Die verbouing van GMO-grane: Waar staan ons?
2002-03-01

Om GMO-grane te plant of nie het sekere finansiële implikasies waarvan jy nie kan ontsnap nie. Thys Grobbelaar, Senwes Landbouontwikkeling, vermaan produsente om goed ingeligte besluite te neem voor enige aksies geneem word.

Wanneer jy die toepassing van nuwe tegnologie oorweeg, soos die verbouing van geneties gemodifiseerde organismes (GMO’s), is dit belangrik om te besef dat jy in ‘n geglobaliseerde wêreld nie kan maak en breek soos jy wil nie. Die besluite wat jy neem, het sekere finansiële implikasies wat jy nie kan ontsnap nie. Neem dus die gevolge van jou besluite in ag en neem ingeligte besluite.

Soek ‘n mens meer inligting rakende GMO’s in die populêre landboupers, vaktydskrifte en op die internet, besef jy dat jy jouself letterlik in ‘n see van inligting, opinies en uitsprake begeef. Dit is ook te verstane dat soveel mense en groepe emosioneel oor die aangeleentheid raak, aangesien wanpersepsies maklik met al die teenstrydige aansprake en tegniese inligting waarmee ons toegegooi word, kan ontstaan.

Wat egter van belang is, is dat die hele graanketting van die produsent, graanverkryger, graanhanteerder en verwerker homself só moet aanpas by die nuwe tegnologie en die eise wat daarmee gepaard gaan, dat hy internasionaal mededingend kan bly. Daar sal standpunte ingeneem en aksieplanne in plek gestel moet word om die aangeleentheid na die beste van elkeen se vermoë te kan hanteer.

Die produsent moet ook weet op watter kruideniersrak watter produkte toegelaat sal word sodat hy hom daarvoor kan rat. Wetgewing van toepassing op die etikettering (“labelling”) van alle voedsel, vars en verwerk, is vanaf 5 Desember verlede jaar geldig. Hierdie wetgewing, wat in die Regulasies tot reëling van die etikettering van voedsel verkry deur bepaalde tegnieke van Genetiese Modifikasie (Regulasie R366 van 4 Mei 2001) saamgevat is, bepaal dat alle voedsel in Suid-Afrika wat deur middel van genetiese modifikasie verkry is, geëtiketteer moet word. Die regulasie maak ook voorsiening dat enige produsent of verwerker wat vrywillig die etiket “non-GMO” op sy produk wil aanbring, aan bepaalde vereistes moet voldoen.

Begripsverheldering
Plantverbetering is tans en in die verlede bewerkstellig deur kruisteling en seleksie. Biotegnologie is ‘n tegniek wat onlangs ontwikkel is om plantverbetering ook mee te bewerkstellig.

Alhoewel die betekenis van biotegnologie en die afkorting GMO by die deursnee publiek bekend is, is dit miskien gepas dat daar ‘n gemeenskaplike term rakende die begrippe bestaan.

Wat is biotegnologie: Dit is die naam wat gegee word vir ‘n baie wye reeks landbou-, industriële en mediese tegnologieë wat lewende organismes gebruik om nuwe produkte te skep.

Wat is genetiese modifikasie: Deur genetiese modifikasie tegnologie kan een of meer geen verskuif word van ‘n dier, ‘n plant of ‘n mikro-organisme na ‘n ander dier, plant of mikro-organisme.

Wat is ‘n geneties gemodifiseerde organisme (GMO): ‘n GMO is enige lewende organisme wat gene bevat wat nie normaalweg in hom voorkom nie. Hierdie genetiese materiaal is oorgeplaas na die organisme deur middel van genetiese tegnologie.

Die meeste GMO’s wat tans geplant word, is mielies met die Bt-geen en sojabone met ‘n geen wat onkruiddoderweerstand bewerkstellig. Die Bt-geen veroorsaak dat plante ‘n natuurlike weerstand teen insekte het.

In Suid-Afrika is daar ‘n aantal GMO-proewe in die afgelope tien jaar gedoen, veral op katoen, mielies en sojabone. Daar is ook proewe op lusern, kanola, aarbeie, suikerriet, aartappels, bloekom, appels en suikerbeet gedoen. Baie wetenskaplikes glo dat biotegnologie gewasproduksie in ontwikkelende lande met tot 25% kan verhoog. In Afrika het die Bt-geen ‘n 20% verhoging in die mielieoeste beteken. Op die Makatini-vlakte het kleinboere “Bollgaurd” katoen geplant en is ‘n 33% verhoging in opbrengs waargeneem.

