In hierdie artikel:
Goeie dag, ek is Johan Dique, Besturende Direkteur van Senwes. Die
Direksie en Uitvoerende Bestuur van Senwes het ‘n wilsbesluit geneem om ‘n
pad te betree wat Senwes in staat sal stel om ‘n winsgewende en volhoubare
rolspeler in landbou te wees. Ek is optimisties oor die toekoms van landbou
in Suid-Afrika, maar met ‘n perspektief oor die realiteite wat elke sakeman
en plaaslike landboubesigheid in die gesig staar.
Die deregulering van landboubemarking was maar net ‘n eerste golf wat
kommersiële landbou in Suid-Afrika getref het. Die sweepslag van
globalisering het in effek meegebring dat elke produsent direk meeding in ‘n
wêreld-graanmark. Die ekonomiese realiteite en gedrag van markte op alle
fronte laat min ruimte daarvoor om ‘n landboubesigheid te bedryf en te
probeer om alles vir almal te wees.
Ter wille van oorlewing is produsente verplig om elke keer die mees
ekonomiese keuse uit te oefen tussen alle beskikbare verskaffers. Elke
geleentheid om koste te verlaag of inkomste te verhoog moet dinamies en
aktief nagejaag word. Binne hierdie vlugvoetige omgewing moet die
landboubesigheid met elke
transaksie mededingend wees en waarde toevoeg, om enige kans te hê om die
produsent se besigheid te behou. Aan die ander kant aanvaar produsente ook
dat die omgewing wederkerig reageer en dat hy nie sy landboubesigheid bloot
kan gyselaar hou om die benchmark te wees waarteen hy kan bie en dan sy
besigheid elders doen nie.
Senwes se hernude fokus op die kernbesighede van Insetverskaffing en
Marktoegang vir produkte met gepaardgaande optimalisasie, het geslaag.
Winsgewendheid en die terugwen van sakevertroue by alle belanghebbendes is
bereik. Senwes kyk met dankbaarheid terug op hierdie pad met die diepe besef
dat die uitdagings vorentoe veel groter is as net die huidige graankrisis.
Hoe lyk landboubesighede in die somergraanstreek?
As ‘n mens die finansiële geskiedenis van die grootste landboubesighede
in die Oostelike en Westelike somergraangebiede vergelyk, skets dit ‘n
ernstige prentjie van ‘n bedryf wat homself in onstuimige waters bevind. Die
besighede waarna verwys word, is Afgri, Senwes, NWK, Suidwes, VKB, OVK en
GWK. Aansienlike laer omsette en kontantwinste het oor die laaste jare
gerealiseer, met debiteure en korttermynlenings wat beide sedert 2003 met
meer as 80% toegeneem het.
‘n Ontleding uit die geouditeerde jaarverslae vanaf 2003 tot 2005
finansiële jare van die gesamentlike posisie van genoemde instansies as ‘n
groepering, toon die volgende tendense:
Wat is die impak van die huidige graankrisis sover vanjaar op Senwes se besigheid?
‘n Wesenlike afname in verkope van basiese insette (diesel, kunsmis en
saad) en vernaamlik meganisasie heelwerktuie, word ervaar. Die landboumark
bly bedruk en onseker en intensies om te plant bly steeds laag. Goedgekeurde
kredietaansoeke by Senwes Finansiering verkeer tans op ‘n vlak van 48%
vergeleke met ‘n normale jaar op dieselfde stadium.
Vergeleke met die eerste ses maande van die vorige finansiële jaar, het
Senwes oor die afgelope ses maande ‘n volumeafname in dieselverkope van
sowat 65% getoon. Senwes se twee grootste verskaffers van petroleumprodukte
bevestig dat verkope in die Senwes-gebied tussen 7 miljoen liter en 11
miljoen liter laer as verlede jaar is.
‘n Gemiddelde afname van 41% het in kunsmisverkope plaasgevind. Gekorrelde
kunsmisbestellings tot einde Oktober 2005 is 32% laer as die vorige jaar se
werklike verkope. Hierdie tendens is in lyn met die terugvoer vanaf
kunsmisverskaffers oor wat in die hele somersaaigebied aan die gang is.
