Pekanneute:
'n Aangepaste alternatiewe gewas op die Hoëveld
2001-08-01 - Thys Grobbelaar
PEKANNEUTE, AS 'N ALTERNATIEWE GEWAS WAAR BESPROEIINGSWATER BESKIKBAAR IS, BLYK 'N EKONOMIESE PROPOSISIE OP DIE SENTRALE PRODUKSIEGEBIEDE VAN DIE HOËVELD TE WEES. DIE
VOORNEMENDE PRODUSENT MOET HOM EGTER EERS VERGEWIS VAN DIE KRITIESE SUKSESFAKTORE VOORDAT HY HOM IN DIE VERBOUING VAN 'N GEWAS SOOS PEKANNEUTE BEGEWE.
MENIGE droëlandprodusent wat oor besproeiingswater beskik, ondersoek gewasse wat hoër winsmarges as die tradisionele gewasse teen laer risiko's kan realiseer. Verskeie alternatiewe gewasse
soos olywe, sagte vrugte, turksvye, sitrus, wingerd en ook pekanneute is al op die Hoëveld getoets. Elke gewas het 'n spesifieke hulpbron en klimaatsbehoefte wat tot gevolg het dat sekere
gewasse soos sitrus net op bepaalde lokaliteite suksesvol verbou kan word.
Pekanneute word reeds vir meer as 20 jaar suksesvol in die Vaalharts-gebied verbou. Die hele pekanneutbedryf het hier momentum gekry met die Vaalharts Pekanneutvereniging wat gestig is met die
doel om kopers en produsente op 'n gereelde grondslag bymekaar te bring en ook om knelpunte rakende kritiese produksiepraktyke onder die loep te neem.
Verbouing van pekanneute in die sentrale produksiegebiede van die Hoëveld
Verskeie droëlandprodusente wat oor genoegsame besproeiingswater beskik, het reeds 'n geruime tyd pekanneute as 'n alternatief begin oorweeg. Só het mnr Hardus Otto van Coligny reeds gedurende
1988 begin om proefaanplantings van verskillende pekanneutkultivars te maak, met die oog op diversifikasie en gevoglike risikoverspreiding.
Met die beplande vestiging van pekanneute was daar egter niemand om by kers op te steek wat kommersiële pekanneutproduksie in die sentrale produksie gebied van die Hoëveld onder die knie het
nie.
Na dertien jaar werp die pekanbedryf op sy plaas, Syferpan, vrugte af en kon hy 'n gemiddeld van 2 000 kg neute per hektaar die afgelope seisoen realiseer van 'n boord met bome van sewe tot
dertien jaar oud. Met dié artikel word gepoog om van die kritiese praktyke en suksesfaktore uit te lig wat daartoe kan lei dat so 'n onderneming 'n sukses of mislukking gaan wees.
'n Tendens wat in Suid-Afrika, sowel as in die VSA, waargeneem word, is dat pekanneute kommersieel eers aan die tropiese kusgebiede aangeplant is, maar dat dit later verskuif het na die middel
en westelike gebiede van die onderskeie lande. Die tendens is toe te skryf aan klimaat, wat in die westelike dele meer geskik is vir beter verbouing met minder insette en gevolglik hoër winste.
Die pekanneutboom, volgens mnr Johan Oosthuyzen van Hartsvallei kwekery, word beskou as 'n warmseisoen gewas, wat in kort daarop neerkom dat kort, koue winters en lang, warm tot baie warm
somers met 'n relatiewe lae lugvogtigheid benodig word vir goeie opbrengste en gehalte neute. In die oostelike, subtropiese verbouingsgebiede van Suid-Afrika met 'n hoër reënval en lugvog is
die grootste indirekte probleem vertraagde bot as gevolg van te warm winters en nie voldoende koue ure vir 'n behoorlike dormante periode nie. Siektes en plae kom ook meer voor in die
laasgenoemde gebiede as gevolg van 'n meer ideale klimaat daarvoor en dit het tot gevolg dat hoër insette die verbouing van pekanneute nie baie winsgewend maak in hierdie gebiede nie.
Kritiese praktyke en suksesfaktore by pekanneutproduksie
Dit het uit ondervinding en resultate wat behaal is op die Vaalharts-skema en die Hoëveld-gebied van Noordwes en die Vrystaat-gebied geblyk dat die volgende faktore krities is tot die
suksesvolle verbouing van die gewas:
1) Voldoende besproeiingswater
Al word pekanneute in 'n gebied met 'n reënval van 800 mm per jaar verbou, is addisionele besproeiingswater nodig in tye wanneer die bome moontlike vogstremming mag ondervind.
In gebiede waar vloedbesproeiing nie moontlik is nie, word permanente drupbesproeiing van jaar vier tot jaar vyf geïnstalleer. Die eerste drie tot vier jaar word die bome met 'n wateraar
natgelei. Voldoende water moet beskikbaar wees vir die beoogde aanplanting.
2) Bemarkingsgeleenthede
Die tweede belangrike stap is om te bepaal of daar 'n mark vir pekanneute is. Daar bestaan tans 'n baie goeie mark vir pekanneute, met 'n goeie vraag na vars neute in die noordelike halfrond -
met die aanvang van hul somerseisoen. 'n Probleem met die uitvoermark is dat daar nog te min neute geproduseer word om 'n konstante hoeveelheid vir uitvoere te kan voorsien. Soos meer
pekanneute aangeplant word en in produksie kom, behoort daar 'n meer konstante voorsiening vir uitvoere te wees.
3) Geskikte grond
