Die winsgewende produksie van somergewasse
2006-08-01

Ten einde risiko te beperk, moet produsente vroegtydig beplan vir dié gewasse wat hulle suksesvol en winsgewend in die komende seisoen kan verbou. Boet van Zyl (Landbou-ekonoom, Senwes Landboudienste) ondersoek die verskillende gewasse wat ‘n winsgewende alternatief vir mielies kan bied.

In hierdie artikel:

  1. Wees versigtig
  2. Bemarking van die gewas
  3. Gewas-begrotings
  4. Keuse van ‘n gewas
  5. Opsomming
  6. Navrae
  7. Tabelle 1 – 5
     

Volatiliteit in die graanprysmark, tesame met die periodieke oorproduksie van sekere grane en die vooruitsigte vir alternatiewe aanwending van grane vir die vervaardiging van biobrandstowwe, kompliseer gewaskeuse. Om jou gekose gewas suksesvol te kan verbou in die komende seisoen, is dit belangrik om vroegtydig te beplan ten opsigte van bemarking van die gewas, aankope van produksiemiddele, finansiering, grondvoorbereiding, regstelling van plantvoedingsgebreke en die aanstelling van kontrakteurs waar spesifieke aksies uitgevoer moet word.

Wees versigtig
Die groot produsenteprys-variasie wat by die meeste gewasse voorgekom het die afgelope paar jaar, veroorsaak onsekerheid by produsente en maak dit dikwels moeilik vir die produsent om ‘n besluit te neem oor watter gewas om die komende seisoen te verbou. Na ‘n aantal goeie mielieproduksie-seisoene, tesame met die relatief groter aanplantings, was die aanbod groter as die vraag na mielies en was daar groot druk op die mielieprys – wat in stadiums feitlik gelyk aan uitvoerpariteit gedaal het. Produsente is die afgelope seisoen aangesê om minder mielies te plant om die oorskot mielies in die land weg te werk. Die verminderde produksie het die oorskotsituasie in een jaar reggestel. Produsente het nie die sterk styging in die produsentepryse van mielies en selfs oliesade voorsien nie en gevolglik het hulle nie die geleentheid ten volle benut nie.

Die mieliemark is tans op ‘n mespunt gebalanseer en as daar in die komende seisoen weer op alle beskikbare hektare (veral ook oorlêlande) mielies geplant gaan word en die opbrengs is normaal tot bo-normaal, kan die situasie van die vorige seisoen
herhaal word en daar weer met ‘n groot oorskot mielies in die land gesit word.

Bemarking van die gewas
Bemarking is een van die mees verwaarloosde bestuursfunksies, terwyl dit een van dié belangrikste komponente in die totale verbouingsproses is. Naas klimaat is bemarking een van die deurslaggewende faktore wat die winsgewendheid van verbouing bepaal. Die produsent kan reeds vroeg in die seisoen begin met sy bemarkingsprogram om sy risiko’s te verskans en daar kan gebruik gemaak word van verskeie opsies. Vir enige hulp rondom die beplanning van ‘n bemarkingstrategie kan Senwes se Graanbemarkers geraadpleeg word.

Gewas-begrotings
Die mate waartoe ‘n sekere gewas winsgewend geproduseer kan word al dan nie, kan grootliks bepaal word deur gebruik te maak van ‘n inkomste-kosteraming vir ‘n spesifieke gewas. In Tabel 1 is ‘n voorbeeld van ‘n gewasvertakking-begroting vir mielies wat in die Noord-Vrystaat met ‘n spoorverkeerstelsel verbou word. Vanaf die begroting kan daar ‘n sensitiwiteitsanalise saamgestel word om die produsent te help bepaal teen watter opbrengs en prysvlakke hy vir sy spesifieke omstandighede kan produseer. Die beginsel wat in dié gewasbegroting gebruik is, geld ook vir die ander gewasse wat hier bespreek word (sien Tabel 2 - Tabel 5). Die sensitiwiteitsanalises van die verskillende gewasse is op dieselfde wyse bereken en verskyn in Tabel 2 - Tabel 5.

Keuse van ‘n gewas
Ten einde die korrekte gewaskeuse te kan maak, moet die volgende kritiese faktore in ag geneem word:

Deur gebruik te maak van ‘n sensitiwiteitsanalise, kan die invloed van opbrengs en prys op die potensiële marge bereken en die ekonomie van die onderskeie gewasvertakkings met mekaar vergelyk word. Die surplus of tekort wat aangedui word, is in terme van die inkomste bo die reeds vermelde gespesifiseerde koste wat gebruik is. Die produsent kan dus van die bruto marge, surplus of
tekort uit die tabelle aflei watter gewasse ‘n goeie finansiële resultaat behoort te lewer.

Opsomming
Dit is duidelik dat die opbrengs en produsenteprys wat die komende seisoen kan realiseer, ‘n deurslaggewende invloed op die ekonomie van ‘n gewas het. Neem alle faktore in ag wat ‘n risiko kan inhou en poog om dit doelmatig te bestuur. Volg produksiepraktyke wat aangepas is vir die betrokke gebied ten einde optimale opbrengste na te streef. Die produksie (al dan nie) van enige van die gewasse sal ook grootliks afhang van die gebied waarin geproduseer word en die fisiese en chemiese eienskappe van ‘n spesifieke land. Die sensitiwiteitsanalises wys ook duidelik dat daar wel ‘n alternatief is wat net so winsgewend soos mielies is. Ten slotte moet die produsent deeglik besin oor die aantal hektare wat hy onder die verskillende gewasse kan plant sonder om die fyn balans in die mark te versteur.

Navrae
Vir enige verdere navrae, skakel die volgende Senwes landboukundiges: Boet van Zyl of Dries Kruger (Bloemfontein) by (051) 430-2071; Pietman Botha (Kroonstad) by (056) 212-2291; Bernard Muller (Odendaalsrus) by (057) 354-212; Amos Njoro of Ilse Matthys (Klerksdorp) by (018) 464-7800.

Tabelle 1 - 5

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.


Inkomste-kosteraming vir mielies Noord-Vrystaat spoorverkeer.
 

Mielies Noord-Vrystaat spoorverkeer surplus/tekort bo
gespesifiseerde koste R/ha by verskillende opbrengspeile
en produsentepryse.
 

Sonneblom Noord-Vrystaat surplus/tekort bo gespesifiseerde
koste R/ha by verskillende opbrengspeile en produsentepryse.
 

Graansorghum Noord-Vrystaat surplus/tekort bo gespesifiseerde
koste R/ha by verskillende opbrengspeile en produsentepryse.
 

Grondbone Noord-Vrystaat surplus/tekort bo gespesifiseerde
koste R/ha by verskillende opbrengspeile en produsenteprys