Volgens die bekende saadverskaffers blyk die tendens dat slegs tussen 30% en
40% van verlede seisoen se verkope gehaal sal word. In die Senwes-gebied was
daar gedurende Oktober 2005 'n afname van 52% in trekkerverkope (alle
fabrikate). Die kalenderjaar tot dusver toon verkope van 241 eenhede
vergeleke met 635 eenhede die vorige jaar. Dit verteenwoordig 'n afname van
62% op die vorige jaar se verkope.
Bogenoemde afnames in handelsomsette het ‘n wesenlike impak op
winsgewendheid vir die huidige finansiële jaar. Die laer intensies vir
aanplantings dui dus ook op laer graanlewerings vir 2006. Dit sal dus weer
in die volgende finansiële jaar ‘n negatiewe impak op winsgewendheid hê.
Landboubesighede in die somersaaigebiede behoort almal ‘n soortgelyke effek
te voel.
Senwes het oor die afgelope jare baie aandag gegee
aan die herstrukturering van die Handel divisie. Was die sluiting van die
winkels werklik nodig?
Hoewel die sluiting van bedryfspunte nie gewild is nie, is dit ekonomies
regverdigbaar. ‘n Klomp faktore het oor tyd daartoe bygedra. Die
belangrikste daarvan is dat infrastruktuur en die produkaanbod te wyd
ontplooi was, wat meegebring het dat sommige bedryfspunte te naby aan mekaar
geleë is en dit onwinsgewend gemaak het.
Indien ons dit vergelyk met ander kettingwinkelgroepe en banke met
taknetwerke, dan het daardie deel van die ekonomie lankal reeds soortgelyke
stappe geneem. Die landboumark het oor tyd redelik gekrimp. Hektare is
afgeskaal, boerderypraktyke en tegnologie het verbeter asook opbrengskoerse
op graan. Aan die positiewe kant het kommunikasie en logistiek ook geweldige
skuiwe gemaak sedert die aanvanklike vestiging van bedryfspunte, wat
toeganklikheid baie verbeter het.
Wat behels Senwes se sakestrategie vir die toekoms?
Hoe voel aandeelhouers oor Senwes se toekomspad?
Die groot stempersentasie en volstrekte meerderheidstem van aandeelhouers
wat tydens Senwes se 2005 Algemene Jaarvergadering uitgebring is, bevestig
aandeelhouers se goedkeuring dat Senwes nou ‘n toekoms van waardeskepping en
waardeontsluiting moet betree. Aandeelhouers was vooraf goed en volledig
ingelig. Bestuur en Direksie neem met genoë kennis van die ondersteuning.
Die insig wat aandeelhouers in dié proses toon, dui daarop dat Senwes binne
die groter prentjie van landbou en die sosiopolitieke en ekonomiese arena,
uitdagings ten beste moet benut om Senwes volhoubaar uit te bou tot die mees
gerespekteerde landboubesigheid in Suidelike Afrika.
Hierdie strategie bevat soms stappe wat geneem moet word voordat die
omgewing noodwendig die nodigheid daarvan waarneem en mag dan die onderwerp
van kritiek wees. As deel van die waardeontsluiting het Senwes by twee
geleenthede reeds van sy eie aandele teruggekoop teen ‘n premie op die
markprys. Terwyl sommige aandeelhouers dit afgemaak het, was die aanbod
geslaagd en het baie aandeelhouers dit aanvaar en hul waarde ontsluit.
Sanlam het byvoorbeeld ook onlangs met só ‘n aksie gekom en dit het baie
goeie publisiteit en komplimente gekry.
Hoekom is daar besluit op ‘n proses van waardeontsluiting?
Die antwoord op die vraag is redelik voor die hand liggend in die lig van
die ondergenoemde verloop en omstandighede.
Eerstens is waardeontsluiting nie moontlik as winsgewendheid nie volhoubaar
is nie. Dit is bereik. ‘n Aandeelhouer is nie veronderstel om sy belegging
in aandele te behou indien dit ‘n swak belegging is, of indien dit nie
behoorlike opbrengs oplewer nie. Behoorlike opbrengs beteken beide
standhoudende dividende en ‘n goeie markprys. Die bestaan van
aandeelhouersfondse in ‘n maatskappy is ‘n voorreg en nie ‘n reg nie.
