Dien landboukalk effektief toe
2003-07-01 - Willem Engelbrecht

Tydens Force Majeure-oesskattings wat verlede jaar ná die laat ryp op koring in die Noordwes-Vrystaat gedoen is, is strepe van goed- én swak-ontwikkelde plante op verskeie lande opgemerk.

By verdere ondersoek het dit geblyk dat die swak ontwikkelde plante grondsuurheidprobleme ondervind het. Die afleiding kan gemaak word dat die voorafgaande kalktoedienings in onegalige strepe versprei is.

Die hoofdoel van hierdie artikel is om die produsent te help om die hoeveelheid kalk wat toegedien word te bepaal, sowel as om eweredige verspreiding van kalk te verseker.

Die hoeveelheid kalk wat per hektaar toegedien word, word deur die volgende faktore bepaal:

Vloeitempo na die roterende skyf
Dit word deur die tipe toevoermeganisme (byvoorbeeld vervoerband) asook die fynheid/grofheid en voginhoud van die betrokke kalk, bepaal.

Aantal omwentelinge van die skyf in verhouding tot die loop(werk)spoed
Dit word deur veranderlike faktore soos ratverhoudings en die grootte van die strooier se bande, asook die grootte van die uitlaathek, bepaal.

Tot dusver is daar na die blote instel van die betrokke strooier verwys, terwyl die kalibrasie van die strooiproses ‘n breër begrip is. Die volgende veranderlike faktore moet by die kalibrasie van die strooiproses in aanmerking geneem word:
  • Akkurate massabepaling van die hoeveelheid kalk wat per oppervlakeenheid toegedien word
  • Strooi (toedien) patroon van die betrokke strooier
  • Wydte tussen opeenvolgende ritte
  • Windsterkte

Aangesien hierdie veranderlike faktore nie in die standaard gebruikshandleiding beskryf word nie, word daar bietjie meer hieroor gesê.

Massabepaling
Die hoeveelheid kalk wat per oppervlakeenheid toegedien word, moet op verskeie voorafbepaalde punte op die land opgevang en geweeg word. Om koste te spaar, kan daar gebruik gemaak word van die vlak kartondose waarin 24 koeldrank-/bierblikkies verpak word.

Die nate van die kartondose moet met kleefband dig gemaak word en die leë massa van elke karton moet vooraf bepaal word. Verder moet die kartonne numeries genommer word en die posisie/ligging daarvan moet ook aangeteken word.

Terselfdertyd moet die gemiddelde oppervlak van die betrokke kartonne ook bepaal word, ten einde dit met die oppervlak van ‘n hektaar (10 000 m2) in verband te kan bring. Nadat die massa van die “opgevangde kalk” bepaal is, kan die hoeveelheid kalk wat werklik toegedien is, in ton per hektaar, bereken word.

In die praktyk is daar gevind dat die meeste strooiers 1,5 ton/ha - 2,5 ton/ha kan toedien. Daar word dus gewoonlik nie probleme ondervind om die korrekte hoeveelheid toe te dien nie, maar dit is nie so ‘n eenvoudige proses om ‘n eweredige verspreiding te verkry nie.

Die eweredige verspreiding/toediening van kalk word vervolgens beskryf.

Strooipatroon van die betrokke kalkstrooier
Die verskillende vervaardigers van kalkstrooiers is geregtig om van verskillende uitstrooimeganismes gebruik te maak en gevolglik behoort die grootste variasie in strooipatrone tussen die verskillende fabrikate voor te kom terwyl kleiner verskille tussen strooiers van dieselfde fabrikaat te wagte kan wees.

Aangesien die verskillende vervaardigers nie in ‘n verdere/praktiese vergelyking tussen die verskillende strooipatrone geïnteresseerd is nie, word hierdie inligting gewoonlik nie in ‘n standaard kalibrasiehandleiding weergegee nie.

