Studiegroep-deelname onontbeerlik in die huidige landboumilieu
2003-11-01 -
Thys Grobbelaar
Die landbou-omgewing waarin die produsent moet oorleef en presteer het so
ingewikkeld en soms landbou-onvriendelik geword dat die produsent beswaarlik
die mas kan opkom sonder dat hy kragte met sy medeprodusent saamspan.
Boerdery is al dekades nie meer ‘n bestaansonderneming nie, maar wel ‘n
besigheid wat genoeg wins moet realiseer om volhoubaar te kan wees. Die
produsent moet elke dag etlike besluite neem en is afhanklik van inligting
om effektiewe besluite te neem.
Enige besluit wat die produsent neem, het gewoonlik ‘n finansiële implikasie
- positief of negatief. Dit is algemeen bekend dat verskeie boerderye ten
gronde gegaan het deur té veel verkeerde besluite wat gegrond was op
foutiewe of ongegronde feite.
Die tergende vraag is egter waar en hoe akkurate inligting bekom kan word
vir besluitneming in die boerdery. Die produsent word vandag toegegooi met
inligting wat met die druk van ‘n rekenaarsleutel vanoor die hele wêreld
bekom kan word. Die vraag is verder hoe bruikbaar, nuttig en toepaslik die
inligting is en of dit onder plaaslike omstandighede getoets is.
Die Departement van Landbou was vir jare die waghond wat inligting versamel
het en dit met plaaslike proewe in Suid-Afrika getoets het. Die
landbounavorsingsraad is later gestig, wat die funksie tot ‘n groot mate
oorgeneem het. Produksieknelpunte is nagevors en oplossings, wat dan in die
praktyk toegepas is, is meesal daarvoor gevind. Die voormalige koöperasies,
wat later jare na landboumaatskappye omgeskakel het, het sedert die
sestigerjare landboukundiges aangestel wat onder praktykomstandighede die
beskikbare inligting verder geëvalueer het. Die doel hiervan was om die
produksierisiko’s nog verder in die landbou te verklein.
Waar staan ons vandag met die ondersteuning wat die betrokke instansies aan
die produsent kan lewer? Dit is nie nodig om ver te soek om agter te kom hoe
gemarginaliseer die instansies geraak het nie. Kundigheid vloei uit die
organisasies en die inligting wat gegenereer word, word net al hoe minder.
Selfs die hoeveelheid landboukundiges by koöperasies en landboumaatskappye
het veral gedurende die negentigerjare drasties afgeneem. Sekere
landboumaatskappye het besef wat aan die gebeur is en landboudienste
departemente is weer uitgebou om ‘n beter diens aan sy klante en
aandeelhouers te kan bied.
Wat is die alternatief?
‘n Landboustudiegroep is ‘n alternatief. Dit is ‘n groep persone/produsente
met gemeenskaplike boerderyprobleme wat hul kennis en die praktisering van
hul boerderybedryf wil verbeter. Dit is verder ‘n verrykingsproses vir die
produsent omdat daar ‘n wedersydse soeke tussen hom en die landbou-adviseur/navorser
ontstaan na oplossings vir probleme en knelpunte wat in die alledaagse
boerdery bestaan.
Weens die gespesialiseerdheid en situasiespesifiekheid van elke
boerderyvertakking en boerderygebied het die behoefte aan studiegroepe al
hoe meer toegeneem.Soos die Amerikaanse boere dit stel: Produsente put nuwe
krag uit getalle. Deur kragte as produsente saam te snoer, kan hulle
doeltreffender bemark, koop en hul ondernemings beter bestuur. Die
Amerikaners noem hulle studiegroepe klubs: mielie- of koring- of soms ook
winsklubs. Die klubs het dieselfde oogmerke as die landboustudiegroep in
Suid-Afrika.studiegroepe klubs: mielie- of koring- of soms ook.

Kennisversameling en evaluering in die praktyk, soos dié groep wat ‘n
grondprofiel bestudeer, kan een van die aksies van ‘n studiegroep wees.

Die Slikspruit-studiegroep van Smithfield bespreek die resultate van hul
ooitoets-projek.
Met die proef wil die produsente inligting inwin wat
nie geredelik beskikbaar is nie, maar nogtans noodsaaklik is vir die
oorlewing van winsgewende kleinveeboerdery in dié deel van die land.
Soos ‘n Amerikaanse mielieboer reeds in die sestigerjare oor hulle
nuutgestigte mielieklub uitgewy het: “Mielieverbouingstegnologie in die land
wissel baie en dit verander voortdurend. Ons sal ons geheime moet deel om
doeltreffend te kan produseer.”
Voordele
Enkele voordele van ‘n landboustudiegroep is:
- Die ontginning van vergelykende maatstawwe indien die groep finansiële
syfers met mekaar kan vergelyk om daardeur sy eie effektiwiteit te
evalueer en aanpassings te kan doen.
- Produktiwiteitsverbetering wat bewerkstellig kan word deur die
bymekaar bring van kennis, ondervinding, vaardighede en vermoëns.
- Makliker toegang word tot kundiges verkry as waartoe individue
gewoonlik self in staat is.