Dit help nie alle insette word korrek uitgevoer en daar word te laat vasgestel dat 'n verdigtingslaag in die grond teenwoordig was nie. Hef dit voor die tyd op. Ideale grond vir
pekanneutproduksie is ten minste 2 m diep met kalklae nie vlakker as 1,5 m nie. Gronde met 'n permanente watertafel van vlakker as 1,5 m word nie aanbeveel nie.
Die aanbevole kleipersentasie is tussen 10% en 35%. Dupleksgronde, dit is gronde met 'n sterk ontwikkelde struktuur in die ondergrond, word nie aanbeveel nie. Die grond se geleidingsvermoë
moet laer as 400 (m S/m) wees.
4) Aangepaste kultivars en geskikte plantmateriaal
Kultivars wat hulle reeds op die Vaalharts-skema en op die Hoëveld bewys het, is die volgende: Choctaw, Mohawk, Wichita, Ukulinga en Barton (bestuiwer).
Daar moet ten minste 5% bome van 'n bestuiwer in 'n aparte ry aangeplant word. Gebruik geënte pekanneutbome van 'n erkende pekanneutkwekery. Indien sakkiebome gebruik word, moet die regte
wortelsnoei uitgevoer word.
Die kultivars Choctaw en Ukulinga is meer kouegevoelig as die ander en moet nie op koue plekke soos teen riviere en laagliggende dele aangeplant word nie. Kies in só 'n geval eerder een van
die ander kultivars.
Sekere pekanneutkultivars is geneig tot alternatiewe drag. Dit beteken dat 'n goeie drag een jaar opgevolg word deur 'n swak drag die volgende jaar. Vir die rede is dit raadsaam om 'n paar
goed aangepaste kultivars in 'n boord aan te plant. Aangesien kultivars nie dieselfde reageer ten opsigte van alternatiewe drag nie, behoort dit te voorkom dat die produsent een jaar 'n groot
oes en die volgende jaar 'n baie klein oes realiseer. Plant die kultivars in aparte rye sodat dit afsonderlik geoes kan word.
5) Rywydte
Daar moet ten minste 'n ry van 10 m tussen bome gelaat word om verkeer met trekkers en implemente toe te laat as bome volgroeid raak. Die binneryspasiëring kan van 7 m tot 10 m wees. Waar
toestande baie gunstig is, soos byvoorbeeld 'n watertafel op 1,2 - 1,5 m, moet die wyer binneryspasiëring gebruik word.
6) Boordinstandhouding
Dit is belangrik dat die boord vry van onkruid gehou moet word sodat dit nie tot kompetisie met die pekanneutboom lei nie. Die herwinning van neute wat op die grond val, is ook swak waar
onkruid nie effektief beheer word nie.
7) Bemesting
Pekanneutbome kan baie maklik 'n sinktekort op alkaliese gronde ondervind. Dit is soms nodig om tot vyf blaartoedienings van sink te maak. Die toedienings moet ook vroeg genoeg gedoen word.
Indien die lootgroei 15 cm - 30 cm per jaar is, is dit 'n teken dat groeitoestande ideaal is. Pas 'n bemestingsprogram toe volgens die behoefte van die pekanneutbome.
Langtermyn aard van die belegging
Die produsent wat beoog om pekanneute te vestig moet daarop bedag wees dat daar in die eerste vyf tot sewe jaar nie 'n wesenlike inkomste van die betrokke stuk grond verkry kan word nie. Hy
moet dus oor voldoende oorbruggingskapitaal beskik. In gebiede waar voldoende water beskikbaar is, kan daar in die eerste aantal jare gewasse soos koring, gars en grondbone tussen die
pekanneutbome verbou word, wat die probleem tot 'n mate kan beperk.
Voordele van pekanneutproduksie
Eerstens is dit nie 'n baie duur gewas om te vestig nie omdat slegs ± 100 bome per hektaar gevestig word. Die klimaat op die Hoëveld is nie bevorderlik vir die meeste peste en plae by
pekanneute nie, wat op sigself tot laer produksiekoste aanleiding gee.
Verder is die pekanneut nie 'n bederfbare produk nie en hoef daar nie spesiale fasiliteite soos verkoeling opgerig te word nie. Die gewas is ook 'n nie so sensitief vir hael soos die meeste
ander permanente gewasse nie. Die meeste produsente neem ook nie oesversekering uit nie, wat ook 'n groot kostebesparingsmaatreël is.
Die ekonomie van pekanneutproduksie
Die ekonomie van pekanneutproduksie word in meegaande tabel (Tabel 1) uiteengesit. Dit blyk uit Tabel 1 dat daar eers 'n gelykbreeksituasie in jaar agt bereik word. Die verbouing van gewasse
soos grondbone en koring tussen die pekanneutbome gedurende die eerste vier jaar kan die situasie egter versag deurdat die gelykbreeksituasie vroeër bereik word.
Na jaar tien word goeie marges bo gespesifiseerde koste gerealiseer. Die produsent moet soos by enige ander boerderyvertakking poog om sy praktykvoering so na as moontlik aan die optimaal te
beoefen om sodoende sy risiko so laag as moontlik te hou.
Pekanneute, 'n gewilde neut by die publiek. Hardus Otto van Coligny by 'n draende pekanneutboom. 'n Jong draende pekanneutboom op die Hoëveld.
Tabel 1 (kliek op die tabel vir ‘n hoër resolusie weergawe)


Pekanneute, 'n gewilde neut by die publiek.

Hardus Otto van Coligny by 'n draende pekanneutboom.

'n Jong draende pekanneutboom op die Hoëveld.