Stedelinge is vasgevang in die stadsgejaag en generasies het gekommersialiseerde toerismebestemmings begin besoek. Tradisionele bestemmings en roetes na sonnige strande en nasionale parke is steeds gewild, maar die neiging deesdae is eerder goedkoper, avontuurlustige en ongekommersialiseerde alternatiewe. Hieruit het agritoerisme sy ontstaan gehad.
Kuier om 'n vuur, rondwys op die plaas, heerlike kos en gasvryheid is niks nuuts vir diegene wat alreeds gaste op plase onthaal nie. Met dieselfde verbeelding kan boere die aktiwiteite gebruik as 'n meganisme om hul hulpbronne produktief te benut. Boere kan agritoerisme as 'n bykomende besigheid saam met hul primêre bedrywighede ontwikkel.
Die potensiële toeris is op soek na 'n ingeligte, deelnemende reiservaring, rus en vrede, kultuur en natuurskoon - iets waarvan die platteland 'n ooraanbod het. Mense is op soek na minder alledaagse dinge, eenvoud en plesier. 'n Plaas kan as 'n eenstop vir historiese, kulturele, argeologiese, ekologiese en avontuurlike ervarings aangewend word. Die waarde van vars lug en stilte, wat deur sommige as vanselfsprekend aanvaar word, moenie onderskat word nie - min mense het toegang tot die natuur en avontuurlike geleenthede.
Skoolgroepe uit stedelike gebiede wat deelneem aan plaasprosesse; trekker-en-sleepwa-ritte; Bedford-ritte met skemerkelkies; spanbou-aksies vir groepe; jagekskursies; staproetes; 4x4- en
perdritte; bergfietsroetes en 'n verskeidenheid akkommodasie-moontlikhede vanaf luuks tot landelik, is enkele voorbeelde van agritoerisme-produkte wat reeds geïmplementeer is.
Dit is uiters belangrik om te besin voor 'n mens begin. 'n Ondersoek na die potensiële kompetisie, hoe die besigheid aangepak en bedryf word en wie die rolspelers is, moet onderneem word. 'n
Ontwikkeling moet volhoubare en deurlopende ekonomiese en natuurlike funksies vervul, ten einde vir die nageslag lewensvatbaar te bly.
Die vraag na nuwe eko-aktiwitiete is groter as die huidige aanbod wat 'n onontginde potensiaal vir entrepreneurs aandui. Daar bestaan geen resep om vinnige ryk te word in die agritoerismebedryf nie. Die resep vir sukses moet veel eerder 'n samestelling van markontleding, innoverende denke, kommunikasie, bemarking, deursettingsvermoë, tyd en 'n passie vir dit wat jy aanbied, wees.
Te veel foute is al begaan waar 4x4- en staproetes onoordeelkundig en nie volgens gebruikersbehoeftes en omgewingsoorwegings beplan is nie. Eerstens is dit belangrik om jou gebruiker, hetsy plaaslik of internasionaal, se behoeftes te verstaan. Negatiewe omgewingsimpak moet liefs vermy word om oneindige erosieprobleme te voorkom.
Dorpe moet ook betrokke raak in agritoerisme-ontwikkeling en -bemarking. 'n Netwerk van plaaslike en provinsiale toerismeorganisasies bestaan of moet ontwikkel word wat 'n unieke strategie vir elke omgewing kan bewerkstellig.
Nuwe idees en geleenthede moet geskep word om ou, afgestompte jaarlikse vieringe lewe te gee, deur 'n teikenmark soos die groeiende 4x4-sektor, bergfiets, kunsvlieghengel en 'n unieke wild of kultuurervaring, te beklemtoon.
Samewerking vanuit die kommersiële sektor lewer 'n effektiewe bemarkingsinspuiting vir 'n distrik en die besetting en bekendmaking van nuwe ekotoerismebesighede.
Tans is daar baie druk op regeringsowerhede om, as gevolg van 'n tekort aan fondse en mannekrag om bewaringstrategie en wetgewing te implementeer, natuurlike hulpbronne effektief te bestuur.
Die meeste onherbergsame en onbekende natuurskoon is uiteraard in privaat besit. Die neiging van boere om weg te beweeg van tradisionele boerderymetodes en om gedegradeerde gedeeltes te rehabiliteer tot die natuurlike toestand, is 'n stap in die regte rigting.
Menige tradisionele landbougemeenskappe neig om bewarings inisiatiewe soos bewarias en privaat natuurreservate te vestig wat 'n sterk grondslag vir agritoerismegeleenthede en bemarking van 'n distrik bied.
Die konsolidering van plase om reusenatuurgebiede met inheemse wildsoorte vir jagsafari's en 'n verskeidenheid van eko-aktiwitiete met finansiering vanuit die privaat sektor is voorbeelde van suksesverhale in voorheen onproduktiewe gebiede.
Die omvang van die wildbedryf is enorm en kan opgebreek word in die oes van wild, handel met lewende wild en die toegevoegde waarde wat dit vir die toerisme bedryf bied. Die bedryf vervang menige tradisionele boerdery-aktiwiteite, maar noukeurige marknavorsing moet gedoen word alvorens kapitale investering plaasvind.
Eksotiese en skaars wild, veral katsoorte, speel 'n effektiewe, maar ook kontroversiële rol in besoekersgetalle. Wild omskep die natuurlike omgewing en herinner die toeris aan 'n tydperk van minimale menslike invloed en het wel 'n positiewe invloed op besettingskoers en akkommodasie.
Herbenutting van reedsbestaande vervalle infrastrukture is 'n koste effektiewe manier vir 'n goeie wegspring. Deur gebruik te maak van plaaslike, beskikbare materiaal vir die restourasie van ou murasies of historiese krale, dra by tot 'n kultuuregte ervaring wat blywend en self bemarkbaar is. Reeds bestaande berg- en brandpaaie kan ook aangewend word vir verskeie roetes - veral vir die 4x4-entoesias.
Toerisme word aangedui as 'n groeisektor in Suid-Afrika, agritoerisme is op menige se lippe, maar geringe implementering vind plaas, met geen effektiewe of finansiële steun vanaf regeringskant nie, hoe kan die sektor dan groei en selfs ontwikkel?
Boere het die geleentheid om ruimte en kultuur te verkoop, enige ekstra aanbieding is 'n bonus. Gasvryheid was nog oor al die jare verniet, dis 'n goeie tyd om dit nou te verkoop.
Die mark is honger na 'n amper uitgesterfde kommoditeit wat bekostigbaar en binne bereik vanaf stedelike kerns op gewilde roetes is. Ruwe onherbergsame en verafgeleë plase kan eksklusief vir jag en 4x4-entoesiaste benut word.
Begin eenvoudig, maar doelgerig met 'n geringe investering. Die kuns lê daarin om gaste na jou toe te lok, 'n ervaring te bied, hulle kos en verblyf te gee en te sorg dat hulle weer kom en vriende saambring. Dryf en deursettingsvermoë is sleutelwoorde.
Vir meer inligting kan Paul Slabbert gekontak word by [email protected] of 082 7408 046.
Toeriste is opsoek na rus en vrede,
kultuur en natuurskoon - iets waarvan die
platteland 'n ooraanbod het.
'n Ou stoor wat in 'n avontuur-toerismebasis omskep is.
4x4-saamtrek met ou klipkrale as
kampeerplek.
'n Jaarlikse spanbou - bergfietsresies
vir spanbou op brandpaaie.
Restourasie van 100 jaar oue
plaashuis, na basiese landelike
akkommodasie.