‘n Waardeketting benadering vir volhoubare produksie
2006-03-01
Om volhoubare produksie te verseker, is ‘n deeglike
evaluasie van jou besigheid noodsaaklik. Johan du Toit, Bestuurder Senwes
Landboudienste, bespreek hier die waardeketting benadering – ‘n eenvoudige
metode wat die produsent help om sy besigheid krities te evalueer.In hierdie artikel:
- Hulpbronne
- Vertakkingsamestelling
- Finansiële beplanning
- Insetverkryging
- Produksie
- Bemarking
- Prestasie-evaluering
- Herbeplanning
- Samevatting
- Bronnelys
- Grafiek
Volhoubaarheid op kommersiële plaasvlak beteken onder meer die handhaaf
van ‘n meer stabiele, positiewe kontantvloei deur markgerigte produksie en
optimale hulpbronbenutting teen die laagste moontlike kostestruktuur. Dit
impliseer dat elke faset van die boerdery voortdurend krities ondersoek en
tydige aanpassings aangebring behoort te word. In die proses moet ‘n
mededingende voordeel geïdentifiseer en bewerkstellig word.
Die waardeketting benadering bied ‘n eenvoudige metode wat gevolg kan word
om seker te maak elke beheerbare bestuursfaset word wel krities in oënskou
geneem.
Ten einde potensiële leemtes of tekortkominge in die boerdery te
identifiseer, sowel as om te bepaal in welke opsig ‘n volhoubare
mededingende voordeel bewerkstellig kan word, is dit noodsaaklik dat jy as
produsent ten opsigte van elkeen van die volgende waardeketting fasette,
sekere kritiese vrae moet beantwoord.
Hulpbronne
Fisies
- Is alle lande in homogene produksiesones verdeel ten einde meer
akkurate insettoediening en opbrengsmonitering te kan doen – is die
grond met ander woorde opgemeet en geklassifiseer binne ‘n aanvaarbare
ruitpatroon?
- Welke lande is nie meer geskik vir kontantgewas-verbouing nie?
- Word natuurlike weiding onder- of oorbenut?
- Hoe vergelyk die kwaliteit en/of potensiaal van my fisiese
hulpbronne met dié van my medeprodusente?
- Geografiese ligging – verspreiding van klimatologiese risiko teenoor
effektiewe bestuur van operasionele koste?
Finansieel
- Word oor voldoende leningskapasiteit beskik (hoe kredietwaardig is
die boerdery in rand-terme)?
- Beskik die boerdery oor kapitaalreserwes en hoe likied is dit?
Mannekrag
- Beskik personeel oor die nodige vaardighede en word opleiding op ‘n
gereelde basis gegee?
- Produktiwiteitsvlakke?
- Lojaliteit?
- Word daar oor enige unieke vaardighede beskik?
Tegnologie
- Het die boerdery toegang tot die nuutste wetenskaplik-beproefde
tegnologie?
Vertakkingsamestelling
- Is die vertakkings aangepas by die hulpbron? (Let wel: nie andersom.)
- In welke verhouding staan die verskillende vertakkings tot mekaar (komplimentêr,
supplementêr, mededingend) en wat is die maksimum winskombinasie?
- Hoe lyk die vraag en aanbod-situasie van elk van die kommoditeite
wat tans geproduseer word?
- Is daar nie moontlik te veel vertakkings wat druk op die spanwydte
van bestuur plaas nie?
- Tot welke mate is die verskillende vertakkings aan dieselfde stel
mark- en klimaatrisiko’s onderwerp?
- Leen die produk dit tot waardetoevoeging op die plaas (vertikale
integrasie)?
Finansiële beplanning
- Word daar oor ‘n volledige intydse finansiële
bestuursinligtingstelsel beskik?
- Wat beloop die boerdery se geweegde gemiddelde koste van kapitaal en
hoe vergelyk dit met ander soortgelyke boerderye?
