Suid-Afrika is aan die vooraand van ‘n heel nuwe era waar
breëband-kommunikasie die norm, eerder as die uitsondering, sal word.
Tegnologie soos derdegenerasie-selfoontegnologie (3G) maak breëband-toegang
tot data en die internet baie makliker. Breëband-tegnologie maak ‘n einde
aan stadige en swak internetverbindinge. Waar die radio of televisie vroeër
die enigste bron van inligting was, maak die gebruik van en toegang tot die
internet dit vir produsente moontlik om inligting makliker te bekom.
Die groot verskil tussen konvensionele internet-toegang (inskakel) en
breëband-tegnologie is dat die gebruiker nie meer deur ‘n gewone telefoonlyn
en modem hoef in te skakel na sy diensverskaffer nie en dat ‘n mens 24 uur
per dag, sewe dae van die week, aan die internet gekoppel kan bly.
Die koste verbonde aan breëband-tegnologie is seker die enigste ongunstige
faktor wat die vinnige groei van breëband-toegang in Suid-Afrika rem.
Benewens die breëband-diens self, moet ‘n bykomende bedrag in sommige
gevalle vir ‘n internet-diensverskaffer betaal word. Dié koste is egter
stadig besig om te daal soos wat meer mense van dié diens begin gebruik maak.
Die toetrede van meer rolspelers sal hopelik ook ‘n prysoorlog veroorsaak.
GPRS (General Packet Radio Services) bied ‘n heeltydse internet-verbinding
aan verbruikers en maak dit moontlik om data oor ‘n bestaande selfoonnetwerk
te stuur. Dit stel die verbruiker in staat om data deur ‘n selfoon te stuur
en te ontvang. Die verbruiker het dus internettoegang, kan e-posse stuur en
ontvang en kan data aflaai. Hoewel GPRS verbruikers deurentyd aan die
internet gekoppel is, betaal hulle slegs vir die hoeveelheid data wat wat
oorgeplaas word.
Die nadeel van GPRS is die lae spoed – veral die oplaai-spoed – en die hoë
koste van data met die verskillende pakkette van diensverskaffers. Die spoed
is ook baie afhanklik van hoe ver ‘n mens van die seltoring af is en hoe
besig die toring met gewone stemoproepe is. Die voordeel weer, indien jy ‘n
Blackberry besit, is dat jy ten volle mobiel is.
3G, die nuutste toevoeging tot breëband tegnologie, is ook ‘n draadlose
kommunikasiediens wat heeltydse internetverbinding verseker. Die verskil lê
egter in die spoed. 3G maak dit vir gebruikers moontlik om hoëspoed-toegang
tot datanetwerke en die internet te kry. Met 3G-tegnologie is dit moontlik
om e-pos en internettoegang deur middel van palmrekenaars of Blackberry in
jou sak rond te dra.
3G tegnologie bied moeitevrye, draadlose toegang tot die internet. Hoewel 3G
tegnologie nog nie oral beskikbaar is nie, kan gebruikers steeds op die GPRS
netwerk staatmaak. 3G maak verhoogde bandwydte beskikbaar: tot soveel as 384
Kbps wanneer ‘n toestel staties is of teen voetgangerspoed beweeg, 128 Kbps
in ‘n motor en 2 Mbps in vaste toestelle.
Vodacom
Die Vodafone Mobiele konneksiekaart is 3G en GPRS magtig en maak toegang
tot die internet en die aflaai van e-posse byna drie keer vinniger as met
ISDN.
Wanneer toegang tot Vodacom 4 me-inhoud en internetdienste deur 3G of GPRS
verkry word, betaal jy slegs vir die stuur en ontvang van data, nie vir die
hoeveelheid tyd wat jy aan die internet gekoppel was nie.
Selfoongebruikers kan ook uitsien na die nuwe 3G-selfone wat Vodacom na
Suid-Afrika bring. Dié selfone het heelwat meer geheue en sterker verwerkers
om die breëbandtoegang doeltreffend te benut.
Die fone het ook uitstekende kleurskerms en klankvermoë sodat gebruikers
video’s sal kan kyk of die jongste musiek van die internet sal kan aflaai en
luister. Sommige fone sal ook speletjies-aanhangers die vermoë gee om deur
die 3G-netwerk met mekaar mee te ding.