Die eerste turksvye is meer as 350 jaar gelede die land ingebring, terwyl
die doringlose “Burbank” tipes gedurende 1914 die land ingevoer is. Die
turksvye met lang dorings op die blaaie is ’n verklaarde onkruid en slegs
die doringlose tipes mag geplant word. Tradisioneel word die turksvy gesien
as ‘n vars vrug in seisoen en die nat blare as droogtevoer vir vee gedurende
die swaarkry-tye.
Nuwe inligting en navorsing toon dat daar heelwat aanwendingsmoontlikhede
vir die gewas is. In Mexiko word die jong blaaie se dorings afgeskraap en
gebruik as groente en in slaaie. Dié dis staan bekend as “Nopalitos”. Die
vrugte word as vars vrug bemark, maar kan ook verwerk word tot konfyt en
stroop. Dit kan ook ingelê, versuikerd of gedroog word. Die sade bevat olie
(hoewel aan die lae kant) wat voldoen aan die gesondheidsmark se vereistes.
Die plaaslike bevolking van die Oos-Kaap brou ‘n bier van die vrug deur
gebruik te maak van ‘n gis wat spesifiek oor die jare vir hierdie doel deur
hulle ontwikkel is.
“Cochenille” – ‘n bekende insek en ‘n pes in turksvyboorde – word gebruik om
rooi kleurstof mee te vervaardig. Die turksvy plant het ook ‘n medisinale
waarde wat ontgin kan word. Dit word onder andere as ‘n raad teen “babalaas”
gebruik. In teenstelling hiermee, kan witblits ook van die vrugte gestook
word (natuurlik slegs vir dié met die nodige permit).
Gemaalde en gedroogde turksvyblaaie, wat as gedeeltelike vervanging vir
lusern in veevoermengsels ingesluit is, lewer belowende resultate.
Droogteverdraagsaamheid
Die plant is by uitstek ‘n droogteverdraagsame plant, wat met sy relatief
vlak, horisontaal verspreide wortelstelsel selfs ligte reënneerslae
effektief kan benut. Navorsing het getoon dat die plant reënwortels
ontwikkel binne die eerste uur vandat die grond benat is, na afloop van ‘n
droë periode. Hierdie wortels groei teen 5 mm tot 6 mm per dag vir drie dae.
Watertoediening van 11 mm was voldoende om blaaie wat dubbel gevou was as
gevolg van vogstremming, weer op te vul met vog. Die gewas het dus die
vermoë om met sy unieke wortelstelsel ligte reënbuie te benut, waaruit ander
plante geen voordeel sal trek nie.
Variëteite, groeiwyse en plantdigtheid
Meer as 40 erkende doringlose turksvy-variëteite en -tipes kom in
Suid-Afrika voor. Hulle kan varieer in
vrugkleur van persrooi na geel en groen, met skakerings tussenin. Verskille
kan ook waargeneem word in bladkleur, vorm en groeiwyse van die bos,
grootblad, kandelaar en tussenin tipes.
Hierdie plant- en vrugeienskappe is van belang indien ‘n boord aangeplant
gaan word. By die Mexikane is die rooigeel vrugtipes gewild, terwyl die
groen vleistipes as vars vrug in Suid-Afrika in aanvraag is.
Die groeiwyse is van belang om die ry- en tussenry-spasiërings te bepaal. As
riglyn word bos en grootblad tipes 6 m x 3 m (555) en kandelaar tipes 5 m x
2 m (1 000 plante/ha) gespasieer.
Keuse van variëteite en tipes
Die doel van die aanplanting, hetsy vir veevoer- of vrugproduksie (vars
vrugte plaaslik of vir uitvoer) of verwerkte vrugte, sal bepaal watter tipes
of variëteit geplant moet word. Vir meer besonderhede oor variëteite en
plantmateriaal, skakel die Universiteit van die Vrystaat of die Turksvy
Kwekersvereniging
(TKV).
Vestiging
Bestel blaaie vroegtydig van ‘n betroubare leweransier om variëteitegtheid
te verseker. Bewerk die gronde deeglik en kry die grondvoeding op die
vereiste vlakke voor plant. Plantrigting is, sover moontlik, noord–suid vir
maksimum sonindringing. Die beste planttyd is van Oktober tot November. Dit
gee die plante kans om goed te vestig voor die aankomende winter.
Om die inbring van “cochenille” te verhoed is dit raadsaam om die blaaie met
‘n geregistreerde plaagdoder teen die plaag te was voor plant. Die blaaie
word, met die snoei-wond kant in die grond, ongeveer ‘n derde van die lengte
van die blaai in die grond geplant en weerskante vasgetrap. Verwyder alle
blomme wat die eerste seisoen vorm. Vanaf die tweede seisoen kan ‘n ligte
drag op die plante gelaat word.
Boordpraktyke
Turksvye het twee belangrike plae, naamlik “cochenille” en turksvymot, om
mee rekening te hou. Albei die plae word maklik chemies beheer deur die
voorgeskrewe prosedure te volg. Alle blaaie wat afbreek of gesnoei word,
moet uit die boord verwyder word om herbesmetting van die plaag te voorkom.
Cochenille: Die bekende wit, wollerige kolonies wat op blaaie en vrugte
voorkom, is eintlik ‘n insek. Sou dit stukkend gevryf word, is die
kenmerkende persrooi kleur sigbaar. Die volwasse wyfie-insek suig sap uit
die plant en skei terselfdertyd ‘n toksiese stof af wat die plant
stelselmatig doodmaak. Die plaag kom reg deur die jaar voor.
Turksvymot (Cactoblastis): Die volwasse larwes is redelik bekend by
turksvyplante wat besmet is. Die oranje wurms met swart strepe word binne-in
die blaaie gevind, waar hulle voed op die sagte plantweefsel en die blaar
uithol, totdat die plant mettertyd ineenstort. Die larwes kom gewoonlik van
September tot ongeveer Mei voor. Beheer vind merendeels plaas gedurende die
eierpakkie-periode deur dit te verwyder of chemies te spuit. Blaaie wat wel
besmet is, word verwyder en só vernietig dat die larwes gedood word.
Snoei en vrug-uitdunning
Vir varsmark doeleindes word groot vrugte verkies. Deur die plante jaarliks
te snoei en vroegtydig uit te dun verbeter vruggrootte.
Die doel van hierdie artikel is om jou belangstelling te prikkel. Vir meer
inligting, kontak gerus prof Wijnand Swart (Universiteit van die Vrystaat)
by (051) 401-2383 of Johan Potgieter (Departement van Landbou, Polokwane) by
(051) 295-7090.
Bronnelys