Omskakeling van mielies na aangeplante weiding
- die moeite werd?
2004-05-01 - Pietman Botha
Moet ek my mielievertakking met aangeplante weiding vervang of nie? ‘n Vraag waarmee heelwat produsente worstel. Pietman Botha en Johan Mouton van Landboudienste stel ‘n
metode voor oor hoe om na die saak te kyk en hoe om jou eie berekeninge te maak.
Alvorens daar ‘n groot verandering aan die boerdery se bedryfstaksamestelling aangebring word, moet die saak eers behoorlik ondersoek en die finansiële impak daarvan bereken word. Dieselfde
geld vir die omskakeling van mielies na aangeplante weiding. Die praktiese uitvoerbaarheid en die ekonomiese aspekte word in die artikel aangespreek.
Praktiese uitvoerbaarheid
In die uitvoerbaarheidsontleding sal die boer alle inligting rondom die produksie en aanwendingsproses moet insamel en dit behels onder andere die volgende:
- Die opstel van ‘n voer- asook ‘n veevloeibeplanning.
- ‘n Kosteberekening van alle aksies soos:
- Bereken die vestigings- en onderhoudskoste van die aangeplante weiding deur bedryfstakbegrotings op te stel.
- Bereken die veekoste deur ‘n veebedryfstakbegroting op te stel.
- Die som van die twee begrotings gee die totale stelselkoste.
- Kyk na die bemarking van die vee en voer.
- Ondersoek vraag en aanbod.
- Bestudeer prystendense en wisseling in pryse.
In die veevloei en voervloei kom die produksie van voer en vleis bymekaar. Die vee- en voervloei moet “getrou” word om winsgewendheid te verhoog.
Die ekonomiese ontleding
In die ekonomiese ontleding word die winsgewendheid van die bestaande en beoogde stelsels ontleed deur gebruik te maak van ‘n gedeeltelike begroting. ‘n Gedeeltelike begroting meet die invloed
wat ‘n beoogde verandering in ‘n gedeelte van die boerdery op winsgewendheid sal hê.
In ‘n gedeeltelike begroting word daar net na relevante koste gekyk. Dit beteken dat daar net na verandering in koste/uitgawes en inkomste gekyk word as ‘n gevolg van die beoogde verandering.
By die opstel van ‘n gedeeltelike begroting is daar basies vier stappe wat gevolg word, naamlik:
- Stap 1: Bepaal die bedrag van bykomende koste as gevolg van die verandering.
- Stap 2: Bepaal die bedrag van bykomende inkomste as gevolg van die verandering.
- Stap 3: Bepaal die bedrag van inkomste verbeur as gevolg van die verandering.
- Stap 4: Bepaal die bedrag van koste wat bespaar word as gevolg van die verandering.
Die verwagte verandering in netto inkomste as gevolg van die beoogde verandering word verkry deur die verskil van die bestaande praktyk (a - b) af te trek van die alternatief (c - d). Die
verwagte verandering in netto inkomste = (c - d) - (a - b).
- Indien die verskil positief is (>0), is die verandering wenslik, dit wil sê die netto inkomste verhoog.
- Indien die verskil negatief is (<0), is die verandering ongewens, dit wil sê die netto inkomste verlaag.
Voorbeeld hoe om die metodiek toe te pas
Die voorbeeld word gebruik om die metodiek te illustreer en die volgende aannames is gebruik:
- Die aangeplante weiding is oulandsgras wat bemes word.
- Die aangeplante weiding word deur jong groeiende beeste bewei en 1 ton swak hooi word aan die einde van die jaar gemaak.
- Hooi word teen R500/ton verkoop.
- Die weiding word belaai teen twee tollies per hektaar.
- Die beeste GDT van die tollies is, oor ‘n tydperk vir 150 dae, 900 gram op die weiding.
- Beeste word teen R7,50/kg gekoop en teen R7/kg verkoop.
- Die totale direkte koste vir die bemesting, sny, hark en baal van aangeplante weiding is R600/ha.
- Die totale direkte koste per tollie is R26.
- Die totale koste vir mielies is R1 800/ha.
- Die opbrengs is 3 ton/ha en die prys is R1 000/ton.
- Daar word aanvaar dat die arbeidsbehoefte en ander vaste koste konstant sal bly.
- Dit word aanvaar dat die boer eie fondse gebruik.
- Die effek van risiko is buite rekening gelaat.
Interpretasie
Tabel 2 gee ‘n opsomming van die aannames soos gebruik en die finansiële effek daarvan. Uit die tabel is dit duidelik dat die alternatief in ‘n geringe mate swakker presteer as die bestaande
praktyk. Volgens dié voorbeeld sal die produsent R224/ha prysgee as die alternatief geïmplementeer word.
Ten slotte moet jy in gedagte hou dat daar ook ander nie-kwantifiseerbare faktore is wat jy in aanmerking moet neem alvorens jy ‘n finale besluit neem soos jou voorliefde vir ‘n bepaalde
vertakking en vaardigheid, bemarkbaarheid, risiko en talle meer. Doen gerus jou eie berekeninge. Dit kan jou ‘n paar rand spaar.
Tabel 1: ‘n Uiteensetting van ‘n gedeeltelike begroting.
Bestaande praktyk |
Alternatief |
1. Verminderde inkomste: a
2. Verminderde koste: b |
1. Bykomende inkomste: c
2. Bykomende koste: d |
Verskil (1-2): a-b |
Verskil (1-2): c-d |
Tabel 2: ‘n Voorbeeld vir die besluit om mielies met aangeplante weiding te vervang in rand/ha uitgedruk.
Bestaande praktyk
(mielies) |
Alternatief
(aangeplante weiding met beeste) |
1. Verminderde inkomste
3 ton teen R1 000: R3 000
2. Verminderde koste
Direkte mieliekoste: R1 800 |
1. Bykomende inkomste
Bruto inkomste (twee osse verkoop minus twee osse aankoop minus moraliteite): R2 042
Hooi inkomste: R500
2. Bykomende koste
Weidingkoste: R600
Direkte koste per twee tollies: R516
Totale koste: R1 116 |
Verskil (1-2): R1 200 |
Verskil (1-2): R976 |

‘n Uitvoerbaarheidsontleding sal die produsent help om te besluit of die omskakeling van mielies na aangeplante weiding die moeite werd is.