Skakel só suksesvol om na ‘n veevertakking
2004-03-01 - Johan Mouton
Droogtetoestande laat al meer graanprodusente oorweeg om hul saaiery na ‘n veevertakking om te skakel. Johan Mouton en Pietman Botha van Landboudienste het na die
belangrikste faktore gaan kyk waarop ‘n produsent moet konsentreer as hy wil oorskakel na ‘n veevertakking.
Die huidige landboutoestande in die graanbedryf veroorsaak dat graanprodusente dringend na grootskaalse veevertakkings wil oorskakel. Die redes vir die oorskakelings sentreer rondom ekonomiese
en risiko-oorwegings en besluite is korttermyn gedrewe en impulsief. Hierdie is ‘n wenresep vir ‘n stadige bankrotskap in ‘n veevertakking.
Ofskoon daar beslis plek vir ‘n veevertakking in ‘n saaiboerdery is, is daar verskeie faktore wat eers in aanmerking geneem moet word voordat ‘n finale besluit geneem kan word. Die
omskakelingsbesluit moet strategies van aard wees. Die produsent moet sy eie sterk- en swakpunte in aanmerking neem en weet hoe om dit te bestuur.
Nuwe uitdagings en probleme
Veeboerdery op aangeplante weiding is ‘n nuwe stelsel met nuwe uitdagings en probleme. Verkeerde persepsies is waarskynlik die grootste oorsaak vir die onsuksesvolle oorskakeling na
veevertakkings. Die beeld van ‘n lae risiko, lae insetbenadering met finansiële stabiliteit word dikwels van ‘n veevertakking geïdealiseer. Dit kan wel so wees, mits die implementering van ‘n
veevertakking beplan en tydig uitgevoer word. Daar word egter nooit gemeld dat die stelsel ook ‘n lae winsgewendheid het nie.
Verkeerde bestuurspraktyke speel ‘n groot rol. Baie produsente maak die fout om te dink dat huidige boerderypraktyke net so toegepas kan word op aangeplante weiding. Aangeplante weiding is
niks anders as ‘n kapitaalintensiewe kontantgewas wat oor ‘n termyn gevestig is nie. Produksie moet jaarliks in kontant omgeskakel word.
Wat die stelsel duur maak, is nie die vestigings- en onderhoudkoste nie, maar die vee om die weiding in geld te omskep. Indien daar op hooi gekonsentreer word, moet addisionele implemente
aangekoop word en die produsent moet besef dat klimaat ‘n belangrike rol speel. Die bemarking van hooi vereis ook nuwe vaardighede en dit kan ‘n wesenlike invloed op kontantvloei hê.
Soortgelyke uitdagings
‘n Veevertakking, soos met kontantgewasse, is ‘n biologiese produksieproses met soortgelyke bestuursuitdagings en risiko-blootstelling.
- Die produsent is afhanklik van reën vir ruvoerproduksie. Dit kan veroorsaak dat ‘n produsent ‘n klomp vee sonder kos op die plaas het. Gelukkig kan die vee relatief maklik in kontant
omgeskakel word. ‘n Swak reënjaar het ‘n langer invloed op finansies as kontantgewasverbouing aangesien kuddegetalle en reproduksie benadeel kan word. Laer getalle gee aanleiding tot ‘n
kuddeboufase na die droogte, wat kontantvloei drasties benadeel.
- Die produk wat geproduseer word, is prysnemend van aard hoewel meer likied. Die likiditeit daarvan skep dikwels probleme omdat diere tydens kontantvloeikrisisse verkoop word. Die
kapitale belegging word omgeskakel in bedryfskapitaal, wat ‘n laer rendement op kapitaal beteken. Die gevaar bestaan dat vee op duur tye aangekoop word en verkoop word as diere normaalweg
relatief volop is.
- Indien weiding optimaal bestuur word, neem dit
12 - 18 maande vandat die weiding gevestig is totdat die eerste betekenisvolle inkomste gegenereer word.
