Beplan vir verder as more - die visie van ‘n jongboer
2005-07-01

“Glo in jouself en jou Skepper – dan sal groei verseker volg.” Dit is Andries Els, Agri Risiko Spesialiste en Vrystaat Landbou se tiende Jongboer van die Jaar, se motto. Magdeleen Venter het by hom en sy vrou op die plaas gaan inloer.

Andries het al van sy kinderdae saam met sy pa, Jannie Els, op die plaas Bloemhof in die Heilbrondistrik geboer en geweet dat hy eendag self wil boer. “My pa het die grondslag gelê vir my boerdery. Ek het baie by hom geleer, maar hy het my steeds die ruimte gegee om myself uit te leef,” verduidelik hy.

Andries het sy Nasionale Diploma in Landbou Hulpbronbenutting aan die Pretoria Technikon behaal en tien jaar gelede voltyds begin boer. Sy pa, Jannie, was baie betrokke by georganiseerde landbou en is ook ‘n Direkteur van Senwes. Hy het daarom baie van die verantwoordelikhede van die boerdery aan Andries oorgelaat en Andries voel dat dit hom ook baie vinniger meer selfstandig gemaak het.

Andries glo dat landbou in die platteland ekonomiese ontwikkeling teweeg bring en dat jongboere soos hy die geleentheid het om met nuwe denke hierdie ontwikkeling verder te vat. Hy is nederig oor sy toekenning as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar, maar hy sien dit ook as ‘n mylpaal. “Dit wys jou darem jy is op die regte pad…,” is sy kommentaar.

In hierdie artikel:

  1. Valentia
  2. Ken jou plaas en benut jou hulpbronne
  3. Neem self beheer
  4. Wees doelgerig en beplan
  5. Die moeilike tyd wat voorlê
  6. Drome
  7. Foto's

Valentia

Die 30-jarige Andries en sy vrou, Marizé, het twee jaar gelede na die Bothaville-distrik verhuis en op die plaas Valentia tussen Bothaville en Hoopstad begin boer. Marizé sê sy en hul twee dogtertjies, Rize-Mari en Alida en die hondjie Vlooi is baie gelukkig op Valentia. “Hier is wonderlike mense in die omgewing en ons het regtig lekker by die gemeenskap ingeskakel,” vertel sy.

‘Die Valentia-boerdery is in vier bedryfsvertakkings verdeel waarvan 75% graanverbouing is wat uit mielies en koring bestaan, 18% Drakensberger kudde en 7% Limousine stoet.

Marizé behartig die administrasie van die boerdery en doen die boeke met die Winfin program. Hulle bestuur die finansies weekliks en voel dat dit belangrik is om dit self te kan doen omdat en sodat jy presies weet wat aangaan. Dit is dan prioriteit om elke ses maande ook ‘n volledige begroting saam met die bankbestuurder op te stel. Ten spyte van die skommelings in die graanpryse het Valentia se omset gestyg.

Ken jou plaas en benut jou hulpbronne

Andries definieer sukses in boerdery as die handhawing van optimale en winsgewende produksie oor die lang termyn. Dit is ook sy visie vir sy eie boerdery. Hy wil onder meer met vogbestuur, presisieboerdery en Safex ‘n volhoubare en winsgewende graanproduksie bewerkstellig. Om dit in die lang termyn te bereik, beteken dit op die kort termyn dat die opbrengs van sy produk moet verbeter. Hiervoor gebruik hy die hulpmiddele tot sy beskikking. 

Andries het na ‘n deeglike paar tegniese gesprekke met Senwes se Presisieboerdery- en Akkerbouafdelings, sy eerste stap na presisieboerdery met ‘n opbrengsmonitor geneem. Op die uitslae van die monitor het hy redelike variasie in sy grond gesien en besluit om die grond te laat karteer. Hy het die opbrengsmonitordata en die grondfisiese eienskappe met mekaar vergelyk en kon hy selfs verskillende scenario’s antisipeer om in alle gevalle sy grond optimaal te kan benut. Hy sorg vir goeie vogbewaring en sy grond word op ‘n 200 meter ruitpatroon gekarteer. Hy doen ook regstellings aan die grond deur kalk, fosfaat en kalium byvoegings te maak. Andries is van mening dat ‘n mens tot ‘n 15% opbrengsverhoging met presisieboerdery-hulpmiddels kan bewerkstellig. Die uitgawes van presisieboerdery sien hy as ‘n bate-uitgawe en hy herinner dat die kostes daaraan verbonde egter gelykstaande is aan net een derde van jou kunsmisrekening. 

