In hierdie artikel:
Met die lae graanpryse tans is een van die alternatiewe
bemarkingskanale die benutting van weimielies.
Dit gaan ongelukkig nie die antwoord tot die mielieoorskot wees nie
aangesien meer as 30 miljoen lammers benodig word om die oorskot weg te
vreet, meer as die land se totale kleinveestapel! Weimielies kan wel ‘n baie
groot rol speel in die voervloeibehoeftes van kleinveeproduksiestelsels.
Hou in gedagte dat weimielies ‘n duur aangeplante weiding is en dat die
beginsels van aangeplante weiding geld, naamlik dat die produk wat hier
geproduseer word direk geld moet inbring. Aanwending van die gewas is soos
volg:
Waar dit nie aangewend moet word nie:
Dit is duidelik dat weimielies direk met groenvoer kompeteer vir
‘n plek in die voervloeiprogram. Groenvoer lewer in sommige jare
uitstekende resultate en in ander jare weer geen resultate nie.
Groenvoer
Die rede is dat die produksie van groenvoer staatmaak op winterreën
wat nie betroubaar in die Senwes-gebied is nie. Daarteenoor word
mielies geproduseer gedurende die somer wanneer reënval meer
betroubaar is. Weimielies het
‘n raklewe wat geen ander gewas het nie. Die voedingswaarde en
weikapasiteit daarvan is in Meimaand en September dieselfde.
Die bekende syfer van ‘n 1 000 kleinveeweidae vir elke ton graan
geproduseer maak dat jy teen Meimaand weet hoeveel skape jy vir hoe
lank kan laat wei. Die keuse wanneer jy dit gaan benut, is joune.
Plant dit in kombinasie
Wat daarvan om mielies in kombinasie met groenvoer (hawer, rog en
radyse) te plant? Uit ‘n voedingsoogpunt is daar mos ‘n proteïen
sowel as energiekomponent. Die vee verstaan nie die teorie nie
aangesien drakrag verlaag en geen verbetering in diereprestasie
plaasvind nie.
‘n Verskeidenheid navorsing is in dié verband gedoen en die beste
kombinasie met mielies, is mielies. Wit- of geelmielies gee beide
goeie resultate. Indien wit mielies oorweeg word, kan diere met
vitamien A behandel word. Die praktyk wat gevolg sou word vir die
verbouing van kontantgewasmielies vir jou gebied sal ook die beste
resultate vir weimielies lewer. Indien groenvoergewasse oorweeg
word, is dit beter om dit in monokultuur te produseer en
dienooreenkomstig te bestuur.
‘n Hoë bestuursgewas
In die vorige uitgawe van Senwester is getoon dat mielies wel teen
‘n beter prys verkoop kan word indien dit as weimielies deur
speenlammers benut word. Hetsy vir die afrond van lammers of as
oorbruggingsvoer vir lammerooie bly dit ‘n hoë bestuursgewas.
Enting
Dit is noodsaaklik om diere teen bloednier sowel as pasteurella te
ent aangesien die nagte koud is en hierdie stresverwante siektes is.
Dosering
Maak seker diere is skoon van haarwurm en melklintwurm. Wees altyd
op die uitkyk vir koksidiose aangesien hierdie stresverwante
toestand maklik, veral gedurende die aanpassingsfase, kan voorkom.
Asidose (Suurpens)
Aanpassing en observasie is hier noodsaaklik. Begin diere met 150 g
mielies/dag en verhoog oor ‘n ses dae periode tot 400 g terwyl diere
nog op die veld is. Jaag die diere nou in die mielies in terwyl die
aanvulling volgehou word. Na ‘n paar dae sal jy merk die diere vreet
nie meer die aanvullingmielies nie waarna die aanvulling eers
gestaak kan word. Alternatiewelik kan die diere elke dag uitgejaag
word en geleidelik oor ‘n tien dae periode elke dag langer in die
mielies gelaat word totdat hulle aangepas is. Dit is dan nog steeds
goeie praktyk om aanvullingmielies ook uit te strooi.
Vanselfsprekend moet ‘n lek wat asidose voorkom saam gegee word.
Kommersieel is daar uitstekende lekke beskikbaar, maar selfmenglekke
werk ook goed. ‘n Selfmenglek moet so geformuleer word dat diere 10
g koeksoda inname per dag realiseer. En nee, moet dit nie in die
water gooi nie. Dit kan vir ‘n ondervinding sorg wat jy nie nodig
het nie.
Jy gaan wel diere waarneem met asidose, gekenmerk met ‘n opgeblaasde
rumen en wat styf loop. Doseer met twee eetlepels koeksoda wat in
200 ml water opgelos is. Behandel daarna ook voorkomend vir
pasteurella. Hou in gedagte dat voerkalk slegs ‘n kalsium bron is en
nie ‘n buffer is teen asidose nie.
Weimielies het dus ‘n plek in ‘n voervloeiprogram, maar moet as ‘n
hoë koste, hoë bestuursinset gewas gesien word met konstante
diereprestasie. Hoewel dit ‘n goeie wyse van bemarking in ‘n
veevertakking is, is dit nie ‘n alternatiewe bemarkingskanaal vir
mielies nie.
Navrae
Johan Mouton by (056) 212-2291.
[email protected]
Erkenning
Inligting in die artikel is verkry uit omvangryke navorsing deur
Nooitgedacht L.O.S. en Athole proefplaas wat gedurende die
negentigerjare gedoen is.