In hierdie artikel:
Verwerkte voedselprodukte van mielies, soja en katoen wat van geneties
gemodifiseerde (GM) gewasse afkomstig is, word daagliks gebruik. Ons gebruik
selfs medisyne wat met behulp van biotegnologiese metodes vervaardig is. Die
eerste plantsoort wat met behulp van biotegnologie gekweek is, was ‘n
petunia in 1982, gevolg deur piesangplante in 1988 wat uit weefselkulture
gekweek is. Die kloning van Dolly die skaap in 1997 was ‘n opspraakwekkende
gebeurtenis. Uiteenlopende menings bestaan oor die gebruik van biotegnologie.
Wat akkerbougewasse betref, glo een groep dit is veilig en noodsaaklik,
terwyl anti-GM aktiviste meen GM voedsel hou moontlike gesondheidsgevare en
ander nadele in.
Ontwikkeling van tegnologie soos Roundup Ready® en Bt-mielies het die
tradisionele konsep van onkruid- en stronkboorderbeheer verander. Die
gebruik daarvan hou heelwat voordele vir die produsent in. Sedert die
bekendstelling van hierdie tegnologie het die aantal produsente wat GM-mielies
plant, beduidend toegeneem.
Wanneer ‘n produsent Roundup Ready® of Bt-mielies aanplant, moet ‘n
lisensie-ooreenkoms tussen die produsent en patentreghouer aangegaan word.
Daar is bepaalde voorwaardes en nakomingsvereistes (en strafklousules) in
hierdie lisensie- ooreenkomste. Met die aanplant van Bt-mielies is daar
bepaalde voorwaardes, soos die aanplant van toevlugsoorde om te probeer
voorkom dat stronkboorders weerstand kan opbou en uiteindelik nie meer
doeltreffend beheer kan word nie. Met die gebruik van Roundup kan sekere
onkruid ook moontlik weerstand teen onkruiddoders opbou, met die gevolg dat
‘n weerstandsbestuurprogram gevolg moet word.
Die Bt-geen (Bacillus thuringïensis) is oorspronklik afkomstig van
bakterieë wat in die grond gevind is. Wanneer hierdie geen na ‘n mielieplant
oorgedra is, word ‘n spesifieke proteïen vervaardig. Die stronkboorderlarwes
(Busseola fusca en Chilo partellus) het hegtingsplekke (reseptore) in die
maag waaraan hierdie proteïene heg wanneer die larwe vreet. Ongeveer drie
dae nadat die larwe gevreet het, begin die maagwand afbreek en veroorsaak
dat die larwe vrek. Die voordeel van Bt-kultivars is dat al drie generasies
stronkboorder beheer kan word. Die ekonomiese waarde van Bt-mielies lê
daarin dat dit die gebruik van insekdoders verminder, spuitkoste verminder,
arbeid bespaar, omval verminder, opbrengs verbeter en graankwaliteit help
beskerm.
Die verspreiding van Fusarium en ander swamme verminder in die koppe van Bt-mielies
omdat die stronkboorder nie meer die sfere van die swamme doeltreffend kan
versprei nie. Die gevolg hiervan is dat Bt-mielies in die meeste gevalle
laer mikotoksienvlakke as GM-vrye mielies het.
Roundup Ready® mielies is geneties aangepas sodat Roundup Ready®-onkruiddoder
tot en met die ware agt-blaarstadium bo-oor die mielies gespuit kan word
sonder dat die mielies enigsins geaffekteer word. Dié onkruiddoder bevat ‘n
unieke benattingsisteem en is so geformuleer dat die aktiewe bestanddeel,
glifosaat, vinnig opgeneem kan word en na die wortels van die onkruid
translokeer. Die onkruid word dus doodgemaak sonder om die mielieplant te
beskadig. Roundup Ready®-onkruiddoder is een van die mees doeltreffende
breëspektrum, nie-selektiewe onkruiddoders beskikbaar, wat dit moontlik maak
om alle onkruid met een of hoogstens twee bespuitings te beheer. In
teenstelling met konvensionele onkruiddoders, is daar geen grondwerking en
gevolglike wagtydperk nie, met die gevolg dat enige opvolggewas geplant kan
word.
Die doeltreffende werking van konvensionele onkruiddoders is onderworpe
aan bepaalde omstandighede, soos grondvog en temperatuur. Daar is ook net ‘n
bepaalde venstertydperk vir toediening.
