Veldbestuursbeginsels - Deel 2
2006-03-01

In die vorige Senwester is die beginsels van veldbestuur bespreek. In hierdie artikel word die beginsels deur Johan Mouton van Senwes Landboudienste saamgevoeg tot ‘n eenvoudige, praktiese wyse van veldbestuur wat vir die produsent nie addisionele uitgawes meebring nie.

In hierdie artikel:

  1. Hoekom produsente hierdie benadering moet oorweeg
  2. Werk dit in die praktyk
  3. Wat is die beste manier om met so ‘n stelsel te begin?
  4. Opsomming
  5. Figuur & Foto
     

Kom ons kyk net weer na die beginsels wat in die vorige uitgawe gespesifiseer is ten opsigte van veldbestuur:

Die kwessie van weikapasiteit kan by die beginsels aangehak word, maar dit word basies aanvaar dat ‘n hulpbron se weikapasiteit nie oorskry mag word nie. Langdurige oorskryding van weikapasiteit sal kort voor lank negatief in die onderneming se finansiële state weerspieël.

Die veeboerdery se behoeftes is ‘n paradoks van aard, aan die een kant word maksimum diereprestasie verlang en aan die ander kant moet die hulpbron in stand gehou word. Hoe gaan die veeprodusent te werk om beide hierdie doelwitte te bereik, gegewe die bostaande beginsels?

Die beginsel wat toegepas moet word om beide doelwitte te behaal, word in Figuur 1 gedemonstreer. Dit is ‘n beginsel en nie ‘n rigiede stelsel nie. In Figuur 1 word ‘n blou en groen blok, of gebied, voorgestel. Aan die begin van die groeiseisoen (lente), word die hele kudde gekonsentreer op ‘n blok (blou), tot en met die eerste ryp geval het. Gestel die plaas het ‘n dravermoë van 100 beeste, dan word al 100 beeste in die blou blok geplaas. Die groen blok rus vanselfsprekend vir die somermaande, tot en met die eerste ryp val. Aangesien daar genoegsame kos gespaar is binne die groen blok, dien dit as oorwintering vir die kudde. Die groen blok word ook bewei in die tweede seisoen se somermaande, aangesien dit gedurende seisoen 1 se somer gerus het en gevolglik genoegsame reserwes het. Aan die einde van seisoen 2 word die blou blok, wat gedurende die somer gerus het, weer as oorwinteringsvoer gebruik. Eenvoudig gestel is daar dus twee blokke wat op ‘n jaarbasis roteer, waarvan die wisseling gedurende die vroeë winter plaasvind.

Die twee blokke het ‘n homogene drakrag en albei het verteenwoordigende veld van die plaas, soos ranteveld, vleie en leegtes. Die aantal kampe per blok is irrelevant, een blok kan byvoorbeeld vyf en die ander sewe kampe hê, net solank die twee blokke se dravermoë dieselfde bly. ‘n Hulpbron met net twee kampe is al genoegsaam om die beginsel toe te pas. Die benuttingpatroon of kampskuiwings van die kampe binne ‘n blok word gedoen na gelang van die produsent se behoefte en voorkeure vir sy kudde. Onthou dat daar in die vorige artikel duidelik gewys is dat die wyse van ontblaring ‘n baie ondergeskikte rol speel aan die wyse van rus – naamlik seisoensrus.

Hoekom produsente die benadering moet oorweeg:

Werk dit in die praktyk?

Hierdie veldbestuursbeginsel moet nie gesien word as ‘n rigiede stelsel nie, maar slegs as ‘n benadering. Die beginsel van die stelsel is dat die hulpbron wat benut word, redelik goed benut moet word. Die hulpbron wat gerus word, moet in teenstelling ‘n totale groeiseisoensrus ontvang. Sommige produsente het drie blokke, waarvan een benut word en die ander twee as wintervoeding dien. Ander gebruik weer vyf blokke, waarvan twee op ‘n slag benut word in ‘n rotasiestelsel. Die produserende maande word benut om genoeg kos vir die hele jaar bymekaar te maak. Produsente wat byvoorbeeld net veld het vir sy totale voervloei, benut minder as die helfte van die veld vir die somermaande om genoegsaam te spaar.

Waar oesreste beskikbaar is, word tussen ‘n kwart en ‘n derde gespaar. Vir hulpbroninstandhouding wil veld ‘n minimum van een keer in vier jaar ‘n volle groeiseisoensrus ontvang. Die foto hier bo is geneem op Ashley Whitfield se plaas Rondeboschje in die Viljoenskroon-distrik en wys wat in die praktyk bereik kan word. Besluit self!

Wat is die beste manier om met so ‘n stelsel te begin?

Identifiseer ‘n paar kampe wat onderbenut was die afgelope seisoen. Begin hierdie kampe benut in die lente. Sodra die kos klaar is, na ‘n redelike ontblaring, skuif oor na die volgende kamp. Indien die kos in die beginkamp (ook bekend as die indikatorkamp) egter voldoende is, word teruggeskuif na die kamp, ongeag of daar nog baie weiding in die kamp is waar die diere hulle dan bevind. So word daar gekonsentreer op ‘n paar indikatorkampe, wat goed benut word gedurende die seisoen.

Gevolglik sal ander kampe op die plaas dan ‘n totale groeiseisoensrus ontvang. Hierdie dien as wintervoeding en is die volgende seisoen se indikatorkampe. Gewoonlik vind produsente dat hulle in jaar drie net die helfte van hul plaas op hierdie wyse benut, terwyl die ander helfte vir wintervoeding benut word.
 

Opsomming

Sien hierdie wyse nie as ‘n rigiede beweidingstelsel van ‘n eksakte aantal kampe per kudde en spesifieke tydperke van benutting nie – niks in die natuur werk op so ‘n wyse nie. Dit is eerder ‘n strategie van hulpbronbenutting, waar beide die hulpbron en die kudde se behoefte oor tyd aangespreek word. Benut die veld kort vir goeie diereprestasie en rus die veld vir lang tydperke gedurende die groeiseisoen vir hulpbroninstandhouding. Die klem van hierdie benadering lê dus op die rus van die veld.

Figuur & Foto

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.



Skematiese voorstelling van hulpbronbenutting.
 


Praktykbenadering van die stelsel.