Is katoenproduksie winsgewend?
2005-09-01

Met die huidige graansituasie is die plant van mielies nie ‘n opsie nie, terwyl die alternatiewe ook nie veel meer winsgewend lyk nie. Jaco Vermeulen, Akkerboukundige van Landboudienste, het met Stan Rudman van Vaalharts Katoen en Jaco van Zyl van Delta Pine gesels om uit te vind of katoen as alternatief ekonomies verbou kan word.

In hierdie artikel:

  1. Veranderde bemarking
  2. Vaalharts Katoen
  3. Vereistes vir katoenproduksie
  4. Katoenkultivars
  5. Kultivars beskikbaar
  6. Katoen na gars
  7. Samevatting
  8. Foto

In die verlede is katoen as goeie wisselbougewas onder sowel besproeiing as droëland ingeskakel. Dit hou heelwat voordele in, soos die verlaging in aalwurmgetalle en in die voorkoms van fusarium en vrotpootjie. Die produksie van katoen het heelwat afgeneem, hoofsaaklik vanweë die wisselkoers en sterk rand wat die invoer van vesel en finale produkte verhoog het en tot ‘n drastiese daling in die katoenprys gelei het. Danksy goeie navorsing is kultivars ontwikkel wat vanweë opbrengsverhoging en verbeterde kwaliteite katoenproduksie weer aantreklik maak. 

Veranderde bemarking

Katoen is in die verlede geproduseer en aan verskeie kopers gelewer wat dit gepluis en die vesel en saad verkoop het. Die alternatief is dat die produsent sy katoen deur kontrakpluising kan verwerk en die vesel self bemark. Dit is belangrik dat hy ‘n kontrak vir die vesel teen ‘n vasgestelde prys het voordat hy die katoen aanplant. Vir baie produsente is die produksie van katoen as gevolg van die wisselvallige prys te riskant as ‘n prys nie voor die tyd vasgemaak word nie.

Vaalharts Katoen

Volgens mnr Stan Rudman, besturende direkteur van Vaalharts Katoen, is die pluismeule op Hartswater twee jaar gelede deur ‘n groep produsente opgerig om katoenverbouing te bevorder. Die oogmerk was om ‘n fasiliteit daar te stel om die plaaslike en nabygeleë produksie ’n stap verder te neem. Omdat die plaaslike verbruik van katoenvesel wisselvallig is, is daar die afgelope jaar met verskeie buitelandse kopers geskakel.

Een van die kopers, Cargill, het reeds ‘n kontrak in plek wat hulle in Augustus aan belangstellende produsente beskikbaar gestel het. Hiervolgens is die volgende opsies beskikbaar:

  1. Kontrak met ‘n wisselende prys.
  2. Kontrak met ‘n minimum waarborg of vloerprys met ‘n geweegde gemiddeld oor die termyn van plant tot oestyd.
  3. Kontrak met ‘n minimum waarborgprys met ‘n “Putt” opsie.

Vaalharts Katoen het die vermoë om katoen oor groot afstande te hanteer en ‘n kapasiteit om 12 000 ton saadkatoen te verwerk. Vir verdere navrae skakel direk met Stan Rudman (083 230 5342) of Weston du Plessis (082 948 2704), of skakel hul kantoor by (053) 474 0115.

Tabel 1 dui aan wat die prys per ton in die sak moet wees om die produksiekoste teen sekere opbrengste te kan delg. Die koste is ‘n gemiddelde direkte koste vir produksie in die Vaalharts Besproeiingskema en sluit nie oorhoofse koste in nie. Teen opbrengste van 4 ton per hektaar en hoër, raak die produksie van katoen dus weer winsgewend.

KATOEN   Boer doen alle werk self buiten
     Kontrakpluk (meganies)
Produksiekoste (Rand per hektaar)   9000
    Gelykbreekprys (Rand per ton)
  3 3 000
Opbrengs 3.5 2 571
  4 2 250
(Ton per hektaar) 4.5 2 000
  5 1 800
  5.5 1 636

Vereistes vir katoenproduksie

Voor ‘n produsent katoen as alternatiewe gewas kan oorweeg, moet hy van die volgende seker maak:

Katoenkultivars

Volgens mnr Jaco van Zyl van Deltapine is hulle tans die wêreldleier in katoenplantsaad. Hulle produkte is plaaslik beskikbaar met hulle hoofkantoor op Groblersdal. Deltapine het ‘n samewerkingsooreenkoms met Monsanto waar hulle tegnologie verkry. Die kultivars het almal die volgende eienskappe in gemeen:

Die volgende kultivars is beskikbaar:

  1. Konvensioneel – DeltaOPAL: Die kultivar moet vir bolwurms en ander insekte gespuit word en skoffelbewerkings moet gedoen word.
  2. Roundup Ready – DeltaOPAL RR: Die kultivar mag op ‘n twee- en vierblaar stadium bo-oor met die Roundup Ready-produk gespuit word. Later mag gerigte bespuitings ook gedoen word. Die kultivar is uiters geskik vir produsente met baie onkruidprobleme. Die kultivar moet nog steeds vir bolwurms en ander insekte gespuit word.
  3. Bollgard – NuOPAL: Dié kultivar beheer die bolwurm-kompleks in totaal. Dit mag gebeur dat daar wel eenkeer vir bolwurm gespuit moet word. Verkenning verskuif nou na suiende insekte. Tradisionele skoffel moet nog plaasvind.
  4. Dubbelgeen – NuOPAL RR: Registrasie van die tegnologie is ‘n vereiste. Met die skryf van die artikel is daar nog gewag vir die registrasie van die Registrateur. Die kultivar is ‘n kombinasie van die Roundup Ready en Bollgard-tegnologie in een plant.

Katoen na gars

Proewe word tans gedoen om ‘n geskikte kultivar vir katoenverbouing as opvolggewas na gars te ontwikkel. Vir meer besonderhede oor die kultivars, skakel Jaco van Zyl van Deltapine (083 289 0212).

Samevatting

Die situasie is tans van so aard dat baie produsente probleme met mielies ondervind wat as gevolg van fusarium omval. Aangesien boere die komende seisoen nie mielies behoort te plant nie, is dit die ideale geleentheid om katoen in die wisselbou in te bring.

Vanweë die verskillende voedingsbehoeftes en wortelstelses, kan die inbring van katoen baie landboukundige voordele inhou. Saam met die verbeterde kultivars en vasgestelde pryse met kontrakte, kan katoen sonder ‘n te groot risiko weer met voordelige uitwerking op die opvolggewasse ingeskakel word. Dit is veral die finansieringsrisiko wat aansienlik verlaag sal word deur ‘n voorplant vastepryskontrak aan te bied.

Vir meer besonderhede skakel Jaco Vermeulen by 082 948 2557 of (053) 474-9648.
 

 FOTO

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Vaalharts Katoen het die vermoë om 12 000 ton
saadkatoen te verwerk.