- Weens kragteaanvulling kan probleme en oplossings in elke
boerderybedryf makliker geïdentifiseer en opgelos word.
- Die “koring kan makliker van die kaf geskei word” omdat meer persone
betrokke is om nuwe tegnologie te kan evalueer en praktyk-pas te maak.
- Verkryging van groter gemeenskapsbetrokkenheid deur doelgerigte
studiegroepaksies soos boeredae en kompetisies.
- Uitruil van praktiese ondervinding van lede onderling.
- Kreatiewe denke word in die proses gestimuleer.
- Groepdoelwitte kan lei tot beplande aksies om dit tot uitvoer te
bring.
- Persoonlikheidsontwikkeling en ontplooiing van die lede binne die
groep.
Studiegroepe in Suid-Afrika
Die eerste landbougeoriënteerde studiegroepe het in die laat vyftiger- en
sestigerjare in die RSA ontstaan. Die eerste studiegroepe het
boerderybesigheidsbestuur as tema gehad en finansiële rekordhouding was ‘n
vereiste.
Die studiegroep soos ons dit vandag ken, se doelwitte het verander en
kennisinsameling, evaluering en verspreiding as die verpraktisering daarvan
maak ook ‘n groot deel daarvan uit. Dit is algemeen bekend dat daar
studiegroepe in Suid-Afrika is wat reeds vir meer as twintig jaar bestaan en
nog steeds aktief en effektief funksioneer. Hieruit blyk dit dat die
studiegroep vir al die jare hul lede se oorspronklike behoeftes en
verwagtings bevredig het en steeds nuwe behoeftes bevredig.
Bekende studiegroepe soos die Manna-, Broekman-, Petrusburg- en Dewetsdorp
studiegroepe is slegs ‘n paar studiegroepe wat genoem word wat suksesvolle
produsente en bekende landbouleiers as lede het.
Verdere redes wat daartoe aanleiding gegee het dat studiegroepe ‘n al hoe
groter wordende rol moet speel by produsente in Suid-Afrika is onder andere
die volgende:
- Die veranderde landboubediening deur landboukundiges in Suid-Afrika
- Makliker om kundigheid/kundiges te bekom/te betrek
- Tekort aan opgeleide en praktykvaardige landboukundiges
- Die kennisontploffing sedert die sewentigerjare
- Agteruitgang van navorsing en tegnologie-oordraging
- Die koms van die vryemark met gepaardgaande vereistes rakende
bemarkingsvaardighede
- Globalisering met gepaardgaande geleenthede en gevare
- Die voortdurende kosteknyptang in die landbou
Winsklubs in Amerika
Die uitgangspunte en doelwitte van winsklubs (studiegroepe) wat die
Amerikaners algemeen aanwend, is die volgende:
- Boere put nuwe krag uit getalle
- Deur kragte saam te snoer kan ondernemings beter bestuur word
- Idees word uitgeruil
- Nuwe markte te vind
- Samewerking tussen boere te verbeter
- Dinkskrums is nodig in die landbou vir oorlewing en winsgewendheid
- Dit is makliker om optimisties te bly as ‘n mens in ‘n groep werk wat
dieselfde probleme en oogmerke het
Temas wat die afgelope paar jaar deur die winsklubs aangespreek is:
- Die intrek van gordels in die moeilike tye
- Bemarkingstrategieë
- Benutting van bemarkingstegnologie
- ‘n Tweede opinie haal emosie uit bemarking
- Identifisering van kostedoeltreffende praktyke
- Evaluasie van boerderystelsels
- Plaasbesoeke om praktyke te evalueer
- Goeie boedelbeplanning
- Betrekking van die vrou in die onderneming
Die vraag is, indien die Amerikaners wat ‘n hoogs gesubsidieerde landbou
het, dit nodig ag om winsklubs te stig om te kan oorleef en floreer, hoeveel
te meer is dieselfde benadering nie in Suid-Afrika nodig nie?
Faktore wat studiegroep-effektiwiteit kan bevorder
Dit is belangrik dat huidige en voornemende studiegroeplede daarvan kennis
moet dra dat sekere faktore die funksionering van ‘n groep voordelig of
nadelig kan beïnvloed. Sekere studiegroepe is net vir ‘n beperkte tyd aktief
en die volgende faktore is alreeds deur navorsing bewys as deurslaggewend te
wees in die effektiewe funksionering van die groep oor tyd.
- Die vergaderplek (rotasie en geskiktheid)
- Samewerking tussen lede
- Deelname van groeplede aan byeenkomste
- Konstitusie van die groep (konsekwentheid en toepassing van reëls)
- Groepgrootte (nie te klein of te groot)
- Bydraes van die studiegroeplede self aan groepaktiwiteite
- Sosiale verkeer (nie te veel of te min)
- Betrek die breë gemeenskap
- Evaluering van aktiwiteite (doelwitte en vordering)
- Gebruik van toepaslike groepsaktiwiteite
Navrae
Vir verdere inligting rakende studiegroepe en die effektiewe hantering
daarvan, kontak Hendrik Mynhardt by (056) 212-2291.