- Is die boerdery nie vasgevang in ‘n te hoë vaste kostestruktuur (bedryfshefboom)
nie?
- Is skuldverpligtinge korrek gestruktureer?
- Wat is die geweegde maksimum skuld wat die bestaande onderneming kan
diens?
- Kan elke vertakking ditself handhaaf in terme van direkte koste of
vind daar kruis-subsidiëring plaas?
Insetverkryging
- Laat jy insetverskaffers tender vir jou boerdery-benodighede?
- Is voorraadbestuur gerig op belasting minimering eerder as
kontantvloei oorwegings?
- Tot hoe ‘n mate is die insetverteenwoordiger vertroud met jou
boerderybehoeftes en -praktyke?
Produksie
- Word markbehoeftes en –voorkeure eers vasgestel voordat daar tot die
produksieproses oorgegaan word?
- Word ‘n maksimum- of optimumproduksie per eenheid-benadering gevolg?
- Word ‘n gedifferensieerde-toediening benadering gevolg?
- Hoe aanpasbaar is die produksiestelsels wat gevolg word? (Konvensioneel,
verminderde bewerking, geen bewerking, biologiese- of organiese boerdery.
Oorlêlande teenoor jaar op jaar-stelsel).
Bemarking
- Voldoen die geproduseerde produk aan die markvereistes?
- Word van ‘n verskansingstrategie gebruik gemaak?
- Markposisionering/segmentering (kommoditeit- of nismark)?
- Kan daar vir ‘n kwaliteitspremie beding word – wat maak die produk
uniek?
- Konstantheid van voorsiening van ‘n bepaalde kwaliteit aan die mark?
Prestasie-evaluering
- Is daar ‘n effektiewe prestasiemoniteringsisteem in plek?
- Klop ondernemingsrentabiliteit die gemiddelde inflasiekoers?
- Hoe vergelyk rentabiliteit op eie kapitaal met opbrengste op
alternatiewe beleggings?
- Hoe vergelyk eie prestasie met ander soortgelyke boerdery-eenhede?
- Is ondernemingsgroei toe te skryf aan die herinvestering van
kontantwinste, die herwaardering en/of vererwing van bates?
- Oor welke mededingende voordeel beskik die boerdery?
Herbeplanning
Die aspekte waarop daar nie bevredigende antwoorde verkry kon word nie,
behoort as prioriteit herbesoek te word ten einde tydig die nodige
aanpassings te kan aanbring.
Samevatting
Bepaling van die volhoubaarheid van ‘n boerdery is ‘n omvangryke oefening,
aangesien dit die objektiewe evaluering van alle produksiefaktore vereis.
Vanweë die snel-veranderende besigheidsomgewing is dit nie ‘n eenmalige
aksie nie, maar ‘n deurlopende proses. Die mate waartoe pro-aktief gehandel
gaan word om sekere tekortkominge in die boerdery aan te spreek, sal egter
bepalend wees vir die voortgesette oorlewing van jou boerdery-onderneming.
Volhoubaarheid verg selfverandering, -motivering en volgehoue prestasie.
Gebruik die kundigheid en ervaring tot jou beskikking om die nodige
aanpassings te bewerkstellig terwyl jy nog in besigheid is!
Senwes Landboudienste kan jou behulpsaam wees met die doen van ‘n
diagnostiese boerdery-ontleding. Skakel Hoofkantoor by (018) 464-7394, wat
jou sal verwys na die spesialis naaste aan jou.
Bronnelys:
- Grant, R., 1997, Contemporary StrategyAnalyses,
tweede uitgawe, Blackwell,Massachusetts, VSA.
- Van Zyl, J.; Kirsten, J.F.; Coetzee, G.K.; Blignaut,
C.S.; 1999, Finansiering en die Boer, derde uitgawe, Standard Bank
Landbouafdeling,
Johannesburg, SA.
Grafiek
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Generiese waardeketting vir ‘n tipiese boerdery
|
|