekens nie.
Voorkoming en behandeling: Verwyder besmette beeste van perseel en
ontsmet alle fasiliteite deeglik. Ent verskalwers tussen die ouderdom van
vier en agt maande. Geënte diere kan nog die natuurlike besmetting opdoen,
maar die inenting voorkom aborsie en die verspreiding van die besmetting.
Bulle moet nie geënt word nie. Voorkom direkte kontak met geaborteerde
fetusse en nageboortes. Begrawe of verbrand sulke materiaal onmiddellik.
Daar moet voorsorg getref word dat ‘n persoon wat ent teen Brusellose nie
homself raakspuit nie en dra maar handskoene om te keer dat jy self die
besmetting opdoen.
Hondsdolheid
Oorsaak: Hondsdolheid is ‘n virussiekte wat oorgedra word deur die
bytwonde wat deur besmette diere veroorsaak word, soos meerkatte en
rooijakkalse. Dit is ‘n menslik-oordraagbare siekte.
Simptome: Hondsdolheid het drie stadiums van infeksie of besmetting.
In die eerste stadium word veranderde gedrag waargeneem. Die dier toon ook
‘n abnormale aptyt, slukspierverlamming kan intree en die dier begin kwyl.
Hy ontwikkel ook ‘n koors en honde kan ‘n verhoogde geslagsdrang toon. Die
eerste stadium duur een tot drie dae.
Die tweede stadium is die opgewonde stadium, waartydens die dier aggressief
raak. Die oë is starend en die onderkaak hang weens progressiewe verlamming.
Erge speekselvloei en ‘n aanhoudende blafhisterie kom voor by honde. Die
dier wil baie water drink en urineer gereeld. Hierdie stadium duur enkele
ure na drie dae.
Die finale stadium is die verlammingstadium waar ‘n gebrek aan koördinasie
intree en die dier se agterbene begin sleep. Konvulsies kan voorkom. Die
dier val die bytplek aan waar die virus deur ‘n besmette dier oorgedra is.
Uiteindelik gaan die dier in ‘n koma en gaan dood. Hierdie stadium duur een
tot drie dae.
Voorkoming en behandeling: Entstof is beskikbaar vir beeste, honde en
katte. In die geval van ‘n uitbraak, moet alle honde en katte binne ‘n
radius van 15 km ingeënt word. Dit word gewoonlik op staatsonkoste gedoen,
maar jou beeste is vir jou eie rekening.
NB: Hondsdolheid is ‘n aanmeldbare siekte. Enige verdagte geval van
besmetting moet onmiddellik by die naaste staatsveearts, veeinspekteur en
die SAPD aangemeld word.
NB: Oordraagbaar vir die mens.
Sitsiekte
‘n Toestand wat by skape en beeste voorkom.
Oorsaak: Bakterieë dring die werwelkolom deur wonde (soos
stertafsit-wonde, bosluisbyte in die stertgebied, kneusings wat deur trauma
veroorsaak is) binne en vorm ‘n abses in die agtergedeelte van die
werwelkolom wat drukking op die rugmurg uitoefen. Absesse het gewoonlik ‘n
kapsel om, wat dit moeilik maak vir antibiotika om die abses binne te dring.
Simptome: Die dier se agterlyf is verlam en hy sleep homself met sy
voorpote vorentoe. Kenmerkend van hierdie siekte is dat die dier ‘n
sithouding inneem met sy agterpote na vore geplaas.
Voorkoming en behandeling: Ent voorkomend. ‘n Dier herstel nie sommer
van hierdie siekte nie. Slag so gou as moontlik. lik.
Hoekom werk die inenting nie?
Daar is verskeie redes hoekom inentings nie altyd effektief, of soms glad
nie, werk nie. Hier is die mees algemene redes, soos verskaf deur die
staatsveearts se kantoor:
Die kantoor van die staatsveearts bied ‘n inentingsprogram vir groot- en
kleinvee. Kontak gerus jou naaste dieregesondheidstegnikus of staatsveearts
vir meer besonderhede. Dit is belangrik om ‘n voorkomende inentingsprogram
te volg.
Lees altyd die voorskrif of etiket van die produk of raadpleeg jou veearts
voordat jy jou diere inent.
Verwysings:
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.