In hierdie artikel:
Huidige graanpryse (begin van Maart) laat produsente in
‘n werklik benarde situasie. Vanselfsprekend word na alternatiewe gekyk om
die swak graanprys teen te werk.
Die gebruik van vee is een van die alternatiewe wat oorweeg word. Kom ons
kyk na van die alternatiewe en hoe dit in jou boerdery kan inpas.
1.
Wat daarvan as ek kuilvoer sny en dit net so terugvoer
vir my vee?
Kuilvoer word uit ‘n voedingsoogpunt beskou as ‘n ruvoer. Groot variasie kom
voor in die ontledingstatistiek van kuilvoer. Dit kan te wagte wees
aangesien daar ‘n reeks faktore is wat die kwaliteit bepaal, veral tydens
die inkuil-proses.
Tabel 1 toon ‘n tipiese
mieliekuilvoerontleding vir die Senwes-gebied. Dit is duidelik dat daar
voedingstekorte voorkom indien dit vergelyk word met die behoefte van ‘n
afrondingsrantsoen. ‘n Verwagte droë materiaalopbrengs van 4 ton/ha – 5
ton/ha is realisties, wat ‘n droë materiaalkoste van meer as R400/ton
beteken.
Die verwagte groei wat verkry kan word vanaf skoon kuilvoer sal hoogstens
die koste daarvan dek en geen addisionele waarde tot die mielie-oes toevoeg
nie.
In afrondingsnavorsing wat met verskeie kuilvoerbronne gedoen is, het O’
Sullivan (2002) gevind dat diere wat ‘n skoon mieliekuilvoerdieet ontvang
het se vleiskwaliteit die swakste is.
Voorstelle vir kuilvoergebruike
Indien jy ‘n melkery het, bly dit die beste ruvoerbron. Aangesien kuilvoer
‘n raklewe van etlike jare het, kan jy ook vir die volgende seisoen kuilvoer
produseer.
Vir vleisbeeskuddes kan dit as oorwinteringsvoer in kritieke tye (September)
benut word, maar aangesien dit duur is, moet die tydperk so kort moontlik
gehou word.
Kuil in vir ‘n noodvoerbank wat gehou word vir krisisdroogtetye. (1 ha
kuilvoer gee tien tot twaalf koeie kos vir een maand).
Gebruik ruvoer, tesame met kuilvoer, om diere af te rond. ‘n Wesenlike
graankomponent word steeds benodig. Maak dus ‘n gedeelte kuilvoer en stroop
die res van die graan. Die opsies met die graan vir direkte verkope of deur
die vee bly oop, waar die kuilvoer slegs vir vee gebruik kan word.
2.
Kan ek met die graan in ‘n voerkraal waarde toevoeg?
Mielies is die hoofkomponent in ‘n afrondingsrantsoen. Konstante
ontledingswaardes van mielies maak die voorspelling van diereprestasie baie
meer akkuraat as vir kuilvoer.
Tabel 2 toon dat ‘n graanprys van meer as R1 000/ton gerealiseer kan word
deur speenkalwers teen huidige vleispryse in ‘n tradisionele
voerkraalsituasie af te rond. Geen vleisprysmarge is toegelaat in die
berekening nie.
Die effek van 1,5 kg massatoename per dag teen ‘n 1,5% voerkraalmortaliteit
is gebruik om die mielieprys te bepaal. Indien bemarking van die mielies
deur middel van speenkalwers oorweeg word, moet ‘n paar punte in gedagte
gehou word.
3.
Kan ek weimielies met skape benut om my graan te bemark?
Hierdie is ‘n praktyk waar speenlammers ongestroopte mielies as
weidingsgewas benut. Die lammers dien as stropers. Hy het mos sy eie vervoer
en ‘n meule in sy bek.
Tabel 3 toon dat mieliebemarking deur lammers R1 170/ton vir die graan kan
realiseer. Weer eens is geen prysmarge toegelaat nie, met ‘n 3% mortaliteit.
