Interpreteer en bestuur opbrengsvariasies
2005-07-01

Verskillende fundamentele parameters beïnvloed die gebruikswaarde van opbrengskartering. Bernard Muller, Vakhoof: Akkerbou by Senwes Landboudienste lig ‘n paar bestuurbare aspekte uit wat ‘n direkte invloed op opbrengspotensiaal kan hê.

Ontwikkeling van nuwe tegnologie stel hulpmiddele soos presisieboerdery daar wat aangewend kan word om produksiedoeltreffendheid te verbeter en optimale ekonomiese produksie per eenheidsoppervlakte na te streef. Ten einde hierdie hulpmiddels met sukses te gebruik is dit noodsaaklik om bepaalde inligting in te win en korrek te interpreteer.

In hierdie artikel:

  1. Presisieboerdery
  2. Ruitpatroon opnames
  3. Water – die mees beperkende faktor
  4. Metode
  5. Resultate
  6. Slotopmerkings
  7. Navrae
  8. Foto's

Presisieboerdery

Daar is ‘n verskeidenheid presisieboerdery mutasies, sienswyses en benaderings met gepaardgaande bemarkingsgerigte aansprake oor gebruiksaanwendings en verhoogde winsmarges. Opbrengskartering met stropermonitors is ‘n algemene en bekende metode wat reeds vanaf 1998 deur die meeste verskaffers van presisieboerderytoerusting aangebied word. Variasie tussen sones binne ‘n land en oor seisoene word meestal waargeneem wanneer opbrengskaarte van verskillende seisoene met mekaar vergelyk word. Figuur 1 is ‘n voorbeeld van 1998, 1999, 2000 en 2001 se mielie-opbrengskaarte.

‘Dit is duidelik in Figuur 1 dat die opbrengsvlakke en patrone van die onderskeie jare nie noodwendig dieselfde is nie. Opbrengstendense kan wel waargeneem word by die areas wat beter presteer (groen skakerings) en kom duideliker na vore by 1998 tot 2000 se kaarte, terwyl 2001 se kaart nie dieselfde tendens toon nie. Die oranje, blou en pers kleure verteenwoordig swakker opbrengste. Die 1998 opbrengskaart dui veral groot swakker presterende areas aan wat nie by die ander jare uitgewys word nie. Die algemene tendens wat gewoonlik met opbrengskartering waargeneem kan word, is dat patrone tot ‘n mate voorkom en dat verskillende lande soms meer of minder variasie oor seisoene aantoon wat die gevolg van ‘n verskeidenheid faktore en onderlinge interaksies kan wees.
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Figuur 1: Mielieopbrengskaarte vanaf 1998 tot 2001.

Ruitpatroon opnames

Die spil waar rondom presisieboerdery behoort te draai is om die plantegroei- en oesopbrengsreaksie te probeer verstaan en uiteindelik beter te bestuur. Ten einde hierdie doelwit te bereik is dit nodig om die grond-plant-klimaat- en bestuursinteraksies binne die konteks van die produksiestelsels te evalueer. Bestuurbare aspekte wat opbrengs direk beïnvloed is grondmorfologiese en -chemiese faktore wat met grondopnames geïdentifiseer kan word. 

Die eerste stap in die rigting van presisieboerdery behoort ook te wees om ruitpatroon grondprofielbeskrywings en chemiese ontledings te doen. Deur byvoorbeeld grondsuurheid en ander opbrengsbeperkende faktore aan te spreek, kan produksieverbetering en besparings dadelik met hierdie inligting bewerkstellig word. Aksies soos kolbekalking kan ook sonder die kapitale uitleg van elektroniese beheerstelsels gedoen word deur die verskillende behoeftesones fisies op die land uit te merk en dienoorkomstig kalk te strooi. In kort kom dit daarop neer dat die aspekte wat opbrengs beïnvloed dadelik met ruitpatroon opnames uitgewys kan word, in teenstelling met opbrengskartering wat slegs die uiteindelike vlak van opbrengste wat vir ‘n bepaalde seisoen geld aantoon, maar nie noodwendig die oorsaak en werklike omvang van probleme identifiseer nie.

Opbrengskartering het egter ‘n uiters noodsaaklike funksie in die sin dat “relatief haalbare teikenopbrengste’’ van gronde of bestuursones vir spesifieke groeiseisoen omstandighede bepaal kan word. Dit kan gevolglik slegs die potensiële opbrengspotensiaal van gronde in afwesigheid van chemiese beperkings definieer. Verder is dit ook wenslik om die doeltreffendheid van veranderlike behandelings met die instrument te meet. 