- Vir ‘n saaiboer is van die grootste uitdagings die risikobesluitneming van graanverkope in ‘n later sta-dium teen ‘n potensiële beter prys versus rentefaktore en bergingskoste.
Veebemarking se uitdaging is nog moeiliker. Die produsent moet oorweeg of daar genoeg kos gaan wees vir oorwintering mits in ‘n later stadium teen ‘n beter prys bemark word.
Indien die kos nie genoeg vir oorwintering is nie, word die teelkudde benadeel met gevolglike langtermyn effekte. In die veebedryf is daar ook nie, soos in die graanbedryf,
prysverskansingsmeganismes nie. Die uitdaging word vergroot deurdat die klimaatstoestande en produkpryse omgekeerd gekorreleerd is.
- Veeboerdery is baie meer sensitief vir vreemde kapitaal as saaiboerdery. Die effek van verkeerde skuldlasverhoudings in ‘n veeboerdery neem langer om na vore te kom, maar die uitkoms is
ook meer seker. Gewoonlik is kontantvloei die eerste aanduiding van probleme.
‘n Goeie reënjaar verdubbel nie, soos in die geval met ‘n saaiboerdery, die netto inkomste wat skuldverhou-dings binne een seisoen kan regstel nie. Vreemde kapitaal van meer as 15% in die
veeonderneming verlaag die onderneming se kanse op volhoubare oorlewing drasties.
- Die dra van die vaste koste van ‘n veeboerdery verskil dramaties van dié van ‘n saaiboerdery. Soos die onderneming omgeskakel word van ‘n saai- na ‘n veeboerdery moet die onderneming se
vaste kostestruktuur ook verander. Saaiskuld kan nie deur vee betaal word nie. Die vaste koste van die lande wat omgeskakel word, moet dus ook omgeskakel word. Nadat die lande omgeskakel is,
kan die trekkerpaaiement van daardie lande nie deur die vee gedra word nie.
- Ander bestuursvaardighede word vereis. Die produsent moet weet wanneer om te koop en wanneer om te verkoop, hoe ‘n goeie dier lyk, waar om hulle in die hande te kry en talle meer. ‘n
Goeie trekkerdrywer is nie noodwendig ‘n goeie veewagter nie. Die tipe arbeid tesame met hul voorliefde en vaardighede bied ‘n bestuursuitdaging indien na ‘n veevertakking omgeska-kel wil
word.
- Boerdery is ‘n lewenswyse bo en behalwe dat dit ‘n ekonomiese onderneming is. Die ondernemer het aanvanklik op saaiboerdery besluit omdat dit sy voorliefde is, maar ekonomiese oorwegings
dwing hom om na alternatiewe te kyk. Veeboerdery is ‘n laer inkomste en totaal ander bestuurstylonderneming as saaiboerdery. Dit is belangrik dat die ondernemer, buiten finansiële oorwegings,
‘n voorliefde vir vee moet hê om werklik suksesvol te wees. Ondersoek dalk eers of die huidige bedryf nie deur aanpassings winsgewend bedryf kan word nie.
- Die sleutel tot ‘n suksesvolle veeboerdery is geduld en weldeurdagte langtermyn besluite. Van die moeilikste besluite vir ‘n saaiboer om in ‘n veevertakking te neem, is om niks te doen
nie. Groei saam met die nuwe vertakking en geniet die stabiliteit wat dit, deur deeglike beplanning en geleidelike implementering, in jou boerdey bring.
Om op te som
- Neem ‘n langtermyn strategiese besluit.
- Die vestiging van die regte voervloei en die toepas van die korrekte bestuursvaardighede is onontbeerlik.
- Skuldvlakke moet nie hoog wees nie.
- Aankoop- en bemarkingstrategieë moet in plek wees.
- Die plan moet uitgevoer word soos aanvanklik besluit.
- Die projek moet oor die lang termyn winsgewend wees sonder om die hulpbron te degradeer.
Navrae
Johan Mouton
083 278 7746
[email protected]
Pietman Botha
083 379 8253
[email protected]