Geen wolinkomste is in berekening gebring nie, maar dit kan ‘n addisionele
R20 plus per lam realiseer afhangend van die aankoopooreenkoms.
Die benutting van weimielies deur lammers is ‘n hoë bestuursinsetgedrewe
praktyk. Moet dit nie oorweeg as die onderneming se bestuurstyd dit nie gaan
toelaat nie. Uit Tabel 3 moet ons die volgende in gedagte hou:
Dit is duidelik dat vee tans aangewend kan word om ‘n beter mielieprys te
realiseer. Die maak en benutting van kuilvoer op sy eie realiseer nie ‘n
beter mielieprys nie, maar kan aangewend word in melkerye en om as
strategiese voerbank te dien vir die toekoms. ‘n Nadeel van kuilvoer is dat
dit net deur vee bemark kan word en dit sluit die deur vir graanbemarking,
sou pryse verbeter.
Afronding kan gunstig t.o.v. skaap of bees oorweeg word mits die hulpbronne
teenwoordig is om die praktyk optimaal te bestuur. Weimielies is ‘n
aanloklike opsie aangesien stroopkoste gespaar word, maar meer kapitaal word
benodig as met speenkalwers.
Indien die praktyk oorweeg word, beveel Landboudienste aan dat jy slegs
strategies kuilvoer sny. Stroop eerder die graan en hou die bemarkingsopsie
na beide afronding of kontantverkope oop. Benut weimielies op klein skaal
binne jou bestuursvermoë.
Parameter | Kuilvoer | Afrondingsrantsoen |
Proteïen % | 7 - 7,5 | 12 - 13 |
Totale verteerbare voedingstof % | 55 - 60 | > 72 |
Tabel 2: Bemarking van mielies deur afronding
Aannames | |||
Aantal | 100 | Uitgawes | Rand |
Beginmassa (kg) | 225 | Kapitaal benodig, kalfaankope | 180 000 |
Eindmassa (kg) | 400 | Voer + ander | 38 038 |
Staantyd (dae) | 120 | Rente | 8 602 |
Uitslag % | 55 | Groottotaal | 226 640 |
Aankoop hoefprys (rand/kg) | 8 | ||
Diverse/kop (rand) | 50 | ||
Verkoop karkasprys (rand/kg) | 14,50 | Totale mielieverbruik (ton) | 85 |
Rentekoers | 12% | ||
Mielieprys gerealiseer (rand/ton) | 1 055 | ||
Rantsoen | |||
Bestanddeel | Hoeveelheid (kg) | ||
Mielies | 800 | ||
Hooi | 100 | ||
Konsentraat | 200 |
Tabel 3: Gerealiseerde mielieprys deur middel van
weimielies
Aannames | |
Oppervlak (ha) | 30 |
Graanopbrengs (ton/ha) | 3 |
Beginmassa (kg) | 26 |
Eindmassa (kg) | 42 |
Hoefprys aankoop (rand/kg) | R10,80 |
Karkasprys verkoop (rand/kg) | R24 |
GDT (gram/dag) | 180 |
Uitslag % | 45 |
Diverse (rand/lam) | 30 |
Aantal lammers | 1 013 |
Dae benodig | 89 |
Kapitaal benodig vir lamaankope | R280 800 |
Diverse | R30 000 |
Lekkoste | R19 800 |
Rente | R7 450 |
Totaal | R338 055 |
Totale mielieverbruik (ton) | 90 |
Mielieprys gerealiseer rand/ton | R 1 170 |
Foto's
Kliek op die foto om ‘n hoër resolusie weergawe te sien.
Navrae
Johan Mouton (Vee- en weidingkundige) by (056) 212-2291 of 083 278 7746.
Verwysings
O’ Sullivan A, O’ Sullivan K, Galvin K, 2002.
Grass silage versus maize silage effects on retail packaged beef quality. J Anim Sci. 2002 Jun; 80(6): 1 556 –1 563
Van der Merwe B, 2005. Persoonlike mededeling – Senwesko Voere.
Voerkraalhandleiding, Junie 2000, LNR Dierevoeding en Diereprodukte
Instituut.