Mnr Eddie Prinsloo bedryf sy Heuningkrans-Merinoboerdery op die rand van die Karoo, tussen die kliprante halfpad tussen Smithfield en Reddersburg. Dit is oorwegend skaapwêreld, met baie bossies en bitter min droëland-boere wat nog op kommersiële skaal, ploeg en planter inspan om graan te bemark.
Vir Prinsloo, ‘n Vrystaatse top-ramverkoper, is sy saaiery ‘n deurslaggewende bestanddeel van sy boerdery se suksesresep. Hy plant jaarliks 200 ha groenvoer op droëland. Sowat 30 ha daarvan is weimielies: 7 voet-rye met hawer tussen-in
Teen Julie en Augustus, as die mielies ryp is, jaag hy sy dragtige ooie en hamellammers in die lande in. Hulle benut al die plantmateriaal, van die koppe tot die plantreste. Hy vind ook dat die diere nie eerste die hawer afvreet nie, maar die graan, mielieplante en groenvoer gelyktydig en teen dieselfde tempo benut.
Mielie-opbrengste op droë land in dié omgewing is te laag vir stroop, behalwe in uitsonderlike jare, soos vanjaar. As hy wel stroop, hou hy al die mielies vir hom en sy werkers se gebruik en maak op die plaas voerpille van die oesreste vir die skape.
Hy het ook 20 ha lusern onder besproeiing. Die voerpille maak hy met ‘n kombinasie van 25% mielies, 5% Molatec en die res lusern of oesreste. Hy sê dit word net vir dragtige ooie gebruik en om ramme ses weke voor die Heuningkrans-merinostoet se jaarlikse produksieveiling af te rond. Die ooie kry van ses weke voor lamtyd tot so teen einde Oktober groenvoer.
Die weimielie-groenvoer-kombinasie is ‘n praktyk wat hy van sy pa, Hennie, bekende in wolboerkringe en eertydse voorsitter van die Wolraad, geërf het.
Heuningkrans se produksiestelsel vereis goeie weiding in die winter, omdat die ooie net een keer per jaar, in Augustus, lam, wanneer veldweiding sonder aanvullende voeding nie voldoende is nie. Prinsloo vind dat die mielie-hawer-kombinasie in die winter koste-gewys keer op keer veldweiding klop, selfs teen die heersende hoë insetpryse. “Dit bly die goedkoopste winterweiding in ons wêreld.”
Hy het aanplantings die afgelope paar jaar baie afgeskaal om koste te bespaar, maar voorsien nie dat hy uiteindelik heeltemal daarsonder sal kan klaarkom nie. Hy probeer plantkoste so goedkoop moontlik hou en sê dit kan aansienlik minder wees as wat kundiges voorskryf
“Ek glo nie daaraan dat diere ‘n oorlewingskursus moet volg nie. As jy iets uit ‘n dier wil hê, moet jy hom kos gee en versorg. Die ramlammers moet iets ekstra kry. ‘n Mens kan insetkoste verlaag, maar net tot op ‘n punt. Soos Merino’s in die verlede gevoer is, was verkeerd, maar dit is nie ‘n vloekwoord om te voer nie.”
Danksy jarelange seleksie vir groei het sy boerdery ‘n besonder kort produksie-siklus, wat sy jaarlikse omset ‘n welkome hupstoot gee. Sy ramme is op die jong ouderdom van ‘n jaar al gereed om te werk en verkoop te word, terwyl die meeste telers hul ramme op twee- of selfs viertand-ouderdom verkoop. Omdat die jong ramme reeds dekgereed is, wen kopers een dekseisoen op die dier se leeftyd. Heuningkrans se hamellammers is op ses maande swaar genoeg om verkoop te word.
As die gewildheid van sy ramme onder kopers ‘n aanduiding is, is Prinsloo op die regte pad. Die afgelope twee jaar het hy die hoogste prys op die Februarie-ramveiling van Merino SA in Bloemfontein behaal. Vanjaar was dit die besonder hoë prys van R38 000 wat ‘n Dewetsdorp-boer, mnr Koos Meiring, vir een van sy ramme betaal het. Vir die 14 ramme wat hy vanjaar op dié veiling aangebied het, het hy ‘n gemiddelde R7 029 behaal. In 2000 het ‘n Heuningkrans-ram saam met ‘n versorgde ram die hoogste prys van R18 000 vir ‘n veldram op die Augustus-ramveiling in Bloemfontein behaal. Dit was die eerste keer dat ‘n veldram die hoogste prys op dié veiling behaal. Die Heuningkrans-stoetery het die afgelope 22 jaar nog elke jaar aan die Februarie-veiling deelgeneem, en is die stoetery met die langste rekord van ononderbroke deelname.
