IN 'N WETSONTWERP WAT ONLANGS IN DIE STAATSKOERANT GEPUBLISEER IS, BLYK DIT DAT 'N BOER WAT WAARDE TOT SY PRODUKTE WIL BEGIN TOEVOEG, AANSOEK SAL MOET DOEN VIR DUBBELE SKEDULERING VAN SY GRONDGEBRUIK: NAAMLIK VIR LANDBOU- EN VIR INDUSTRIËLE DOELEINDES. MARIËTTA VAN VUUREN, GEREELDE MEDEWERKER VAN SENWESTER, HET DIE WETSONTWERP VAN NADER BEKYK.
DIE Minister van Landbou en Grondsake gaan ingevolge die Grondgebruik Bestuur Wetsontwerp, wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is, oorheersende magte verkry om in te gryp indien sy van mening is dat enige vorm van aanwending van grondgebruik die nasionale belang nadelig beïnvloed.
Die Grondgebruik Bestuur Wetsontwerp gee ook aan die minister die magte om besluite wat deur provinsiale en plaaslike owerhede geneem is, omver te gooi. Die minister se besluit sal finaal wees, onderhewig aan hersiening deur 'n hof, tensy sy besluit om die aangeleentheid terug te verwys na die betrokke owerheid.
Die behoefte aan nuwe wetgewing is geïdentifiseer nadat die Ontwikkeling en Beplanningskommissie in 1997 aangestel is om die beplanningswetgewing wat dateer voor 1994, insluitende dié van voormalige selfregerende gebiede en swart stedelike gebiede, te ondersoek.
Die het 'n geweldige komplekse en oneffektiewe wetlike raamwerk aan die lig gebring waarbinne beplanningsamptenare in alle sfere van regering verskillende sisteme binne die jurisduksie van elke provinsie en ook elke munisipaliteit, moes toepas.
Die wetsontwerp poog om die warboel van wetgewing op hierdie terrein wat van die apartheidsera geërf is, op te klaar. Dit sal ook die oormaat beplanningswetgewing rasionaliseer in een
nasionale sisteem wat van toepassing sal wees in elke provinsie en plaaslike owerhede daarbinne, ten einde die nasionale oogmerk van oordeelkundige grondgebruik na te streef.
Doel van die wetsontwerp
Die doel van die wetsontwerp word soos volg uiteengesit:
In terme van die wetsontwerp sal die minister ook in staat gestel word om 'n nasionale grondgebruik-raamwerk in plek te stel.
Witskrif
Die gepaardgaande witskrif stel dit duidelik dat die ekonomiese, sosiale en omgewingstoekoms van die land afhanklik is van die oordeelkundige gebruik van grond as 'n hulpbron. Volgens die witskrif sal
die nuwe wetgewing 'n eenvormige, effektiewe en doeltreffende raamwerk daarstel vir ruimtelike beplanning en grondgebruik in sowel stedelike as landelike konteks.
"Grond is 'n nasionale hulpbron en val binne die nasionale wetgewende bevoegdheid. Die verantwoordelikheid vir hierdie wetgewende bevoegdheid berus by die Minister van Landbou en Grondsake."
Hierdie benadering vestig ingevolge die wetsontwerp die finale gesag in die minister om te beslis oor grondgebruik in Suid-Afrika soos bedoel in die beginsel van "nasionale belang", wat egter nie in die wetsontwerp omskryf word nie.
Prosedures
Ingevolge die wetsontwerp moet elke metropolitaanse, plaaslike en distriksmunisipaliteit 'n grondgebruikskema na wye konsultasie tot op grondvlak, binne vyf jaar na inwerkingtreding van die wet,
opstel.
Nadat 'n grondgebruik gepromulgeer is, sal dit wetlik bindend wees op grondeienaars binne die betrokke area. Die gebruik van 'n stuk grond sal slegs gewysig kan word met die goedkeuring van 'n grondgebruik-reguleerder wat oor sodanige jurisduksie binne munisipale rade in stedelike gebiede en distriksrade in landelike gebiede sal beskik. Hierdie proses sal ondersteun word deur 'n stelsel van tribunale.
Desondanks sal die minister die finale besluit neem indien sy glo dat ingrypende besluite die nasionale belang nadelig sal affekteer.
Die wetsontwerp vereis ook dat enige grondgebruik-besluit, die impak daarvan op die gemeenskap in sy geheel moet verreken , eerder as die impak daarvan op enger belange. Die prosesse en besluite moet ook rasse-integrasie bevorder.