‘n Landboumaatskappy wat steeds voortgaan om soos die koöperasie van ouds op
te tree, ontneem sy aandeelhouers die voorreg van opbrengs en markwaarde.
Die voormalige koöperasielid se reg om sy ledebelangefonds op ‘n stadium
terug te kry (al is dit teen ‘n baie lae opbrengs), is omskep in ‘n aandeel
wat hy moet verkoop indien hy sy belegging wil realiseer. Om suksesvol te
kan verkoop, moet daar besigheidsprestasie wees, gekoppel aan ‘n effektiewe
mark vir sy aandeel.
Beheermeganismes en goeie aandeleverhandeling teen goeie pryse is
teenstrydighede. Beheermeganismes veroorsaak sulke groot diskonto’s op die
aandeleprys dat dit in enige terme onaanvaarbaar is. Die bedrae wat
vasgevang sit in die verskille tussen batewaarde en verhandelingswaarde, is
belaglik groot. Die verantwoordelikheid om die leiding te neem in die
aanspreek hiervan, lê vierkantig op die skouers van Bestuur en Direksie en
die taak moet gekwyt word.
Die ophoop van kontant skep ruimte vir ‘n lui balansstaat en ‘n geriefsone
vir bestuur. Dit kan net aanleiding gee tot onproduktiewe bates en die
misbruik van aandeelhouersfondse om tye van swak prestasie mee te stut.
Sodra die maatskappy in nood verkeer, hoef Bestuur nie te innoveer nie, maar
kan bloot aandeelhouers se fondse teen die probleem aanwend. Baie kontant en
‘n lui balansstaat word gewoonlik die teiken vir ‘n oorname om later deur
die nuwe aandeelhouers gestroop te word. Die voordele kom eerder die huidige
aandeelhouers toe.
Die uitleen van aandeelhouersfondse op produksiekrediet aan produsente is ‘n
direkte vorm van waardevernietiging vir al die aandeelhouers.
Aandeelhouersfondse dra die hoogste risiko en moet die grootste opbrengs
geniet. Vir die maatskappy is dit dus die duurste vorm van kapitaal en
opbrengs op debiteure kan nooit die verwagting op aandeelhouersfondse
bevredig nie. Senwes, soos sommige ander landboumaatskappye ook, het
intussen ander aandeelhouers bygekry, naamlik die beleggerspubliek asook
produsente wat lank reeds afgetree het en nie meer boer nie. Dit is dus ‘n
kritiese vraag oor hoekom hul fondse gereserveerd moet bly om produsente te
befonds en ‘n moontlike geriefsone vir Bestuur te bied.
‘n Maatskappy moet finansieel gerat wees, van alle onproduktiewe bates
ontslae raak en kontantsurplusse wat nie gou herbelê kan word teen ‘n hoër
opbrengs as die koste van kapitaal nie, aan sy aandeelhouers uitkeer in die
vorm van dividende. Daardie aandeel sal baie beter presteer as die een wat
kontant oppot en dit op besigheidsrisiko plaas.
‘n Produsente-aandeelhouer van ‘n landboumaatskappy wat wil aftree en
waarvan sy aandele dan teen nominale waarde teruggekoop word, of teen ‘n
onderdrukte markprys verkoop moet word, is van sy ledebelangefondse ontneem.
Die nodigheid van die omgekeerde situasie is dus krities belangrik.
Waardeontsluiting is ‘n aandeelhouer se reg wat nie van hom weerhou mag word
nie.
Die sukses van die proses wat Senwes gedurende die laaste vier jaar gevolg
het en steeds voortsit, het aanleiding gegee dat die aandeleprys vanaf sy
laagtepunt van 7 sent in 1999, gestyg het tot by die vlak rondom R2 waarteen
dit tans verhandel. Daar is steeds baie ruimte vir verdere verbetering.
Aandeelhouers is ingenome daarmee en het dit bevestig tydens die jongste
Algemene Jaarvergadering met hul oorweldige ondersteuning.
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien. |
![]() |
Mnr Johan Dique |