Op 20 Augustus hou Prinsloo sy vierde produksieveiling op die plaas. Dié veiling was die afgelope drie jaar die grootste produksieveiling van ‘n enkele Merino-teler in die land. Op sy eerste produksieveiling in 1999 was die hoogste prys al R11 000 en die gemiddeld R1 500. Verlede jaar was die gemiddeld R2 500 en die hoogste prys R16 000. Hy beplan om weer sowat 120 ramme aan te bied.
Sy veilingramme is nie net op die oog af gewild nie, maar almal prestasie-getoetste diere en veldramme, wat net die laaste ses weke voor die veiling op die land afgerond word. Van die 14 Heuningkrans-ramme op vanjaar se Februarie-veiling was ses silwer meriete-ramme.
Prinsloo is ‘n stigterslid van Klub 13, die land se tweede oudste veldramklub. Hy skryf jaarliks vir albei dié klub se innames, diere in.
Hoewel hy klante tot van Barkly-Oos en uit die hart van die Karoo het, glo hy daarin om vir sy eie omgewing te teel. Hy is tevrede dat 80% van sy ramme deur kopers uit sy onmiddellike omgewing gekoop word. Sy grootste koper, mnr Coenray Smith, is ook van Smithfield.
Prinsloo se primêre teeldoelwit is groei. Fyner wol is die tweede seleksie-doelwit, maar nie laer as ‘n gemiddeld van tussen 20 en 21,5 mikron nie. Hy glo dié mikrongemiddeld is die goue middeweg vir sy omgewing, en dat super-fynwolskape nie vir Suid-Vrystaatse toestande geskik is nie. Sy skeerselgemiddeld was verlede jaar 20,8 mikron.
Deur noukeurige teling het hy bewys dat veldskape nie liggaamsmassa vir gehardheid hoef in te boet nie. ‘n Voorligter sê dit is opmerklik dat Prinsloo se ramme altyd vet op die veld is, selfs na ‘n erge droogte soos in 1999 het hulle danksy dié genetiese eienskap uitgestaan.
Prinsloo vind dat gehardheid en speenpersentasie sterk positief korreleer. Hy selekteer ook vir hoë vrugbaarheid en goeie moederseienskappe. Sy stoetdiere (sowat ‘n derde van die totale kudde) behaal ‘n gemiddelde speenpersentasie van 120% en die gewone kuddediere 'n gemiddelde 90%.
Sedert hy die Heuningkrans-stoetery in 1975 by sy pa oorgeneem het, het hy die tipe skape verander deur vir gladder diere met sterk vleis-eienskappe te selekteer. Hy moes van sterk kraag-ontwikkeling ontslae raak om by die veranderde omstandighede aan te pas. ‘n Kenmerk van sy diere is egter steeds fyn lyfplooie, wat hy glo nodig is om stofbesoedeling van die wol op die lande te beperk.
Vandag is vleis vir sowat 60% van sy inkomste verantwoordelik en wol vir 40%. Hy streef egter eerder na ‘n 50/50-verhouding omdat hy glo ‘n dubbeldoelskaap is die geskikste vir sy toestande. Hy meen die Merino is ‘n uitstekende dubbeldoelras.
Heuningkrans is een van die oudste Merino-stoeterye in die land. Prinsloo se oupa, David Naudé Prinsloo, het dit in 1929 begin nadat hy twee ramme uit Australië ingevoer het.
Hy skryf sy sukses toe aan die goeie grondslag wat sy oupa en pa gelê het, deurdat hulle nooit na uiterstes in die hul stoet gestreef het nie. Veral sy oupa het vir medium wol geselekteer en net die kraagontwikkeling vir Prinsloo nagelaat om van ontslae te raak.
Prinsloo meen om met die regte tipe vir sy omgewing te boer, moet deesdae ‘n skaapboer se hoogste prioriteit wees. Lammers moet geteel word wat so gou moontlik bemark kan word. Hy vind dat kopers ‘n jong ram verkies, mits hy goed gegroei het.Prinsloo is benewens jarelange beoordelaar op Suid-Afrikaanse Merino-skoue, ook nou by die bevordering en ontwikkeling van wolskaapboerdery op die Lesotho-hooglande betrokke. Hy is jaarliks beoordelaar op die Royal Show in Maseru en talle Lesotho-boere is onder sy gereelde klante.
Eddie Prinsloo by sy ram wat ‘n besondere hoë prys van R38 000 op die onlangse Februarie-veiling van Merino SA in Bloemfontein behaal het.
Lizette Prinsloo met haar en Eddie se twee dogters, Christine (links) en Esther, voor hul huis op die plaas Heuningkrans buite Smithfield. Die twee ramme word tans in
die Heuningkrans-stoet gebruik.
Eddie Prinsloo by van sy dragtige tweetand-ooie. Agter hom is ‘n voormalige ramstal wat hy in ’n handige werkplek omskep het. Voor die stal is drukgange en kraaltjies
met geplaveide vloere.