Water – die mees beperkende faktor 

Die beginsel van beperkende faktore bepaal dat die grootte van die afwyking van maksimum opbrengs deur die mees beperkende van al die essensiële plantegroei faktore bepaal word. Waar gewasse onder droëland toestande verbou word is water meestal die mees beperkende faktor. Hierdie hipotese is getoets deur die verwantskap tussen die profielbeskikbare waterstoorkapasiteit (PBWSK) van grond en opbrengsverskille van mielies wat onder ekstensiewe droëlandtoestande verbou is, te ondersoek

Metode:

Ruitpatroon grondprofielbeskrywingsdata is ingesamel en die geogra- fiese ligging is met ‘n DGPS toestel vasgelê. PBWSK wat hoofsaaklik deur die gronddiepte en tekstuur beïnvloed word, is beraam en vergelyk met die mielie-opbrengsdata wat met behulp van ‘n opbrengsmonitor ingesamel is. Grondchemiese analises is ook gedoen by voorafbepaalde opnamepunte wat dominante opbrengs verspreidingsvlakke en grondvorme verteenwoordig.

Resultate:

Dit was opvallend dat die mate van opbrengsvariasie betekenisvol tussen lande verskil. Daar is gevind dat die ruimtelike variasie van PBWSK tussen 40% en 87% van die variasie in opbrengs binne die landerye wat ondersoek is, verklaar. Hierdie resultate moet ook binne die konteks van die betrokke groeiseisoen beskou word. Die rede is dat in gevalle waar reënval gedurende die groeiseisoen voldoende is en goed verspreid voorkom, daar gewoonlik aan die waterbehoeftes van die gewas voldoen word, met die gevolg dat die PBWSK van die grond dan nie so ‘n groot rol speel nie en omgekeerd.

‘n Verskeidenheid ander faktore soos grondsuurheid, chemiese wanbalanse, voedingstofbeperkings, klimaatsverskille, laterale sowel as grondoppervlakte waterbeweging, onkruidkolle en bestuursverwante aspekte kan in die praktyk aan opbrengsverskille gekoppel word.

Figuur 2 illustreer ‘n vergelyking tussen die PBWSK en opbrengs op ‘n 67 hektaar land met 62 opnamepunte. Hierdie land het ‘n positiewe korrelasie tussen PBWSK en opbrengs getoon met ‘n korrelasie koeffisiënt van 0,85 (P<0,05). Die gemiddelde PBWSK van die 62 opnamepunte was 117 mm met die laagste (45 mm) en hoogste (234 mm) waardes wat met 81% verskil. Die hoogste opbrengs was 6,2 t ha-1 en die laagste opbrengs 0,7 t ha-1 wat ‘n opbrengsverskil van 84% verteenwoordig.

Uit Figuur 2 kan afgelei word dat namate die PBWSK van gronde toeneem, die opbrengste ook toeneem. Opbrengste van sekere opnamepunte met ‘n hoë PBWSK is soms nie in dieselfde “opbrengsband” as wat verwag word nie. Die rede hiervoor kan in sommige gevalle direk aan grondsuurheid toegeskryf word. ‘n Geval soos hierdie laat beslis ruimte vir verbeterde bestuur. ‘n Belangrike oorweging sal wees om eers die gronde met PBWSK waardes van 100 mm en minder te onttrek van kontantgewasverbouing, gegewe dat die ligging en verspreiding dit toelaat. Ondersoeke rakende die gemete hoeveelhede anorganiese stikstof (ammonium en nitraat) wys ook uit dat gronde met ‘n lae PBWSK en dienooreenkostige lae opbrengste, hoër in N ontleed as gronde met ‘n hoër PBWSK (hoër opbrengs) wat weer laer in N ontleed. Beter voedingstofbenutting (N) vind dus by gronde met ‘n hoër PBWSK plaas.

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Figuur 2: Verwantskap tussen PBWSK en mielie-opbrengs.

Slotopmerkings

Die gebruikswaarde van opbrengskartering in isolasie en sonder die korrekte interpretasie van betroubare grond- en klimaatsdata, is relatief beperk. Ten einde sinvolle veranderlike toedieningskaarte te skep en opbrengsvariasie te bestuur behoort fundamentele parameters soos PBWSK van die grond, grondwaterstatus voor plant, opbrengsreaksie tydens optimale voedingstofvoorsiening en klimaatsvooruitsigte vir die beraming van relatiewe teikenopbrengste gebruik te word. Stikstof, fosfaat- en kalsiumbehoeftes kan aan die hand van die toeganklike hoeveelhede asook die relatiewe teikenopbrengste van die onderskeie datavangspunte (bestuursones) beraam word. Aanpassing van plantpopulasie moet verkieslik gedoen word met deeglike oorweging van kultivar-eienskappe en die relatiewe teikenopbrengs wat bereik wil word.

Ongelukkig is dit nie vir alle boerderye ekonomies haalbaar om “elektronika” vir presisieboerdery aan te skaf nie. Dit moet egter nie as afskrikmiddel dien nie. Sekere beginsels wat verbeterde produksie kan bewerkstelling kan ook sonder “elektroniese apparate” toegepas word.

Navrae

Indien u enige navrae het, skakel gerus vir Bernard Muller by (057) 354-2125 of stuur vir hom ‘n e-pos na [email protected].

Foto's

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Hulpmiddele in die landbousektor kan help om produksiedoeltreffendheid te verbeter.