Gevolglik moet die strooipatroon van ‘n kalkstrooier eenmalig deur die produsent bepaal word. Andersins kan die inligting moontlik vanaf die Instituut van Landbou-ingenieurs in Pretoria (Silverton) verkry word. Die drie mees algemene strooipatrone word in Figuur 1 aangetoon om verdere beskrywing/bespreking te vergemaklik.


Figuur 1:
Mees algemene strooipatrone wat tussen kalkstrooiers voorkom.

Teoreties behoort die verskillende strooipatrone simmetries te wees, soos in Figuur 1 aangetoon. In die praktyk is egter gevind dat baie strooiers na links of regs, skeef strooi. Sodoende word eweredige toediening bemoeilik.

Die platkruinpatroon wat vinnig afneem na die sykante (Figuur 1A) is die ideaal, want dit vereis die minste ritte. Gevolglik kan ‘n eweredige verspreiding met hierdie patroon teen ‘n spesifieke ritwydte verkry word deur bloot heen-en-weer te ry.

Daarteenoor vereis die platkruinpatroon, wat stadig afneem na die sykante (Figuur 1B), meer ritte as gevolg van groter oorvleueling om eweredige verspreiding te verkry terwyl die driehoekige strooipatroon (Figuur 1C) die meeste ritte vir eweredige verspreiding vereis.

In gevalle waar ‘n strooier na links of regs skeef strooi, kan ‘n eweredige verspreiding nie met gewone heen-en-weer-ritte verkry word nie. ‘n Eweredige toediening kan wel verkry word deur om-en-om te ry/strooi, sodat heen-en-weer-ritte onderskeidelik langs mekaar ingepas word. Hierdie patroon/ metodiek word skematies in Figuur 2 voorgestel.

Wydte tussen opeenvolgende ritte
Die afstand tussen opeenvolgende ritte word hoofsaaklik deur die strooipatroon van die betrokke implement bepaal. ‘n Ritwydte van 6 m is gewoonlik ‘n goeie beginpunt vir die kalibrasieproses. Indien ‘n eweredige verspreiding nie met sodanige ritwydte verkry word nie moet wyer of nouer ritwydtes probeer word.

Windsterkte
‘n Sterk wind kan die fyn fraksie van kalk wat baie karbonare bevat, wegwaai. Probeer dus om kalk te strooi wanneer die waarskynlikeid van wind die kleinste is - gewoonlik vroeg in die oggend of laat in die middag.
In die praktyk is daar gevind dat te veel verliese ondervind word as die wind sterker as 10 km/h waai. Andersins moet die kalk vooraf benat word.

Presisie-bekalking
Met ruitgrondmonsterneming wat deel uitmaak van die presisieboerdery-proses is interessante resultate al waargeneem. Die grond pH-verspreiding op ses aangrensende lande word in Figuur 3 uitgebeeld. Dit is duidelik dat groot dele van lande dringend bekalking nodig het en dele dit nie nodig het nie. Dit is ook duidelik dat slegs gedeeltes van sekere lande bekalk behoort te word.

Dit is nie altyd nodig om die nodige veranderlike toedieningsapparaat te besit om presisie-bekalking te doen nie. Die gedeeltes wat bekalk behoort te word kan vanaf die kaart geïdentifiseer, gemerk en bekalk word.
Só kan reuse-besparings bewerkstellig word en kan die onderdrukkende effek van te suur grond op die betrokke dele opgehef word.

Opsomming
Die kalibrasie van ‘n kalkstrooier is die kontroleproses waarvolgens die strooier ingestel word om die beplande hoeveelheid kalk toe te dien. Die hoeveelheid wat toegedien word en die verspreiding daarvan word deur middel van veldtoetse op die land gekontroleer. Die proses word herhaal totdat die beplande hoeveelheid teen ‘n eweredige verspreiding toegedien word.

Figuur 2: Die om-en-om metode van kalkstrooi.
Figuur 2: Die om-en-om metode van kalkstrooi.

Figuur 3: Die grondpH-verspreiding op ses aangrensende lande.
Figuur 3: Die grondpH-verspreiding op ses aangrensende lande.