Formidabel is een van die woorde wat by jou opkom as jy met die Vrystaat se Vroueboer van die Jaar: Kategorie Uitvoere, gesels. Met ‘n selfoon teen die oor en twee worshonde saam voor in die bakkie neem Tharina Terblanche my op ‘n besigtigingstoer van haar boerderybedrywighede.
Tharina boer met mielies, beeste en lêhenne (dis buiten haar leerlooiery) op 5 000 ha in die Sasolburg-omgewing. Die gebore nooi Claassen woon in die ou familieopstal wat in 1923 op die plaas Donkerhoek gebou is. Sy vertel dat haar liefde vir boerdery reeds van kleintyd af kom.
Ek het op ‘n plaas grootgeword. My ouers en grootouers - ons familie is al vir 150 jaar in dié omgewing – het almal geboer. Ek is een van vyf kinders - die enigste dogter. My broers boer ook almal. Ek het in ‘n landbou- en manswêreld grootgeword.
Ná sy haar B.Com-graad aan Tukkies voltooi het, het sy vir ‘n paar maande saam met haar pa en jonger broer geboer voordat sy ‘n betrekking by ‘n fabriek op Sasolburg aanvaar het. Sy is later met Kerneels Terblanche, ‘n vervoerkontrakteur, getroud. Hulle seun, Lewies, is vandag ook in die vervoerbedryf. Na hulle egskeiding het sy terug gekom plaas toe en in 1987 met ‘n beesboerdery begin.
“My pa het dit van geboorte by ons ingeprent: ‘Jy moet jou produk aan die eindverbruiker bemark – sny die middelman uit.’ As jy nie ‘n mark vir jou produkte kry nie, skep jy jou eie mark deur waarde tot die produk toe te voeg.” En dit is presies wat dié 52-jarige boer doen.
Boerderyvertakking
‘n Sterk boerderyvertakking is die Afrikaner en Brahmaan-kudde. “Ons is nou in ‘n tyd waar vleispryse jou inkomste bepaal. Hoe groter die speenkalf se karkasgewig, hoe groter
is die inkomste. Ons ideale bees is ‘n Afrikaner/Brahmaan-koei gekruis met ‘n Limousin of Simmentaler bul. Ons maak gebruik van basterkrag, maar gaan nooit oor na ‘n tweede
kruising nie,” vertel die kuddebestuurder, mnr Douw Crous.
Die 700 koeie spog met ‘n kalfpersentasie van 89,6% en die gemiddelde speengewig van die kalwers is 228 kg. Versseleksie word reeds die eerste dag nadat die kalwers gespeen is, gedoen en daar is tans 360 vervangingsverse wat eersdaags in die kudde teruggeplaas gaan word.
“Met vandag se negatiewe graan- en vleisprysverhouding bemark ons ons speenkalwers nat van hulle ma’s af. Ons rond hulle nie self af nie,” sê Crous. Die speenkalwers word onder andere aan Tharina se een broer, Edwin, verkoop, wat verskeie voerkrale en abattoirs het.
EAC Tannery, Tharina en Edwin se gesamentlike leerlooiery naby Wolwehoek, koop weer die huide by die abattoirs op. Tharina is tans die enigste vrou in Suid-Afrika en een van min in die wêreld wat ‘n leerlooiery van die aard bedryf.
Die looiery hanteer maandeliks sowat 24 000 huide. In die aanleg word die huide tot die natblou-stadium bewerk waarvan 60% daarvan na Italië en China uitgevoer word en 40% aan die plaaslike motorbedryf bemark word. Die uitvoerhuide word hoofsaaklik vir meubels, klere en skoene gebruik. Die afvalprodukte word weer aan ‘n plaaslike gelatienfabriek verkoop.
“Soos wat ‘n mens se boerdery groter word, koop jy ander boere uit. Die een plaas wat ek gekoop het, het byvoorbeeld groot store op gehad wat ek nie gebruik het nie. Die
groot kapitale uitleg het net daar gestaan.
“‘n Paar jaar terug kon ons nie prys vir ons graan kry nie. ‘n Hoenderboerdery is toe in dié store begin en ons het self mielies begin maal om die hoenders te voer. Vandag is
hier 12 000 lêhenne en ons voorsien die Vaaldriehoek van eiers. Die hoendermis word op die lande gestrooi en as kunsmis gebruik.” Tharina plant 1 000 ha mielies ‘n jaar wat sy
aan Senwes lewer.
Dié klant van Senwes maak gebruik van Finansiële Dienste se produksiefinansiering vir die boerdery se benodigde insetmiddele. Algemene boerderybenodighede word by die plaaslike handelstak aangekoop.
Rekordhouding
Noukeurige rekordhouding speel ‘n belangrike rol in die boerdery se sukses en elke vertakking en besigheid word op sy eie geëvalueer. Geen besigheid dra ‘n ander nie.
Die afsonderlike afdelings rapporteer maandeliks aan haar om verslag oor die maand se gebeure te doen en ‘n span eksterne ouditeure oudit elke vier maande die boeke. “Ons werk ook streng met begrotings.” Tharina doen self haar besighede se bemarking. Sy ontwikkel die markte en lei dan mense op om die werk te doen. “Ek streef na tevredenheid: Tevrede kliënte, tevrede verskaffers, tevrede personeel en ‘n tevrede bankbestuurder!”
