In hierdie artikel:
Finansiële aansporings soos die Vaardigheidsontwikkeling-heffings help werkgewers en SETA’s om opleiding te rig en aan te moedig, terwyl professionele vereistes vir opleiding en onderwys wat in wetgewing vervat is, daartoe bydra om te verseker dat die opleiding doeltreffend is.
Deelname is egter nie opsioneel nie en alle werkverskaffers wat PAYE betaal of ‘n totale betaalstaat van meer as R250 000 het, moet volgens die wet ‘n heffing betaal wat tans 1% van die totale betaalstaat bedra. Hierdie heffing is maandeliks aan die SA Inkomstediens betaalbaar. Alle werkverskaffers wat aan hierdie kriteria voldoen, moet dus by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vir die vaardigheidsontwikkeling-heffing en by die SETA wat betrekking het op hul sektor, registreer.
Aanvanklik was twee SETA’s by landbou betrokke, naamlik PAETA (vir primêre landbou) en SETASA (vir sekondêre landbou). Hulle het sedert 1 Julie saamgesmelt en is nou bekend as die AgriSETA met Machiel van Niekerk aan die hoof. Boere is dus ook onderhewig aan hierdie wetgewing, indien hulle totale betaalstaat meer as R250 000 per jaar beloop.
Die eerste stap is om by die SAID te registreer (vorm SDL 101) en ‘n verwysingsnommer te kry (L-nommer). Onthou om aan te dui dat u by die AgriSETA wil registreer. SAID sal aan u ‘n Kennisgewing van Registrasie (vorm SDL 103) ter bevestiging stuur. Die heffing moet maandeliks voor die sewende van die daaropvolgende maand (vorm EMP 201) by die SAID inbetaal word.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens allokeer ‘n gedeelte van die heffing aan die relevante SETA, en ‘n gedeelte aan die nasionale vaardigheidsfonds. Fondse toegedeel aan die SETA’s is deur werkgewers terugeisbaar, mits aan sekere kriteria voldoen word.
Hoe word die toekennings vanaf die vaardigheidsontwikkeling-toekenning bereken? Wanneer die boer begin om heffings te betaal, kan hy vaardigheidsontwikkeling-toekennings eis, mits aan sekere kriteria voldoen is. Tans kan daar tot 70% van hierdie heffing vanaf die SETA teruggeëis word, in die vorm van toekennings (Tabel 2). Afgesien van die toekennings (die sogenaamde grants) wat die boer terug kan eis, is die volgende spesiale toekennings ook beskikbaar, mits dit deel van die goedgekeurde sektor-opleidingsprogram vorm:
Geregistreerde kort kursusse/ Eenheidstandaard gebaseerde opleiding vir die landbousektor
Kort kursusse is vir baie jare met groot sukses deur instellings soos Boskop aangebied. Volgens die SETA is die grootste probleem egter dat leerders nie erkenning gekry het na die suksesvolle voltooiing van die kursusse nie. Om hierdie dilemma op te los, is daar sogenaamde eenheidstandaarde opgestel wat sal verseker dat daar aan minimum vereistes voldoen word. Sodanige opleiding sal voortaan gesertifiseer kan word en leerders sal amptelik erkende sertifikate ontvang. Koste hiervoor kan met vooraf goedkeuring van die AgriSETA teruggeëis word, gegewe bepaalde reëls vir daardie opleiding van werkers. Buiten landboukolleges, verdere-onderwyskolleges, technikons en universiteite, is daar verskeie geakkrediteerde opleidingvoorsieners wat eenheidstandaardgebaseerde opleiding kan aanbied.
‘n Leerlingskap is ‘n uitbreiding en verbetering van die voormalige vakleerlingskap (wat beperk was tot tegniese beroepe) en strek gewoonlik oor ‘n tydperk van ses maande tot een jaar. 30% van die opleiding is teorie en 70% is prakties. Die grootste deel van die opleiding, ten minste die praktiese gedeelte, kan op die plaas geskied. Leerlingskappe kan in verskeie rigtings deurloop word soos bv. plaasoperateur, plaaseienaar of junior-plaasbestuurder met ‘n keuse van tuinbou, akkerbou of veeteelt.
Leerlingskappe word in samewerking met die SETA by die Departement van Arbeid geregistreer en is ’n manier waarop ‘n nasionale kwalifikasie verwerf kan word. AgriSETA sal die kursusgelde betaal indien ‘n boer van sy werknemers aan ‘n geregistreerde leerlingskap wil blootstel. Om soveel as moontlik werkgewers die geleentheid te bied om aan die proses deel te neem, sal tot ‘n maksimum van vyf werknemers per werkgewer voor betaal word. Indien ‘n werkgewer meer werknemers aan ‘n leerlingskap wil blootstel, sal hy self vir die addisionele leerders moet betaal. Die koste verbonde aan ‘n leerlingskap is ±R15 000 per leerder.
Bogenoemde is gerig op permanente werkers, maar indien ‘n produsent byvoorbeeld ‘n werklose persoon die geleentheid wou gun om ‘n leerlingskap te voltooi, sal AgriSETA ook bydra tot so ‘n persoon se onderrigkoste plus ‘n weeklikse toelaag van R130 per week vir die duur van die opleiding. In alle gevalle moet formele leerlingskapkontrakte gesluit word volgens wetlike voorskrifte.
Na die voltooiing van die leerlingskap sal die werkgewer geen verdere verpligtinge teenoor die leerder hê nie. Die inneem van so ‘n leerder gee egter vir die werkgewer die geleentheid om so ‘n persoon te evalueer vir moontlike permanente indiensneming.
Tabel 1: Hoe bereken die produsent sy vaardigheidsontwikkeling-heffing?
VOORBEELD | |
'n Boer het die volgende werkers komplement: | |
20 werkers wat elk R 1 500 per maand verdien | R 30 000.00 |
1 plaasbestuurder wat R 12 000 per maand verdien | R 12 000.00 |
1 finansiële bestuurder wat R 8 000 per maand verdien | R 8 000.00 |
TOTALE BETAALSTAAT | R 50 000.00 |
Vaardigheidsontwikkeling-heffing (1% van R 50 000) per maand | R 500.00 |
Vaardigheidsontwikkeling-heffing per jaar betaalbaar | R 6 000.00 |
Tabel 2: Hoe bereken die produsent sy toekennnings vanaf die vaardigheidsontwikkeling-toekenning?
AKSIE | U ONTVANG |
1. Indiening & Aanvaarding van 'n Werkplek Vaardigheids Plan | 15% |
2. Indiening & Aanvaarding van 'n Werkplek Vaardigheids Implementering Verslag | 45% |
3. Implementering van opleiding in 'n SETA spesifieke projekte (bv. ABET, HIV) | 10% |
TOTAAL: | 70% |
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien. | |
![]() vaardigheidsontwikkeling: Praktiese opleiding kan op die plaas geskied. |