Belangrikheid van GM-vrye mielies
Teen die agtergrond van die huidige mielie-krisis, bestaan daar ‘n groot
uitdaging om alle bemarkingsgeleenthede van graan te ondersoek.
Uitvoergeleenthede vir GM-vrye mielies bestaan onder meer na Afrika-lande
soos Angola, Kenia, Zambië, Malawi en Zimbabwe. Gedurende jare wanneer
hierdie lande se oeste nie na wense is nie, moet hulle witmielies invoer om
aan hul vraag te voorsien.
Indien die wisselkoers dit toelaat en die graanpryse winsgewende transaksies
tot gevolg het, kan nagenoeg 2 miljoen ton witmielies na hierdie lande
uitgevoer word. Om hierdie mark te kan voorsien, moet graanhandelaars GM-vrye
mielies apart ontvang, opberg en vervoer. Die logistieke nagmerrie hieraan
verbonde is vanselfsprekend, met ‘n gevolglike behoefte aan ‘n
identiteitspreserveringstelsel. Graanhandelaars moet tans op boere se
samewerking en integriteit staatmaak wanneer graan as GM-vry gelewer word.
Dit is nie ekonomies en prakties moontlik om elke vrag wat as GM-vry by
silo’s gelewer word, tydens lewering met behulp van toetsmonsters te monitor
nie. Die graanafdeling toets wel die buise wat as GM-vrye mielies ontvang is
om seker te maak dat dit aan die kopers se vereistes kan voldoen.
Alle graan wat as GM-vry aangebied en verkoop word, word ook weer deur
onafhanklike ontleders en laboratoriums getoets om dit vir die uitvoermark
as GM-vry te kan sertifiseer. Kontroletoetse word ook by ontvangs in die
invoerland op graan gedoen en indien dit positief is, word dit teruggestuur.
Dis duidelik dat die streng maatreëls en toleransievlakke van 1% min ruimte
vir foute laat. Voorbeelde van foute is ‘n boer wat dink hy lewer GM-vrye
mielies terwyl die mielies met GM-mielies kruisbestuif het. Die gevolg
hiervan kan wees dat een sleepwa GM-mielies ‘n hele buis van 6 000 ton GM-vrye
mielies kontamineer.
Hoe kan produsente help met die verskaffing van GM-vrye mielies?
Kontaminasie as gevolg van genetiese aanspoeling deur kruisbestuiwing
tussen GM-vrye en GM-kultivars, is een van die mees algemene probleme
wanneer die status van die graan bepaal moet word. Maatreëls wat gevolg kan
word, is om ‘n tydperk van isolasie van nie minder nie as drie weke tussen
blomtyd van GM en GM-vrye mielies te handhaaf. Plant GM-mielies so ver as
moontlik van GM-vrye mielies.
Die aanplanting-rigtings laat dit nie altyd toe nie, maar probeer om ‘n
bufferstrook van minstens 500 m tot 1 000 m tussen GM-mielies en GM-vrye
mielies te handhaaf. Dit geld nie net op die produsent se plaas nie, maar
vereis ook dat produsente onderling met hul bure moet kommunikeer oor hul
beoogde kultivarkeuses. Ander praktiese aksies is om plantersaadbakke skoon
te maak wanneer saad gewissel word. Sorg ook dat die stroper, tapkarre en
waens skoon is wanneer gewissel word. Deeglike identifikasie van GM-status
is noodsaaklik wanneer graan gelewer word. GM-opslagmielies moet
doeltreffend beheer word indien die opvolgmielies as GM-vry gelewer wil
word.
Aangesien die meeste GM-vrye mielies wat tydens 2005 geïdentifiseer is, uitgevoer gaan word, gaan daar waarskynlik baie min GM-vrye mielies in die oordragvoorraad van die 2005 oes wees. Indien aanplantings afgeskaal word en daar nie daadwerklike stappe gedoen gaan word om die GM-vrye mielies wat in 2006 gelewer gaan word, so doeltreffend as moontlik vooraf te isoleer nie, kan dit gebeur dat alle uitvoergeleenthede vir GM-vrye mielies nie ten volle benut word nie. Die gevolge sal wees dat die plaaslike oordragvoorraad verhoog. Produsente wat die komende seisoen mielies gaan aanplant, word vir hulle samewerking gevra sodat die hantering-, berging-, sertifiserings- en uitvoerproses van GM-vrye mielies in die toekoms vergemaklik kan word.