In this article:
Deon het in 1989 op Wolmaransstad gematrikuleer en sy weermagopleiding
voltooi voordat hy in 1991 begin boer het. Hy en sy pa, Justus, is saam in
‘n boerdery-onderneming wat bekend staan as Diepkuil Boerderye, geleë net
buite Leeudoringstad. Deon is die derde geslag wat op hierdie plaas boer.
Sy pa het hom reeds van kleins af betrek en gewys hoe dinge op die plaas
werk en dit is waar sy liefde vir boerdery begin het. Deon het grootgeword
op die plaas waar hy vandag boer en sê dat as hy kon oorkies, hy niks aan sy
lewe sou verander nie.
Diepkuil
Hy en sy pa boer hoofsaaklik met mielies en in ‘n mindere mate met grondbone,
sonneblom en ‘n klein bietjie sojabone. Hulle het ook ‘n veefaktor wat
bestaan uit kommersiële beeste (Angus en Brahmann) en Merino vleisskape,
maar dit is grotendeels sy pa se verantwoordelikheid. Deon probeer om
minimum grondbewerkingspraktyke toe te pas om die insetkoste so laag
moontlik te hou, maar binne perke en sonder om die opbrengs in te boet.
Die saaigedeelte maak die grootste deel van die plaas uit, terwyl die res
van die plaas bestaan uit natuurlike en aangeplante weiding. Diepkuil
Boerderye het ‘n plaasbestuurder, Frans Jonker, wat help met die onderhoud
en instandhouding van die verskeie trekkers en implemente.
Deon het hierdie jaar slegs op 25% van die lande geplant, eerstens omdat
hulle ‘n oorlêland-stelsel volg en tweedens omdat Graan SA produsente gevra
het om minder te plant om die mielieoorskot te probeer teenwerk. “Oorlêlande
kan natuurlik nie net gelos word soos hulle daar staan nie. Dit moet steeds
teen onkruid bespuit word, want die onkruid trek die vog uit die grond en
dan is die rusperiode van geen waarde nie,” het Deon gesê.
Deon verkies om op hul plaas met John Deere-trekkers te werk. Hy sê hy
verwag van ‘n trekker om ten minste tien jaar te werk, met 800 uur tot 1 000
uur wat die trekker per jaar inklok. Hulle probeer sover moontlik ook om die
trekkers betyds, voor oorkapitalisering, te vervang.
Diepkuil Boerderye se toekomsplanne sluit in om nismarkte vir spesiale
produkte te identifiseer, veral opdie gebied van vee, produkte vir menslike
gebruik, biodiesel en etanol.
Presisieboerdery
Deon het in 2001 met Senwes se presisieboerdery-afdeling geskakel, nadat hul
opbrengste begin afneem het en hy nie meer die maksimum potensiaal waarvoor
bemes is, kon benut nie. Hy het toe elke 4 ha van sy grond laat karteer en
die kaart wat opgestel is, het die bemestingspotensiaal van elke deel
aangedui. Hiervolgens kon hy die bemestingsmengsel wat gebruik moet word,
bepaal. ‘n Volledige tweede kartering is in 2006 gedoen.
“Produsente moet in ag neem dat ‘n ontleding van grond nie net eenkeer
gedoen word en dan is dit verby nie. Met presisieboerdery moet die grond
gereeld gemonitor word, want reënval, klimaatsomstandighede en ‘n wanbalans
in die grond kan ‘n invloed hê op die opbrengspotensiaal. As daar ‘n
probleem is en jou opbrengste begin daal, moet jy jou grond weer ontleed en
die probleem soek tot jy dit geïdentifiseer het,” het Deon sê.
Volgens Deon is Suid-Afrika, wat landbou-tegnologie en grondkennis betref,
lande soos Amerika en Australië ver voor. Omdat die grond in dié spesifieke
lande reeds baie vrugbaar is, is dit redelik maklik om te boer. Suid-Afrika
se produsente moet egter leer om met die minimum insetkoste ‘n maksimum
opbrengs te kan lewer. Deon noem egter ook dat dit soms gebeur dat ‘n mens
opofferings moet maak om jou sukses te verseker en in sulke gevalle sal jou
insetkoste hoër wees. “Presisieboerdery is ‘n instrument wat gebruik kan
word om die produsent te help om teen ‘n lae insetkoste ‘n hoë opbrengs te
lewer, sodat daar teen lae pryse nog steeds winsgewend geboer kan word. Dit
is ‘n instrument wat produsente kan gebruik om te oorleef en oor tien jaar
nog steeds volhoubaar te kan boer,” het Deon gesê.
Sy gesin
Deon is getroud met Elmie en, soos baie ander boervroue, is sy baie betrokke
by die boerdery. Sy doen die boerdery se boeke en is ook die voorsitter van
die Vrouelandbou-unie in die Leeudoringstad-streek. Deon het twee kinders,
‘n dogtertjie van nege met die naam Marlie en ‘n seuntjie, Justin, wat vyf
jaar oud is.
“Die eerste keer toe ek Elmie sien, het ek geweet dis my trouvrou,” het Deon
gesê. Hy en Elmie het in 1994 ontmoet, toe sy nog by Senwes op Bothaville
gewerk het. Hulle vier hierdie jaar hul elfde huweliksherdenking.
Jongboere
Deon se visie vir die Jongboervereniging is om jongboere betrokke te kry by
georganiseerde landbou sodat hulle hul insette sonder huiwering kan lewer.
Dae soos die Senwes Jongboer Toekomsfokusdag, wat vanjaar op 14 September
aangebied word, is deel van hierdie plan om jongboere meer betrokke te kry.
“Die jongboere in Suid-Afrika boer maar meesal saam met hulle pa’s en is dan
nie so betrokke by georganiseerde landbou nie. Hy word gevolglik nie werklik
raakgesien nie en sy voorstelle word nie gehoor nie. Ons moet uit daardie
opset beweeg na ‘n plek waar die jongboere se stem ook gehoor word. Hul
idees is dikwels kreatief en hul denkwyse insiggewend. Die jongboere se
innoverendheid sal baie help om ‘n nuwe denkwyse in landbou te vestig,” sê
Deon.
Vervolgens sê hy ook dat jongboere ‘n groot toekoms in die landbou het, maar
hulle moet dit raaksien en daarvoor werk. “Gebruik die instrumente wat jy
het – jou presisieboerdery en jou bemarkingsaspekte. Probeer nuwe dinge op
klein skaal om te sien of dit werk en moenie stagneer nie.
“Die enigste uitsondering op hierdie innoverende denkwyse is egter die
finansies van die jongboer. Hier is dit beter om konserwatief te wees en jou
finansiële beplanning deeglik te doen. Sorg dat jou skuld altyd in
verhouding is met dit wat jy kan produseer en moenie hoër vlieg as wat jou
vlerke jou kan dra nie,” het hy verder gesê.
Deon self hou boek van alles wat hy in die boerdery belê en ook van alles
wat hy uitkry, nie net finansieel nie, maar ook op administratiewe vlak. Hy
sal nie volgende jaar weer verkiesbaar wees as voorsitter van die
Jongboervereniging nie, maar sal steeds by georganiseerde landbou betrokke
bly.
Volgens Deon is die leuse van ‘n suksesvolle saaiboer: om te meet, is om te
weet. Uit die bestuurspraktyke wat Deon op sy plaas toepas, is dit duidelik
dat hy volgens sy eie leuse definitief suksesvol sal wees.
Foto’s
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.