In hierdie artikel:
Die invloed van beweiding op die produktiwiteit van die weiveld ná ‘n brand is in die Bloemfontein-omgewing nagevors. Die langtermyn gemiddelde jaarlikse reënval is 530 mm en die gebied word deur rooigras (hemeda triandra) oorheers. Die veld was tydens die brand in ‘n goeie toestand.
Brand se invloed op polafsterwing
Vuur het die basale bedekking van die weiveld van 7,25% tot 2,50% verlaag. Een en twee groeiseisoene ná die brand was die basale bedekking steeds onderskeidelik 28% en 11% laer as veld wat nie gebrand het nie. Dit was veral die grasspesies wat gewoonlik groot polle vorm – soos terpentyngras (Cymbopogon plurinodis) en rooigras – wat die grootste persentasie polafsterwings getoon het (Tabel 1). Perdegras (Triraphus andropogonoides) met sy harde voorkoms was die minste gevoelig vir brand, maar gemiddeld die helfte van ‘n pol het steeds doodgebrand. Teen die verwagting in het gemiddeld 65% van alle polle van die klimaks- en subklimaksgrasse doodgebrand. Die grasspesies in Tabel 1 is slegs die dominante grasse wat voorgekom het. Spesies soos steekgras (Aristida congesta) wat baie klein polletjies vorm, is nie aangeteken nie.
Tabel 1. Polafsterwing (%) weens brand soos twee maande na die brand bepaal.
Spesies | % Afsterwing |
Terpentyngras (Cymbopogon plurinoïdes) | 75.36 |
Vingergras (Digitaria eriantha) | 59.41 |
Krulblaar (Eragrostis chloromelas) | 59.42 |
Weeluisgras (superba) | 62.1 |
Koperdraadgras (Elionurus muticus) | 69.68 |
Buffelsgras (Panicum stapfianum) | 68.39 |
Fynsaadgras (Sporobolus fimbriatus) | 61 |
Rooigras (Themeda triandra) | 76.29 |
Perdegras (Triraphus andropogonoides) | 55.88 |
Gemiddeld | 65.28 |
Invloed van beweiding op produksie
Veld wat in dieselfde groeiseisoen ná die brand in Oktober, Desember of Februarie ontblaar is, het in die volgende groeiseisoen ‘n betekenisvolle verlaging in produksie getoon. Hierdie vergelykings is telkens met dieselfde gebrande veld wat nie ontblaar is nie, gemaak.
Ontblaring in Oktober net ná die brand het produksie die volgende Oktober tot April met tussen 48% en 28% verlaag. Dit is ‘n aansienlike verlies teen die agtergrond dat die produksieverlies oor hierdie tydperk – ongeag beweiding, maar slegs as gevolg van brand – reeds gemiddeld met 47% tot 34% laer as ongebrande veld was.
‘n Oktober-ontblaring nadat die veld vir ‘n volle groeiseisoen gerus het, se produksie was vir die volle volgende jaar steeds 32% laer as veld wat nie ontblaar is nie. Veld wat vir ‘n groeiseisoen na die brand nie ontblaar is nie, se produksie vir die volgende seisoen se Desember- en Februarie-ontblarings was nie betekenisvol laer as dié van veld wat nié ontblaar is nie.
Die produksieverlies weens ontblaring in Februarie nadat die veld vir ‘n volle groeiseisoen gerus het, was slegs 8% laer as nie-beweide veld. Dít is oor normale tot bo-normale reënvalseisoene gemonitor. Sou die brand deur onder-normale reënvaltoestande gevolg word, sal die produksieverlies weens beweiding van gebrande veld aansienlik hoër wees.
Die tendens is dus dat hoe later die veld in die groeiseisoen na ‘n brand bewei word, hoe vinniger sal die afname in produksie weer opgehef word weens die ontblaring in die volgende seisoen.
Weiveld in semi-droë gebiede behoort vir ‘n volle groeiseisoen ná ‘n brand (normale reënval) en vir ten minste die eerste gedeelte (lente) van die volgende groeiseisoen (onder-normale reënval), nie bewei te word nie om die volhoubare benutting van die weiding-ekostelsel te verseker. Die eerste winter na die brand behoort beweiding nie te straf nie plaas te vind.