Voordele vir landbou
Dit is verblydend dat die witskrif ten opsigte van grond in landelike gebiede, insluitende voormalige trustgrond, dit duidelik stel dat grondregte, grondvermoë, oordeelkundige onderverdeling van grond
en konsolidasie van plase, asook die behoud van prima landbougrond vir landboudoeleindes, beskerm moet word.
Daar word dus aanvaar dat die Minister van Landbou en Grondsake sal toesien dat prima landbougrond so ver as moontlik behou sal word vir landbouproduksie tydens die opstel van grondgebruike, en dat onbeheersde besetting en onderverdeling van landbougrond, nie toegelaat sal word nie.
Onduidelikhede
In die wetsontwerp se geskeduleerde lys vir grondgebruik word landbou-aktiwiteite omskryf as "die aanwending van grond wat normaalweg met landbou-aktiwiteite verband hou, insluitende die redelike
oprigting van strukture wat noodsaaklik is vir landbou-aktiwiteite".
Dit wil egter blyk of 'n boer wat waarde tot sy produkte wil toevoeg deur byvoorbeeld die oprig van 'n meule of die bou van 'n kaasfabriek, aansoek sal moet doen vir dubbele skedulering van sy grondgebruik, naamlik vir landboudoeleindes en industriële doeleindes.
Dit is ook onduidelik hoe hierdie wetsontwep sal inpas binne die strewe na landelike ontwikkeling. Die beginsel in die wetsontwerp om grondgebruik-planne te verhef tot die status van wet, is nie prakties as dit gemeet word aan die werklikhede van ander dissiplines soos ekonomiese groei, sosiale en maatskaplike veranderlikes en ontwikkeling in die algemeen nie.
Ekonomiese groei
'n Vername vraagstuk wat nie deur die wetsontwerp aangespreek word nie, is hoe die rigiditeit van kontrole oor grondgebruik versoen word met die konkrete behoefte na ekonomiese groei en ontwikkeling
binne die raamwerk van vraag en aanbod?
Dit is ook nie duidelik hoe die "nasionale belang" van "gesag oor grondgebruik" versoen moet word met ander items op die lys van "nasionale belang" soos byvoorbeeld ekonomiese volhoubaarheid, werkskepping en herverdeling van grond nie.
Die feit dat verskeie landelike grondeise byvoorbeeld nog nie afgehandel is nie, kan onsekerhede laat ontstaan oor die aanwending van daardie betrokke grond in die toekoms, binne 'n bepaalde grondgebruik-raamwerk. Sodanige onsekerheid kan ook daartoe lei dat 'n boer se aansoek om grondgebruik hiermee in berekening gebring sal moet word.
'n Rigiede stel beplanningswetgewing wat ondersteun word deur burokratiese prosesse hou ook nie rekening met die snelveranderende omgewing waarbinne ekonomiese oorlewing en groei geskep moet word nie, en ook nie met die ekonomiese dryfkrag van vraag en aanbod nie.
Beplanning om stedelike ontwikkeling te reguleer en nasionale infrastruktuurverskaffing te rig, is noodsaaklik. Maar 'n nasionale beleid om die grondgebruik van elke vierkante meter grond in die land te reguleer, verg indringende oordenking en herbesinning.
Hierdie benadering het reeds sy toepassingsangels gewys omdat die minister genoop is om voorsiening te maak vir afdwingingsorgane soos 'n grondgebruik-reguleerder en grondgebruik-tribunale.
Raadslede van plaaslike owerhede word ook met polisiëringsbevoegdhede beklee en gemagtig om oortreders van grondgebruik aan die man te bring. Volgens hierdie bevoegdheid kan raadslede enige tyd toegang tot grond verkry en dit inspekteer vir aktiwiteite in stryd met die gemagtigde grondgebruik. Raadslede word ook verder met arrestasie-bevoegdhede beklee. Boonop kan plaaslike geboue en strukture wat in stryd met 'n goegekeurde grondgebruik opgerig is, afgebreek word sonder vergoeding.
Pro-aktiewe optrede
Dit sal derhalwe in boere se belang wees om met die inwerkingtreding van die wet, pro-aktief betrokke te raak by die munisipaliteit se konsultasieprosesse tydens die opstel van 'n grondgebruikskema.
Die goedkeuring van 'n plaas se grondgebruik affekteer nie alleen die boer se onmidellike landbou-aktiwiteite nie, maar ook sy langtermyn-beplanning in die verband.