Benut oesreste tot die vee se voordeel
2005-07-01

Met die stroopproses goed op dreef is daar nou heelwat ruvoer vir die vee op die gestroopte lande beskikbaar. Johan Mouton van Senwes Landboudienste bespreek die waarde van oesresbenutting en gee raad teen moontlike gevare vir die vee.

Oesreste vul ‘n wesenlike gaping in die meeste gemengde boerderye se voervloei. Hoewel dit ‘n goeie ruvoerbron is, het dit eiesoortige bestuursuitdagings.

In hierdie artikel:

  1. Hoeveel kos is daar?
  2. Wat is die gevare?
  3. Opsommend
  4. Navrae
  5. Verwysings
  6. Foto's

Hoeveel kos is daar?

Die oesreste word uit die graan sowel as stoppelfraksie opgemaak. Hierdie verhouding bepaal die kwaliteit van die reste. Van die vernaamste faktore wat die opbrengs en kwaliteit van oesreste beïnvloed is die tipe stroper, kultivar en verwering. Aan die stroper en kultivar kan ons nie veel doen nie, maar die beste diereprestasie word verkry deur so vinnig moontlik ná die stroopproses die land te laat bewei. Vir die saaiboere wat nie laat bewei nie geld dieselfde beginsel wanneer dit gaan om die organiese materiaal in die grond terug te plaas. Esterhuyse (1990) vind dat die grootste komponent van die blaarfraksie wat diere benut in elk geval binne vier weke verlore gaan as gevolg van windverwering wat op onbenutte lande plaasvind. Vir organiese materiaalbewaring moet lande dus so vinnig moontlik na stroping gesny word.

‘n Duimreël wat goed werk is dat daar vir die vee ‘n halfton benutbare materiaal is vir elke ton graan gestroop. ‘n Bees benut twaalf kilogram per dag en ‘n skaap twee kilogram, wat verder ‘n eenvoudige berekening is om te doen. Hou in gedagte dat die weiding se kwaliteit drasties verlaag ná die eerste vier weke van beweiding wat vanself spreek dat aanwending met produksiegroepe moet geskied. Room die weiding af met hoë produseerders voor en droë diere agter.

Maak seker jou stroper is goed ingestel. Daar is nadat koppe opgetel is gevind dat die pitfraksie wissel tussen 100 kg en 500 kg afhangende van stropertipe en instelling. Dit beteken dat daar vyf keer meer kos vir die vee met een stroper as met ‘n ander is, of ‘n verlies van R200/hektaar teen ‘n mielieprys van R400/ton! 

Wat is die gevare?

Siektetoestande wat tydens oesresbenutting kan voorkom is pasteurella omdat die diere onder stres gaan met koue nagte en ‘n hoë koolhidraatdieet. Tweedens kan bloednier voorkom, waarvoor net soos vir pasteurella geënt kan word. ‘n Ander stresverwante toestand wat kan voorkom by veral lammers is koksidiose wat wel behandelbaar is. Moet ook nie verras wees as lammerooie wat op oesreste aangepas word, haarwurm kry nie.

Die grootste probleem wat sekerlik voorkom met oesresbenutting is asidose, oftewel suurpens. Die oorsaak is die skielike hoë graandieet wat die rumen pH vinnig laat daal, met ‘n dooie skaap as die eindresultaat. Die behandeling is dieselfde soos in die vorige Senwester oor weimielies bespreek. Hier is weer die hoofpunte vir voorkoming:

Mielies het ‘n ongunstige kalium/fosfor verhouding vir ‘n herkouer se behoefte. Dit word gewoonlik waargeneem by koeie wat gedurende die laat winter op die oesreste begin kalf en melkkoors ontwikkel. Die voorkoming van die toestand is om die verhouding in die dier se dieet reg te stel. Voerkalk is ‘n uitstekende kaliumbron hiervoor. Die lekke soos getoon in Tabel 1 maak reeds voorsiening vir die probleem.

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Tabel 1: Leksamestellings vir die voorkoming van asidose.

Opsommend

Om oesresbenutting te vergemaklik, moet die volgende in gedagte gehou word:

Navrae

Vir enige navrae oor oesresbenutting of die bostaande skakel gerus vir Johan Mouton by (056) 212-2291 of 083 278 7746.

Verwysings 

Esterhuyse CD, M.Sc. (Agric) U.P., 1990. Die Voedingspotensiaal van somergraanoesreste vir wolskape op die Oos-Transvaalse Hoëveld. Esterhuyse CD, 1996. Vorderingsverslag, Nooitgedacht L.O.S., In Vitro bepaling van geskikte buffers vir die voorkoming van asidose. Moore A & Muller M, 1995. Persoonlike mededeling: reaksie van lammers op verskillende proteïenbronne tydens oesresbenutting.

Foto's

Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.

Vir elke ton mielies gestroop, is daar minstens ‘n halfton benutbare materiaal vir die vee.