Die werklike waarde lê vir Andries egter in die feit dat hy sy plaas en grond al hoe beter leer ken en hy leer hoe om dit optimaal te kan benut. Om hierdie rede doen hy ook baie navorsing op sy plaas. Daar word gereeld proewe gedoen tussen verskillende kultivars, onkruiddoders en bemestingspyle. Dit word gemonitor en kontroles word uitgestroop met ‘n oesmonitor om opbrengsverskille noukeurig vas te stel. Wanneer strooptyd aanbreek, stroop Andries ook graag self, want dan kan hy eerstehands sien waar foute lê en waar hy kan verbeter.

Hulpbronbewaring is vir Andries ook baie belangrik. Hy konsentreer sterk op wisselbou- en wisselweidingspraktyke. Veesuipings word op spesifieke plekke geplaas om erosie te verhoed. “Ek rip op die ry om verdigtingslae te breek en te verhoed dat erosie in sandgrond voorkom,” verduidelik Andries.  

Neem self beheer

Andries neem verder beheer oor sy boerdery deur nie alle besluite aan ‘n graanmakelaar oor te laat nie. Hy het ‘n makelaarseksamen afgelê en hou self ook die marktendense dop. Wanneer hy produksiebesluite neem, neem hy die verwagte prys, insetkoste, moontlike risiko’s, gewaskennis en uitbreidingsmoontlikhede in ag. Hy gebruik die internet en media vir markinligting en vir werklike bemarking gebruik hy Senwes, vooruitkontrakte en Safex vir verskansing. Hy verskans ‘n derde voor en tydens planttyd, ‘n derde tydens die midsomergedeelte en ‘n derde tydens strooptyd. By die veekomponent in sy boerdery kyk hy na veilingsverslae en weeklikse abattoirsverslae om op hoogte van marktendense te bly. Sy beeste word nie verkoop voordat hulle nie markgereed is om direk na die slagpale of eindverbruiker te gaan nie. Hy voeg só waarde tot produksie op die plaas toe.

Wees doelgerig en beplan

Verder bestuur die Else hul plaas met doelgerigte doeltreffendheid. Die loopkoste en werkkrag van hul voertuie, implemente en toerusting word noukeurig dopgehou. Andries kyk na die wisselkoers en wanneer ‘n goeie transaksie hom voordoen probeer hy om sy trekkers ná elke 4 000 uur te vervang. Hy probeer ook sover moontlik om sy werktuie te vervang sodra die drie jaar waarborgtermyn verstryk het.

Valentia het ‘n klein, maar hardwerkende arbeidsmag. Goeie menseverhoudinge met sy werkers is vir Andries belangrik en hulle boer almal sáám. Hy heg groot waarde aan die opleiding van arbeiders in boerderye. “John Deere het byvoorbeeld ‘n diens waar hulle arbeiders oplei om die nuutste tegnologie op die werktuie te verstaan. Dit bemagtig hulle om die optimale waarde uit die werktuie te kry,” vertel hy. Hy ervaar self ook dat wanneer die werkers meer kennis oor die vee het, daar minder veevrektes voorkom want probleme word gouer geïdentifiseer.

Die moeilike tyd wat voorlê

Dit is vir Andries belangrik om gedurende die volgende twee jaar, met die krisis in die graanbedryf, positief te bly. Hy haal Johan Dique (Besturende Direkteur van Senwes) se woorde aan en stel dat alhoewel landbou vol pyne is, daar nou ook baie geleenthede geskep word.

“Die boere moet saamstaan en alles in hulle vermoë doen om nie langer by hierdie lae mielieprys te vertoef nie,” stem Andries saam met Johan Dique. “Hierdie tyd gaan ook verbygaan, ons moet oordeelkundig werk en positief bly.”

Andries wil die tyd wat voorlê gebruik om sy mielielande skoon te hou en vog te versamel. Hy beplan om ‘n minimum mielie-aanplantingstrategie volgende jaar te volg en wil bietjie meer aandag en tyd aan die veekomponent van sy boerdery bestee. Hy het ook sy koringaanplantings uitgebrei om sy boerdery se kontanvloei vir die komende tydperk te verlig.

Drome

Andries wil hê sy boerdery moet in die lang termyn ‘n winsgewende produksie lewer. Hy wil ook sy oorhoofse koste per hektaar beperk en die opbrengste en inkomste per hektaar opstoot. Sy droom is om vir so lank as moontlik te kan boer.

Foto's

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

 

Andries het ‘n Limousine kudde en is veral trots op dié bul, “66”.

 

Andries Els is lief vir sy grond en hy ken sy plaas. Koringaanplantings vorm 20% van Andries se boerdery – hierdie koring is in Mei geplant.

 

Die jong Els-gesin op Valentia. Van links is klein Alida, Andries en Rize-Mari sit op mamma Marizé se skoot.