Vrese en besware teen GMO’s met gepaardgaande markgeleenthede
Baie verbruikers is bevrees dat GMO’s allergieë en antibiotika-weerstand sal veroorsaak. Daar is ook soms etiese probleme rondom die gebruik van GMO’s, sekere geloofsgroepe en vegetariërs maak beswaar daarteen dat gene van diere na plante oorgeplaas word.

Daar is ook vrese dat die omgewing negatief beïnvloed sal word en dat verbastering met onkruid kan plaasvind. Net een bekende geval van allergie is sover aangemeld. Daar is gevind dat GMO’s meer omgewingsvriendelik as nie-GMO’s is, veral omdat dit die gebruik van organofosfate en onkruiddoders baie verminder.

Dit is algemeen bekend dat mielie- en sojaboonlewerings wat GMO’s bevat, aan Europa en Japan vanaf Suid-Amerika en Amerika gelewer is, geweier is. Dit het ‘n fenominale finansiële implikasie vir ‘n land en sy produsente as graanuitvoerders.

Graanmarkte in die ontwikkelde wêreld kan na aanleiding van die debat, ‘n toenemende behoefte aan graan wat nie geneties gemanipuleer is nie ontwikkel. Dit kan aanvaar word dat verbruikers in die ontwikkelde lande bereid sal wees om die prys te betaal vir die gemoedsrus wat nie-gemanipuleerde grane meebring.

Stand van GMO-aanplantings oor die wêreld
Meer as 40 miljoen hektaar van die wêreld se vrugbaarste landbougrond was verlede jaar onder GMO’s geplant. Dit is 25 keer meer as vier jaar gelede. Wind gewaaide stuifmeel, saadvermenging en “swart mark” aanplantings het hierdie produkte van biotegnologie tot in die verste hoeke van die globale voedselvoorsieningsketting versprei. Soos professor Neil E Harl, ‘n professor in landbou en ekonomie aan die Iowa State University gesê het: “Die genie is uit die bottel en al bepaal wetgewing dat GMO’s uitgewis moet word, sal dit ‘n baie lang proses wees. Dit sal jare, as dit nie dekades is nie, duur”.

Ondanks drukgroepe, en daar is baie van hulle oor die wêreld, se weerstand teen GMO’s, gaan navorsing teen ‘n versnellende pas voort. Dit is ‘n magtige veranderingsagent wat die landbou nie durf ignoreer of op simplistiese wyse afmaak nie. Die asemrowende deurbrake wat natuurwetenskaplikes daagliks maak, het ‘n beduidende invloed op die landbou.

Biotegnologie in Suid-Afrika en Afrika
Biotegnologie is ‘n inspuiting vir spesialisasie. Aanvaar die tegnologie en aanvaar die begrip van markspesialisering, is dr Wynand van der Walt, direkteur van AfricaBio, se raad aan die landbou. Hy sê verder dat GMO’s gekom het om te bly. Die landbou sal nooit sonder twee parallel-afsonderlike markte – een vir geneties gemanipuleerde produkte en een vir GMO-vry produkte – wees nie. Tydens die bepaalde kongres is die boodskap uitgedra dat Afrika nie sonder biotegnologie kan klaarkom nie. Die werklike voordeel van landbou biotegnologie is sy potensiaal om groot populasies in ontwikkelende lande te voed.

‘n Land wat nie vir sy mense kan kos gee nie, is nie ‘n vry land nie, het mnr Bene M’Poko, ambassadeur van die Demokratiese Republiek van die Kongo, gesê. Hy meen dat biotegnologie tot Afrika se redding kan kom deur verhoogde produksie, voedsamer kos en entstowwe wat deur genetiese manipulasie in voedselsoorte ingebou kan word.

Mnr Jimmy Carter, ‘n voormalige president van Amerika, het onlangs gesê: “Verantwoordelike biotegnologie is nie die vyand nie, hongersnood is. Sonder genoegsame voedselvoorsiening teen bekostigbare pryse kan ons nie wêreldgesondheid of vrede verwag nie”.