Doeltreffende waterverbruik en beweiding
Veld wat vir ‘n hele groeiseisoen na die brand nie ontblaar is nie, het vir al die ontblaringstye water die doeltreffendste na droëmateriaal omgeskakel. Dit is belangrik omdat reënval in hierdie gebied die beperkende omgewingsfaktor is wat produksie bepaal of beïnvloed. Die Oktober-ontblaring het reën die swakste in droëmateriaal omgeskakel, ongeag of ‘n seisoenale rustydperk na die brand ontvang is. Die doeltreffendheid van waterverbruik het toegeneem soos wat die veld later in die seisoen vir die eerste keer na die brand bewei is.
Die uurlikse grondtemperatuurlesings wat direk na die brand gedoen is, toon dat die grondtemperatuur, ongeag ontblaring, tot ‘n diepte van 50 mm gemiddeld van 07:00 tot 19:00 verhoog is (Tabel 2). By die veld wat nie gebrand het nie, het ontblaring die grondtemperatuur eers vanaf 11:00 tot 19:00 verhoog.
Tabel 2. Gemiddelde grondtemperature (oC) vir gebrande en nie-gebrande veld, bepaal gedurende die week van 4 November 2001 tot ‘n diepte van 50 mm.
Tyd | Nie-Brand | Brand | ||
Ontblaar | Nie ontblaar | Ontblaar | Nie ontblaar | |
5:00 | 18.22 | 18.13 | 18.25 | 18.15 |
7:00 | 20.36 | 19.24 | 24.14 | 22.44 |
9:00 | 22.32 | 21.12 | 31.13 | 29.22 |
11:00 | 24.14 | 23.44 | 33.22 | 31.13 |
13:00 | 26.41 | 25.26 | 34.51 | 33.27 |
15:00 | 30.36 | 28.17 | 37.47 | 36.19 |
17:00 | 27.12 | 26.31 | 34.15 | 33.16 |
19:00 | 23.29 | 23.22 | 33.24 | 31.24 |
21:00 | 20.14 | 20.51 | 20.55 | 20.3 |
23:00 | 19.26 | 19.13 | 19.54 | 19.22 |
Ontblaring het die grondtemperatuur tot ‘n diepte van 50 mm twee weke ná die Oktober- en Desember-ontblarings dieselfde seisoen verhoog (Tabel 3). Waar die veld nie gebrand het nie, het ontblaring geen betekenisvolle invloed op die grondtemperatuur gehad nie. Ongeag ontblaring is die grondtemperatuur oor die eerste seisoen na die brand tot ‘n diepte van 50 mm verhoog.
Tabel 3. Gemiddelde grondtemperatuur (oC) vir gebrande (eerste groeiseisoen na brand) en nie-gebrande veld geneem ongeveer 14:00 van die dag tot ‘n diepte van 50 mm, twee weke na die Oktober-, Desember-, Februarie- en April-ontblarings.
Maand van ontblaring | Nie-brand | Brand | ||
Nie ontblaar | Ontblaar | Nie ontblaar | Ontblaar | |
Oktober | 26.5 | 28 | 33.5 | 35.5 |
Desember | 29.5 | 30.5 | 35 | 36.5 |
Februarie | 32 | 33.2 | 37.8 | 39 |
April | 24.3 | 25.3 | 27.3 | 28.8 |
Tendense soos verhoogde grondtemperature, -erosie, -kompaksie en laer grondwaterinhoud sal verder beïnvloed word wanneer weiveld te vroeg na ’n brand bewei word.
Die gebrande veld moet lank genoeg rus om die blootgestelde grond te beskerm en sodat die mikro-omgewing sover moontlik weer normaal kan funksioneer.
Hoe vroeër die veld na ‘n brand bewei word, hoe langer en groter is die negatiewe oordrageffek in produksie na ‘n volgende seisoen.
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien. | |
![]() |