Die landboubedryf is primêr ‘n manswêreld en op ‘n vraag hoe sy haar in die manswêreld handhaaf, antwoord sy met ‘n glimlag: “Ek het saam met mans groot geword. Jy moet ten alle tye sag en vroulik wees en jouself deur kennis handhaaf. Wees ‘n meester op jou gebied,” sê sy terwyl sy met netjies gemanikuurde hande na ‘n laer rat oorsit.
Op ‘n vraag wat sy as die belangrikste les beskou wat sy deur die jare geleer het, antwoord sy beslis: “Afhanklikheid van die Allerhoogste, respek vir jou medemens en nederigheid. Ek is niks. Ek is totaal afhanklik van my Oppergesag en die mense om my. Sonder hulle kan ek niks doen nie. Ek hou daarvan om my met suksesvolle mense te omring en ek duld nie mislukking nie. Ek is baie streng. My leuse in die lewe is: Jy is net so sterk soos die mense om jou – hulle hou jou hande hoog. Ondersteuning is belangrik. ‘n Hoekpaal is net so sterk soos wat sy stutte is.
“Wat ek goed kan doen kan ek ander laat doen, want ek het self alles op die plaas gedoen. Namate ek gegroei het, het ek mense gekry wat dit kan doen. En as ek hulle nie gekry het nie, kon ek nie gegroei het nie. Jy moet egter hulle respek waardig wees.”
Dit val ‘n mens op dat sy elke werker op die naam groet en in Sotho oor sy eie welstand en dié van sy familie uitvra. Sy haal die beste uit haar nagenoeg 100 plus werkers
deur erkenning aan hulle te gee vir dit wat hulle doen. “Erkenning is belangrik. Hulle moet deel voel en ook deel wees van alle prosesse op die plaas. En ek sorg goed vir hulle
en is menslik teenoor hulle.” Die netjiese werkershuise staaf dit.
“Noudat ‘n mens ouer word, benader jy die lewe baie anders. As jy jonk is, is jy onverskrokke en verbeel jy jou die lewe lê aan jou voete en jy trap onnodig hard daarop. Saam
met die grysheid kom die wysheid. Ek benader die lewe nou meer deurdag en diplomaties.”
Haar gunsteling tyd van die dag is in die aand na werk as sy lekker onder die bome in haar tuin kan sit, ‘n vleisie kan braai en die koeligheid kan geniet. “En ek kyk my sepie, 7de Laan. Nou in die somertyd met planttyd, is daar nie tyd daarvoor nie.”
Politiek
“Boerdery is my passie. Wat ek doen, my hele lewe, is ontspanning, behalwe in die politiek. Ek is ‘n lid van die plaaslike munisipale raad, Metsemaholo (wat “baie water”
beteken) en het teen grondbelasting in die distrik baklei en dit afgeweer gekry. Dit is hoe Agri Suid-Afrika van my te hore gekom het en my vir die kompetisie genomineer het.
“Ons moet sterk verteenwoordiging op alle vlakke kry – dit is die enigste behoud vir die toekoms van die land. Boere moet sterk en saam staan om landbou te verteenwoordig op alle regeringsvlakke en ek doen ‘n versoek op die boere dat hulle hulle tog nie laat verdeel nie. Dit is belangrik dat boere saamstaan – veral in die huidige omstandighede van Zimbabwe.
“As ons ‘n toekoms vir landbou in Suid-Afrika wil hê, sal daar ‘n eweredige verdeling van landboubedrywe, hetsy privaat of in vennootskap, moet plaasvind en almal sal deel
daarvan moet wees.”
Tharina het al soveel bereik. Sou sy nog drome hê? “Ja, om Suid-Afrika suksesvol in die wêreldekonomie te sien met die laagste moontlike werkloosheidsyfer. Ek wil ook ‘n
rolmodel vir die mense in die omgewing wees en ‘n positiewe inspirasie wees vir die mense om my.”
Haar raad aan jong boere: harde werk, toegewydheid en geloof. “En lewe ‘n skoon lewe. Die uitbouing van kennis is ook belangrik. Probeer by jou medemense leer. Doen kennis op deur te luister. Jy het twee ore en een mond.”
‘n Mens kan gerus na dié vroueboer van die Vrystaat luister.
![]() |
![]() |
Tharina Terblanche by Ndaba en Mientjie Bobbejaan wat ‘n ogie hou oor die eiers wat hier volgens gewig gesorteer word. | Lydia Nkoli is verantwoordelik vir die uithaal eiers. Die 12 000 lêhenne voorsien die Vaaldriehoek van eiers. |
![]() |
![]() |
Wouter Trieloff, Tharina, Johann Pretorius (bestuurder by die looiery) en Krappie Venter (voor) bespreek die looiery se jongste syfers. | Tharina en haar plaasbestuurder, Douw Crous, inspekteer die 360 vervangingsverse wat eersdaags in die kudde teruggaan. |