GMO-mielies
Die hele kwessie rondom GMO-mielies is die afgelope jaar tot ‘n spits gedryf deur die ontdekking van Starlink (‘n GMO variëteit) in produkte wat vir die menslike mark in Japan bestem was (die Starlink variëteit is slegs vir dierlike gebruik in die VSA goedgekeur). Die Japanese owerheid het hierna ‘n onmiddellike verbod op die invoer van GMO-mielies uit die VSA geplaas. Dit het die uitvoer van mielies uit Suid-Afrika na Japan moontlik gemaak in ‘n situasie waar die gelande prys van Suid-Afrikaanse nie-GMO-mielies tot soveel as $20 per ton meer as die ekwivalent uit die VSA gekos het.

Hantering van GMO-mielies deur Senwes
Senwes Graandienste hanteer nie-GMO-mielies as ‘n spesialiteitsproduk wat apart hanteer en opgeberg sal word wanneer daar sodanige behoefte vanaf koperskant geïdentifiseer word. In alle ander gevalle word mielies volgens die standaard graderingsregulasies gegradeer, hanteer en opgeberg. Daar word egter wel pro-aktief opgetree deur moontlike nie-GMO-mielies te identifiseer en apart op te berg ten einde uitvoergeleenthede te benut wanneer dit sou voorkom.

Dit is belangrik om daarop te let dat verbruikersvoorkeure kan verander en dat die mark, soos in die geval van koring, kan aandring dat slegs sekere variëteite onder kontrak aanvaarbaar sal wees. In sodanige gevalle sal produsente voor planttyd van verwikkelinge in dié verband in kennis gestel word.

Markimplikasies van nie-GMO-mielies
In Suid-Afrika diskrimineer slegs een rolspeler in die styselvervaardigingsbedryf huidiglik teen GMO-mielies. Op die internasionale markte is daar egter heelwat verbruikers (veral in Japan) wat ‘n algehele verbod op die invoer van GMO-mielies geplaas het.

Hoewel hierdie markte groot premies (tot $20) vir nie-GMO mielies uit Suid-Afrika betaal, word die grootste deel van die premie aangewend om op te maak vir die verskil tussen pryse op die internasionale en Suid-Afrikaanse markte. Die voordeel lê dus eerder daarin dat mielies uitgevoer kan word sonder dat plaaslike pryse afgeforseer word, in ‘n premie vir die produsent. Produsente met nie-GMO-mielies, het in die verlede premies van nagenoeg R5 per ton verdien. In toekomstige surplusjare mag produsente met nie-GMO-mielies, toegang kry tot markte wat nie vir ander produsente beskikbaar is nie.

Kontaminasie van GMO en GMO-vry grane
Gesofistikeerde tegnieke is al ontwikkel om die aanwesigheid van GMO’s van grane te identifiseer. Daar moet deeglik rekening gehou word met die sensitiwiteit van belangegroepe waar een pit per 2 400 pitte kontaminasie kan registreer. Kontaminasie kan op die volgende terreine plaasvind: saad, bestuiwing, oes-, insamel-, verbeteringsprosesse (sif en droging), bergings-, versendingsproses, vervoer en die verwerkingsproses.

Die produsente sal, indien hy beoog om GMO-vry grane te produseer, in gesprek moet tree met sy omliggende bure ten einde kontaminasie deur bestuiwing te verhoed.

Opsomming
Genetiese manipulering van landbougewasse is dus ‘n werklikheid wat nie weggewens kan word nie. Die Suid-Afrikaanse landbou moet homself betyds posisioneer om die voordele van geneties gemanipuleerde graan ten volle te ontgin en so te verseker dat hy internasionaal mededingend bly. Moontlike gevare wat genetiese gemanipuleerde graan inhou, moet reg bestuur word en nismarkte vir produkte wat nie geneties gemanipuleer is nie, moet benut word.

Wat enige nuwe tegnologie aanbetref is die aanhaling van mnr Arie de Geus seker op alle betrokkenes van toepassing en dit lui soos volg: “Die vermoë om vinniger as jou mededingers te leer en aan te pas, mag jou enigste onderhoubare voorsprong wees”.